Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Namakwaland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaart van Namakwaland.

Namakwaland (letterlik:Nama Khoi-mense se land) is 'n distrik in dieNoord-Kaap in die mees noordwestelike hoek van die land, antikloksgewys begrens deur dieAtlantiese Oseaan, die Noordweste,Boesmanland enNamibië. Die hoofdorp isSpringbok en ander vername dorpe isGaries,Port Nolloth,Kamieskroon,Alexanderbaai,Steinkopf,Hondeklipbaai enLeliefontein. Gebiede ten Suide van Namakwaland word dikwels verkeerdelik by die distrik ingesluit. Die dorpiesBitterfontein enNuwerus is byvoorbeeld die mees noordelike nedersettings in die Noordweste van Wes-Kaap, terwylPofadder in die Ooste die hoofdorp vanBoesmanland is. DieN7 nasionale pad gaan deur die Namakwaland.

Bevolking

[wysig |wysig bron]
Namakwalandse blomme

Die bevolking word geraam op sowat 70 000, van wie die meeste sogenaamde bruin mense is, met 'n minderheid wit en swart. Mense is egter een van Namakwaland se grootste uitvoerprodukte sodat die bevolking dekades lank al redelik konstant is. Daar is betreklike groot gemeenskappe van oud-Namakwalanders aan die KaapseWeskus en ook inKaapstad. 'n Eiesoortige karaktertrek van alle gebore Namakwalanders is hulle kenmerkende uitspraak en idiomatiese taalgebruik. Omdat die gebied altyd ylbevolk was en die inwoners ongeag ras op mekaar aangewese was, is daar min verskille tussen die uitspraak van die bruin en wit mense. Baie van die bruin Namakwalanders is afstammelinge van die inheemse Namas. Hulle is kenmerkend lig van kleur en redelik kort.

Die grootste bevolkingskonsentrasies is op en om die hoofdorp, Springbok. Van die omliggende gemeenskappe met beduidende inwonerstalle isNababeep,Okiep,Carolusberg enConcordia. Verder noord is die eertydse geskiedkundige sendingstasieSteinkopf 'n redelike groot dorp, met 'n bevolking wat so te sê geheel en al uit bruin mense bestaan. Port Nolloth en Alexanderbaai is die vernaamste kusdorpe, metKleinsee, 'n myndorp verder suid, wat ook 'n redelike groot inwonertal het. Daar is in die suide kleiner gemeenskappies op Garies, Kamieskroon en die omliggende nedersettings. Weens die aard van Namakwalandse landbou woon daar nie groot bevolkings op die plase nie omdat skaapboerdery nie veel werkgeleenthede bied nie.

Godsdiens

[wysig |wysig bron]

Die ligging van NG gemeentes is 'n goeie aanduiding van waar wit Namakwalanders hulle gevestig het, omdat die wit bevolking byna uitsluitlik Afrikaanssprekend is. Op Springbok is daar twee gemeentes, met die res van die dorpe wat een elk het: Alexanderbaai, Port Nolloth, Kleinsee (die gemeente heet Grootmist), Nababeep (die gemeente heet Simon van der Stel), Kamieskroon en Garies. Vir die administrasiedoeleindes van dieNG Kerk, val Pofadder,Aggeneys enOranjemund net noord van die monding van dieOranjerivier by Alexanderbaai, ook binne die ring van Namakwaland, wat deel is van die Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode. Die totale getal (doop- en belydende) lidmate was in2006 net 4 724, vergeleke met 6 500 in1994. Omstreeks 2014 is Oranjemund aan Namibië se Sinode oorgedra.

Daar is gemeentes van die Verenigende Gereformeerde Kerk (in chronologiese volgorde van stigting) op Steinkopf, Concordia,Komaggas, Garies-Kamieskroon (gekombineerd),Kuboes, Springbok, Port Nolloth, Okiep en Nababeep. Die VG-gemeente Pofadder is ook deel van die ring van Steinkopf. Bruin Namakwalanders behoort ook in groot getalle aan die Anglikaanse Kerk en in 'n mindere mate aan dieRooms-Katolieke Kerk.

Ekonomie

[wysig |wysig bron]

Die vernaamste bedrywe is die ontginning van alluvialediamante aan die kus,kopermynbou rondomOkiep enNababeep en skaapboerdery. Die afwenteling van provinsiale regeringsdienste het in die laaste jare baie tot 'n ekonomiese oplewing opSpringbok bygedra. Nuwe mynboumoontlikhede het ook 'n ekonomiese inspuiting vir die dorp meegebring. Springbok oorheers die ekonomie van Namakwaland in vele opsigte, aangesien dit die hoofdienssentrum vir die uitgestrekte distrik is en die enigste dorp met 'n hoogs ontwikkelde, eerste-wêreldse ekonomie wat byvoorbeeld kan spog met takke van talle nasionale kleinhandelsgroepe. Die enigste noemenswaardige nywerhede is ook op en om Springbok gevestig.

