Uitsig oor diePisgah National Forest, geleë in die weste van die deelstaatSononder oor Grandfather Mountain in die gelyknamige staatspark. Staptoeriste en bergklimmers moet hier staal vir die mees uitdagende weerstoestande in die Amerikaanse Suide. Op die bergpiek is al windsnelhede van byna 200 myl (320km) per uur gemeet: 196 myl per uur op 18 April 1997[1]
Noord-Carolina het 'n bevolking van 10,5 miljoen en 'n oppervlakte van 139509vierkante kilometer. Noord-Carolina word in die noorde deurVirginië, in die suide deurSuid-Carolina enGeorgia en in die weste deurTennessee begrens. In die ooste lê dieAtlantiese Oseaan. Noord-Carolina is die deelstaat met die grootste inheemse bevolking oos van dieMississippirivier.
Noord-Carolina se byname isTar Heel State enOld North State. Die staat het oorspronklik bekend gestaan vir syhoutprodukte soosterpentyn en teer (wat uit die hars van dennebome gedistilleer is), maar die grootbosse het in die 19de eeu in groot dele van Noord-Carolina verdwyn om plek te maak virtabak enkatoen. Vandag is Noord-Carolina die Verenigde State se belangrikste produsent van soetpatatte. Ook wingerde word orals in die deelstaat aangetref. Die verskeidenheid kultivars, wat in Noord-Carolina verbou word, is ongeëwenaar op aarde, maar dit is veral die inheemsemuscadine-kultivar wat met die Amerikaanse Suide verbind word.
Noord-Carolina was die bakermat van die Verenigde State as Engelssprekende samelewing. Die eerste Engelse verkenners, wat deur Sir Walter Raleigh in opdrag vanKoningin Elizabeth I na die Nuwe Wêreld uitgestuur is, het op Bodie Island,[2] waar hulle voet aan wal gesit het, 'n oordaad van druiwe aangetref. Die oudste wingerdstok op Roanoke-eiland, die sogenaamdeMother Vine, se rankplante is deur latere setlaars geplant en tot 'n twintigtal verskillende soorte rooi- en witwyn ontwikkel.[3][4]
Met sy oorspronklik onverbiddelike landskappe van digte bosse, berge sonder bevaarbare waterweë en 'n kuslyn sonder natuurlike hawens was Noord-Carolina een van die moeilikste terreine vir die stigting van 'n Europese kolonie in die Nuwe Wêreld. Nogtans het die eerste Engelse nedersetting in die sestiende eeu opRoanoke-eiland ontstaan. Op 18 Augustus 1587 is Virginia Dare as eerste Engelse kind op Amerikaanse bodem in die Roanoke-kolonie op die gelyknamige eiland langs die kus van die huidige Noord-Carolina gebore. Sy het saam met die ander setlaars, wat almal uit Plymouth in Engeland afkomstig was, spoorloos verdwyn.
'n Topografiese kaart van Noord-Carolina wys die deelstaat se drie groot landskapsvorme: die Appalache-bergreeks in die weste (in bruin), diePiedmont-streek in die sentrale gedeelte (in geel) en die Atlantiese kusvlaktes (in groen)Magtige Atlantiese storms dreun gereeld oor Noord-Carolina se kuslandskappe. Jennette’s Pier is oorspronklik in 1939 opgerig, maar in 2003 deur orkaan Isabel ernstig beskadig. Dit is vervolgens nuut gebouDie Herbert C. Bronner Bridge oor die Oregon Inlet maak deel uit van North Carolina Highway 12 in die Outer Banks
Noord-Carolina se landskapsvorme is oor miljoene jare gevorm. Gedurende die Mesosoïese tydperk sowat dertig miljoen jaar gelede het groot gebiede in die ooste nog onder die water van die Atlantiese Oseaan gelê. Met die begin van die laaste ystydperk sowat 10000 jaar gelede het lae temperature groot hoeveelhede water in die uiterste noordelike en suidelike breedtegrade van die aarde laat vries. Noord-Carolina se kuslyn is destyds as gevolg van dalende watervlakke in die oseane sowat vyftig myl ooswaarts verskuif. Teen die einde van die koueperiode het smeltende gletserys die watermassas van die Atlantiese Oseaan aangevul. Sy vloede het riviervalleie oorstroom en baaie in die ooste van Noord-Carolina gevorm.
Die huidige deelstaat word in drie groot geografiese streke verdeel – die kusvlaktes (Coastal Plain), die Piedmont en die Bergstreek. Die kusvlaktes, wat as die grootste van hierdie drie landskapsvorme sowat 150 myl vanaf die kus landinwaarts strek, is deur die waters van die Atlantiese Oseaan gevorm wat, afhangende van die heersende klimaat, groot dele van die deelstaatgebied bedek en hier terrasse van sediment en sand agtergelaat het toe watervlakke begin daal het. 'n Sogenaamdefall line, die punt waar die Piedmont en die kusvlakte aan mekaar grens, maak deel uit van die rivierloop van alle groter riviere in die kusvlakte. Hier bemoeilik stroomversnellings navigasie vir bote. Die sanderige grond in die kusvlaktes is geskik vir landbou. So het die kusvlakte se westelike randgebied, met 'n ietwat hoër geleë terrein en 'n bogrond wat met humus verryk is, tot Noord-Carolina se belangrikste gebied vir landbouaktiwiteite ontwikkel.
'n Belangrike substreek van die kusvlaktes strek vanaf die kuslyn sowat 30 tot 80 myl landinwaarts – die sogenaamde Tidewater, 'n laagliggende gebied met moerasse tussen sandduine en inhamme. Hier vorm baie van Noord-Carolina se riviereestuariums. 'n Verskeidenheid habitatte en ekostelsels word in die Tidwater aangetref, soos die Great Dismal Swamp in die noordooste. Hierdie moerasgebied strek van die Jamesrivier in Virginië tot die Albemarle Sound, een van die inhamme langs Noord-Carolina se kuslyn, en word deur 'n ryk flora gekenmerk wat wit sederbome, moerassipresse en ander vleiland-boomspesies insluit.
DiePiedmont as die deelstaat se sentrale streek, waar ook die grootste stedelike nedersettings soos Charlotte, Raleigh, Greensboro en Durham geleë is, het oor miljoene jare ingrypende veranderinge ondergaan. Hier het oorspronklik 'n magtige gebergte verrys, so hoog soos dieRotsgebergte (Rocky Mountains) in Amerika se weste – die Ocoee-reeks (Ocoee Range). Natuurlike erosieprosesse, wat op die reeks ingewerk het, het dit geleidelik omgeskep tot die huidige golwende heuwellandskap op hoogtes tussen 350 en 1800 voet bo seevlak. Kleiner bergreekse word steeds aangetref in die Piedmont – soos die South Mountains in die distrikte (counties) Burke en Rutherford, die Uwharrie Mountains in die distrikte Montgomery en Randolph, die Kings Mountain Range in Cleveland en Gaston, en die Sauratown Mountains in die distrikte Stokes en Surry.
Bome wat op wander wandel: die grootste varswater-inham langs die Verenigde State se Atlantiese ooskus, die Albemarle Sound,[5] in die mondingsgebied van die Chowan- en Roanoke-riviere
Noord-Carolina is 'n land van klein riviere. Die belangrikste riviere in die weste, Little Tennesse, French Broad en Hiawassee, maak deel uit van die Tennesseerivierstelsel en mond sodoende in die Golf van Meksiko uit. Riviere in die Piedmont soos Catawba, Yadkin en Broad, vloei in noord-suidelike rigting en uiteindelik deur Suid-Carolina. Riviere in die kusvlaktes soos die Roanoke, Chowan, Tar-Pamlico, Trent, Cape Fear en Neuse, mond in seestrate uit, maar word deur 'n hoë volume van sediment gekenmerk en neig daartoe om te verstop. Hulle is nie diep genoeg vir groter bote of vragskepe nie.
Die gebrek aan bevaarbare rivierstelsels, waarop mense en goedere vervoer kan word, en diep seehawens, waar skepe maklik kan aandoen, sou Noord-Carolina se geskiedenis bepaal. Noord-Carolina se kuslyn word in die ooste deur versperringseilande en in die weste deur seestrate oorheers. Die meeste waterweë langs die kus is nie maklik bevaarbaar nie. Vinnig naderende, hewige Atlantiese storms en die groot getal sandbanke, wat tot 14 myl (23km) ooswaarts in die ope Atlantiese Oseaan strek, hou gevare in vir die skeepvaart in Noord-Carolina se kuswaters.
