Nasa-satellietbeeld van SpanjeGeografiese kaart van Spanje
Spanje is 'ngrondwetlike erflike monargie nadat dit dekades lank, tot diefascistiese leier ofcaudilloFrancisco Franco se afsterwe in 1975, deur 'n diktatoriese regime beheer is. Administratief word die land onderverdeel in 17 outonome gemeenskappe en twee outonome stede, die eksklawes Ceuta en Melilla. Die hoofstad en grootste metropool isMadrid. Ander belangrike metropolitaanse gebiede sluit inBarcelona,Valencia,Sevilla,Zaragoza,Málaga enBilbao.
Spanje is 'n lidland van dieVerenigde Nasies (VN, sedert 14 Desember 1955), die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO, sedert 1961), dieEuropese Unie (EU, sedert 1 Januarie 1986) en dieNoord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO, sedert 30 Mei 1982). Dit is een van die hoogs ontwikkelde nywerheidslande en word ook onder die wêreld se grootste twintig in- en uitvoerlande gereken. Danksy 'n hoogs ontwikkeldetoerismesektor is Spanje die tweede meesbesoekte land op aarde ná Frankryk.[7] In 1999 het die land by dieeurosone aangesluit; sedert 2002 is Eurobanknote en -muntstukke in omloop.
Dieamptelike taal is Spaans (oftewel Kastiliaans,Castellano), met Katalaans as tweede ampstaal in die outonome gemeenskappe vanKatalonië, Valencia en op die Baleariese Eilande; Baskies in dieBaskeland en dele van Navarra; Galicies inGalisië enAranees in die Val d'Aran.Aragonees enAsturies word as streekstale erken. Die bevolking word volgens taal of dialek en kultuur onderverdeel in Kastiliane in Noord- en Sentraal-Spanje, Andalusiërs in die suide, Galiciërs in die noordweste,Baske in die noordoostelike Atlantiese kusgebied enKatalane in die noordoostelike Mediterreense streek.
Die geskiedenis van Spanje se kultuur strek terug tot in die prehistoriese tydperk toe die land omstreeks 15 000 v.C. deur die Iberiërs bewoon is wat hul naam aan die Iberiese Skiereiland verleen het. Die geskiedenis van kuns in Spanje strek oor byna twintig millennia, van paleolitiese kuns wat in grotte in die noordweste van die land aangetref word totSalvador Dalí se 20ste eeuse surrealistiese skilderye.
Die naam "Spanje" (España) is afgelei vanHispania, dieRomeinse naam vir dieIberiese Skiereiland en sy provinsies tydens dieRomeinse Ryk. Die etimologiese oorsprong van die term Hispania is onduidelik, hoewel dieFenisiërs na die gebied verwys het asSpania (wat "land van diekonyne" beteken), gevolglik is die Fenisiese teorie die mees aanvaarde.[8] Daar was 'n aantal teorieë en hipoteses oor die oorsprong daarvan:
Jesús Luis Cunchillos het gemeen dat die wortel van die woordspan die Fenisiese woordspy is, wat "smee" beteken. Gevolglik soui-spn-ya "die land waar metale gesmee word" beteken.[9] Dit kan ook afgelei gewees het van die Fenisiese woordI-Shpania wat "eiland van konyne", "land van konyne" of "hoek" kan beteken; laasgenoemde verwys na Spanje se ligging aan die einde van dieMiddellandse See; Romeinse munte wat in die gebied onder keiserHadrianus gemunt is, toon 'n vroulike figuur met 'n konyn langs haar voete,[10] enStrabo het dit die "land van die konyne" genoem.[11] Die betrokke woord beteken eintlik "dassie", moontlik omdat die Fenisiërs die twee diere met mekaar verwar het.[12]
Daar is ook beweer dat "Hispania" afgelei is van dieBaskiese woordEzpanna, wat "rand" of "grens" beteken, nog 'n verwysing na die feit dat die Iberiese Skiereiland die suidwestelike hoek van die Europese vasteland vorm.[13]
'nDiorama van die Altamira-grot (Katalaanse Argeologiese Museum,Barcelona)
Die eerste mense het hulle volgens die huidige stand van navorsing sowat 1,5 miljoen jaar gelede op die gebied van die huidige Spanje gevestig. DieNeanderdaller het vermoedelik 45 000 jaar gelede verdwyn. DieNeolitikum (van die 6de millenium v.C.), die oorgang van diedie toeëiening van die lewenstyl as jagters, vissers en versamelaars na die produserende, uiteindelik landelike lewenswyse het begin met die migrasie uit die sentrale Middellandse Seegebied wat sy oorsprong in dieNabye Ooste gehad het.
'n Romeinse teater in Mérida
Uit die 10de eeu v.C. getuig die handel vanFenisiese seevaarders met die Suid-Spaanse kusstreke. Ten minste van die 8ste eeu af het hulle kolonies gestig wat as handelsplekke gedien het, waarvan hul bekendsteCádiz (Gades) was; later hetGrieke gevolg, veral die Fokeërs uitMassalia. In die 5de en 4de eeu v.C. hetKelte uit die noorde hulle op dieIberiese Skiereiland gevestig en in die noordelike en westelike gebiede gemeng met die inheemse Iberiërs (sienKeltiberiërs). In hierdie tydperk isOud-Spaanse skrifte gebruik. 'n Ander belangrike vroeë inheemse volk is dieBaske in die noorde van die land. Tydens diePuniese Oorloë het dieKartage, nasate van die Fenisiërs, groot dele in die suide en ooste van die skiereiland verower. Tydens dieTweede Puniese Oorlog het dieRomeine spoedig die suide en weste van die Kartage verower. Dit het egter 200 jaar geneem totdat die Romeine ook die noorde kon verower. Die provinsiesHispania Baetica in die suide enHispania Tarraconensis in die noorde en ooste het in belangrike dele van dieRomeinse Ryk ontwikkel. Uit die Romeine se Latynse taal het later Spaans en anderRomaanse tale in Spanje ontwikkel.
