DieHubble- Ekstreme Diepveld is in September 2012 voltooi en wys die verstesterrestelsels wat nog afgeneem is. Buiten die paar helder sterre op die voorgrond is elke ligpunt ’n aparte sterrestelsel, waarvan sommige tot 13,2 miljard jaar oud is. Die waarneembare heelal bevat na raming meer as 2 biljoen sterrestelsels.[1]
Kosmologie (van dieGriekse woord κόσμοςkosmos, "wêreld", en -λογία-logia, "studie van") is ’n tak vansterrekunde wat die oorsprong enevolusie van dieheelal bestudeer, van dieOerknal tot vandag en in die toekoms.Fisiese kosmologie is die wetenskaplike studie van die oorsprong van die heelal, sy grootskaalse strukture en dinamika, en sy uiteindelike lot, sowel as die wetenskapwette wat op hierdie gebiede van toepassing is.[2]
Die term "kosmologie" is in 1656 die eerste keer gebruik, inEngels in die leksograaf Thomas Blount seGlossographia,[3] en daarna in 1731 inLatyn deur die Duitse filosoof Christian Wolff inCosmologia Generalis.[4]
Fisiese kosmologie word bestudeer deur wetenskaplikes soossterrekundiges enfisici, sowel asfilosowe soosmetafisici en ander. Vanweë dié gedeelde terrein metfilosofie kan teorieë in fisiese kosmologie beide wetenskaplike en niewetenskaplike voorstelle insluit en kan hulle berus op aannames wat nie getoets kan word nie. Kosmologie verskil vansterrekunde deurdat eersgenoemde betrekking het op die heelal as ’n geheel, terwyl laasgenoemde betrekking het op individuelehemelliggame.
Dieteoretiese astrofisikus David N. Spergel het kosmologie beskryf as ’n "historiese wetenskap", want "wanneer ons na die ruimte kyk, kyk ons terug in die verlede" vanweë die beperktheid vanligsnelheid.[7]
Fisika enastrofisika het ’n sentrale rol gespeel in die vorming van ’n begrip van die heelal deur wetenskaplike waarnemings en eksperimente. Beidewiskunde en waarnemings het ’n rol gespeel in fisiese kosmologie om die hele heelal te ontleed. Daar word algemeen geglo die heelal het begin met die Oerknal, en dit is feitlik onmiddellik gevolg deurkosmiese inflasie: ’n metriese uitdying van die ruimte waaruit die heelal 13,799 ± 0,021 miljard jaar gelede ontstaan het.[8] In kosmogonie word die oorsprong van die heelal bestudeer en in kosmografie die eienskappe van die heelal.
InDiderot seEncyclopédie word kosmologie verdeel in uranologie (die wetenskap van die hemele), aërologie (die wetenskap van die lug),geologie (die wetenskap van die kontinente) enhidrologie (die wetenskap van water).[9]
Metafisiese kosmologie is ook al beskryf as die plasing van diemens in die heelal in verhouding tot alle ander entiteite. Dit word geïllustreer deurMarkus Aurelius se waarneming oor die mens se plek in daardie verhouding: "Hy wat nie weet wat die wêreld is nie weet nie waar hy is nie, en hy wat nie weet om watter rede die wêreld bestaan nie weet nie wie hy is of wat die wêreld is nie."[10]