Hy het tydens sy jeug diens gedoen in dieBritse vloot en was, tydens sy bewind en daarna, bekend as die Matrooskoning. Nadat sy twee ouer broers kinderloos gesterf het, het hy koning geword toe hy 64 jaar oud was. Tydens sy bewind het verskeie veranderings plaasgevind: kinderarbeid is beperk, slawerny dwarsdeur dieBritse Ryk afgeskaf en die verkiesingstelsel hervorm.
Met sy dood het William geen oorlewende kinders gehad wat binne die eg gebore is nie, maar agt van sy tien buite-egtelike kinders het hom oorleef. Hulle ma was die gewilde aktriseDorothea Bland, beter bekend as Mrs Jordan, wat twintig jaar lank syminnares was.
Hy is in Brittanje opgevolg deur sy broerskind,Victoria en in Hannover deur sy broerErnest Augustus.
Hy is deur private onderwysers opgevoed.[2] Op 13-jarige leeftyd het hy as ’n adelbors by die Britse vloot aangesluit.[3] In 1785 het hy luitenant geword en die volgende jaar kaptein van die HMS Pegasus.[4] Hy het later die titel Hertog van Clarence van sy pa gekry nadat hy druk op hom uitgeoefen het.
Van 1791 af het die Hertog van Clarence twintig jaar lank saam met ’n Ierse aktrise gewoon. Haar naam wasDorothea Bland, maar sy was beter bekend onder haar verhoognaam, Mrs Jordan. Die titel "Mrs" het sy vroeg in haar loopbaan aangeneem om ’n ontydige swangerskap te verduidelik[5] en "Jordan" omdat sy "van oor die water" van Ierland na Brittanje gekom het.[6]
Die paartjie het tien buite-egtelike kinders, vyf seuns en vyf dogters, gehad. Die verhouding het twintig jaar lank geduur, tot in 1811. Mrs Jordan is eindelik in 1816 in armoede inParys dood.[7]
In Julie 1818 is William getroud metprinses Adelaide van Saxe-Meiningen, die dogter vanGeorge I, die Hertog van Saxe-Meiningen. Op 25 was Adelaide die helfte so oud soos William. Die huwelik het twintig jaar lank geduur, tot met Willliam se dood, en was gelukkig. Hulle het egter geen oorlewende kinders gehad wat hom kon opvolg nie. Die paartjie het twee dogters gehad wat nie lank geleef het nie en Adelaide het drie miskrame gehad.[8]
William het nog ’n buite-egtelike seun, William, gehad voor hy Mrs Jordan ontmoet het. Sy ma is onbekend en hy het in 1807 nabyMadagaskar verdrink.[9]
William se oudste broer, George, die Prins van Wallis, was sedert 1811 prins-regent vanweë die swak geestelike gesondheid van hul pa, George III. In 1820 is die koning dood en het George koning geword. William was nou die tweede aanspraakmaker op die troon naas sy tweede oudste broer, Frederick, die Hertog van York. Albei sy broers was ongesond en mense het geweet dis net ’n kwessie van tyd voor hy koning word.[10]
Frederick is in 1827 dood. George IV se gesondheid het al hoe meer agteruitgegaan en hy is op 26 Junie 1830 dood. William het toe op 64-jarige leeftyd koning William IV geword, die oudste persoon wat nog die troon bestyg het.[11] Anders as sy flambojante broer was William plat op die aarde en gewild. Hy het dikwels alleen deur die strate vanLonden enBrighton gestap.
Hy is op 20 Junie 1837 aan hartversaking dood. Omdat hy geen wettige oorlewende kinders gehad het nie, is hy opgevolg deurVictoria, dogter van sy jonger broer, wyleEdward. ’n Vrou mag nie oor Hannover regeer het nie en daarom het die kroon van Hannover gegaan na William se broerErnest Augustus, die Hertog van Cumberland. William se dood het dus ’n einde gebring aan die verbintenis tussen Brittanje en Hannover wat sedert 1714 bestaan het.