DieRomeinse Ryk (Latyn:IMPERIVM ROMANVM) verwys na die gebied wat tussen27 v.C. en die5de en6de eeu n.C. deur 'n reeks vankeisers geregeer is. Dit was een van die grootsteryke in die wêreldgeskiedenis en die bevolking het gegroei tot 'n geskatte 50 tot 90 miljoen. Gebiede wat 'n deel van die ryk was, het gestrek vanafBrittanje totEgipte en het velenasies enkulture ingesluit.
Legio III Cyrenaica (die derde Cireense Legioen) tydens 'n vertoning van 1ste eeuse militêre uniforms en wapens inNieu-Engeland,Verenigde State. Die Romeinse Keiserryk se politieke bedeling word deur historici dikwels beskryf as 'n monargiese militêre diktatuur
Geskiedkundiges verdeel die geskiedenis van die Romeinse Ryk meestal in drie groot tydperke - die monargie of koningstyd, die republiek en die keiserryk. Die geskiedenis van die Romeinse monargie, wat eeue lank bestaan het, is in 'n wasigheid gehul. Groot dele daarvan is net in die vorm van stigtingsmites oorgelewer waarin Rome se bestaan vir latere generasies gelegitimeer is. Argeologiese vondse dui daarop dat die gebied van Rome ten minste vanaf die tweede millennium v.C., dieBronstydperk dus, bewoon was. Antieke Romeine gee die stigtingsdatum van hul stad en die regentskap van die eerste Romeinse koning, Romulus, as die middel van die 8ste eeu v.C. aan.
Die Romeinse Keiserryk het na dieburgeroorlog, wat naJulius Caesar se dood uitgebreek het, uit dieRomeinse Republiek en die daaropvolgende Prinsipaat onderAugustus ontstaan. Alhoewel die Romeinse Ryk bestaan het tot die jaar476, het die Ryk vir alle praktiese doeleindes geskei tussen die ooste en weste.
Wat Rome se groei tot 'n wêreldryk van ongekende formaat des te meer opspraakwekkend maak, is die feit dat die Romeine betreklik laat tot die toneel van Mediterreense moondhede toegetree het. Hul opstyging tot 'n streeksmoondheid in die laaste eeue v.C. val saam met 'n lang tydperk van algemene instabiliteit in die Mediterreense wêreld. Op 'n baie geskikte moment in die geskiedenis het Rome met sy fondament van republikeinse instellings en sy gedissiplineerde strydmag die kans gegryp om sy mededingers een na die ander met die militêre slaankrag van sy legioene uit te skakel.[1]
'n Verskeidenheid teorieë is deur wetenskaplikes ontwikkel aangaande die krisis en ondergang van dieWes-Romeinse Ryk en die Mediterreense beskawing in die laat antieke tydperk. Kyle Harper, professor in die departement van klassieke lettere aan die Universiteit van Oklahoma het in sy werkThe Fate of Rome, wat in 2017 gepubliseer is, 'n ander, opspraakwekkende verklaring gelewer. Hy verduidelik die samehang tussen die antieke klimaatoptimum, wat tot omstreeks 150 n.C. voortgeduur het, en die bloeitydperk van die Romeinse Ryk. In die daaropvolgende oorgangstydperk het volgens hom ingrypende veranderinge plaasgevind as gevolg van klimatiese veranderinge,natuurrampe,epidemieë en hongersnode waartydens die Mediterreense bevolking gehalveer is.[2]
Met dieMiddellandse See as sy sentrum (waarna Romeine treffend asMare nostrum of "Ons see" verwys het), het die Romeinse Ryk in die vroeë 2de eeu n.C. sy grootste strekking bereik en oor 'n afstand van sowat drieduisend myl noord-, suid- en ooswaarts gestrek - vanuit die huidige Engeland, dieAtlantiese kusgebiede vanWes-Europa, en Germanië (groot dele van die huidige Duitsland) die Nyl rivierop, en tot Sirië en Armenië.[3] Die getal elite-amptenare, wat die uitgestrekte imperium vanuit Rome en die provinsiale sentra bestuur het, word deur historici op net sowat 350 beraam, terwyl gewapende magte van tussen 350 000 en 400 000 die ryk teen interne en bedreigings van buite beskerm het.[4]
Eenderse klimatiese omstandighede, 'n agrariese ekonomie en 'n gemeenskaplike Grieks-Romeinse kulturele basis het gemeenskappe langs die grootste deel van die Mediterreense kus in meerdere of mindere mate saamgesnoer. 'n Gebrekkige vervoer- en kommunikasieinfrastruktuur het nogtans beteken dat sommige provinsies nie ten volle in die seëninge van die Romeinse beskawing kon deel nie. So word beraam dat slegs sowat 'n vyfde van die geskatte bevolking van sestig miljoen gedurendeHadrianus se regering 'n lewenstyl kon voer wat nie tot eenvoudigebestaansboerdery beperk was nie.[5]
Die bevoordeelde gemeenskappe was hoofsaaklik saamgetrek in sowat 2 000 stedelike nedersettings langs die kuslyne, riviere en naby strategiese landroetes en bergpasse. Die grootste digtheid van sulke nedersettings is in die Noord-Afrikaanse provinsies, die kernland Italia en die kusgebiede van Asia Minor (Klein-Asië) aangetref.
Oorkant die ryksgrense was vasalstate en gebiede van stamme geleë wat ekonomiese bande met die Romeinse wêreld gehandhaaf en politieke alliansies gesluit het, maar ook vyandelik gesinde stamme en nomadiese volksgroepe.
Rome se politieke bedeling het met verloop van tyd van 'n monargie in 'n republikeinse bedeling en uiteindelik in 'n keiserryk verander. Die Romeinse Ryk het ongeag die verskeidenheid van sy volke, tale en godsdienste tot 'n gemeenskaplike staat, lewensvorm en universele staatsidee ontwikkel, wat as 'nimperium sine fine ("'n ryk sonder grense") gedefinieer is.
Die Romeinse Ryk het sy grootsteuitbreiding onder die heerskappy van keiserTrajanus bereik en destyds oor drie vastelande gestrek: die Mediterreense gebiede rondom dieMiddellandse See,Gallië, groot gedeeltes van Brittanje en die gebiede rondom dieSwartsee. Rome het sodoende die meeste van die gebiede oorheers wat destyds in die Mediterreense wêreld bekend was.
Handel,kuns en kultuur het in die tydperk van die Romeinse Ryk in baie van sy gebiede 'n eerste bloeitydperk beleef en die lewensgehalte, die vlakke van geletterdheid en die bevolkingsyfers het eeue lank ongeëwenaar inEuropa gebly.
Die Romeinse Ryk het 'n groot kulturele en taalkundige invloed op die gebiede binne en oorkant sy grense uitgeoefen. Terwyl die weste van die ryk gelatiniseer is, het die Romeinse invloed in die oostelike gebiede met Grieks-Hellenistiese en Oosterse elemente vermeng.
Latyn, die inheemse taal van die stadRome en sy omgewing (die gewesLatium, wat ook sy naam aan die taal gegee het), het dieamptelike taal van die ryk geword, maar gedeeltelik ook elemente van ander tale bewaar. Die taal van die Romeine is in Europa nog baie eeue ná die ondergang van die Romeinse Ryk tot in diebarok-tydperk as 'n wetenskapstaal gebruik. In dieRooms-Katolieke Kerk het Latyn tot met die Tweede Vatikaanse Konsilie die taal van die mis gebly. Baie wetenskappe, soosgeneeskunde enbiologie, gebruik en skep nog steeds (Grieks-)Latynse vakterme.