Die hoofartikel vir hierdie afdeling is:Spaanse Ryk.
Tydens dieVolksverhuising, waartydens dieWes-Romeinse Ryk in die 5de eeu ineengestort het, het dieSuebe hulle op die Iberiese Skiereiland gevestig, terwyl dieWes-Gote naGallië beweeg en ook groot dele van die Iberiese Skiereiland verower het. Ná 'n vernietigende nederlaag teen dieFrankiese Ryk het die Wes-Gote Gallië ontruim en hul sentrum na die skiereiland verskuif. Na hierdie tweede en laaste fase van die Wes-Gotiese Ryk word vanweë sy nuwe hoofstadToledo ook as Toledaanse Ryk verwys. Hulle heerskappy is van 711 af deurIslamitiese troepe beëindig, nadat die Wes-Gotiese koningRoderik verslaan is. Die Arabiese nalatenskap het ná eeue se heerskappy dieargitektuur en die taal beïnvloed. HierdieBerbergroepe, waarna asMore verwys is, het die grootste deel van die skiereiland verower, maar hulle het nie daarin geslaag om hulle in die noorde van die skiereiland te vestig nie. Die GootPelayo (hy word slegs in 'n vervalste kroniek genoem) het hul uitbreiding in dieSlag van Covadonga in Noord-Spanje gestuit. Dié slag het – terugskouend – die begin van die Christelike herowering gemerk, dieReconquista, wat in 722 begin en oor eeue gestrek het. Die Moorse Spanje het ná 750 onafhanklik geword van die Arabiese Ryk, in 929 hetAbd al-Rahman III inAl-Andalus 'n eiekalifaat uitgeroep. Geskille tussen die adelsgesinne het daartoe gelei dat die kalifaat 'n eeu later in verskeie Taifas verbrokkel het.
Intussen is die verenigingsproses in die noorde veral deurKastilië aangedryf. DieKoninkryk León is in 1037 deur koningFerdinand I die Grote verower; boonop het die Kastiliërs imperiale doele nagejaag en tydelik die keisertitel aangeneem. Vername figure in die Reconquista rondom die 11de eeu wasRaymond Berengarius III van Barcelona enEl Cid; laasgenoemde is later as nasionale held van Spanje vereer. Albei koninkryke het in 1157 verbrokkel, toe koningAlfonso VII 'n erfdeling uitgevoer het. Teen 1230 is hulle deurFerdinand III in die Koninkryk Kastilië herenig. In 1469 het die troonopvolger van Kastilië,Isabella, in diehuwelik getree metFerdinand, die troonopvolger van Aragon. Ná die regeringsoorname in 1474 in Kastilië en in 1479 in Aragon het hulle albei heerskappye saam regeer. Hulle het die twee koninkryke egter nie in een enkele staat verenig nie.
Christophorus Columbus (ca. 1451–1506): Genuese seevaarder in diens van die Kroon van Kastilië (portret deur Ridolfo Ghirlandaio)
In 1492 het Christelike troepe die laaste oorblywende gebied op die skiereiland onder Islamitiese bewind verower. In dieselfde jaar hetChristophorus ColumbusAmerika vir Europa ontdek. Ná die einde van die Reconquista is ook ander godsdienstige minderhede geteiken. Die "Katolieke konings" Isabella I en Ferdinand II wou geen nie-Christene meer in hulle ryke duld nie.Moslems enJode is gedwing om hulle te laat doop. In 1478 is dieSpaanse Inkwisisie ingestel om "ongelowiges" wat net uiterlik bekeer het, maar in die geheim steeds hul ou godsdiens nagekom het, op te spoor en te straf (onder andere deurauto de fe). Op 31 Maart 1492 het Isabella I en Ferdinand II die uitsettingsbevel uitgevaardig, waarvolgens al die 300 000 Jode, wat hulle nie wou laat doop nie, die Koninkryk Kastilië en die ryke van die Kroon van Aragon moes verlaat (Sefardiese Jode). In 1609 hetFilips III ook die Moriske, afstammelinge van bekeerde More, uitgesit.
In die 16de eeu is die heerskappye van Kastilië en Aragon tot een koninkryk verenig. Aragon was reeds 'n gevestigde seemag in die Middellandse See, terwyl Kastilië meegeding het met Portugal oor invloed op die Atlantiese Oseaan. Met die ontdekking van dieAmerikas deur Kolumbus vir Europa het Spanje 'n Christelikegroot moondheid geword. In 1504 isJohanna I ná die dood van haar moeder Isabella I tot koningin van Kastilië geproklameer. Deur haar huwelik metFilips I, die seun van dieRooms-Duitse keiserMaksimiliaan I, het 'n blywende verbintenis ontstaan tussen die Spaanse koninkryke en dieHuis van Habsburg (Spaans:Casa de Austria). Hul seun, koningKarel I, van 1516 af Spaanse koning, het in 1519 as Karel V keiser van die Heilige Romeinse Ryk geword. Onder sy bewind hetHernán Cortés dieAsteekse Ryk in Meksiko,Francisco Pizarro dieInka-ryk in Peru en anderconquistadores dieYucatanskiereiland verower. Vervolgens hetNieu-Spanje in Noord-Amerika Spanje se rykste kolonie geword. Nadat Karel in 1556 afstand gedoen het van al sy poste, is die heerskappye tussen die Spaanse en Oostenrykse lyne van die Huis van Habsburg verdeel. Daarmee het die Habsburgse Nederland as Spaanse Nederland aan die Spaanse Ryk geval.
In 1571 was Spanje deel van die Heilige Liga en het vervolgens in dieSlag van Lepanto teen dieOttomaanse Ryk geveg, waarmee die Turkse bedreiging in die Middellandse See beëindig is. In 1580 het die PortugeseHuis van Aviz uitgesterf en die buurland het om dinastiese redes aan die Spaanse Huis van Habsburg (Iberiese Unie) geval. Portugal was tot in 1640 ondergeskik aan Spanje en het dele van sy koloniale ryk verloor. In dié jaar het die hertog vanBraganza 'n adellike opstand aangevoer teen die Spanjaarde en homself asJohannes IV tot Portugese koning uitgeroep. In 1588 het koningFilips II met dieSpaanse Armada dieKoninkryk van Engeland onder die Protestantse koninginElizabeth I probeer verower, maarFrancis Drake en gure weer het die armada vernietig. Dit was ook deel van dieTagtigjarige Oorlog, waartydens dieRepubliek van die Sewe Verenigde Nederlande in opstand gekom het teen Spanje en deur die Engelse en Franse ondersteun is. Gelyktydig het in die Heilige Romeinse Ryk dieDertigjarige Oorlog gewoed. Albei oorloë het in 1648 geëindig met die ondertekening van dieVrede van Münster en dieVrede van Wesfale, waarin Spanje onafhanklikheid aan Nederland moes toestaan.
Teen 1600 het die Spaanse Ryk oor groot dele vanSuid- enSentraal-Amerika, dieSuidelike Verenigde State en dieFilippyne gestrek. Nadat die Engelse en Franse se koloniale strewe ook toegeneem het, het Spanje geleidelik aan wêreldwye invloed verloor. Die Franse koningLodewyk XIV het veral op die Spaanse Nederland gemik en dieDevolusieoorlog ontketen wat met dieVrede van Aken en die oorhandiging van 'n aantal stede aan die Franse geëindig het, terwyl SpanjeFranche-Comté ontvang het. Enkele jare later het dieFrans-Nederlandse Oorlog uitgebreek en dié oorlog is met dieVrede van Nijmegen beëindig waarin die vorige uitruiling van gebiede omgekeer is. Nadat in 1700 die laaste koning van die Huis van Habsburg se Spaanse lyn,Karel II sonder nakomelinge oorlede is, is hy opgevolg deurFilips van Bourbon, die kleinseun van die Franse koningLodewyk XIV uit dieHuis van Bourbon. DieSpaanse Opvolgingsoorlog het in groot dele van Wes-Europa gewoed, onder andere het SpanjeGibraltar aan Groot-Brittanje verloor. Tydens dieSewejarige Oorlog het Spanje in 'n groot alliansie saam met Frankryk, Oostenryk,Rusland enSwede geveg teen Groot-Brittanje,Pruise enPortugal, maar hom aan die verloorkant bevind. In dieVerdrag van Parys moes die land egter minder kolonies as sy geallieerdes oorhandig en slegsFlorida aan die Britte afstaan, terwyl ditLouisiana van die Franse bekom het.
Spanje het saam met Frankryk en Nederland dieVerenigde State tydens dieAmerikaanse Onafhanklikheidsoorlog teenGroot-Brittanje ondersteun en in dieVrede van Parys ná dié oorlogFlorida enMinorka van die Britte herwin. Die Amerikaanse lande se onafhanklikheidsoorloë, veral dieMeksikaanse en Suid-Amerikaanse onafhanklikheidsoorloë aan die begin van die 19de eeu, het met die onafhanklikheid van die meeste kolonies geëindig. Aan die einde van dieSpaans-Amerikaanse Oorlog (wat dieFilippynse Rewolusie ingesluit het) het Spanje in 1898 sy laaste kolonies in dieKaribiese gebied en dieStille Oseaan aan die Verenigde State verloor, waarmee die Spaanse koloniale ryk tot 'n einde gekom het. Die Afrikakolonies wat later bygevoeg is (Spaans-Marokko, Spaans-Sahara enEkwatoriaal-Guinee) het uiteindelik hul onafhanklikheid in die 20ste eeu verkry.
Standbeeld in herinnering aan die Cortes van Cádiz (1810–1813) wat die eerste Spaanse grondwet uitgevaardig het
Ná dieFranse Rewolusie (van 1789 tot 1799) hetNapoleon Bonaparte bewind oorgeneem in Frankryk en nadat hy Spanje verower het, sy broerJosef Bonaparte tot koning geproklameer. Die Spanjaarde het weerstand ontbied in 'n lankguerrilla-oorlog. Van 1810 tot 1813 het dieCortes, afgevaardigdes uit al die provinsies van die Spaanse Ryk, in Cádiz vergader en die land se eerste grondwet uitgevaardig. Dié liberale grondwet was later voorbeeld vir ander grondwette van Spanje en in die buiteland. Ná Napoleon se oorgawe hetFerdinand VII op die Spaanse troon teruggekeer. Hy is in 1833 deur sy (destyds tweejarige) dogterIsabella II opgevolg. Sy was aan bewind tot in 1868. Ná die afdanking van die in 1870 tot koning verkoseAmadeus uit dieHuis van Savoje is in 1873 die Eerste Spaanse Republiek uitgeroep. Ná 'nstaatsgreep is in 1874 die monargie onderAlfons XII van Spanje heringestel.
Aan die begin van die 20ste eeu was Spanje 'n hoofsaaklik onderontwikkelde agrariese land, gekenmerk deurfeodale eienaarskapsverhoudinge, die min nywerhede was veral in Katalonië en die Baskeland saamgetrek. Tydens dieEerste Wêreldoorlog het Spanje neutraal gebly. Spanje is weens sy min vlak van buitelandse handelsbetrekkinge deur dieGroot Depressie heelwat minder geraak as ander lande.[14] In 1923 het generaalMiguel Primo de Rivera bewind oorgeneem en 'nmilitêre diktatuur geïnstalleer, maar die verbinding van koningAlfons XIII met die diktator het die monargie gediskrediteer, terwyl die dringende sosiale probleme egter nie aangepak is nie; op 14 April 1931 hetNiceto Alcalá Zamora die Tweede Spaanse Republiek uitgeroep. Die oorgeërfde politieke en sosiale konflikte het die Tweede Spaanse Republiek van die begin af oorheers, reeds in 1932 het regse militêrs onder generaalJosé Sanjurjo 'n staatsgreep probeer. In 1934 was daar 'n reeks linkse en anargistiese opstande, wat deels bloedig onderdruk is. Die politieke onstabiliteit, wat veral deur die ekstreme verteenwoordigers van linkse en regse posisies en hul paramilitêre verenigings, maar ook deur lede van die gewone veiligheidsmagte aangehits is, is met die Volksfront, bestaande uit linksliberale, sosialistiese en kommunistiese partye, se oorwinning in die parlementsverkiesings op 17 Februarie 1936 verder verskerp.
