





DieRhodes-beurs is 83 beurse wat toegeken word uit die nalatenskap vanCecil John Rhodes aan belowende studente uit sekere lande vir driejarige studie aan dieUniversiteit van Oxford.
Ingevolge Rhodes se testament is sowat ’n derde van sy erflating, nagenoeg £2 miljoen uit die totaal van nagenoeg £6,5 miljoen, opgedra aan die sorg van trustees. Hy het versoek dat hy begrawe word in die Matopo’s, en dat die omliggende grond ontwikkel word as ’n openbare ontspanningsterrein en plaas. SyKaapstadse woningGroote Schuur moes die woning word van die eerste minister van ’n verenigde Suid-Afrika. £100 000 is bemaak aan sy voormalige kollege, Oriel, aan Oxford, en 60 beurse, elk met ’n waarde van £250 per jaar vir drie jaar, is toegeken aan ’n groep jong mans wat versigtig gekeur is uit veral die Engelssprekende wêreld, onder wie 24 van Suid-Afrika, 21 vanAustralië, ses vanKanada, drie vanNewfoundland (wat toe nog ’n afsonderlike kolonie was), drie vanBermuda, drie vanJamaika en ’n sekere aantal, wat later bepaal sou word, uit dieVerenigde State van Amerika. Die lande waarin studente tans beurse ontvang, is Australië; Bermuda; Kanada; Duitsland; Hongkong; Indië; Jamaika & Statebondslande in die Karibiese See; Kenia; Nieu-Seeland; Pakistan; Suider-Afrika (Suid-Afrika en sy buurstate Botswana, Lesotho, Malawi, Namibië en Eswatini); Die Verenigde State; Zambië; en Zimbabwe. Suider-Afrika kry nou net 10 terwyl Amerikaanse studente met 32 beurse die grootste enkele groep verteenwoordig. Die totale beurse wat in 2013 toegeken is, was 83, vergeleke met die 52 in 1902, die eerste jaar van die beurse se bestaan.
Rhodes het bepaal dat nie net opvoedkundige kwalifikasies nie, maar ook karakter en sportmanskap in aanmerking geneem moes word. Die getal beurse is later vermeerder tot 160 en die waarde is opgeskuif tot £600 per jaar. Vyftien beurse sou oorgelaat word aan die oordeel van dieDuitse keiser en is later oorgedra aan Duitse studente. Al die beurse was bestem vir studie aan Oxford, waar Rhodes House die hoofkantoor van die trust is.
Voorsiening is later gemaak vir vroulike en swart studente. Rhodes se testament maak ook voorsiening vir die bewaring van sy familie se landgoed, Dalham Hall, inEngeland.
Die Afrikaanse taalstryder en belowende jong predikant dr.Tobie Muller, wat in 1918 'n slagoffer van dieGriepepidemie sou word, het omstreeks 1905 die B.A.-graad met onderskeiding aan dieVictoria-kollege opStellenbosch behaal en so 'n beurs van £400 verwerf. Terselfdertyd is 'n Rhodes-beurs van £300[1] aan hom toegeken vir driejarige studie aan dieUniversiteit van Oxford. Volgens dr.P.J. Nienaber het hy toe getoon dat hy "deur en deur 'n Afrikaner was – nie alleen in teorie nie", want hy het die Rhodes-beurs van die hand gewys "omdat hy nie geld kon aanneem van 'n man wie se politiek hy verfoei het nie" en "omdat hy hom nie met die Britse imperialisme kon vereenselwig waarvanC.J. Rhodes vir hom die sinnebeeld was nie".[2] Met hierdie besluit, "waardeur hy ook aansienlike stoflike voordeel prysgegee het, tree die nasietrots en vaderlandsliefde wat steeds sy optrede sou kenmerk, reeds sterk te voorskyn en verwerf hy die agting van tydgenote en selfs van andersdenkendes".[3]
Ook die Afrikaanse joernalisSchalk Pienaar, wie se vader, ds.S.W. Pienaar, nes dr. Tobie Muller laat in 1918 aan die griep oorlede is, het 'n minder gelukkige ervaring met 'n Rhodes-beurs gehad. Soos sy oudste broer, Johannes, voor hom, het Pienaar vanweë sy uitsonderlike akademiese prestasies en talent die Stellenbosse Hoër Jongenskool (later diePaul Roos Gimnasium genoem) se Rhodes-beurs verwerf nadat hy in 1932 gematrikuleer het. In 1935 het hy die graad B.A. aan dieUniversiteit van Stellenbosch behaal met geskiedenis en tale as hoofvakke. Hy het akademies, in rugby as agsteman van die eerste span en as leier in die studentegemeenskap hoog presteer, maar aan dieUniversiteit van Oxford het hy weens ontevredenheid met sy kursus sy studie binne die eerste jaar gestaak. Daar is volgens 'n reëling van die Rhodes-sekretariaat van hom verwag dat hy eerstejaarswerk moet doen en hy het dit as tydverspilling beskou.[4]