Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Petroglief

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Rotskuns inIran se Teimareh-streek.
Rotsgraveerwerk vanleeuwyfies bekend asMeerkatze inLibië.
Europese petrogliewe: Laxe dos carballos inSpanje, uit die 4de-2de millennium v.C.
'n Petroglief van 'n karavaan dikhoringskape nabyUtah,VSA.
'n Petroglief inKameroen.

'nPetroglief is 'n beeld wat geskep word deur 'n gedeelte van 'n rotsoppervlak te verwyder deur insnyding, pikwerk, kerwing of skaafwerk as 'n vorm vanrotskuns. Die term verwys gewoonlik narotsgraveerwerk van antieke oorsprong wat dikwels verbind word metvoorhistoriese mense. Die oudste petrogliewe in die wêreld word beskou as dié by Murujuga inWes-Australië, wat 40 000 tot 50 000 jaar oud is. Sommige petrogliewe is geklassifiseer as beskermde monumente en sommige is op die lys vanUnesco seWêrelderfenisgebiede gevoeg, of aansoek is gedoen vir sodanige status.

Etimologie en betekenis

[wysig |wysig bron]

Die woord "petroglief" kom van dieGriekse voorvoegselpetro-, van πέτρα (petra), "klip", en γλύφω (glýphō), wat "kerf" beteken, en is oorspronklik in Frans geskep aspétroglyphe.

In akademiese tekste is 'n petroglief 'n rotsgraveerwerk, terwyl 'n petrograaf (of piktograaf) 'n rotsverfwerk is.[1][2] In algemene gebruik word die woorde soms uitgeruil.[3][4]

Geskiedenis

[wysig |wysig bron]

Petrogliewe is al in alle dele van die wêreld gevind buitenAntarktika, met die grootste konsentrasies in dele vanAfrika,Skandinawië enSiberië. Die oudstes is dié in Murujuga, Wes-Australië, waarvan sommige na raming 40 000 tot 50 000 jaar oud is.[5][6] Die Murujuga-terrein is in Julie 2025 tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar.[7]

Ongeveer 7 000 tot 9 000 jaar gelede, ná die opkoms van verskeie voorlopers vanskryfstelsels, het die bestaan en skepping van petrogliewe begin afneem en is hulle al hoe minder gemaak. Ander vorme van kuns, soos piktograwe en ideogramme, het hulle plek begin inneem. Petrogliewe is egter steeds geskep en het betreklik algemeen gebly, met verskillende kulture wat hulle vir verskillende tydperke bly gebruik het – tot in die 19de en 20ste eeu.

Vertolking

[wysig |wysig bron]

Baie hipoteses bestaan oor die doel van petrogliewe, na gelang van hulle ligging, ouderdom en onderwerp. Sommige petrogliefbeelde het waarskynlik ’n diep kulturele en godsdienstige betekenis gehad vir die gemeenskappe wat dit geskep het. Daar word geglo baie petrogliewe verteenwoordig ’n soort simboliese of rituele taal of kommunikasiestyl wat nog nie ten volle verstaan word nie.

Sommige petrogliefkaarte beeld roetes uit en bevat simbole wat die tyd en afstande aandui wat aan dié roetes afgelê is; ander petrogliefkaarte dien assterrekundige merkers. Ander kon ook ’n neweproduk van verskeie rituele gewees het: Terreine in Indië het byvoorbeeld petrogliewe opgelewer wat as musiekinstrumente geïdentifiseer is.[8]

Sommige petrogliewe het waarskynlik soorte simboliese kommunikasie gevorm, soos vroeë vorme van protoskrif.[9] Latere gliewe uit die NordieseBronstydperk in Skandinawië blyk te verwys na ’n vorm van territoriale grense tussen stamme, benewens moontlike godsdienstige betekenisse. Petrogliefstyle is geïdentifiseer as streek- of plaaslike “dialekte” onder soortgelyke of naburige volke. Siberiese inskripsies het losweg ooreenkomste met ’n vroeë vorm van dierune-alfabet, alhoewel geen direkte verband vasgestel is nie.

Petrogliewe van verskillende kontinente toon ooreenkomste. Al sou mense deur hulle onmiddellike omgewing geïnspireer gewees het, is dit moeiliker om die gemeenskaplike style te verklaar. Dit kan bloot toeval wees, of ’n aanduiding dat sekere groepe mense wyd van ’n oorspronklike gemeenskaplike gebied af migreer het, of ’n teken van ’n gemeenskaplike oorsprong.

Ander teorieë stel voor dat petrogliewe in ’n veranderde bewussynstoestand deur geestelike leiers, soossjamane, gekerf is.[10] Dié toestand is moontlik veroorsaak deur die gebruik van natuurlikehallusinogene plante, fungusse en diere. Baie van diemeetkundige patrone wat in petrogliewe en grottekeninge herhaal word, staan bekend as vormkonstantes en is volgens David Lewis-Williams ingebore in die menslike brein. Hierdie patrone kom dikwels voor tydens visuele versteurings en hallusinasies wat veroorsaak word deur middels, migraine en ander stimuli.

Die Instituut vir Rotskunsnavorsing van dieUniversiteit van die Witwatersrand bestudeer huidige verbande tussen godsdiens en rotskuns onder dieSan van dieKalahariwoestyn inSuider-Afrika.[11] Al is die San se kunswerke hoofsaaklik skilderye, kan die oortuigings agter die kuns moontlik as ’n basis dien om ander vorme van rotskuns, insluitend petrogliewe, te help verstaan.[12]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. Wieschhoff, Heinrich Albert (1945).Africa. University of Pennsylvania Press.
  2. T. Douglas Price (2012).Europe Before Rome: A Site-by-Site Tour of the Stone, Bronze, and Iron Ages. Oxford University Press. p. 116.
  3. "petrograph".Merriam-Webster. Encyclopædia Britannica. Besoek op26 November 2020.
  4. Webster's Unabridged Dictionary of the English Language. Random House. 2001. p. 1449.ISBN 0-681-31723-X.
  5. Normile, Dennis (12 Mei 2023)."World's largest collection of ancient rock art threatened by Australia's petrochemical plants".Science (in Engels). Besoek op13 Julie 2025.
  6. Wahlquist, Calla (29 Januarie 2020)."Australia lodges world heritage submission for 50,000-year-old Burrup Peninsula rock art".The Guardian. Besoek op7 Februarie 2020.
  7. Rollason, Bridget (11 Julie 2025)."UNESCO approves world heritage listing for WA's Murujuga rock art".ABC News (Australia).
  8. Ancient Indians made 'rock music'. BBC News (2004-03-19). Besoek op 12 Februarie 2013.
  9. Houston, Stephen D. (1 Oktober 2004)."The Archaeology of Communication Technologies".Annual Review of Anthropology.33 (1):223–250.doi:10.1146/annurev.anthro.33.070203.143724.ISSN 0084-6570.
  10. D. Lewis-Williams,A Cosmos in Stone: Interpreting Religion and Society through Rock Art (Walnut Creek, CA: Altamira Press, 2002).]
  11. Rockart.wits.ac.zaGeargiveer 30 Julie 2017 opWayback Machine Retrieved on 2013-02-12.
  12. "Rock Art Research Institute (RARI)".University of the Witwatersrand, Johannesburg. Besoek op9 September 2017.

Skakels

[wysig |wysig bron]
Normdata: NasionaalEdit this at Wikidata
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Petroglief&oldid=2827164"
Kategorieë:
Versteekte kategorie:

[8]ページ先頭

©2009-2026 Movatter.jp