Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Wortelboommoeras

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaart van wortelboom verspreiding.

Wortelboommoerasse ofmangliete ismoerasse met 'n kenmerkendewoudagtige plantegroei wat inriviermondings langs tropiese en subtropiese kuste aangetref word. Die vernaamste plantegroei van hierdie moerasse is bome met spesiale bogrondse wortels waardeur hulle asemhaal, bestand is teen water met 'n hoësoutgehalte en aswortelbome bekend staan. 'n Groot verskeidenheid van diere word in hierdie moerasse aangetref.

Op die meeste plekke langs tropiese en subtropiese kuste waarvarswater in diesee vloei, is kleiner of groter modderbanke aanwesig waarop gespesialiseerde plantegroei aangetref word. Van die see na die binneland wissel die water van heeltemal sout tot heeltemal vars, en die soutgehalte van elke punt varieer daagliks nog met diegety. Omdat wortelbome die vernaamste plantsoort is wat in hierdie moerasse voorkom, staan hulle bekend as wortelboommoerasse. Wortelbome is die enigste houterigehalofiete.[1]

Diversiteit en aanpassings

[wysig |wysig bron]

Die meeste wortelbome behoort tot die generaRhizophora,Bruguiera,Avicennia,Sonneratia,Laguncularia enAegiceras. Elke wortelboomspesie is meestal vir 'n spesifieke soutgehalte aangepas en van die see af na die binneland kan verskillende sones meestal onderskei word. Bome van diegenusSonneratia kan 'n hoë soutgehalte weerstaan en word gewoonlik naby die see aangetref.

Hulle hou groot hoeveelhede slik vas en verkry die meeste van hulsuurstof deur spesiale asemwortels of pneumatofore wat bo die grond uitsteek.Rhizophora-spesies word meestal effens hoër aangetref en het kenmerkende stutwortels aan die onderkant van die stam en aan die onderste takke.Bruguiera-spesies met hul kniewortels word meestal nog hoër op aangetref. Die lugwortels van al die wortelbome het talle openinge(lentiselle) in die bas daarvan, waardeur suurstof die wortels kan binnedring.

Dit is hierdie wortels wat dit vir die plante moontlik maak om in die suurstofarme modderbodem te groei. Die besontwikkelde wortelboommoerasse met die hoogste spesiediversiteit word in Suidoos-Asië aangetref. Hierdie oostelike tipe bestaan uit ongeveer 20 spesies, waaronder verskeieSonneratia-spesies. Nog 'n tipiese plant van die Suidoos-Asiatiese wortelboommoerasse is dienipapalms (Nypa fruticans), 'n kruipende palmspesie waarvan slegs die blare bo die water uitsteek.

Na die suide en noorde neem die getal spesies af sodat daar byvoorbeeld inSuid-Afrika slegs vier spesies, en inNieu-Seeland slegs een spesie aangetref word. In Suid-Afrika wordAvicennia marina,Bruguiera gymnorrhiza enRhizophora mucronata tot aan die Transkeise kus aangetref, terwylSonneratia alloa 'n meer tropiese spesie is wat slegs tot inMosambiek voorkom. DieRhizophora- enBruguiera-spesies isvivipaar wat beteken dat die sade reeds in die vrug ontkiem terwyl dit nog aan die boom hang.

Diehipokotiel verleng geweldig, soms tot meer as 'n meter. As die vrug ryp is, val die hipokotiel met die eerste blaartjies af en slaan vas in die modder. Soms word hulle egter deur die gety weggespoel en na ander gebiede vervoer.

Ekologie

[wysig |wysig bron]
Hervestiging en rehabilitasie van beskadigde wortelboombosse in Thailand het 'n terugkeer van voormalige dierelewe meegebring.

Wortelboommoerasse kan as ekostelsels op hul eie beskou word waarin 'n groot aantal voedselkettings aangetref word. Die basis van die ekologiese piramides is hoofsaaklik die blare van die wortelbome wat afval. Hulle dien as voedsel vir ʼn groot aantal detritus-vreters (klein diertjies en anderorganismes wat van dooie organiese materiaal leef).

Hierdie organismes vorm op hul beurt weer die kos van diere soos klein visse wat weer deur roofvisse geëet word. Wortelboommoerasse is oor die algemeen baie belangrik vir visbevolkings, omdat baie van die seevisse hul eiers in hierdie moerasse lê en die kleintjies daar uitbroei. Die kleintjies is vir voedsel en skuiling van hierdie moerasse afhanklik en die vernietiging van die moerasse het ʼn baie negatiewe invloed op die visbevolkings. Benewens die gespesialiseerde wortelboommoerasbewoners word 'n groot aantal ander diere soos voëls, slange en soogdiere in ander woude sowel as in wortelboommoerasse aangetref.

In teenstelling met die tropiese reënwoude is daar min liane en epifiete in wortelboommoerasse.

Kyk ook

[wysig |wysig bron]

Bronnelys

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. Moslem Sharifinia, Moslem Daliri, Ehsan Kamrani (2019).Chapter 4 - Estuaries and Coastal Zones in the Northern Persian Gulf (Iran); in: Coasts and Estuaries. Elsevier. pp. 57–68.doi:10.1016/B978-0-12-814003-1.00004-6.ISBN 9780128140031.

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Wortelboommoeras&oldid=2698872"
Kategorie:
Versteekte kategorie:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp