Robert Heinrich Hermann Koch (11 Desember 1843 – 27 Mei 1910) was 'nDuitsemedikus enmikrobioloog. Hy het beroemdheid verwerf vir die ontdekking van dietuberkel bacillus (1882) encholera bacillus (1883) en vir sy ontwikkeling van "Koch se postulate". Koch was een van die stigters van diebakteriologie studierigting. Koch was ook betrokke by ondersoeke na 'n verskeidenheid van mens- en dieresiektes soosmelaatsheid, peste,malaria en beessiektes. Hy het daarin geslaag om die oorsaak van verskeie bakteriële siektes te bepaal en het 'n geslaagde entstof teen onder meerrunderpes ontwikkel.
DieNobelprys vir Fisiologie of Geneeskunde is in 1905 "vir sy ondersoeke en ontdekkings met betrekking tot tuberkulose" aan hom toegeken.[1]
Koch is op 11 Desember 1843 in Clausthal,Pruise, gebore. Hy het aan dieUniversiteit van Göttingen in die medisyne gestudeer en in 1866 sy graad behaal.
Gedurende dieFrans-Pruisiese oorlog van 1870/71 was hy die distriksgeneesheer van Wollstein. In 1885 is hy aangestel as hoogleraar in higiëne aan die Universiteit van Berlyn en ses jaar later as direkteur van die Instituut vir Besmetlike Siektes.
Koch word as die grondlegger van bakteriologie beskou. Hy het navorsing gedoen oor die aard van bakteriële siektes, nuwe tegnieke vir die bestudering van bakterieë ontwikkel en vasgestel hoe bakterieë bewaar en gefotografeer kan word.
Hy het uitgevind hoe siekte-bakterieë uitgeken kan word en het middels ontwikkel om bakteriële siektes teen te werk. Hy het ook navorsing gedoen oor die ontstaan van infeksie in wonde. Robert Koch het daarin geslaag om dieantraksbakterie te identifiseer, en in 1876 het hy hierdie bakterieë gekweek en 'nentstof daarteen ontwikkel. In 1882 het hy die basil wat tuberkulose veroorsaak ontdek, en tuberkulien ontwikkel vir die diagnosering en behandeling van tuberkulose.
Hy het egter nooit daarin geslaag om ʼn geslaagde entstof teen tuberkulose te ontwikkel nie, maar sy werk op hierdie gebied het die grondslag gelê vir vaksienbehandeling teen hierdie siekte. Eers jare later het twee Franse bakterioloë 'n entstof teen tuberkulose ontwikkel. In 1883 het Koch tydens 'n ekspedisie naEgipte enIndië die cholerabasil geïdentifiseer.
Koch het Suid-Afrika in 1896 op uitnodiging van die Kaapse regering besoek om runderpes te ondersoek en aanbevelings daaroor te doen. Hy het hoofsaaklik inBotswana en in die omgewing vanKimberley, waar runderpes uitgebreek het, gewerk en daarin geslaag om 'n middel vir die behandeling en voorkoming van die siekte te ontwikkel. Hy het vasgestel dat beter resultate verkry word deur die gal van siek diere pleks van dié van herstelde diere in die serum te gebruik. Ook in sy ondersoek na builepes het Koch welslae behaal met die uitvinding van 'n teenmiddel.
Ná dieAnglo-Boereoorlog het hy Suid-Afrika 'n tweede keer besoek omperdesiekte te ondersoek. Van 1903 tot 1904 het hyOoskus-koors inZimbabwe ondersoek, en tussen 1906 en 1907 het hy navorsing gedoen oor ander koorssiektes soosmalaria en slaapsiekte in Oos-Afrika.
In 1905 is die Nobelprys vir Medisyne aan Koch toegeken vir sy werk op die gebied van tuberkulose. Vyf jaar later, in 1910, is hy inBaden-Baden oorlede. SySamtliche Schriften in twee dele is in 1912 gepubliseer.
Destyds was daar inEuropa 'n siekte, bekend as miltvuur, wat dikwels onder vee voorgekom het. Hierdie siekte was so hewig dat selfs die gehardste beeste en skape siek geword en binne 'n paar uur gevrek het. 'n Doeltreffende middel teen die siekte het nie bestaan nie. Verskeie jare lank is vermoed dat miltvuur die gevolg was van besmetting deur bakterieë, maar niemand het tot in daardie stadium nog afdoende bewys daarvoor gevind nie.