GeneraalFrancisco Franco, van 1936/39 tot sy dood in 1975 langjarige diktatoor van Spanje
In Julie 1936 het dele van die weermag onder generaalFrancisco Franco in opstand gekom teen die regering, die staatsgreep was slegs in enkele dele van die land suksesvol, terwyl dit in die belangrike politieke en nywerheidsgebiede misluk het (o. a. Madrid, Katalonië en die Baskeland). Dit het tot dieSpaanse Burgeroorlog gelei, waartydens die nasionalistiese opstandiges belangrike hulp ontvang het van die fascistieseItalië asookNazi-Duitsland en die kommuniste deur dieSowjetunie ondersteun is, terwyl die liberale demokrasieë Frankryk en die Verenigde Koninkryk neutraal gebly en daarmee Franco se oorwinning bevoordeel het. Die nasionaliste onder Franco het in 1939 geseëvier. Die diktatuur onder Franco het begin met etlike jare se gewelddadige suiwerings, waarmee die land 'n lang fase van politieke en sosiale letargie betree het. Ná die einde van die burgeroorlog het Franco aangesluit by dieAnti-Kominternpakt met Nazi-Duitsland, Italië enJapan wat teen die uitbreiding vankommunisme gerig was.[15] Nadat Nazi-Duitsland in Augustus dieselfde jaar egter dieMolotof-Ribbentrop-verdrag met die Sowjetunie onderteken het, het die Spaanse verhouding met die Duitsers afgekoel. Vervolgens het Franco, ongeag die Duitse en Italiaanse ondersteuning tydens die burgeroorlog, dieSpilmoondhede tydens dieTweede Wêreldoorlog op militêre vlak nie ondersteun nie. Die meeste mense wat uit Nazi-Duitsland gevlug het, is egter in Spaansekonsentrasiekampe, wat tydens die burgeroorlog opgeris is, geïnterneer.
Net soos ander Europese lande het ook Spanje ná die wêreldoorlog 'n lang ekonomiese opswaai geniet.[16] In 1947 het Franco die monargie herstel en in 1969Juan Carlos I tot sy opvolger benoem. Hy het ná die diktator se dood op 20 November 1975 'n demokratiseringsproses (Transición) ingelui. Spanje het in 1978 met die goedkeuring van 'n grondwet 'ngrondwetlike monargie geword. In die laaste fase van Franco se diktatorskap en veral tydens dieTransición het die land gebuk gegaan onder massiewe terreuraanvalle deur dieETA en ander linkse asook regse terreurgroepe. In 1981 het die laaste staatsgreeppoging ("23-F") deur regse militêrs en dele van die paramilitêre Burgerwag (Guardia Civil) teen die demokratiese regering misluk. Die eerste ministerAdolfo Suárez het hervormings deurgevoer wat die oorgang na demokrasie gebaan het.
Die oorgang het in 1982 met die bewindsoorname deur die Sosiaal-Demokratiese Party onderFelipe González (Partido Socialista Obrero Español, PSOE) geëindig. Spanje het in 1982 by dieNAVO en in 1986 by dieEuropese Gemeenskap (EG, nou die Europese Unie) aangesluit en nog 'n ekonomiese groeifase ervaar. Gelyktydig is in die stryd teen die ETA 'n staatsterroristiese eenheid (Antiterreurbevrydingsgroepe,Grupos Antiterroristas de Liberación, GAL) opgestel, wat met marteling en moord die Baskiese separatiste beveg het, dié tydperk word in Spanje "vuil oorlog" (guerra sucia) genoem.[17] Dieskandaal rondom die GAL-verwikkelinge van belangrike regeringslede het in 1996 gelei tot 'n verkiesingsnederlaag vir die PSOE. Vervolgens hetJosé María Aznar van die konserwatiewe Volksparty (Partido Popular, PP) die nuwe eerste minister geword. In 2002 is dieeuro as geldeenheid ingevoer. Ná twee ampstermyne wat gekenmerk is deur talle skandale en binnelandse konflikte (Irakse Oorlog), het die PP, onder die indruk van die Madridse treinaanvalle op 11 Maart 2004, die parlementsverkiesings verloor (op 14 Maart 2004). Daarna het José Luis Rodríguez Zapatero (PSOE) in Madrid 'n minderheidsregering gelei. In 2007 het in Spanje 'n eiendomsborrel gebars; in 2008 is die land deur diekredietkrisis geraak. Gelyktydig het separatistiese bewegings, veral in Katalonië, gegroei. Ná die verkiesings in Desember 2011 het die PP onderMariano Rajoy weer aan bewind gekom, wat ná 1982, 1996 en 2004 die altesaam vierde magsverandering tussen die konserwatiewes en die sosiaaldemokrate sedert die demokratiese oorgang was.
Tydens die parlementsverkiesings op 20 Desember 2015 het die twee groot partye aansienlik aan stemme verloor en kleiner partye soos Podemos en Ciudadanos het na vore gekom. Weens die ingewikkelde meerderheidsverhoudings het die regeringsvorming misluk, wat tot herverkiesings op 26 Junie 2016 gelei het. Nadat die aantal setels min verander het, was die regeringsvorming weereens moeilik. Mariano Rajoy het op 29 Oktober 2016 eindelik eerste minister geword en 'n minderheidsregering aangevoer, totdat hy op 1 Junie 2018 deur 'nmosie van wantroue in die parlement verwyder is. Hy is opgevolg deur die sosialisPedro Sánchez, maar sy party is met slegs 84 setels in 'n minderheidsregering op die steun van Unidos Podemos, PNV en verskeie separatistiese partye aangewese.
NaasRusland, Frankryk enOekraïne is Spanje die grootste land in Europa. Met inbegrip van die Baleariese en Kanariese Eilande is die oppervlakte 505 370 km².[2]
Spanje beslaan ongeveer 85% van die Iberiese Skiereiland en Portugal beslaan 15% van dié skiereiland. Die grens tussen die twee lande is ongeveer 1 000 km lank, terwyl die grens tussen Spanje enFrankryk, die Pireneë, sowat 500 km lank is. Die res van die land grens, behalwe vir 'n klein gedeelte langsAndorra enGibraltar, aan die see. In die noorde is dieGolf van Biskaje en dieKantabriese See, in die noordooste dieGolf van Lion, in die ooste dieBaleariese See en in die suide dieAlboransee geleë.
Die twee Marokkaanse kusstede Melilla en Ceuta, die eilande en eilandgroepies Penon de Vélez de la Gomera, Islas de Alhucemas en dieChafarin, wat aan die kus van Marokko lê, en die eiland Alboran, wat ongeveer halfpad tussen Melilla en die Spaanse vasteland lê, behoort ook aan Spanje.
BuitenOostenryk enSwitserland is Spanje die bergagtigste land in Europa. Die land lê gemiddeld 660 m bo seespieël en een sesde van Spanje lê hoër as 1 000 m.Teide op die Kanariese eilandTenerife is met 3 715 m die hoogste bergpiek op Spaanse grondgebied. Die hoogste piek op die Spaanse vasteland en die Iberiese Skiereiland isMulhacén met 'n hoogte van 3 478 m, gevolg deurAneto met 'n hoogte van 3 404 m; laasgenoemde is ook die hoogste berg in diePireneë.
In die Pireneë is pieke wat hoër as 3 000 m is. Spanje bestaan ruweg uit 'n groot plato, dieMeseta of Spaanse hoogvlakte, wat tussen 600 en 1 000 m hoog is en deur bergreekse omring word. In die noorde is dieCordillera Cantabrica (Kantabriese Gebergte), metPicos de Europa as die hoogste piek (2 648 m).
Suid van dieEbrorivier lê dieCordillera lbérica (ook Sistema lberico genoem), met die Sierra de Gúdar as die hoogste deel. Heeltemal suid, in die Sierra Nevada, is dieSistema Béticos, met Mulhacén (3 478 m) as die hoogste piek. Deur die gebergte loop die hoogste pad in Europa, naamlik tussen Granada enPichacho de Veleta (3 392 m).
Die Meseta word in 'n noordelike en 'n suidelike gebied verdeel deur die sentrale bergland noord van Madrid, waarvan onder meer dieSierra de Guadarrama, dieSierra de Gredos en dieSierra de Avila deel uitmaak. Dit vorm ook die grenslyn tussen die historiese landstreke Oud- en Nieu-Kastilië.
Afgesien van die groot berge wat om die Meseta geleë is, is daar 'n aantal kleiner berge wat verspreid oor die hoogvlakte lê, onder meer die Sierra Morena (noord van dieGuadalquivir) en die Montes de Toledo.
Spanje is 'n uitgestrekte land met 'n anderklimaat in feitlik elke streek. Die Meseta het 'n kontinentale klimaat met 'n groot verskil tussenwinter- ensomertemperature. DieSpanjaarde beskryf hulle klimaat gewoonlik as drie maande van hel en nege maande winter. In Madrid is die maksimumtemperatuur in die somer 40 °C en in die winter –7 °C.
Die Meseta ontvang gemiddeld slegs 370 mmreën per jaar, hoofsaaklik gedurende dielente en dieherfs. Noord- en Noordwes-Spanje het matige winters en warm somers. Diereënval is daar byna oral meer as 1 000 mm per jaar en op plekke selfs meer as 1 500 mm.
Die Spaanse ooskus het ’n Mediterreense klimaat met warm, droë somers en matige, nat winters. In Barcelona is die gemiddelde temperatuur in die winter 8 °C en in die somer 26 °C. Die gebied ontvang gemiddeld 500 mm reën per jaar, hoofsaaklik in die winter. In die suidooste is die klimaat min of meer dieselfde, maar die gemiddelde wintertemperatuur is aansienlik hoër (tot byna 15 °C). Ongeveer een derde van Spanje het 'n Mediterreense klimaat. Die klimaat van die verre suide stem baie ooreen met dié vanNoord-Afrika.
Veral die lae dele het geweldig warm somers en uitsonderlik sagte winters. Die kusstrook van Gibraltar tot byAlicante is die warmste streek.Malaga se temperatuur in die winter is gemiddeld 13 °C en in die somer 27 °C. Die gebied tussenMurcia enAlmeria iswoestynagtig en kry nie meer as 300 mm reën per jaar nie.
Die meeste riviere in Spanje water in 'n oostelike rigting in die Middellandse See af. Feitlik al die riviere is onbevaarbaar. Die belangrikste riviere (van noord na suid) is Llobregat (gedeeltelik bevaarbaar), Ebro (ook gedeeltelik bevaarbaar),Turia,Júcar,Sangonera,Almanzora, Andarax, Guadalhorce en Guadiaro.Taag enDuero mond albei in Portugal in dieAtlantiese Oseaan uit. Die Ebro is met 'n lengte van 930 km die langste Spaanse rivier, gevolg deur dieGuadalquivir met 'n lengte van 657 km. Die Taag (Portugees Tejo en Spaans Tajo) is die langste rivier op die Iberiese Skiereiland en dit vloei deur belangrike stede soos die ou Spaanse hoofstadToledo en die Portugese hoofstadLissabon, terwyl die Spaanse hoofstad Madrid slegs 40 km noord van dié rivier geleë is.
