Marc Chagall in 1941Orpheus"Die wandeling", 1917, op 'n Wit-Russiese posseël
Chagall is in die destydse Russiese Keiserryk gebore (tansWit-Rusland). Hy verander later sy naam na die meer Franse Marc Chagall. Hy was die seun van 'n eenvoudige vishandelaar en die oudste van nege kinders. Die gesin was Joods. Hy sou later in sy werk telkens na hierdie arm, maar gelukkige tyd in sy lewe terugkeer.
Nadat hy op skool met tekenkuns kennis gemaak het, kry hy van 1906 skilderlesse by die kunstenaar Joeri Pen. Sy ma stimuleer sy kunssinnige ambisies en in 1907 vertrek hy naSint-Petersburg om daar onder Nikolai Roerich te studeer. Van 1908 tot 1910 studeer hy onder Léon Bakst aan die Zvantsevas-kunsakademie. Daarna begin hy sy loopbaan as 'n dekor-ontwerper.
Dit was 'n moeilike tyd vir Chagall. Joodse burgers kon slegs met vergunning in Sint-Petersburg woon en hy bring 'n kort tyd daar in die tronk deur. Tog bly hy tot 1910 in Sint-Petersburg aan, al besoek hy sy geboortestad (Vitebsk) gereeld, waar hy sy toekomstige vrou, Bella Rosenfeld, in 1909 ontmoet.
In 1910 trek Chagall naParys en raak met 'n aantal avant-garde digters en jong kunstenaars bevriend. Die tydperk word dikwels as sy beste periode gesien, met werke soos "I and the Village" ("Ek en die dorp"), wat tans in dieMuseum of Modern Art (inNew York) hang. Die werk is 'n mengelmoes vanekspressionisme enkubisme.[2]
Marc Chagall neem aan die tentoonstelling van dieSalon des Indépendants en dieSalon d'Automne deel. Sy eerste belangrike solo-uitstalling vind in 1914 inBerlyn plaas. Ná die uitbreek van dieEerste Wêreldoorlog keer Chagall na Rusland terug, waar hy aan uitstallings in Sint-Petersburg enMoskou deelneem. Ná die oorlog kon hy weer na sy ateljee in Parys terugkeer, wat hy geplunder en vervalle aantref. 'n Jaar later trou hy en in 1916 is sy dogter, Ida, gebore.
Chagall was aanvanklik entoesiasties oor dieRussiese Rewolusie van 1917 en word polities aktief. Die Sowjet-ministerie van kultuur maak hom kommissaris van kuns in die Vitebsk-streek, waar hy ambisieuse plan vir 'n kunsakademie en 'n museum maak. Ná twee-en- 'n-half jaar word hy moeg vir die politieke diskoers en trek na Moskou. Van 1919 tot 1922 was hy kunsdirekteur van die Joods Staatsteater in Moskou. Hier maak hy verskeie muurskilderye vir die ingangsportaal, asook dekor vir die vertonings.
In 1922 verlaat Chagall en sy familie Rusland vir goed. Hy gaan eers na Berlyn, maar reis spoedig na Parys, waar hy hom weer in 1923 vestig, die keer saam met sy familie. In 1927 illustreer hy Jean de la Fontaine se fabelbundel, wat in 2003 in boekvorm heruitgereik is. Hy reis naPalestina (1931) enPole (1935) en werk tot dieTweede Wêreldoorlog aan syBybel-illustrasies. In 1937 word hy 'n Franse burger. Vanweë die Duitse besetting van Frankryk tydens dieTweede Wêreldoorlog en die vervolging van Jode, vlug Chagall. Die Amerikaanse joernalis Varian Fry help hom om uit Frankryk te ontsnap. ViaSpanje enPortugal kom Chagall en sy familie in 1941 in dieVerenigde State van Amerika aan, waar hy hom inNew York vestig.
Op 2 September 1944 sterf sy vrou Bella na 'n siekte. Twee jaar later, in 1946, keer Chagall na Europa terug. In Europa word hy met tentoonstellings in Parys,Londen enAmsterdam vereer. In 1950 vestig hy hom in Saint-Paul-de-Vence. In 1952 hertrou Chagall met Valentina Brodsky. Hy reis verskeie kere naGriekeland en in 1957 naIsrael. Hier maak hy in 1960 'n reeks rame vir diesinagoge van dieHadassah Universitair Mediese Sentrum inJerusalem, asook 'n reeks muurskilderye vir die nuwe parlement in 1966. In 1973 open dieMusée National Message Biblique Marc Chagall inNice, Frankryk, om honderde van sy Bybelse tonele te huisves. Die museum in Vitebsk, na hom vernoem, open in 1997 in die huis waar hy met sy familie gewoon het (Pokrovskaiastraat nommer 29). Ironies genoeg was hy tot sy dood, voor die val van die Sowjetunie, 'npersona non grata in sy vaderland gewees.
Chagall is op 97-jarige leeftyd in Saint-Paul-de-Vence in Frankryk oorlede.