DieOosters-Katolieke Kerke ofOriëntaal-Katolieke Kerke, of bloot dieOosterse Kerke, is 23 Oosters-Christelike outonome kerke van dieKatolieke Kerk wat in gemeenskap is met mekaar en met dieLatynse Kerk (ook bekend as die "Westerse Kerk").
Die meeste van die Oosters-Katolieke Kerke is groepe wat op verskillende tye in die verlede tot dieOosters-Ortodokse Kerk, dieOriëntaal-Ortodokse Kerke en die historieseKerk van die Ooste behoort het, maar teruggekeer het na gemeenskap met Rome vanweë politieke en kulturele omstandighede wat die kerke se betrekkinge beïnvloed het. Die vyf liturgiese tradisies van die 23 Oosters-Katolieke Kerke is die Aleksandriese, Armeense, Bisantynse, Oos-Siriese en Wes-Siriese Rite en dit word gedeel met ander Oosters-Christelike kerke.[1] Die Katolieke Kerk bestaan dus uit ses liturgiese rites: die vorige vyf van die Oosters-Katolieke Kerke en die Latynse Rite van die Latynse Kerk.[2]
Aan die hoof van die Oosters-Katolieke Kerke is patriarge, metropolitane en aartsbiskoppe. Hulle volg die kerkwette van die Oosterse Kerke, hoewel elke kerk daarbenewens sy eie wette volg en sy eie tradisies handhaaf. Die totale lidmaatskap van die verskeie kerke is sowat 18 miljoen, volgens dieAnnuario Pontificio (die jaarlikse direktorium van die Katolieke Kerk). Dit is sowat 1,5% van die lidmate van die Katolieke Kerk, terwyl die ander meer as 1,3 miljard lidmate tot die Latynse Kerk behoort.
Die Maronitiese Kerk word algemeen beskou as die enigste Oosters-Katolieke kerk wat altyd in volle gemeenskap met Rome was, terwyl die meeste ander kerke van die 16de eeu af verenig het.
Oosters-Katolieke Kerke het hulle oorsprong in dieMidde-Ooste,Noord-Afrika,Oos-Afrika,Oos-Europa enSuid-Indië. Sedert die 19de eeu het diediaspora egter naWes-Europa, dieAmerikas enOseanië versprei, deels vanweë vervolging.