Geskiedenis

[wysig |wysig bron]

Die distrik is in1685 deur goewerneurSimon van der Stel en sy ekspedisie op soek na koper verken. Die eerste VG kerk is in1819 opSteinkopf gestig en die eersteNG Kerk in1850 op Bowesdorp, net noord vanKamieskroon, nadat verskeie Sendinggenootskappe lank reeds hier bedrywig was.

Aardrykskundige gegewens

[wysig |wysig bron]

Ligging

[wysig |wysig bron]

Namakwaland is 'n landstreek in die noordweste van die Kaapprovinsie. Dit strek al langs dieAtlantiese Oseaan, van dieOlifantsriviermond in die suide tot by die Oranjerivier in die noorde, en landinwaarts min of meer tot by dieBokkeveldberge enPofadder. Die gebied kan in 'n aantal substreke onderverdeel word, naamlik dieSandveld, dieHardeveld, dieRichtersveld, dieKnersvlakte enBoesmanland.

Die Sandveld is die laagliggende vlakte langs die kuslyn wat ooswaarts steil styg tot ʼn gebroke reeks granietkoppies en berge, die sogenaamde Hardeveld. Die hoofbergreeks is die Kamiesberg, waarvan die hoogste piek 1700 m is. In die noorde loop die Hardeveld uit in die dorre, bergagtige Richtersveld, terwyl dit ooswaarts oorgaan in die grasplato van Boesmanland.

'n Deel van Boesmanland val ook in die noordelike Karoo, maar die oorgang is so geleidelik dat 'n grens nouliks bepaal kan word. Die Knersvlakte is 'n dor en kaal depressie noord vanVanrhynsdorp. Daar is net twee standhoudende riviere in Namakwaland, naamlik die Oranje- en dieOlifantsrivier. Kleiner riviere soos die Buffelsrivier vloei net na 'n goeie reënbui.

Klimaat

[wysig |wysig bron]

Namakwaland het 'n droë klimaat met baie warm somers en matige winters. Uiterste temperature kom in dieRichtersveld en dieKamiesberge voor. Die Richtersveld is in die somer die warmste streek in Suider-Afrika, terwyl die Kamiesberge baie koue winters met sneeu het. Die reënval is laag, wisselvallig en hoofsaaklik tot die winter beperk. Die Hardeveld kry die meeste reën. Hoog in die berge kan tot 300 mm per jaar uitsak, terwyl die reënval in die laer liggende dele van die streek gemiddeld 150 mm per jaar is. In die res van Namakwaland reën dit gemiddeld 50 tot 75 mm per jaar. Boesmanland kry ook in die somer reën.

Menslike bedrywighede

[wysig |wysig bron]

Geskiedenis

[wysig |wysig bron]

Namakwaland is oorspronklik deur dieNamas (ook Namakwas), die magtigste van die Khoi-stamme, bewoon. Die eerste Blankes wat die gebied verken het, was trekboere wat op soek was na weiding vir hul vee en in omstreeks 1662 die huidigeVanrhynsdorp bereik het. Die Namas het eeue lank reeds die koper ontgin wat in Namakwaland aangetref word, en nadatSimon van der Stel van die koper gesien het, het hy in 1685 'n ekspedisie onderneem en die beroemdeKoperberg bySpringbok ontdek.

Dit kon egter nie ontgin word nie, onder meer omdat die vervoer daarvan destyds onoorkomelike probleme opgelewer het. Die ontginning van Namakwaland sekoper deur Blankes het eers 200 jaar later op dreef gekom. Teen die tyd was die boerderye daar reeds gevestig.

Ekonomie

[wysig |wysig bron]

Namakwaland se ekonomie sentreer om die landbou en mynbou. Die vernaamste boerderyvertakkings is skaap- en bokteelt. Die geharde karakoelskaap aard die beste in die dorre landskap en is die grootste bron van die boere se inkomste.

Beesboerdery word op klein skaal in Boesmanland aangetref. Baie min dele van Namakwaland is vir akkerbou geskik. Lusern, vrugte en groente word op die walle van die Olifantsrivier en byVioolsdrif langs dieOranjerivier onder besproeiing verbou. ByVredendal, wes van Vanrhynsdorp, is daar ook talle wingerde wat goeie wyn lewer, terwyl die streke met die hoër reënval geskik is vir die verbouing van koring. Dadelplantasies word byPella enHenkries noord vanPofadder aangetref.

Namakwaland is ryk aan minerale. Die ontwikkeling van die gebied is hoofsaaklik aan die voorkoms van koper en diamante te danke. Die grootste kopermyne word noord van Springbok byNababeep,Okiep enCarolusberg aangetref, en betreklik onlangs is ryk afsettings byAggeneys ontdek. Namakwaland se diamante is eers in 1926 deur kapt. Jack Carstens in die omgewing vanPort Nolloth ontdek. Tans is Alexanderbaai, aan die mond van die Oranjerivier, enKleinsee, aan die mond van dieBuffelsrivier, die belangrikste diamantsentra.

