Die Suid-Amerikaanse kontinent beslaan sowat 17,8 miljoen km² en lê grotendeels in dieSuidelike Halfrond, tussen 35° en 80° WL en 12° NB en 55° SB. Dit is min of meer driehoekig, met die breedste deel in die noorde en die punt in die suide. Die afstand tussen die noordelikste punt, Kaap Gallinas in dieKaribiese See, en die suidelikste,Kaap Hoorn in die Straat van Drake, is sowat 7 500 km.
Die breedste deel (sowat 5 000 km) is tussen Kaap Branco aan die Atlantiese Oseaan en Punt Parina aan die Stille Oseaan. Suid-Amerika is die vierde grootste van die kontinente en beslaan sowat 12% van die aarde se oppervlakte. Dit word begrens deur die Karibiese See (noordwes), die Atlantiese Oseaan (noordoos, oos en suidoos), die Straat van Drake (suid) en die Stille Oseaan (wes).
Die kontinent is in die noordweste deur die landengte van Panama metSentraal- enNoord-Amerika verbind. Die kus styg skerp uit die see op en daar is min plekke wat vir natuurlike hawens geskik is. Die omringende kontinentale plat is smal en ontbreek plek-plek (soos voor die kus vanPeru) geheel en al.
Die Angel-watervalle in VenezuelaCerro Roraima op die drie-landgrens tussen Brasilië, Venezuela en Guyana is van die hoogtes in die Hoogland van Guiana
Die Suid-Amerikaanse kontinent kan in drie geologiese tydperke onderskei word: die ou massiewe, die depressies en die jong plooiingsgebergtes. Die ou massiewe het aan die einde van diePrekambrium (sowat 600 miljoen jaar gelede) ontstaan en bestaan meestal uit graniet en ander stollingsgesteente wat sowat drie miljard jaar oud is.
Die oermassief het met verloop van tyd in drie skilde of hooglande verdeel, naamlik die Hoogland van Guiana, die Brasiliaanse Hoogland (geskei deur die Amasonebekken) en die Patagoniese Hoogland in die suide. Die hooglande is betreklik vlak en wissel tussen 250 en 600 m. Die hoogste pieke van die Hoogland van Guiana lê aan die suidrand aan die Amasonebekken, naamlikRoraima (2 800 m), Pico da Neblina (3 000 m) en Tramán Tepui (3 000 m). Die hoogste waterval ter wêreld, dieAngel-waterval (900 m). is ook in die gebied. Die oostelike deel van die Brasiliaanse Hoogland het 'n uitloper aan die Atlantiese kus, die Sa do Mar, met 'n gemiddelde hoogte van 900 m en 'n piek, Pico Pedra do Sino, van 2 260 m. In die gebergte en in die Suikerbroodpieke aan die kus vanRio de Janeiro is die ou Prekambriese kristallyne gesteente sigbaar.
Die Patagoniese Hoogland word van die jonger Andesgebergte geskei deur depressies wat met mariene sediment opgevul is. DieOrinocobekken, wat sowat 600 000 km² beslaan, skei die Karibiese tak van die Andes van die Hoogland van Guiana. Erosie van veral die Andesgebergte het materiaal vir die opvulling van die bekken gelewer, sodat 'n sagte helling na die ooste gevorm is en die Orinocorivier na die rand van die Hoogland van Guiana gedruk is.
Die Amasonebekken is die grootste rivierbekken ter wêreld en het 'n oppervlakte van sowat 1,5 miljoen km². Tussen die Andes en die ou skilde lê 'n lang, vlak bekken, waarin die stroomgebied van dieRío Paraná-, dieRío Paraguay-, die Gran Chaco- en die Pampasrivier lê. Die bekken is ook met mariene- en latere riviersediment tot 'n baie vlak landskap opgevul waarin moerasse ontstaan het.
Onder die dik laag sediment lê die sogenaamdeGondwana-plooiinge (vroeëPaleosoïkum) tussen die oostekant van die Andes in Sentraal-Chili en dieFalkland-eilande. Die oerplooiinge word voortgesit aan die suidkus vanSuid-Afrika en word beskou as 'n bevestiging van Wegener se teorie oor die verskuiwing van die kontinente.
Die Paranabekken in die Brasiliaanse Hoogland is heeltemal met vulkaniese materiaal oordek. Dit beslaan 'n oppervlakte van 1,1 miljoen km² en is die grootste lawaveld ter wêreld. Die jongste gedeelte van die Suid-Amerikaanse kontinent is ook die langste ononderbroke reeks plooiingsgebergte ter wêreld, naamlik die Cordilleras de los Andes. Die vorming van die Andes het ruim 70 miljoen jaar gelede aan die einde van dieMesosoïkum begin en in dieTersiêr (tussen 70 en 5 miljoen jaar gelede) voortgeduur.
Die talleaardbewings en aktiewe vulkane dui daarop dat die gebied nog nie gestabiliseer het nie. Die Andes het talle pieke wat hoër as 6 000 m is en is aan die suidpunt met gletsers bedek. Na die noorde word die Andes 'n komplekse reeks bergkettings, wat inBolivië op sy breedste (800 km) is.
Die klimaat van die Suid-Amerikaanse kontinent wissel geweldig vanweë 'n aantal faktore: die uitgestrektheid, die koue golfstrome aan die weskus (Peru- ofHumboldtstroom) en suidelike ooskus (Falklandstroom), die warm golfstrome langs die ooskus (Suidelike Ekwatoriale en Brasiliaanse Stroom) en die Andesgebergte, wat die westewinde afkeer.
Die grootste gedeelte van die kontinent tussen 10° NB en 20° SB het 'n tropiese klimaat, met 'n hoë reënval deur die jaar in die Amasonebekken. In die res van die gebied oos van die Andes heers ’n savanneklimaat met 'n droë winter. Ook Oos-Argentinië,Uruguay en die suidpunt vanBrasilië het ’n gematigde klimaat met reën deur die jaar en hoë somertemperature (meer as 20°C).
'n Halfwoestyngebied, met 'n lae reënval, strek in die noorde vanaf die Suid-Atlantiese kus tussen die Platagebied en dieStraat van Magellaan tot in Bolivië, en langs die kus van die Stille Oseaan tussenSantiago de Chile tot in Noord-Peru. Die hoogste gedeeltes van die Andes het 'n toendraklimaat met ’n gemiddelde somertemperatuur wat in die warmste maand nie hoër as 10°C styg nie.