Met die Crew Dragon Demo-2-sending is die geskiktheid van SpaceX-hardeware vir bemande ruimtevlugte finaal bevestig,[7] asook van die Crew Dragon-ruimtetuig, die Falcon 9-vuurpyl, die lanseringsblad en SpaceX se vermoëns. Die sending het die toets van Crew Dragon se vermoëns in ’n wentelbaan deur die ruimtevaarders ingesluit.[8]
Die Crew Dragon-kapsule is op 30 Mei 2020 met ’n Falcon 9-vuurpyl van dieKennedy-ruimtesentrum se lanseringskompleks 39A gelanseer en het op 31 Mei om 14:27 UTC aan die IRS gekoppel.[9][10] Hurley en Behnken het 63 dae lank saam met die bemanningslede van Ekspedisie 63 gewerk, voordat hulle weer in die kapsule geklim en Crew Dragon ontkoppel het..[11]
Die koppelings- en ontkoppelingsoperasie is outomaties deur die Crew Dragon-ruimtetuig beheer, maar die bemanningslede het dit gemonitor vir geval dit nodig was om in te gryp.[12] Ná die ontkoppeling was die bemanningslede binne 24 uur terug in dieaarde se atmosfeer en die kapsule het om 18:48:06 UTC op 2 Augustus 2020 met valskerms in dieAtlantiese Oseaan geland.[13]