Die Nasionale lied van Suid-Afrika in die Suid-Afrikaanse staatskoerant, 1997Nasionale lied van Suid-Afrika“Die Stem van Suid-Afrika” en “Nkosi Sikelel' iAfrika” word deur ’n Amerikaanse militêre orkes in 1994 as deel van ’n amptelike staatsbesoek van die Suid-Afrikaanse presidentNelson Mandela aan die Amerikaanse hoofstadWashington, D.C. saam opgevoer
DieNasionale lied van Suid-Afrika is sedert 1996 ’n samevoeging van “Die Stem van Suid-Afrika” en “Nkosi Sikelel' iAfrika” (God seën Afrika) en is in 1997 asSuid-Afrika senasionale volkslied goedgekeur. Die onderskeie verse is in die vyf mees gebruikteSuid-Afrikaanse tale (Afrikaans,Engels,Suid-Sotho,Xhosa enZoeloe)[1] en die lied bestaan uit twee dele in verskillende toonhoogtes. Die eerste twee verse is ontleen aan “Nkosi Sikelel' iAfrika”, terwyl die laaste twee aan “Die Stem van Suid-Afrika” ontleen is, met die laaste vers wat heeltemal verander is. Die eerste twee lyne van die eerste vers is in Xhosa, die volgende twee in Zoeloe, gevolg deur Suid-Sotho in die tweede vers, Afrikaans in die derde vers en Engels in die vierde. Die komitee wat vir die nuwe komposisie verantwoordelik was het bestaan uit Anna Bender, Elize Botha,Richard Cock, Dolf Havemann (sekretaris), Mzilikazi Khumalo (voorsitter), Mazisi Kunene, John Lenake,Fatima Meer, Khabi Mngoma, Wally Serote, Johan de Villiers en Jeanne Zaidel-Rudolph.[2]
Die nasionale lied van Suid-Afrika is ’n saamvoeging van nuwe Engelse lirieke met uittreksels van die 19de-eeuse lied “Nkosi Sikelel' iAfrika”, wat deurEnoch Sontonga gekomponeer is, en die Afrikaanse lied “Die Stem van Suid-Afrika” wat vanaf die laat 1930’s tot die middel 1990’s as die nasionale volkslied van Suid-Afrika gedien het.[3] Vanaf 1994 tot 1997 het albei liedere in hul volledige weergawe langs mekaar as nasionale volksliedere van Suid-Afrika gedien.[4]
Na die Nasionale lied van Suid-Afrika word gereeld verwys as “Nkosi Sikelel' iAfrika” (weens sy eerste woorde), maar dit was nog nooit sy amptelike naam nie; dit staan as “Nasionale lied van Suid-Afrika” bekend. Dit is in 2017 deurThe Economist as die beste nasionale volkslied wêreldwyd benoem.[5]
Die feit dat dit van toonhoogte verander en met ’n ander sleutel eindig (van G-major na D-major), ’n kenmerk wat dit met die Italiaanse en die Filippynse volksliedere deel,[6] maak dit in komposisionele opsig ongewoon. Die lirieke maak gebruik van die vyf mees verspreide tale in Suid-Afrika – Xhosa (eerste vers, eerste twee lyne), Zoeloe (eerste vers, laaste twee lyne), Suid-Sotho (tweede vers), Afrikaans (derde vers) en Engels (laaste vers). Die lirieke word in hierdie tale gesing, onafhanklik van die sanger semoedertaal. Die eerste helfte is saamgestel deurMzilikazi Khumalo[7] en die laaste helfte deurJeanne Zaidel-Rudolph, wat ook die laaste vers geskryf het.[7][8]
Vanaf die laat 1940’s tot die vroeë 1990’s was Suid-Afrika onder dieApartheidsbeleid, ’n algemeen veroordeelde stelsel van geïnstitusionaliseerde rasseskeiding en diskriminasie gebaseer op wit oorheersing en die onderdrukking van die swart meerderheid ten voordeel van die politieke en ekonomies dominante Afrikanerminderheid en ander blankes. Gedurende Apartheid het “Die Stem van Suid-Afrika” as nasionale volkslied van Suid-Afrika gedien, wat kort ook net “Die Stem” genoem is, ’nAfrikaanse lied wat dieVoortrekkers en hulGroot Trek beskryf. “Die Stem” is ’n gedig wat deurC.J. Langenhoven in 1918 geskryf en in 1921 deur die domineeM.L. de Villiers getoonset is.[9] “Die Stem van Suid-Afrika” was in der waarheid Langenhoven se bekendste enkele werk. Dit was ook De Villiers se gedenkwaardigste toonsetting. Later het dieSuid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie sowel “God save the King” as “Die Stem” aan die einde van hul daaglikse uitsendings gespeel. Dit is die eerste keer in die openbaar gesing met die amptelike hysing van dielandsvlag op 31 Mei 1928, maar dit was eers op 2 Mei 1957 dat die regering “Die Stem” as die amptelike volkslied aanvaar het. As “The Call of South Africa” is dit mettertyd ook inEngels gesing. “Die Stem” het tussen 1938 en 1957 saam met “God Save the King/Queen” as nasionale volkslied gedien,[10] en daarna tot in 1994 alleenlik as nasionale volkslied van Suid-Afrika. “Die Stem van Suid-Afrika” is saamgestel uit agt verse (die oorspronklike vier in Afrikaans en vier in Engels – ’n vertaling van die Afrikaanse s’n met enkele veranderinge). Dit is selde volledig gesing; die eerste vers was die bekendste en is soms met die laaste vers gesing.
Met die einde van apartheid in die jare negentig het die argitekte van die oorgang na ’n nuwe bedeling egter besef dat daar ’n nuwe nasionale lied sou moes kom wat vir almal aanvaarbaar is, waardeur die toekomstige status van “Die Stem van Suid-Afrika” bevraagteken is, aangesien die voorheen benadeeldes nie sou aanklank vind nie.[11][12] Dit is uiteindelik as die nasionale volkslied behou, alhoewel “Nkosi Sikelel' iAfrika”, ’n Xhosa-lied wat deur die Anti-Apartheidsbeweging gebruik is, die tweede nasionale volkslied met gelyke regte geword het.[13] “Nkosi Sikelel' iAfrika” is in 1897 deur die Metodistiese onderwyserEnoch Sontonga gekomponeer. Dit was oorspronklik ’n kerklied maar het later ’n simbool van politieke weerstand teen Apartheid geword.
Die Suid-Afrikaanse regering het in 1994 albei liedjies as gelykwaardige nasionale volksliedere goedgekeur, toe hulle tydensNelson Mandela se inhuldiging gespeel is.[14]
Vir dieRugbywêreldbeker 1995 hetMorné du Plessis voorgestel dat dieSpringbokke al die woorde van “Nkosi Sikelel' iAfrika” aanleer, en, volgens hul instrukteur Anne Munnik, het “hulle dit met baie trots gedoen”.[15]
Die gebruik van twee nasionale volksliedere was ’n omslagtige reëling, aangesien die volledige opvoering van albei sowat vyf minute geneem het.[16] Dit is reggestel toe Suid-Afrika se dubbele volksliedere vroeg in 1997 in verkorte vorme saamgevoeg is[17] om die huidige nasionale volkslied te skep. Deur die twee volksliedere saam te voeg – en alle Suid-Afrikaners te laat begryp dat dit ’n lied van seënbede en glorie onder die helderblou hemel van Suid-Afrika is – is ’n kompromis bereik in die edelste tradisie van versoening. Die nuwe nasionale volkslied is tydens ’n opening van dieSuid-Afrikaanse Parlement in Februarie 1997 gespeel,[18] en is op 10 Oktober 1997 in die Suid-Afrikaanse Staatskoerant gepubliseer.[17] Gedurende die saamstelling van die nuwe nasionale volkslied is deur die Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela voorgestel dat dit nie langer as 1 minuut en 48 sekondes lank mag wees.[17] Die nuwe Engelse lirieke is van die laaste vier lyne van die eerste vers van “Die Stem van Suid-Afrika” oorgeneem en sal hoop in die Suid-Afrikaanse samelewing ná die einde van apartheid weerspieël.
Lyne wat aan die twee vorige volksliedere ontleen is, is verander om meer inklusief te wees, en dit het nie eksplisiet verwys na spesifieke bevolkingsgroepe van die land nie. Dus is lyne van die apartheidsvolkslied se eerste vers wat na die Voortrekkers se Groot Trek verwys, weggelaat, aangesien “dit die ervaring van slegs een deel” van die Suid-Afrikaanse samelewing was.[8][17] Net so is die woorde “Woza Moya” uit “Nkosi Sikelel' iAfrika” weggelaat, aangesien dit ’n eksplisiete Christelike verwysing pleks van ’n algemene godsdienstige verwysing is,[8] en derhalwe vir Suid-Afrikaners met ’n ander geloof, veral Suid-AfrikaanseMoslems enJode in Suid-Afrika, nie aanvaarbaar sou wees nie.[17] ’n Nuwe vers wat in geeneen van die twee liedjies bestaan nie is ook bygevoeg. Die Engelse weergawe van “Die Stem van Suid-Afrika” was minder bekend as die Afrikaanse weergawe en kon dus met min beswaar of omstredenheid verander word.[17] Vervolgens was die Engelse deel van die nuwe Suid-Afrikaanse volkslied die een waarvan die grootste deel van die lirieke van die vorige weergawe verander is.[17]
In onlangse jare het veral die Afrikaanse deel van die Suid-Afrikaanse volkslied kritiek deurgeloop, aangesien dit oorspronklik deel was van die volkslied van Suid-Afrika wat tydens die apartheidsera gebruik is;[19] veral dieEconomic Freedom Fighters het weens dié gedeelte se konneksie vir sy verwydering gepleit.[20][21][22][23] Ander verdedig die insluiting van die Afrikaanse vers en wys daarop dat dit hoofsaaklik opgeneem is as gevolg van die wense van die eerste Suid-Afrikaanse president ná apartheid, Nelson Mandela, wat die opname daarvan as ’n versoeningsmaatreël vir die toekoms van Suid-Afrika bedoel het.[24][14][15]
DieZoeloe- ofXhosa-weergawe van “Nkosi Sikelel' iAfrika” (God seën Afrika) word gebruik vir die eerste vers, terwyl die Suid-Sotho-weergawe die tweede vers van die nasionale lied vorm. Die derde en vierde verse bestaan uit ’nAfrikaanse en Engelse deel van “Die Stem”.
↑(en)Breakfast, Swellendam Guesthouse B&B | Augusta de Mist | Garden Route Accommodation | Bed and (13 April 2015)."The South African National Anthem: a history on record".Swellendam Country House | Hotel | B&B | Augusta de Mist | Garden Route Accommodation | Bed and Breakfast. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 1 Januarie 2019. Besoek op31 Desember 2018.