'nDuitse kaart van Switserland wat die kantons aandui
Die grondgebied van Switserland is sedert 1979 in 26kantons (enkelvoud:kanton;Frans:cantons,Italiaans:cantoni,Romansch:chantuns) verdeel. Hulle is deelstate van dieSwitserse Konfederasie.
Elkeen van die kantons beskik oor sy eie grondwet, wetgewende mag, regering en howe. Die meeste kantonale parlemente is eenkamerstelsels met tussen 58 en 200 setels. 'n Klein aantal van parlemente word deur sogenaamdeLandsgemeinden gevorm, dit wil sê 'n vergadering van alle burgers wat oor wetsake besluit neem. Vroue het in enkele kantons eers in 1971 stemreg by die vergaderings gekry.
Alle aangeleenthede wat volgens die Switserse grondwet nie uitdruklik onder die gesag van die konfederasie val nie, word deur die kantons gereël. Ook die graad van selfregering wat die munisipaliteite geniet, word deur die kantons bepaal en verskil dus grootliks. Daar is ook groot verskille wat die oppervlakke en bevolkingsyfers van die kantons betref: Oppervlakke variëer tussen 37 en 7105 vierkante kilometer, terwyl die bevolkings tussen 14900 en 1244400 beloop.
Direkte demokrasie in die vorm van algemene vergaderings word ten opsigte van kantonale sake tans nog slegs in die kantons Appenzell-Innerrhoden en Glarus toegepas. In alle ander kantons gaan burgers nou stembus toe om hulle demokratiese reg uit te oefen.
Stemgeregtigdes tydens die Landsgemeinde (Algemene Vergadering) van die kanton Glarus in 2009
Sedert die stigting van die Franssprekende kanton Jura in 1978 is daar geen nuwe kantons meer geskep nie. Volgens die grondwet van 1999 is daar amptelik 26 kantons. Die getal state wat 'n rol speel by die verkiesing van die Eerste Kamer (Duits:Ständerat, Frans:Conseil des États) van die Switserse Konfederasie en die stemming by federale wetsontwerpe, beloop egter 23: Die kantons Unterwalden, Appenzell en Basel bestaan elkeen uit twee halfkantons. Unterwalden word verdeel in Obwalden en Nidwalden, Appenzell in Appenzell-Innerrhoden en Appenzell-Ausserrhoden en Basel in Basel-Stad en Basel-Landschaft.
Die termkanton is vir die eerste keer in 1475 in 'n dokument van die stad Freiburg gebruik. Oorspronklik het elke kanton van die Switserse Federasie 'n selfregerende en onafhanklike politieke eenheid gevorm, wat oor sy eie geldeenheid en leër beskik het. Die huidige federale struktuur dateer uit die jaar 1848.
In die 16de eeu het die Switserse Konfederasie uit dertien selfregerende kantons bestaan: Ses sogenaamde woudkantons en sewe sogenaamde stedelike kantons. Hulle het formeel deel uitgemaak van die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie, tog was hulle ná hul oorwinning oor die Duitse keiserMaksimiliaan in 1499 feitlik onafhanklik.
Die ses woudkantons was demokratiese republieke, terwyl die sewe stedelike kantons, waaronder Zürich, Bern en Basel, deur stadsrade geregeer is. Hierdie stadsrade is egter deur klein oligargieë van patrisiërs (welvarende burgers) en die guldes oorheers.