Die vuurtoringCape Hatteras Light Station huisves dieMuseum of the Sea wat in sy uitstalling die geskiedenis van dieGraveyard of the Atlantic en dieGhost Fleet of the Outer Banks verduidelik
Die Outer Banks (dikwels kortweg OBX genoem), 'n reeks versperringseilande langs die kus van Virginië en Noord-Carolina, varieer in Noord-Carolina sterk volgens wydte – van twee myl tot slegs enkele honderd voet. Onder die invloed van getye, sterk winde en magtige golwe verander hierdie eilande steeds. Gedurende Atlantiese storms sny magtige vloedgolwe nuwe inhamme in die eilande of breek hulle selfs in twee om nuwe waterkanale tussen die oseaan en die seestrate langs die kus te skep.
Naby Kaap Hatteras vermeng die warm Golfstroom, wat vanuit die Golf van Meksiko noordwaarts vloei, met die koue waters van die Noord-Atlantiese Labradorstroom wat suidwaarts vloei. Waar die seestrominge in die onstuimige waters van die oseaan ontmoet, word bruiswater en sand honderd voet hoog die lug ingestuur. Die natuurgeweld het hier die berugte Diamond Shoals gevorm, vlak kuswaters met sandbanke wat al eeue lank die lot van skepe en hul bemannings beseël het. Suid van Kaap Hatteras strek die Outer Banks se vlak waters tot Kaap Lookout. Seelui verwys na die kuswaters van Noord-Carolina as dieGraveyard of the Atlantic, die laaste rusplek van meer as 5000 wrakke van skepe wat hier sedert die 16de eeu aan hul einde gekom het en plaaslik asGhost Fleet of the Outer Banks bekend staan – 'n vloot van spookskepe. Oorlewende bemanningslede het die lewe aan land as aantreklik genoeg beskou om hulle permanent in Noord-Carolina te vestig. So is baie kusbewoners nasate van hierdie onvrywillige setlaars.
Die skepe, wat hier vergaan het, sluit Spaanse galeie net soos groter getalle klein vragskepe in wat handelsgoedere tussen die Chesapeake-baai, die nywerheidsgebiede van die Sentraal-Atlantiese State en Nieu-Engeland en die Amerikaanse Suide vervoer het.[6] Hul kapteins was bewus van die voordele van die Golfstroom – as hulle sowat duisend myl van hul koers afgewyk het, kon hulle hul bestemming danksy die seestroming vinniger bereik. Dit was juis hier waar die sandbanke van die Outer Banks hulle ingewag het. Ofseerowers – die bestendige stroom van handelskepe was 'n tyd lank 'n maklike prooi vir legendariese seerowers soos Blackbeard (Swartbaard), Stede Bonnet, Anne Bonny enCalico Jack Rackam. Maar ook vir die inwoners van kusdorpe, vir wie die skeepswrakke en hul kosbare vrag as 'n bestendige bron van inkomste staan en wag het – as navigeerders of doeane-amptenare. Sommigewreckers, soos hulle genoem is, het skeepskapteins opsetlik na die gevaarlike kuswaters gelok om hul vrag te plunder. Ander skepe is in oorlogstye deur Duitseduikbote gesink.[7]
Nantahala – die dig beboste Land van die Middagson
Voor die koms van Europese setlaars was die huidige staatsgebied met digte bosse bedek. Dele daarvan het bewaar gebly soos in die bergwêreld van dieBlue Ridge Mountains
Voor die koms van die eerste Europeërs was Noord-Carolina 'n land van digte bosse wat oor die hele lengte van die huidige deelstaat gestrek het. Die landskap in die kusvlaktes is deur langblarige dennebome oorheers, terwyl die noordooste met sipresse bedek was. In die westelike landsdele het denneboombosse geleidelik oorgegaan tot digte bosse met bladwisselende bome soos eike, kastaiingbome en hickorrybome wat vanaf die kusvlaktes tot die bergwerêld van die Appalache gestrek het.
