Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Publius Quinctilius Varus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Varus ontvang Germaanse leiers

Publius Quinctilius Varus (46 v.C., Cremona – 9 n.C., Teutoburgerwoud) was 'n Romeinse generaal en politikus onder dieeerste Romeinse keiser,Augustus Octavianus. Varus word veral onthou vanweë die feit dat drie Romeinse legioene onder sy bevel verslaan is toe hy in 'n lokval gelei is deurGermaanse stamme onder leiding vanArminius tydens dieSlag by die Teutoburgerwoud, waarna hy sy eie lewe geneem het.

Agtergrond en vroeë loopbaan

[wysig |wysig bron]

Alhoewel hy van geboorte 'nPatrisiër was, was sy familie, die Quinctilii Vari, geruime tyd reeds verarm en ongerekend; Ronald Syme merk byvoorbeeld op, "The sole and last consul of that family", Sextus Quinctilius, "had been two years antecedent to the Decemvirs" (d.i.453 v.C.).[1] Sy vader, Sextus Quinctilius Varus, was 'n senator wat gedien het as 'nquaestor in 49 v.C.[1] Laasgenoemde het hom geskaar by die Senatoriale Party tydens die burgeroorlog teenJulius Caesar.[2] Alhoewel hy ongeduurd daarvan afgekom het, is dit onbekend of hy betrokke was by die moord op Julius Caesar. Na die Slag van Philippi in 42 v.C. het hyselfmoord gepleeg.[3] Die identiteit van Varus se moeder is onbekend; Syme merk eweneens op dat "no relatives on either side of the family can be discovered or surmised."[1]

Varus het drie susters gehad, almal genaamd Quinctilia. Hulle was waarskynlik almal jonger as hy, gegrond op wanneer hulle kinders begin kry het. Dit lyk derhalwe waarskynlik dat hy ten minste vier jaar voor sy vader se selfmoord gebore is. Die feit dat sy susters voordelige huwelike gehad het, dui daarop dat iemand by hul opvoeding betrokke was. Een suster het met Publius Cornelius Dolabella, konsul van 35 v.C. getrou; 'n ander met Sextus Appuleius, konsul van 29 v.C.; en die derde met Lucius Nonius Asprenas, seun van die konsul van 36 v.C.[4]

Ten spyte van Varus se vader se politieke getrouheid, het hy 'n ondersteuner van Julius Caesar se erfgenaam,Augustus Octavianus, geword. ToeMarcus Vipsanius Agrippa vroeg in 12 v.C. gesterf het, het Varus saam met die toekomstige keiserTiberius die begrafnisrede gelewer.[5][6] Met sy politieke loopbaan wat dus 'n hupstoot ontvang het, is hy in 13 v.C. verkies as konsul, en hy het hiermee 'n kollega van Tiberius geword.[7]

Huwelike en kinders

[wysig |wysig bron]

Varus is getroud met Vipsania, dogter van Agrippa, op 'n onbekend datum vóór 13 v.C.[8] Varus het 'n goeie vriend van Marcus Agrippa en Tiberius geword. Die geskiedkundige Josephus vermeld (in 'n afdeling van syAntiquities, welke manuskriptradisie volgens Walther John korrup is)[9] dat die seun van Varus, ook genaamd "Publius Quinctilius Varus", onder hom gedien het tydens sy bevelstyd in Syria.[10] Indien waar, moes die seun tydens 'n vorige huwelik opgewek gewees het, en was hy derhalwe nie opgewek by Varus se laaste vrou, Claudia Pulchra, nie.[11] Dit is moontlik dat hierdie seun eerder 'n ouer seun, Sextus Nonius Quinctilianus, kon gewees het, wat moontlik deur sy suster se man aangeneem is nadat Varus en Vipsania gesterf het. Dit sou verklaar waarom 'n seun van Lucius Nonius AsprenasQuinctilianus genoem is, wat aanneming impliseer.[12]

Vipsania verdwyn hierna uit die geskiedenis, en dit is onbekend of sy dood is of geskei is. Varus het hierna met Claudia Pulchra getrou.[13] Sy was die dogter van Claudia Marcella Minor en die Romeinse konsul van 12 v.C., Marcus Valerius Messalla Appianus.[14] Haar ouma aan moederskant was Octavia die Jongere, suster van Augustus Octavianus. Sy was dus 'n grootniggie van Augustus Octavianus.[15] Sy huwelik met Pulchra toon dat Varus steeds politieke guns geniet het. Pulchra het vir Varus 'n seun gebaar, ook genoem Publius Quinctilius Varus, die Jongere.[13] Hulle het deur hul seun moontlik verdere afstammelinge gehad.