Ander minerale wat voorkom isberil,sink,lood,silwer,bariet, sillimaniet,mika,mangaan,asbes enmolibdeen. Groot hoeveelhede halfedelstene word ook in Namakwaland aangetref, asook sout, kalksteen en gips. Visvangs speel 'n betreklik belangrike rol langs die kus. Daar is visfabrieke by Doringbaai, Hondeklip en Port Nolloth waarvis ingelê of bevries, of totvismeel en -olie verwerk word. Op Port Nolloth word ookkreef verwerk.

Belangrikste dorpe

[wysig |wysig bron]

Die belangrikste dorpe in die suide van Namakwaland is Vanrhynsdorp en Vredendal, onderskeidelik een van die heel oudstes en jongstes in die gebied. 'n Blanke nedersetting was reeds in omstreeks 1740 by Vanrhynsdorp gevestig en Vredendal is 200 jaar later gestig. Die dorp is teenswoordig die middelpunt van die besproeiingsgebied rondom die Olifantsrivier. In die noorde lê Springbok, wat sowel die administratiewe as die ekonomiese sentrum van Namakwaland is.

Toe die dorp in 1862 uitgelê is, was die naam oorspronklikSpringbokfontein, na aanleiding van die fontein wat goeie water aan die vroeë mynwerkers - en die springbokke wat destyds nag volop was - verskaf het. Net noord van Springbok lê Nababeep, wat ten opsigte van inwonertal, die grootste dorp in Namakwaland is. Sowat 10 kopermyne word vanaf hierdie moderne dorp bestuur. NaasAlexanderbaai is Vioolsdrif die noordelikste dorp in Namakwaland en terselfdertyd ook die grensdorp tussen Suid-Afrika enNamibië. In die verre noordooste lê Aggeneys en Pofadder. Tot onlangs was Aggeneys 'n onbenullige nedersetting, maar sedert koper, sink, lood, silwer en bariet daar ontdek is, is dit besig om tot 'n belangrike myndorp te ontwikkel. Pofadder is Boesmanland se landbousentrum.

Infrastruktuur

[wysig |wysig bron]

Die nasionale pad tussen Kaapstad en Namibië loop in Namakwaland deurVanrhynsdorp,Nuwerus,Bitterfontein,Garies,Kamieskroon,Springbok,Okiep,Steinkopf en Vioolsdrif. Die spoorlyn vanKaapstad af loop tot by Bitterfontein. Spoorvrag word per pad tussen die noordelike dorpe en Bitterfontein vervoer, terwyl dieSishen-Saldanha-spoorlyn deur die Knersvlakte loop. Daar is 'n daaglikse vlug tussen Kaapstad en Springbok en daar is ook vlugte tussen Springbok enUpington.

Toerisme

[wysig |wysig bron]

Blomme

[wysig |wysig bron]

Namakwaland is wêreldwyd bekend vanweë sy veldblomme en 'n goeie blomseisoen lok talle besoekers van elders inSuid-Afrika en die buiteland. Die blomseisoen duur van middel Julie tot middel September en die omvang daarvan word bepaal deur die reënval tydens die winter. Onder die eerste blomme wat blom, is die wit Namakwaland-gousblom (genusDimorphotheca) en die pienk, wit en geelsurings (genusOxalis). Ietwat later blom die ligpersaasblomme (genusSenecio), die rooi en oranje Namakwaland-gousblomme (genusUrsinia) en die wit of hemelblou sporries (genusHeliophilia).

Teen die middel van die seisoen is die landskap oortrek met onder meer geel vetkousies (genusCarpanthea), duikerwortels (Grielum grandiflorum),weeskindertjies (Nemesia versicolour) en geelaandblommetjies (Sutera tristis). Van die laastes wat blom, is die geel blindevliegblommetjies (Relhaniapumila), die dieporanje kewergousblomme (genusGorteria). Die pers bosvygies (genusLampranthus),botterblomme (genusGazania) en die tallevygies (genusMesembryanthemum). Diekokerboom (Aloe dichotoma) se geel blomme verskyn reeds in Junie, maar sy oranje vrugte vertoon net so aantreklik.

Ander attraksies

[wysig |wysig bron]

Namakwaland was vroeër die tuiste van groot troppe wildsbokke, maar wild word nou nog net in die Richtersveld en op private plase aangetref. Antilope soos gemsbokke en springbokke is weer na dieHester Malan-natuurreservaat buite Springbok ingevoer. In die reservaat, wat oop is vir besoekers, word ook veldblomme beskerm. Robbe en pikkewyne kom nog op enkele afgesonderde plekke langs die kus voor. Die enigste kusoorde wat vir vakansiegangers ingerig is, isPort Nolloth enMcDougallsbaai, sowat 2 km suid van Port Nolloth.

Sien ook

[wysig |wysig bron]

Bronne

[wysig |wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
Wikimedia Commons bevat media in verband metNamaqualand.
NormdataEdit this at Wikidata
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Namakwaland&oldid=2678129"
Kategorie:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp