Nauru (Nauruaans:Naoero), amptelik dieRepubliek Nauru (Engels:Republic of Nauru, Nauruaans:Ripublik Naoero), voorheenPleasant Island (letterlik: "aangename eiland"), is 'n kleineilandstaat in dieStille Oseaan enOseanië net suid van dieewenaar. Die koraaleiland van 21km² is deurfosfaatmynbou erg verwoes, en fosfaatreserwes is nou byna uitgeput. Nauru, wat jare gelede een van die welvarendste nasies wêreldwyd was, kon die bates van die fosfaatmynbou nie winsgewend belê nie en is vandag weer een van dieontwikkelende lande. Die eiland het 'n bevolking van 10084 in 2021 gehad. Engels en Nauruaans is die twee amptelike tale en dieAustraliese dollar is die amptelike geldeenheid. Klein hoeveelhede fosfaat,piesangs enkokosprodukte is die hoofsaaklike uitvoerprodukte.Australië se ambassades neem die diplomatieke verteenwoordiging vir Nauru in die buiteland waar.De jure het Nauru geenhoofstad of stede nie; die parlement en regering van Nauru is inYaren gesetel, watde facto as hoofstad beskou word.
Die parlement van NauruDie distrikte Denigomodu en Nibok
Met 'n oppervlakte van net 21km² is Nauru die derde kleinste land ná dieVatikaanstad enMonaco, die kleinste land in die Stille Oseaan en Oseanië, die kleinste land buiteEuropa, die kleinste eilandstaat, en die kleinsterepubliek. Daarbenewens het dit met 'n bevolking van 10084 (in 2021) die wêreld se derde kleinste bevolking, ná die Vatikaanstad enTuvalu.
As gevolg van sy sterk afhanklikheid van Australië word Nauru dikwels as 'n soort satellietstaat beskou.[7][8][9]
Nauru bestaan uit net eenatol van sowat 21km² met 'n omvang van 19km en 'n middellyn van 6km. Die eiland lê slegs 51km suid van die ewenaar, halfweg tussenHonolulu enSydney. Die eiland se kuslyn word hoofsaaklik deur 'n sandstrand gevorm. 'n Binnelandselandbougordel van enkele honderd meter breedte lewer piesangs,pynappels, kokospalms engroente op. 'n Plato van rotse vorm die hartland van Nauru, waar fosfaat in oop myne ontgin word. Diemynbou laat 'n verwoeste landskap agter.
Nauru se klimaat is tropies, met 'n gemiddelde temperatuur van 27,5°C en 'n gemiddeldereënval van 1500mm (met uiterstes tussen sowat 100 en 4500mm). Die reënseisoen tussen November en Februarie gaan gepaard met 'n hoë lugvogtigheid van tot by 85%.
Van die bevolking van 10084 (2021) is slegs sowat die helfte inheemse Nauruers. Die res is Europese en Chinese werknemers betrokke by die fosfaatmynbou en mense van ander eilande in die Suidelike Stille Oseaan, veral vanKiribati en Tuvalu. Die inwoners is hoofsaaklikProtestante, sowat 30% isRooms-Katoliek. Die groot welvaart, wat die Nauruers danksy die fosfaatmynbou dekades lank kon geniet, het ook 'n nadelige invloed op die gesondheid van die bevolking, waarvan sowat 30% noudiabeetlyers is.
Die geskiedenis van die eerstemenslike nedersettings is tans nie bekend nie. Waarskynlik is skipbreukelinge die eerste bewoners van die eiland. Die eerste Europese ontdekker van Nauru is dieEngelse kaptein John Fearn wat hier in die jaar 1798 voet aan wal sit. Hy noem dit vanweë sy natuurskoonPleasant Island ("aangename eiland") en eers sowat negentig jaar later word hierdie naam ten gunste van Nauru verander. Vanaf 1830 doenwalvisvaarders gereeld by Nauru aan om vars proviand te kry en saam met hulle kom ontvlugte strafgevangenes en deserteurs na die eiland om hier 'n bestaan as strandgoedjagters te vind.
In die sewentigerjare van die 19de eeu stig Duitse handelaars die eerste handelsposte; hulle slaag daarin om Nauru in die jaar 1888 by die Duitse protektoraat van dieMarshalleilande te laat inlyf. Duitse en Amerikaanse sendelinge begin in 1899 met die kerstening van die inwoners.
Met die ontdekking van Nauru se ryke fosfaatafsettings in 1900 begin 'n nuwe tydperk op die eiland. DieDuitsers en Britte stig in 1906 'n maatskappy wat met die fosfaatmynbou begin. Die inheemse bevolking baat baie min by hierdie ekonomiese aktiwiteite, en die swaar werk in die myne word deur buitelanders, veral Gilberteilanders en Chinese, gedoen.
Tydens dieEerste Wêreldoorlog beset Australiese troepe in 1914 Nauru en 1919 word die eiland 'n mandaatgebied van dieVolkerebond. Australië is volgens 'n ooreenkoms met dieVerenigde Koninkryk enNieu-Seeland verantwoordelik vir die administrasie van Nauru. Ook tydens dieTweede Wêreldoorlog beset vreemde troepe die eiland. DieJapanners land op die eiland, terwyl Duitse oorlogskepe dit al vroeër onder vuur bestook het. Naastenby die hele bevolking word as dwangarbeiders na dieKaroline-eilande geneem, waar een derde van hulle beswyk. Die oorlewendes keer in 1946 terug.
Op 31 Januarie 1968 verkry Nauru, wat sedertdien die kleinste republiek ter wêreld is,onafhanklikheid en word 'n spesiale lid van dieBritse Statebond. Die fosfaatmynboumaatskappy word in 1970 genasionaliseer. In 1993 sluit Nauru en Australië 'n ooreenkoms wat Nauru AUS$ 107 miljoen skadevergoeding vir ekologiese verwoesting as gevolg van die fosfaatmynbou toeken.
In 1999 word Nauru 'n lid van dieVerenigde Nasies en 'n gewone lid van die Britse Statebond.
Vandag huisves Nauru volgens 'n ooreenkoms met Australië 'n vlugtelingekamp vir asielsoekers wat nog geen verblyfsvergunning gekry het nie; die reëling is deel van Australië se "Pasifiese oplossing" vir die asielprobleem.[10]