Guadiana, wat in die suide aan Portugal grens, sowel as Guadalquivir enGuadalete, vloei na die Atlantiese Oseaan. In die noorde en noordweste is daar talle riviere aan die kus, waarvan Nervion, Besaya, Bidassoa, Deva, Nalon, Navia en Rivadeo die belangrikstes is. Buiten die stumere het Spanje baie min mere: suid van Valencia is 'n groot strandmeer, La Albufera, en oos vanCartagena lê 'n tweede, die Mar Menor.
Die kuslyn aan die Middellandse See is ongeveer 1 700 km lank en baie egalig. Groot dele bestaan uit mooi sandstrande, wat gewilde toeriste-aantreklikhede is. DieCosta Brava (van die grens met Frankryk af tot by Barcelona), dieCosta Dorada (van Barcelona af tot by die monding van die Ebro), dieCosta Blanca (van Kaap de la Nao af tot byKaap de Palos) en dieCosta del Sol aan weerskante vanMálaga is van die mooiste en gewildste kusstroke aan die Spaanse kus.
In die suidweste (by die delta van die Guadalquivir) is 'n groot gebied met duine, naamlik dieArenas Gordas. Die noordkus van Spanje aan dieGolf van Biskaje en dieKantabriese See is steil en rotsagtig en is dus nie vir toeriste geskik nie. Dit is 'n sogenaamde riaskus, waar versonke riviermondings diep, smal baaie (rias) vorm.
Spanje het vroeër groot beboste gebiede gehad, maar dit is deur oorloë, grondontginning, weiding en die bewerking van plantasies vernietig. Vandag is slegs sowat 10% van Spanje se grondgebied bebos. Uitgestrekte bosse kom nog net in die Pireneë en noordwestelike dele van die land voor. Tog lewer die land belangrike bosbouprodukte sooshars enkurk. Spanje is ná Portugal die tweede grootste kurkprodusent ter wêreld. In die laaste paar dekades het die Spaanse regering pogings aangewend om die land weer te bebos.
Hoewel Spanje steeds 'n jagtersparadys is, het die wildgetalle – soos elders in Europa – geweldig afgeneem. Ter beskerming van die dierelewe het die owerheid sedert 1918 'n hele aantal wildreservate aangelê. Die oudste reservaat is die van Covadonga by Oviedo. Later het die van Ordesa in die Pireneë, en Donana in die duine en moerasse suidwes van Sevilla, en die by Tenerife en San Miguel de la Palma (Kanariese Eilande) bygekom.
Geografies en tradisioneel kan Spanje in verskeie landstreke, elk met sy eie kenmerkende eienskappe, verdeel word. In die verre suide lêAndalusië, wat duidelike invloede vanAfrika (More) sowel as Europa toon. Dit is een van die onderontwikkelde streke waar grondbesit nog 'n belangrike rol speel. Andalusië het 'n paar groot stede met 'n kleurryke verlede en talle besienswaardighede, onder meerSevilla,Granada enMálaga.Kastilië is in baie opsigte die hart van Spanje.
Sedert dieMiddeleeue het die gebied, wat min of meer met die Meseta ooreenstem, 'n oorheersende rol gespeel en Kastiliaans het byvoorbeeld Spanje se amptelike taal geword. Kastilië is hoofsaaklik 'n landbougebied en bestaan uit eindelose kaal vlaktes. In die noorde is Oud-Kastilië en in die suideNieu-Kastilië. Belangrike stede in die noorde isSalamanca,Valladolid enBurgos. Die hoofstad van Spanje, Madrid, lê in Nieu-Kastilië. Die noorde van Spanje staan asKantabrië bekend.
Dit is 'n bergagtige gebied en bestaan van wes na oos uitGalisië,Asturië, Léon en die Baskiese provinsies. Galisië ontvang die meeste reën, maar is nog nie virtoerisme ontsluit nie. Asturië is 'nmynbou- en swaarnywerheidsgebied. Léon kom baie ooreen met Kastilië. Die Baskiese provinsies in die noorde is veral bekend om hulle welvarendheid in vergelyking met ander en ook om die inwoners se sterknasionalisme. Aan die voet van die Pireneë in die weste lêNavarra en in die oosteKatalonië.
Navarra het noue bande met sowel dieBaske asFrankryk. Katalonië is ekonomies die beste ontwikkel en is meer verwesters as ander dele van Spanje. Omdat hulle relatief ryk is en hulle eie taal praat, voel dieKatalane net so min Spaans as die Baske. Aragón lê half ingedruk tussen Navarra en Katalonië. Dit is ’n bergagtige, baie onvrugbare agrariese gebied. Die gebied langs die Middellandse See, tussen Katalonië en Andalusië, word die Levant genoem. Dit omvat die streek Valencia met sy uitstekende klimaat en sitrusverbouing, en die woestynagtige gebied Murcia.
'n Kaart van die Spaanse outonome gemeenskappe en stede
Volgens die 1978-grondwet bestaan Spanje uit 17 "nasionaliteite en streke". Elke outonome gemeenskap (comunidad autónoma) het deur 'n statuut van outonomiteit sekere bevoegdhede in wetgewing en uitvoering verkry. Die omvang van hierdie regte verskil vir elke outonome gemeenskap. Oor die algemeen geniet nasionaliteite meer outonomiteit as streke. Sewe van die 17 outonome gemeenskappe bestaan uit slegs een provinsie (provincias), die ander uit meer (tot nege) provinsies. Altesaam is daar 50Provinsies in Spanje. Buitendien is daar die twee outonome stede (ciudades autónomas)Ceuta enMelilla aan die Marokkaanse kus wat nie deel uitmaak van enige provinsie nie. Benede provinsies iscomarcas, plaaslike tradisionele streke of 'n groep munisipaliteite (municipios).
Spanje is ten opsigte van sy inheemse bevolking 'n minder homogene land as sy buurland Portugal. Die termSpanjaarde kan na die staatsvolk of titulêre nasie van die land verwys wat verskillendeetniese groepe insluit. Ander belangrike inheemse groepe sluit inBaske in die Baskeland enKatalane inKatalonië wat hul eie nasionale identiteit as etniese en taalgroepe handhaaf. Volgens die 2021-skatting is 84,8% van die bevolking Spanjaarde, 1,7% Marokkane, 1,2%Roemene en 12,3% ander.[2] 'n Ander belangrike minderheid isRoma. In onlangse jare het ookArabiere hulle in Spanje gevestig.
Spanje se uiteenlopende inheemse bevolking weerspieël ook in die tale van die land. NaasSpaans (waarna in die grondwet as "Kastiliaans" verwys word) wat deur sowat 74% van die bevolking gepraat word, isKatalaans (amptelik in Katalonië, die Baleariese eilande en die Valensiaanse gemeenskap) 17%,Galicies (amptelik inGalisië) 7%,Baskies (amptelik in die Baskeland enNavarra) 2%,Aranees (amptelik in dele van Katalonië) met meer as 5 000 sprekers belangrike inheemse tale.[2] Van die ander belangrike streekstale sluit inAragonees inAragon,Asturies inAsturië,Leonees inKastilië en León enOksitaans in Katalonië.
Die finale montering van dieAirbus A400M geskiet in Sevilla'n Model van die Seat Leon. Seat is 'n groot nywerheidswerkgewer in Spanje.'n Aansig van Benidorm snags.Toerisme speel 'n belangrike rol in die Spaanse ekonomie.Kweekhuise by El EjidoDie eksklusiewe ekonomiese sone van Spanje
Met diePlan de Estabilización in 1959, die demokratiese oorgang ná 1975, die toetrede tot die Europese Gemeenskap in 1986 en sy deelname aan die Ekonomiese en Monetêre Unie het Spanje die grondslag geleë vir 'n langaanhoudende ekonomiese opswaai. Die land se nywerhede is agtereenvolgens geliberaliseer en gemoderniseer. Hieruit het 'n aantal internasionaal suksesvolle maatskappy voortgespruit soosIBERIA,Seat,Telefónica,Zara,El Corte Inglés,Endesa enParador. Die oopstelling van Spanje vir internasionale mededinging het gelei tot uitgebreide direkte buitelandse beleggings.
Die prys hiervoor was egter erge krimpings in tradisionele bedrywe, byvoorbeeld in die Baskeland. Die Spaanse maatskappye se gemiddelde aantal werknemers was in 2011 met tien ook heelwat minder as die EU-deursnee van 17 (ter vergelyking: Griekeland 5, Duitsland 35). 80% van die maatskappye in die produserende bedryf het minder as tien werknemers, wat op 'n min mededingendheid van dié vernuwende nywerheid dui. Die herindustrialisering ná die krisis in 2009–2013, wat tot 'n erge ineenstorting van die nywerheidsproduksie gelei het, geskiet tans slegs stadig, hoewel die daarmee gepaardgaande vermindering in indiensneming die produktiwiteit verhoog het. In 2014 is vir die eerste keer sedert die krisis 'n groei in die nywerheidsproduksie van 1,1% aangeteken.[18]
Spanje was, volgens 'n studie deur die bankCredit Suisse in 2017, die land met die twaalfde grootste nasionale totale fortuine wêreldwyd. Die Spanjaarde se totale eienaarskap aan eiendom, aandele en kontant was altesaam 4 845 miljardAmerikaanse dollar. Die fortuine volgens volwassenes is gemiddeld 129 578 en 63 369 dollar inmediaan (Duitsland: 203 946 en 47 091 dollar onderskeidelik). DieGini-koëffisiënt by die welvaartverspreiding het in 2016 68,0 beloop wat op 'n gemiddelde ongelykheid aan rykdom dui.[19] In 2018 was daar in Spanje 25 miljardêrs. Die rykste persoon in die land isAmancio Ortega wat met 'n fortuin van sowat 70 miljard Amerikaanse dollar onder die tien rykste mense wêreldwyd is. Ortega is die stigter van die tekstielmaatskappyInditex.[20]
Die ekonomiese groei rondom die millenniumwisseling is veral deur 'n eiendomsborrel gesteun, waardeur die gemiddelde skuldlas in 2005 125% van die jaarlikse salaris beloop het, dit was drie keer meer as tien jaar terug.[21] Die eiendomsborrel het tydens die finansiële krisis van 2007 af gebars. Aangesien die Spaanse banke feitlik slegs lenings met veranderlike rentekoerse toegestaan en sodoende die rentekoersrisiko aan die leners oorgedra het en die banke weens streng regulering skaars by die ineenstorting van bate-gesteunde sekuriteite betrokke was, is die Spaanse bankwese lank as relatief stabiel beskou. Aangesien die eiendomsektor amper een derde tot die BBP bygedra het, het die ineenstorting 'n groot impak op die ekonomie gehad. Gelyktydig het die eiendomspryse skerp gekrimp, in die eerste kwartaal 2009 met 6,8% in vergelyking tot dieselfde kwartaal die vorige jaar,[22] en baie huishoudings het 'n groot skuldlas gedra.