Volgens vroeë beskrywings was Noord-Carolina se oorspronklike bosse so dig dat 'n eekhorinkie oor die hele lengte van die deelstaatgebied van boom tot boom kon beweeg sonder ooit 'n voet op die grond te sit. Die Cherokee het aan dele van die digte gematigde reënwoud van die suidooste die treffende naam Nantahala gegee – Land van die Middagson. Hier groei bome so hoog en dig aan mekaar dat die sonlig slegs teen middagtyd tot die grond kan deurdring. Die Cherokee se beskrywing word bewaar in die naam van die Nasionale Nantahala-bos, een van vier nasionale bosse in Noord-Carolina.
Orkaan Isabel was tot dusver die sterkste orkaan wat Noord-Carolina se kus in die 21ste eeu getref het. Die foto wys hoe die orkaan op 18 September 2003 nader aan die Outer Banks-eilande beweeg
Die orkaanseisoen begin jaarliks amptelik op 1 Junie en duur tot 30 November. Die meeste orkaanwaarskuwings word gewoonlik tussen laat Augustus en September uitgereik. Die versperringseilande van die Outer Banks word die sterkste geraak wanneer orkane verwoesting saai. Hier veroorsaak orkaanwinde en gietende reën steeds weer oorstromings (insluitendeoverwash) en stormgolwe. Orkaanwinde is sterk genoeg om nuwe inhamme in die eilandkus te sny, paaie weg te spoel en bewoners en toeriste soms gestrand te laat.
Bewoners en besoekers is verplig om eilande en ander woonplekke te ontruim sodra die Nasionale Weerdiens 'n sodanige ontruimingsbevel vir kusgebiede uitreik. Ontruimingsroetes is gemerk met blou padwysers. Die distrikte Dare, Currituck en Hyde beskik nie oor skuilplekke nie. Stormsterktewinde soosnor'easters kom ook buite die orkaanseisoen voor en kan groot skade berokken. So het dieAsh Wednesday Storm van 1962 en dieThanksgiving Storm van 2006 grootskaalse verwoesting gesaai.
Die gebeure rondomThe Lost Colony, Amerika se eerste groot geheim, word al dekades lank in dieWaterside Theatre in Fort Raleigh as toneelstuk opgevoer.The Lost Colony Outdoor Drama is een van Amerika se oudste toneelproduksiesDie verkenning van Noord-Carolina se Atlantiese eilande deur Engeland het so vroeg soos 1584 onder die bevel van Sir Walter Raleigh begin. Die eerste kolonie is weens spanninge met plaaslike Indiane in 1586 ontruim. In 1587 het 117 setlaars uitPlymouth in Suidwes-England 'n tweede poging onderneem om 'n permanente nedersetting op Roanoke Island onder leiding van goewerneur John White te vestig. White het na Engeland teruggeseil om voorrade aan te vul. Die Spaanse Armada het sy terugkeer vertraag. Toe hy in Augustus 1590 weer op Roanoke Island voet aan wal gesit het, het hy nie 'n enkele siel meer aangetref nie. Die setlaars se lot is onbekend; sedertdien word die Engelse nedersettingThe Lost Colony genoem
In die tyd toe die eerste Europeërs in aanraking gekom het met die inheemse bevolking, was daar altesaam dertig verskillende stamme wat taalkundig in drie groepe geval het. Die kusgebiede noord van die Neuse-rivier is hoofsaaklik deur Indiane bewoon wie se tale onder die Algonkin-familie gereken word en nou verwant was met ander stamme langs die Ooskus tussen die huidige Noord-Carolina en Kanada. Hulle het klein kusnedersettings bewoon, gewoonlik met 'n dertigtal woongeboue wat deur palisades omring is. Tien verskillende stamme kan teen die begin van die Europese kolonisasie onderskei word, insluitende Poteskeets, Chowanokes, Roanocs, Secotans, Hatteras en Pamlicos.
Indiaanse groepe, wat tot die Sioux-taalfamilie behoort het, is in die Piedmont aangetref. Hulle het klein en wyd verspreide nedersettings bewoon en bo riviere en kleiner waterlope graan op terrasse verbou. Naas die gebiede tussen die Piedmont-platorand in die ooste en die Appalache in die weste het Sioux-Indiane ook die Cape Fear-riviervallei en die rivier se mondingsgebied bewoon.
↑Karen J. Hall and the Friends of the Blue Ridge Parkway:Postcard History Series – The Blue Ridge Parkway. Charleston SC • Chicago IL • Portsmouth NH • San Francisco CA: Arcadia Publishing 2005, bl. 44