Politieke loopbaan

[wysig |wysig bron]
As Lugdunum I (RIC 230), teengemerk "VAR" (Varus)

In 8–7 v.C. het Varus die provinsieAfrica regeer.[16] Later het hy, vanaf 7-6 v.C., aan die hoof gestaan vanSyria, met vier legioene onder sy bevel. Hy was bekend vir sy genadelose houding en hoë belastings. Die Joodse historikusJosephus maak melding van Varus se flinke optrede teen 'n messiaanse opstand inJudaea, na die dood van die Romeinse kliëntekoningHerodes die Grote in 4 v.C. Nadat hyJerusalem beset het, het hy 2000 Joodse rebelle gekruisig. Daardeur was hy derhalwe een van die vernaamste persoonlikhede wat hom populêre anti-Romeinse sentiment in Judea op die hals gehaal het (Josephus, wat alle pogings aangewend het om die Joodse volk met die Romeinse heerskappy te versoen, het dit nodig gevind om aan te toon hoe mild hierdie geregtelike bloedbad was). Inderdaad, op presies hierdie oomblik het dieJode in hul massas 'n volskaalse boikot van Romeinse pottebakkery van stapel gestuur.[17] Dit wil voorkom of die argeologiese rekord derhalwe die massaproteste teen Rome as gevolg van Varus se wreedheid staaf.

Na die slagting in Judea het Varus naAntiochië teruggekeer.[18][19] Tussen 10 v.C. en 6 n.C. het Tiberius, sy broerNero Claudius Drusus, Lucius Domitius Ahenobarbus, enGermanicus uitgerekte veldtogte in Germanië, die gebied noord van die Bo-Donau en oos van dieRyn, gevoer in 'n poging om 'n verdere uitbreiding van die Romeinse Ryk te bewerkstellig, tesame met 'n verkorting van sy grenslyn. Hulle het verskeie Germaanse stamme, onder andere die Cheruske, onderwerp. In 6 n.C. het Tiberius verklaar dat Germanië uiteindelik onderwerp is, en Varus aangestel om die gebied te regeer. Tiberius, wat later as keiser sou regeer, het die streek verlaat om die Bellum Batonianum te onderdruk. Augustus het Publius Quinctilius Varus in 7 n.C. tot die eerste "amptelik aangestelde" goewerneur van die nuutgeskepte Romeinse provinsie Germanië aangestel.

Slag by die Teutoburgerwoud

[wysig |wysig bron]
Die hoofartikel vir hierdie afdeling is:Slag by die Teutoburgerwoud.

In September 9 n.C. het Varus voorbereidings getref om sy somerhoofkwartier in Vetera (vandag Xanten) te verlaat en drie legioene – die Legio XVII, Legio XVIII, en Legio XIX – saam met hom na Moguntiacum (vandag se hedendaagseMainz) te neem, toe die Germaanse prinsArminius ('n Romeinse burger en leier van 'n kavallerie-bystandseenheid) hom in kennis gestel het van 'n groeiende opstand in die Ryngebied na die Weste. Varus het nie ag geslaan op 'n waarskuwing deur Segestes om Arminius nie te vertrou nie, en dus sy magte agter Arminius aangestuur.

Litografie wat Varus uitbeeld terwyl hy tydens die Slag by die Teutoburgerwoud selfmoord pleeg

Nie net was Varus se vertroue in Arminius 'n groot oordeelsfout nie, maar hy het sy fout vererger deur sy legioene in 'n posisie te plaas waar hul gevegssterktes tot die minimum beperk sou wees en dié van die Germaanse stamme tot die maksimum verhoog sou wees. Hy het geen hinderlaag verwag nie, en ook nie moeite daarin gesien om die rebelle te intimideer nie. Arminius en die Cheruske-stam, saam met ander bondgenote, het Varus en sy legioene egter in 'n hinderlaag gelei, en tydens dieSlag by die Teutoburgerwoud in September by Kalkriese (Oos van vandag se moderneOsnabrück), is die Romeine onverhoeds betrap en verpletter.

Die dig bewoude en moerasagtige gebied het dit moeilik gemaak vir die infanteriste van die legioene om hul maneuvers uit te voer en die Germane te verslaan. Op die derde dag van die geveg het die Germane die Romeine noord van Osnabrück by Kalkriese-heuwel oorweldig. Weergawes van die nederlaag is skaars weens die omvang daarvan. Velleius Paterculus het egter getuig dat sommige Romeinsekavalleriste dieinfanterie in die steek gelaat het en na die Ryn gevlug het, waar hulle deur die Germane voorgelê en afgemaai is.[20] Toe Varus wis dat alle hoop op 'n oorwinning verlore is, het hy selfmoord gepleeg deur op sy swaard te val.[21][22] Arminius het Varus onthoof en sy kop naBoheme gestuur as present aan Koning Maroboduus van die Marcomanni. Maroboduus was in eie reg 'n belangrike Germaanse leier, en Arminius wou hom hiermee in 'n alliansie betrek. Maroboduus het egter die aanbod geweier en Varus se kop na Rome aangestuur.

Sommige gevange Romeine is in hokke gegooi en lewendig verbrand; andere is weer as slawe gevange geneem.Tacitus en Florus rapporteer dat die seevierende Germaanse stamme gevange offisiere gemartel en aan hul gode op altare geoffer het, wat jare later nog gesien kon word.[23] Die Romeine het later die verlore legioene se veldtekens (Latyn: aquila, Afr: arende) gevind; een elk in 15 n.C., 16 n.C. en 42 n.C.[24]

Nasleep

[wysig |wysig bron]

Weens die vernedering wat deur die Romeinse nederlaag teweeggebring is het die XVII, XVIII en XIX legioene nooit weer in die Romeinse leër se gevegsorde voorgekom nie. Die nederlaag by die Teutoburgerwoud het 'n besliste uitwerking op Augustus Octavianus gehad gedurende sy oorblywende jare. Volgens die biograafSuetonius het Augustus, nadat hy die nuus gehoor het, sy klere geskeur en maande lank geweier om sy hare te laat sny. Vir jare daarna kon daar by geleentheid gehoor word hoe hy die woorde "Quinctilius Varus, gee terug my legioene!" prewel. (Quintili Vare, legiones redde!kode: la is verouderd).[25] Romeinse historici het na die geveg verwys as dieclades Variana ("Variaanse ramp").[26]

Gibbon beskryf Augustus Octavianus se reaksie op die nederlaag as een van die min gevalle waartydens die gewoonlik stoïese heerser sy humeur verloor het. Varus se politieke nalatenskap in Rome is verwoes, en die regering het hom vir die nederlaag blameer.[27] Sy seun, Publius Quinctilius Varus die jongere se kanse op 'n politieke loopbaan was aan flarde. Tiberius het onder kritiek deurgeloop vanweë die feit dat hy Varus as goewerneur van Germanië aanbeveel het. Tiberius is volgens Gaius Stern gedwing om sy vriend en voormalige swaer op te offer om sy eie loopbaan te red.[28] Daarbenewens was Varus een van die figure op dieAra Pacis, maar die figuur is vandag verlore. Stern het voorgestel dat die gewone burgery weens die verlies van hul geliefdes uit woede die Ara Pacis gevandaliseer het deur die figuur van Varus te beskadig, wat die regering, wat die blaam op Varus geplaas het, onseker gelaat het of hulle die skade moes herstel.[28] Ongeveer 40 jaar na Varus se dood het 'n generaal onder Claudius, genaamd Pomponius Secundus, Germanië aangeval en onbedoeld 'n paar oorlogsgevanges uit Varus se leër gered. Claudius het hul verwelkom, en hul verhale van hul gevangehouding het sterk meegevoel gewek.[29]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. 123Syme,The Augustan Aristocracy (Oxford: Clarendon Press, 1986), p. 313
  2. CaesarCommentarii de Bello Civili 1.23, 2.28.1
  3. Velleius Paterculus, 2.71.2.
  4. Syme,Augustan Aristocracy, bl. 315-318
  5. Syme,Augustan Aristocracy, p. 146
  6. Murdoch, Adrian (2009).Rome's Greatest Defeat: Massacre in the Teutoburg Forest. The History Press.ISBN 978-0750940160.
  7. Alison E. Cooley,The Cambridge Manual of Latin Epigraphy (Cambridge: University Press, 2012), p. 457
  8. Abdale,Four days in September: The Battle of Teutoburg, p.65; Severy,Augustus and the Family at the Birth of the Roman Empire, pp. 64-5 sien Sir Ronald Syme se mening dat Varus drie keer getroud is en dat die identiteit van sy eerste vrou onbekend is. Soortgelyk, is die identiteit van Vipsania se moeder ook onseker. Sommige kommentators dink dat dit Claudia Marcella Major was, soos byvoorbeeld Severy,Augustus and the Family at the Birth of the Roman Empire, p.p.64-5. Andere is weer van oordeel dat dit Caecilia Attica, Agrippa se eerste vrou was, Reinhold,Marcus Agrippa (1933); Gaius Stern,Women, Children, and Senators on the Ara Pacis Augustae (Berk. dissertasie 2006). Indien die voormalige waar is (soos per Syme, Severy en Abdale), was sy beide die dogter van Agrippa en 'n grootniggie van Augustus.
  9. John, Walther. "Zu den Familienhältnissen des P. Quinctilius Varus",Hermes 86.2 (1958), pp. 251–255.
  10. Joseph.AJ 17.288.
  11. Vir 'n volle weergawe van die debat, sienCrosby, Daniel J. (2016)."The Case for Another Son of P. Quinctilius Varus: a re-examination of the textual and scholarly traditions around Joseph. BJ 2.68 and AJ 17.288".Journal of Ancient History.4 (1):113–129.doi:10.1515/jah-2015-0017.S2CID 163465685.
  12. Levick, p. 36
  13. 12Tacitus,Annales 4.66.1.
  14. Lightman,A to Z of Ancient Greek and Roman Women, bl. 205
  15. Abdale,Four days in September: The Battle of Teutoburg, p. 65
  16. Ronald Syme,The Augustan Aristocracy (1986), 320.
  17. 66 n.C. – The Last Revolt (DVD). History Channel.
  18. Josephus, Ant. 17.299
  19. "Varus, Quintilius".Jewish Encyclopedia. 1906. Besoek op16 Oktober 2019.
  20. Velleius Paterculus, 2.118ff
  21. Bordewich, Fergus M. (September 2006)."The Ambush That Changed History".Smithsonian Magazine (in Engels). Besoek op26 Augustus 2021.{{cite web}}: AS1-onderhoud: url-status (link)
  22. Velleius Paterculus, 2.119.3; Florus 2.30.38; Dio 56.21
  23. TacitusAnnales, 1.61; Florus 2.30.37-39
  24. TacitusAnnales, 1.60.4, 2.25.2; Dio 60.8.7
  25. Suetonius, Vita Divi Augusti 23Geargiveer 31 Mei 2008 opWayback Machine; Dio 55.23, sien ook Vell. Pat. 2.117-124; Suet.Div. Aug.49; Dio 55.18-24.
  26. Seager,Tiberius, p.173
  27. Suet.Tib.18.1; sien ook die Vell. Pat. 2.117. Beide historici hang "die amptelike weergawe" aan
  28. 12Gaius Stern, "Varus’ Legacy After Teutoburger Wald: Roman POWs, Tiberius, and the Ara Pacis," CAMWS 2009, Minneapolis, MN.
  29. Tac. Ann. 12.27.

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
Wikimedia Commons bevat media in verband metVarus.
Politieke poste
Voorafgegaan deur
Marcus Licinius Crassus Frugi
Gnaeus Cornelius Lentulus Augur
Romeinse Konsul
13 v.C.
withTiberius Claudius Nero
Opgevolg deur
Marcus Valerius Messalla Appianus
Internasionaal
Nasionaal
Mense
Ander
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Publius_Quinctilius_Varus&oldid=2866006"
Kategorieë:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2026 Movatter.jp