Sergei Michailowitsj Eisenstein (22 Januarie 1898 – 11 Februarie 1948; geboreEizensjtein) was ’n vooraanstaandeSowjet-rolprentregisseur en –teoretikus. Hy word deur baie beskou as die "vader van montage". Hy was veral bekend vir systilrolprenteStrike (1924),The Battleship Potemkin (1925) enOctober (Ten Days That Shook the World) (1927), sowel as die historiese epiese filmsAlexander Nevsky (1938) enIvan the Terrible (1944, 1958).
Die jong Sergei met sy ouers, Michail en Joelia Eisenstein.
Eisenstein is gebore as die seun van middelklasouers inRiga in dieRussiese Keiserryk (nou inLetland). Sy ouers het toe hy jonk was dikwels getrek, nes Eisenstein deur sy hele volwasse lewe sou doen. Sy pa, Michail Osipowitsj Eisenstein, was van Duitse, Joodse en Sweedse afkoms[1] en sy ma, Joelia Iwanowna Konetskaja, het afgestam van ’n RussieseOrtodokse gesin.[2] Sy pa was ’n argitek.
Sy ma het Riga verlaat in die jaar van dieRussiese Rewolusie van 1905, en Sergei saam met haar naSint Petersburg geneem.[3] Eisenstein het sy pa soms in Riga besoek tot dié omstreeks 1910 by sy gesin aangesluit het.[4] Eisenstein se ouers is later geskei en sy ma het in Frankryk gaan woon.[5]
Eisenstein het argitektuur en ingenieurswese studeer aan die Petrogradse Instituut vir Siviele Ingenieurswese. Hy het egter by die weermag aangesluit en in die rewolusie geveg. In 1918 het hy by dieRooi Leër aangesluit, terwyl sy pa hom aan die kant van die monargiste geskaar het.[6] Nadat dieWit Leër verslaan is, is sy paDuitsland toe en Sergei naPetrograd,Wologda enDaugavpils.[7] Hy het in dié tydJapannees geleer[8] en is bekend gestel aankaboeki-teater[9] Dit het hom later naJapan gelok.
In 1920 het Eisenstein Moskou toe getrek en in die teater begin werk.[10] In 1923 het hy sy loopbaan as teoretikus begin. Sy eerste rolprent,Gloemof se Dagboek, is in dieselfde jaar vervaardig.[11][12]
Die stilrolprentStrike (1924) was Eisenstein se eerste vollengterolprent. Sy 1925-filmThe Battleship Potemkin is wêreldwyd hoog aangeskryf. Dit is gevolg deurOctober (Ten Days That Shook the World) as deel van ’n grootse tiende herdenking van dieRussiese Rewolusie van 1917. Internasionale resensente het baie daarvan gehou, maar tuis het sy fokus in dié rolprente op kamerahoeke, die beweging van skares en montage hom in onguns gebring by die Sowjet-rolprentgemeenskap en hy is gedwing om artikels te publiseer waarin hy homself kritiseer en voorneem om hom in die vervolg neer te lê by die toenemend spesifieke riglyne vansosialistiese realisme.
In die herfs van 1928, terwylOctober steeds in baie dele van die Sowjetunie gekritiseer is, het Eisenstein naEuropa gereis saam metGrigori Aleksandrof enEdoeard Tisse. Die amptelike doel van die toer was dat hulle meer moes leer oor klankrolprente en hulself aan die kapitalistiese Weste bekend stel. Vir Eisenstein was dit egter ’n kans om kulture en wêrelddele te sien buite die Sowjetunie. Hy het twee jaar lank inBerlyn,Zürich,Londen enParys getoer en klas gegee.[13]
In April 1930 hetJesse L. Lasky namensParamount Pictures aan hom die aanbod gemaak om ’n prent inAmerika te maak.[14] Hy het ’n korttermynkontrak aanvaar en in Mei 1930 inHollywood aangekom. Die reëling het egter misluk; Eisenstein se idiosinkratiese en artistieke benadering tot rolprente was onversoenbaar met die Amerikaanse ateljees se meer formule- en handelsgerigte benadering.
Eisenstein sou daarna as ’n mislukking na Moskou terugkeer. Die Sowjet-rolprentwese het in sy afwesigheid klankrolprente sonder hom aangepak en sy prente, tegnieke en teorieë is al hoe meer aangeval.Charlie Chaplin[15] het egter intussen met hom bevriend geraak en het gereël dat Eisenstein naMexiko reis om ’n rolprent te regisseer van die vervaardigerUpton Sinclair.[16]
Ná ’n ruk in Mexiko hetJosef Stalin ’n telegram gestuur waarin hy sy kommer uitspreek dat Eisenstein na die Weste oorgeloop het.[17] Sinclair het die vervaardiging van die prent beëindig en drie kort rolprente is daarna deur iemand anders voltooi met die filmmateriaal wat Eisenstein gemaak het. Eisenstein het na Moskou teruggekeer.
Sergei Eisenstein se graf op die Moskouse Nowodewitsji-begraafplaas
Ná sy terugkeer was Eisenstein ongewild by ander Sowjet-rolprentmakers weens sy lang verblyf in die buiteland. Dit sou nooit heeltemal verander nie. Hy het daarna ’n lektorspos gekry by die rolprent-onderriginstansie GIK. In 1934 is hy met die rolprentvervaardiger en skrywerWera Atasjewa getroud[18] en hulle het getroud gebly tot met sy dood in 1948, hoewel daar spekulasie is oor sy seksualiteit.[19]
Eisenstein se loopbaan is in dié stadium gered deur Stalin, wat besluit het sy mislukte rolprente en die probleme in die Sowjet-rolprentwese van dié tyd is nie eintlik Eisenstein se skuld nie, maar dié van die uitvoerende beamptes onder wie se toesig hy was. Eindelik is Boris Sjoemjatski, die uitvoerende vervaardiger van Sowjet-rolprente sedert 1932, in 1938 in hegtenis geneem, verhoor, skuldig bevind as verraaier en geskiet.
Stalin het Eisenstein hierna toegelaat om een van twee rolprente te maak, en sy keuse was die anti-DuitseAlexander Nevsky, met musiek deurSergei Prokofiëf. Die resultaat was ’n rolprent wat in die Sowjetunie en die Weste goed ontvang is. Eisenstein het daarvoor die Orde van Lenin en die Stalinprys gekry.[20] Dit is in 1938 begin, geskiet en uitgereik. Dit was nie net Eisenstein se eerste rolprent in byna ’n dekade nie, maar ook sy eerste klankprent.
Maande daarna het Stalin ’n nieaanvalsverdrag met Hitler gesluit en die prent is teruggetrek. Eisenstein het weer gaan klas gee. Ná die begin van die oorlog met Duitsland in 1941 isNevsky heruitgereik en het dit internasionaal sukses behaal.
Tydens die oorlog het Eisenstein besluit om ’n rolprent oor tsaarIwan IV te maak. In sy rolprentIvan The Terrible, Part I word Iwan as ’n nasionale held voorgestel en dit het Stalin se goedkeuring weggedra. Dit het Eisenstein nog ’n Stalinprys in die sak gebring.[21] Die opvolg,Ivan The Terrible, Part II is egter wyd gekritiseer en dit is eers in 1958 uitgereik. Alle materiaal van die nog onvoltooideIvan The Terrible, Part III is gekonfiskeer en die grootste deel daarvan is vernietig.[22]
Tydens die maak van laasgenoemde rolprent het Eisenstein ’n hartaanval gehad. Hy is kort daarna op 50 dood ná ’n tweede hartaanval.[23] Sergei Eisenstein het sy laaste rusplek op die Moskouse Nowodewitsji-begraafplaas gevind.
Bergan, Ronald (1999), Sergei Eisenstein: A Life in Conflict, Boston, Massachusetts: Overlook Hardcover, ISBN978-0-87951-924-7
Bordwell, David (1993), The Cinema of Eisenstein, Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press, ISBN978-0-674-13138-5
Geduld, Harry M.; Gottesman, Ronald, eds. (1970), Sergei Eisenstein and Upton Sinclair: The Making & Unmaking of Que Viva Mexico!, Bloomington, Indiana: Indiana University Press, ISBN978-0-253-18050-6
Goodwin, James (1993), Eisenstein, Cinema, and History, Urbana: University of Illinois Press, ISBN0-252-06269-8
Leyda, Jay (1960), Kino: A History of the Russian And Soviet Film, New York: Macmillan, OCLC1683826
Leyda, Jay (1986), Eisenstein on Disney, Londen: Methuen, ISBN0-413-19640-2
Leyda, Jay; Voynow, Zina (1982), Eisenstein At Work, New York: Pantheon, ISBN978-0-394-74812-2
Montagu, Ivor (1968), With Eisenstein in Hollywood, Berlyn: Seven Seas Books, OCLC8713
Neuberger, Joan (2003), Ivan the Terrible: The Film Companion, London; New York: I.B. Tauris, ISBN1-86064-560-7
Nizhniĭ, Vladimir (1962), Lessons with Eisenstein, New York: Hill and Wang, OCLC6406521
Seton, Marie (1952), Sergei M. Eisenstein: A Biography, New York: A.A. Wyn, OCLC2935257
Howes, Keith (2002), "Eisenstein, Sergei (Mikhailovich)", in Aldrich, Robert; Wotherspoon, Garry, Who's Who in Gay and Lesbian History from Antiquity to World War II, Routledge; Londen, ISBN0-415-15983-0
Stern, Keith (2009), "Eisenstein, Sergei", Queers in History, BenBella Books, Inc.; Dallas, Texas, ISBN978-1-933771-87-8
Эйзенштейн, Сергей (1968), "Сергей Эйзенштейн" (избр. произв. в 6 тт), Москва: Искусство,Избранные статьи(ru)