Die algemeenste standaard vir die MP3-formaat wat tans vir musiekopnames gebruik word, is 128 kbps. Dit bied die beste verhouding tussen gehalte en stoorplek en is goed om opnames van 'n oudio-CD of ander bronne te maak. Dit sal sowat 10% van die stoorplek van 'n CD-opname van dieselfde lengte gebruik. Vir beter gehalte kan 192 en 256 kbps gebruik word. Meer as dit is moontlik, maar eintlik 'n mors van stoorplek omdat die gehalteverskille skaars waargeneem sal kan word.
As jy 'n CD-speler het in jou motor, waar die geraas in elke geval redelik hoog is, sal dit dalk goed wees om 'n laer gehalte en 'n langer speeltyd te oorweeg. Hiervoor sal oudiomateriaal van laer as 128 kbps (dalk selfs 56 kbps, 64 kbps of 96 kbps) opgeneem kan word om die speeltyd amper te verdubbel (met 64 kbps).
Vir spraakopnames is dit moontlik om so laag as 56 kbps te kies om 'n langer speeltyd te kry en die stoorplek effektief te benut.
Indien jy beoog om 'n CD-speler vir die huis aan te skaf, koop verkieslik een wat ook MP3's kan terugspeel of kies 'n DVD-speler. Die meeste DVD-spelers vandag ondersteun al verskeie formate, soos MP3 en ander.