Op 25 Junie 2012 het die destydse minister van finansies, Luis de Guindos, namens die Spaanse regering by die Europese Unie vir finansiële hulp aangeklop om die Spaanse banke te herkapitaliseer. Die Euro-vennote het aan Spanje reeds 'n enkelbedrag van 100 miljard euro belowe.[23] Nadat die situasie in die Spaanse finansiële sektor verlig het, het die land in Januarie 2014 die euro-reddingspakket verlaat. Gedurende die 18-maande-tydperk van die hulpmaatreëls het Spanje altesaam 41,4 miljard euro ontvang om sy banke te ondersteun.[24]
Die werkloosheidskoers in November 2012 was volgens die Europese Unie se berekening 26,6%.[25] In 2006 was dit 7,6%[26] en in November 2008 13,4%. Daarmee was dit die destyds hoogste werkloosheidskoers in die Europese Unie. Gelyktydig was die werkloosheidskoers van onder 25-jariges op 56,5% (in November 2012), net ná Griekeland die naashoogste koers in die Europese Unie.[25] Vanweë die ekonomiese herstel van 2013 af het dit tot in Januarie 2016 tot 20,5% gekrimp (4,68 miljoen werkloses)[27] en in Junie 2018 tot 15,2%.[28] In 2017 het die jeugwerkloosheidskoers 39,4% beloop.[29] In 2009 was 4,2% van al die werknemers inlandbou werksaam, 24% in nywerhede en 71,7% in die diensektor. Die totale aantal werknemers is in 2017 op 22,75 miljoen beraam; waarvan 46,4% vroue.[30] In die Wêreldwye mededingendheidverslag, wat die mededingendheid van lande vergelyk, het Spanje die 34ste plek onder 137 lande beklee (in 2017–2018).[31] In die Ekonomiese Vryheidsindeks was die land in 2017 in die 69ste plek van 180 lande.[32]
Sedert die 1990's het sommige Spaanse maatskappye multinasionale status verwerf nadat hulle hulle dienste veral na die kultureel verwanteLatyns-Amerika uitgebrei het. In dié streek is Spanje die naasgrootste belegger ná die Verenigde State. Spaanse maatskappye het ook naAsië uitgebrei, veral naIndië en dieVolksrepubliek China.[40] Spaanse maatskappye belê onder andere inhernubare energie-kommersialisering (Iberdrola was die wêreld se grootste hernubare energie-operateur[41]), tegnologiemaatskappye soosTelefónica,Abengoa,Mondragon Corporation (die wêreld se grootste koöperasie wat deur werkers besit word),Movistar,Hisdesat,Indra, treinvervaardigers soosCAF,Talgo, globale korporasies soos die tekstielmaatskappyInditex, petroleummaatskappye soosRepsol ofCepsa eninfrastruktuur met ses van die tien grootste internasionale konstruksiemaatskappye wat in vervoer spesialiseer is Spaans, soosFerrovial,Acciona,ACS,OHL enFCC.[42]
Die motorbedryf is een van die grootste werkverskaffers in die land. In 2023 het Spanje 2,45 miljoen motors vervaardig wat dit die agtste grootste motorvervaardiger wêreldwyd en die tweede grootste in Europa ná Duitsland maak,[43] 'n plek wat dit ook in 2024 behou het.[44] In 2023 is altesaam 89% van die motors en 60% van die motoronderdele/-toebehore wat in Spanje vervaardig is uitgevoer. In 2023 is altesaam 2 201 802 in Spanje vervaardigde motors uitgevoer. In dié jaar het die Spaanse motorbedryf 10% tot die land sebruto binnelandse produk en 18% tot die Spaanse uitvoere bygedra (insluitende motors en motoronderdele/-toebehore). Die buitelandse handelsoorskot van motors het in 2023 €18,8 miljard beloop. Die bedryf genereer 9% van die totale indiensneming en byna twee miljoen werksgeleenthede is gekoppel aan hierdie bedryf.[43]
Spanje se hoofuitvoervennote isFrankryk 15%,Duitsland 10%,Portugal 9%,Italië 9% en dieVerenigde Koninkryk 6% (in 2023). Spanje se hoofuitvoere ismotors, verpaktemedisyne, geraffineerde petroleum, motoronderdele/-toebehore enkledingstukke. Met weinig natuurlike hulpbronne om ekonomiese ontwikkeling te onderhou steun Spanje op ander lande vir meeste van sy grondstowwe; die land voer dus 'n verskeidenheid goedere in. Die land se hoofinvoervennote is Duitsland 11%, dieVolksrepubliek China 10%, Frankryk 10%, Italië 7% en dieVerenigde State 7% (ook in 2023). Spanje se hoofinvoere isruolie, motors, kledingstukke, motors, motoronderdele/-toebehore enaardgas. Spanje se algehele grootste handelsvennote is almal EU-lidlande soos Frankryk, Duitsland en Italië.[2]
↑(es) #Linch, John (direkteur), Fernández Castro, María Cruz (del segundo tomo), Historia de España, El País, volumen II, La península Ibérica en época prerromana, bl. 40. Dossier. La etimología de España; ¿tierra de conejos?,ISBN 978-84-9815-764-2
↑(en)Ulick Ralph Burke (1895).A History of Spain from the Earliest Times to the Death of Ferdinand the Catholic, Volume 1. Londen: Longmans, Green & Co. p. 12.hdl:2027/hvd.fl29jg.
↑(en)Charles Herbermann (red.)."Spain". New York: Catholic Encyclopedia. Besoek op31 Augustus 2025.
↑(en)Edmund J. Osmanczyk (1990).The Encyclopedia of The United Nations and International Relations (2 uitg.). Bristol: Taylor and Francis. p. 865.ISBN0-85066-833-6.
↑(en)Nicholas Crafts; Gianni Toniolo (1996).Economic Growth in Europe Since 1945. Cambridge University Press. p. 123.ISBN978-0-521-49964-4.
↑(en)Angel Alañón; M. Gómez-Antonio (2005).Estimating the size of the shadow economy in Spain: a structural model with latent variables. Vol. 37 (9 uitg.). Applies Economics. p. 1011–1025.
1. Landdeels inAsië. 2. Geografies inAsië, maar gereeld beskou as deel vanEuropa a.g.v. kulturele en historiese oorwegings. 3. Aangedui as dieKanaaleilande.