Robert Koch het 'n paar monsters van diere met die siekte onder lede geneem en dit in 'n klompie muise wat hy in koutjies in sy laboratorium gehou het, gespuit. Hierdie muise het na 'n kort rukkie siek geword en toe Koch hulle doodmaak, het hy vasgestel dat hulle weefsel lewende muise kon besmet. Op hierdie manier het hy miltvuur deur twintig opeenvolgende groepe muise voortgeplant.
Hy het klein stukkies uit diemilt van die siek muise gesny en onder symikroskoop gesien hoe die dodelike bakterieë in die stukkies muisweefsel groei. Teen 1876 was Koch oortuig dat die oorsaak van miltvuur daar, onder sy mikroskoop, was. Hy het aan die hoogleraar in plantkunde aan die Universiteit vanBreslau, Ferdinand Cohn, geskryf en gevra of hy sy ontdekking aan hom kon kom demonstreer.
Cohn het ingestem, en na die demonstrasie was ook hy oortuig dat die bakterieë inderdaad die oorsaak van miltvuur was. Dit was die eerste onbetwisbare bewys dat bakterieë siektes in diere kon veroorsaak, en gevolglik waarskynlik ook in die mens. Koch het oornag beroemd geword. Hy het sy praktyk laat vaar en hom heeltyds op navorsing toegelê.
Hoewel die wetenskaplikes in daardie jare lank reeds in staat was om bakterieë in hul laboratoriums aan te hou, was hulle verplig om hierdie kulture in 'n vloeistofmedium te kweek. Dik vleissop, aftreksels van hooi en melk was die media wat die meeste gebruik is. Die bakterieë het heel bevredigend gegroei, maar die groot nadeel van die vloeibare media was dat baie soorte bakterieë deurmekaar daarin voorgekom het. Dit was feitlik onmoontlik om hulle van mekaar te skei en 'n kultuur te verkry wat bakterieë van slegs een soort bevat het.
Koch het hierdie probleem op 'n baie vindingryke manier opgelos. Hy het 'n klein bietjie gelatien in warm vleissop opgelos en sodoende 'n mengsel verkry wat hy voedingsgelatien genoem het. Hierdie mengsel het hy toegelaat om af te koel en toe het hy dit op 'n plat stukkie glas gesit en laat hard word. Nadat die voedingsgelatien gestol het; het hy 'n platinumdraad geneem, dit in een van sy vloeibare kulture gedoop en daarna liggies oor die oppervlak van die voedingsgelatien getrek.
Deur dit te doen, het van die onsigbare bakterieë aan die draad op die gelatien beland, en waar hulle geval het, het elkeen begin om 'n kolonie van bakterieë te vorm. Hierdie kolonies het gou sigbaar geword, en Koch, wat geweet het dat elke kolonie uit 'n enkele organisme gegroei het, was oortuig dat elke kolonie slegs een soort bakterieë bevat het. Met 'n platinumdraad het hy die kolonies afgetrek wat hy nodig gehad het vir 'n suiwer kultuur.
Net soos in die geval van miltvuur, is destyds reeds vermoed dat tuberkulose (tering) 'n aansteeklike siekte is, hoewel niemand nog in daardie stadium 'n afdoende bewys kon lewer nie. Op 24 Maart 1882 het Robert Koch die wêreld verras deur voor die Fisiologiese Vereniging van Berlyn te verklaar dat hy die bakterieë wat verantwoordelik is vir hierdie dodelike siekte ontdek het. Koch het stukkies tuberkulose weefsel van mense en diere wat aan tering gely het geneem, en nadat hy hulle op 'n spesiale manier gekleur het, het hy die teringkieme in die weefsel ontdek.
Maar dit was nie al nie. Hy het met veel moeite daarin geslaag om hierdie kieme te kweek in buise wat met bloedserum gevul was. Hy het selfs die siekte op hase en marmotjies oorgeplant. Agt jaar later, in 1890, het Koch aangekondig dat hy 'n stof ontdek het wat in mense gespuit kon word om longteringbesmetting die hoof te bied. Deur kulture longteringkieme met gliserien te behandel, was hy in staat om 'n ekstrak te berei wat hy tuberkulien genoem het.
Ongelukkig was tuberkulien nie so 'n wonderlike terapeutiese middel as wat Koch gehoop het nie, maar as 'n hulpmiddel in die diagnose van tuberkulose was dit van onskatbare waarde. Groot hoeveelhede van hierdie diagnostiese stof word vandag nog oor die hele wêreld gebruik.
- de Boom, H.P.A.: In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 32, nr. 1, Desember 1982
- KENNIS, 1980,ISBN 0798108266, volume 4, bl. 790, 791
- Wêreldspektrum, 1982,ISBN 0908409567 band