Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Protestantse Hervorming

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kerkvenster wat die belangrikste gebeure tydens die Protestantse Reformasie illustreer.

DieProtestantse Hervorming (ookReformasie genoem, afgelei van dieLatynsereformatio "hernuwing, herstelling") was 'n godsdienstige beweging wat deur dieDuitse hervormerMartin Luther in1517 begin is en tot die einde van dieDertigjarige Oorlog in1648 sou voortduur.

Alhoewel Luther met syoorspronklike optrede slegs die bestryding van wanpraktyke in die destydseRooms-Katolieke Kerk ten doel gehad het, het die beweging uiteindelik tot die verdeling van die Westerse Christendom in die Rooms-Katolieke, Lutherse en Gereformeerde hoofstromings gelei, maar ook tot grootskaalse veranderinge in die politieke, sosiaal-kulturele en maatskaplike orde in groot dele vanEuropa.

Mur des Réformateurs inGenève,Switserland, met (van links na regs) Guillaume Farel,Johannes Calvyn, Théodore de Bèze enJohn Knox

Verloop

[wysig |wysig bron]

Die godsdienstige stryd tussen die Rooms-Katolieke geestelikheid en fanatieke aanhangers van die nuwe geloofsrigting het met teologiese dispute begin wat egter nie die gewenste sukses behaal het nie. Rooms-Katolieke owerhede het hul veldtog teenProtestantisme vervolgens met administratiewe besluite en onderdrukkende maatreëls voortgesit, tog is die nuwe geloof intussen ook deur wêreldlike magte soos Duitse en Franse vorste en welvarende burgers inNederland enSwitserland gesteun. Die teologiese dispuut het uiteindelik ontaard tot bloedige oorloë waarin nie slegs Lutherane en Calviniste teen Rooms-Katolieke geveg het nie, maar ook Lutherse en Calvinistiese Protestante onderling in konflik was. Al drie groeperings het daarnaas gemeenskaplik teen die mees radikale hervormingsbewegings, Wederdopers en Antitrinitariërs, opgetree.[1]

Die Protestantse Hervormingsbeweging is in Duitsland hoofsaaklik deur Martin Luther, en in Switserland deurJohannes Calvyn enUlrich Zwingli begin. Sy oorsake en voorlopers strek ver in die verlede terug, maar as sy begin word algemeen as 1517 beskou – die jaar toe Martin Luther sy95 stellinge aan die deur van die slotkerk teWittenberg aangeplak het. Met die vredesluiting inMünster in 1648 is die godsdienstige hervorming voltooi en 'n einde aan die godsdienstige oorloë in Europa gemaak.

Die hervormingsbeweging was toe as gevolg van uiteenlopende leerstellings reeds in verskillende Protestantse kerke verdeeld. Die belangrikste denominasies, wat uit die Hervormingsbeweging voortgespruit het, is Lutherane (veral inDuitsland,Skandinawië en dieBaltiese lande behalweLitaue) en Gereformeerdes (waaronder ook Calviniste, Zwingliane en Presbiterianers; veral in Duitsland, Switserland, Nederland enSkotland). Ook die radikaal-reformatoriese Wederdoperbeweging (die sg. Anabaptiste) het sy oorsprong in die tydperk van die Hervorming.

In gebiede wat aan die Rooms-Katolieke geloof vasgehou het, is die beweerde korrupsie en wanpraktyke tydens die sogenaamde Teenreformasie beveg. Sodoende het uiteindelik ook binne die geledere van die Rooms-Katolieke Kerk 'n vernuwing plaasgevind.

Uitgangspunte

[wysig |wysig bron]

'n Aantal faktore het daartoe bygedra dat die Protestantse Hervorming sy aanvang juis in Duitsland geneem het en hier en elders in Europa groot aanklank by die publiek sou vind.

Humanisme en boekdrukkuns

[wysig |wysig bron]

Diehumanisme was 'n opvoedkundige beweging wat hom vir die herlewing van antieke geleerdheid beywer en sedert die 14de eeu vanuitItalië ook na ander gebiede uitgebrei het. 'n Grondbeginsel van humaniste wasAd fontes (“[Terug] na die bronne”) waarvolgens die werke van antieke skrywers bestudeer en sodoende 'n kritieke houding teenoor die teenswoordige tyd ontwikkel is.

Humanistiese gedagtes het groot invloed op destydse universiteite uitgeoefen en hul stempel op talle latere kerkhervormers afgedruk. DieBybel is net soos die werke vanKerkvaders ywerig bestudeer, en uit hierdie belangstelling sou hervormers later hul beginsel vanSola Scriptura ("Slegs die Heilige Skrifte") ontwikkel.

Nog 'n beslissende faktor was die uitvinding van die boekdrukkuns met los letters in die middel van die 15de eeu wat 'n ware revolusie in die destydse mediabedryf meegebring het. Met boeke en pamflette het die kerkhervormers oor nuwe massamedia beskik waarmee hulle hul gedagtes maklik aan 'n breë publiek kon bekend stel.

Sosiale en ekonomiese faktore

[wysig |wysig bron]

Die 16de eeu was 'n tydperk van groot sosiale omwentelinge. Die toenemende belangrikheid van stedelike nedersettings het hierby 'n sentrale rol gespeel. Die uitbreiding van handelsbande het 'n welvarende burgery laat ontstaan. Invloedryke patrisiërfamilies soos die Fuggers inAugsburg het dikwels groter finansiële trefkrag gehad as die landelike adel wat hom tradisioneel op die landbousektor toegespits het. Hierdie bedryf het hoofsaaklik op die werk van boere gesteun wat destyds nog die oorgrote meerderheid van die bevolking verteenwoordig het. Hul lewensomstandighede was haglik. Hulle het meestal naby die broodlyn gelewe, aangesien belasting, heffings, herediens en lyfeienskap groot druk op hulle geplaas het.

Die bestendige toevloei van edelmetale uit dieSpaanse kolonies inAmerika het die geldwaarde laat daal en inflasionêre druk aangeblaas. Die koopkrag van groot dele van die bevolking is sodoende dramaties verminder. Ekonomiese historici verwys in hierdie verband na 'n "prysrewolusie".

'n Ander belangrike faktor was die groot bevolkingsaanwas in hierdie periode. Volgens ramings het die bevolking van dieHeilige Romeinse Ryk tussen 1500 en 1600 van 12 tot 15 miljoen gestyg – 'n demografiese proses wat kospryse verder laat styg het, terwyl lone gedaal het. Sosiale en ekonomiese moeilikhede het vanaf die laat 15de eeu steeds weer tot opstande gelei wat in 1525 hul hoogtepunt in die Duitse Boereoorlog bereik het.

Sien ook

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. Janusz Tazbir:Geschichte der polnischen Toleranz. Warskou: Interpress 1977, bl.18
Voorgeskiedenis
Klassieke oudheid
Middeleeue
Vroegmoderne
Modern
Sien ook
Internasionaal
Nasionaal
Ander
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Protestantse_Hervorming&oldid=2835634"
Kategorie:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp