Tonga (Engels: [ˈtɒŋə] of [ˈtɒŋɡə];Tongaans: [ˈtoŋa][7]), amptelik dieKoninkryk Tonga (Engels:Kingdom of Tonga; Tongaans:Puleʻanga Fakatuʻi ʻo Tonga), is 'neilandstaat in dieStille Oseaan enOseanië wat uit 169 eilande bestaan, waarvan 36 bewoon is. Tonga beslaan 'n oppervlakte van 747km² en het 'n bevolking van 104889 in 2024 gehad.[1]
DieNederlandse ontdekkingsreisigerWillem Schouten het Tonga in 1616 as eerste Europeër bereik, gevolg deurAbel Tasman in 1643. In 1773, 1774 en 1777 het dieBritse ontdekkingsreisigerJames Cook Tonga besoek. In 1845 het die ambisieuse jong vegter, strateeg en woordvoerder Tāufa'āhau Tonga as 'nkoninkryk verenig en in 1875 tot 'ngrondwetlike monargie verklaar. Tonga het 'n beskermde staat geword, nadat die koninkryk op 18 Mei 1900 met die Verenigde Koninkryk 'n Verdrag van Vriendskap onderteken het. Onder die beskerming van Groot-Brittanje kon Tonga as enigste Stille Oseaan-land sy soewereiniteit en monargiese regering behou (in teenstelling metHawaii enTahiti). Die Verdrag van Vriendskap en Tonga se beskermingsstatus het in 1970 volgens gevestigde reëlings, wat in 1965 deur Koningin Sālote Tupou III ingestel is, geëindig. Tonga is 'n unitêre parlementêregrondwetlike monargie binne dieBritse Statebond met 'n eie monarg asstaatshoof. Tonga is een van slegs vyf lande binne die Britse Statebond, waar 'n inheemse monarg op die troon sit (die ander vier isBroenei,Eswatini,Lesotho enMaleisië).
In baiePolinesiese tale, waaronder Tongaans, is die woordtonga ([ˈtoŋa])[8][9][10] afgelei vanfakatonga, wat "suidwaarts" beteken, en die argipel is só genoem omdat dit die suidelikste eilandgroep van Wes-Polinesië is.[1][11] Die woordtonga is verwant aan dieHawaise woordkona wat "loefkant" beteken en die oorsprong van die Hawaise Kona-distrik se naam is.[12]
Tonga het in dieWeste bekend geword as die "vriendelike eilande" weens die aangename ontvangs tydens kapteinJames Cook se eerste besoek in 1773. Hy het aangekom teen tye van die jaarlikseʻinasi-fees wat fokus op die skenking van die eerstelinge aan dieTuʻi Tonga (die eiland se monarg) en daarom het hy 'n uitnodiging na die feesvieringe ontvang. Volgens die skrywer William Mariner wou die politieke leiers Cook ironies genoeg tydens die samekoms vermoor, maar hulle het dit nie deurgevoer nie omdat hulle nie op 'n plan kon besluit nie.[13]
Rugby is verreweg die gewildstesportsoort in Tonga en dit is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs dieCookeilande,Fidji,Nieu-Seeland,Samoa enWallis kan soortgelyke bewerings maak.[14] DieTongaanse nasionale rugbyspan het sedert1987 vir amper elkerugbywêreldbekertoernooi (behalwe vir dié van1991) gekwalifiseer. Hulle is veral bekend vir die tradisioneleSipi Tau-oorlogsdans voor elke wedstryd. Met ’n bevolking van sowat 100000 is die keuring van talentvolle spelers in vergelyking met ander lande baie klein, maar Tonga behoort konstant aan die 15 beste spanne wêreldwyd en hulle is redelik mededingend. Dié land ly egter onder 'n groot uitvloei aan talent, aangesien baie spelers in die professionele ligas inAustralië, Nieu-Seeland,Europa ofJapan speel en deur die onderskeie land ingeburger word. VolgensWêreldrugby se reëls is 'n tydperk van vyf jaar ononderbroke blyplek genoeg om vir die nasionale span van 'n ander land uit te draf (tot aan die einde van 2020 was dit slegs drie jaar).[15] Van die bekendste spelers met 'n Tongaanse herkoms isIsrael Folau,Toutai Kefu,Sekope Kepu,Viliami Ofahengaue,Wycliff Palu enGeorge Smith (virAustralië),Doug Howlett enJonah Lomu (virNieu-Seeland),Billy enMako Vunipola (virEngeland) asookTaulupe Faletau (virWallis). Met 'n bevolking van 'n rapsie meer as 'n 100000 is Tonga die kleinste land wat aan rugbywêreldbekertoernooie deelneem.[16]
Die Stille Oseaan-eilandstate se beheerliggame is nie sterk genoeg om hierdie uitvloei aan talent stop te sit nie. Soms word die sistematiese stropery in 'n ironiese manier met die 19de eeuseBlackbirding vergelyk.[17] Tongane, wat hul eie land verteenwoordig, kan nie altyd vir hul nasionale span verskyn nie, aangesien veral Engelse klubs huiwerig is om spelers vir toetswedstryde beskikbaar te stel. Die professionele spanMoana Pasifika, wat sedert 2022 aan die internasionale toernooiSuperrugby deelneem, sal as 'n oplossing dien. In dié span, wat in die Nieu-Seelandse stadAuckland gesetel is, speel Tongane saam met Samoane en Nieu-Seelanders met 'nPolinesiese herkoms; dié span streef 'n verkieslik “Stille Oseaan”-karakter na.[18] Aan die begin van 2022 het Wêreldrugby 'n nuwe reël geïmplementeer wat vir die Stille Oseaan-eilandstate as baie voordelig beskou word. Hiervolgens kan nasionale spelers van 'n “groot” rugbyland na 'n ander land oorskakel, ongeag die aantal toetswedstryde wat tot dusver gespeel is. Hiervoor moes 36 maande verloop het sedert die laaste toetswedstryd en die speler moet in die betrokke land gebore wees; 'n oorskakeling is ook moontlik met 'n ouer of grootouer wat daar gebore is.[19]
Tonga beskik met die Teufaiva Sport-stadion oor 'n baie moderne rugbystadion, maar dit word die meeste van die tyd nie gebruik nie. Daar is min opponente wat bereid is om die lang rys na Tonga aan te pak.Australië enNieu-Seeland kom slegs selde teen die eilandstate te staan. Teen einde van meer toetswedstryde is dieStille Oseaan-nasiesbekertoernooi (tot 2006 die Stille Oseaan-drienasies genoem) gestig, waaraan onder andere die nasionale spanne van Tonga,Fidji enSamoa deelneem.
Soos in ander Stille Oseaan-eilandstate word op Tonga 'n tradisionele plaaslike soortkrieket beoefen,lanita genoem.[20]