Die komma (,) word hoofsaaklik gebruik om die leesbaarheid van 'n teks te verhoog. Volgens dieAWS (2017) dui dit die grense tussen bepaalde sinsdele aan, of maak dit die leser bedag op 'n kort pouse wat sinne in betekenisvolle dele verdeel.
Die komma skei woorde en frases wat nie in die res van die sin geïntegreer is nie, van die res van die sin. (AWS, 2017)
Die komma skei 'n aanspreekvorm van die res van die sin.
Bv: Johan, het jy my gehoor?
'n Komma of kommas skei tussenwerpsels van die res van die sin.
Bv: Nee, ek kan nie nou antwoord nie.
Die komma skei 'n einddeelvraag van die res van die sin.
Bv: Dis mos wat jy gesê het, nie waar nie?
'n Komma of kommas skei 'n uitbreidende woord, frase of bysin wat nie in die sin geïntegreer is nie van die res van die sin.
Bv: Wat jy ook al doen, ek gaan Saterdag die rugby kyk.
'n Komma of kommas skei teks in die direkte rede van daaropvolgende teks in die indirekte rede.
Bv: "Ek is moeg," sug sy, "vir slaai met elke ete."
'n Komma skei gelykwaardige sinsdele wat sonder 'n neweskikkende voegwoord verbind word.
Bv: Brood, melk en eiers is al wat jy hoef te koop.
Indien 'n bywoord of bywoordelike frase nie in die hoofsin geïntegreer is nie en aan die begin of einde van die sin voorkom, skei 'n komma dit van die res van die sin wanneer laasgenoemde 'n onafhanklike woordvolgorde het.
Bv: In elk geval, ons sal weer met jou gesels.
'n Komma skei inligting wat ingelei word met 'n bywoord of bywoordelike frase van skakeling van die res van die sin.
Bv: Daar is baie stil tye, bv. Sondagmiddae.
'n Komma word voor 'n bywoord of bywoordelike frase van uitbreiding geplaas wanneer dit 'n reeks items insluit.
Bv: Die restaurant bedien vis, hoender, varkvleis, ensovoorts.
Die komma word nie ná die aanhef en groet in 'n brief of e-pos gebruik nie. Indien die aanhef of die groet egter op dieselfde reël as die res van die boodskap geplaas word, word dit met 'n komma van die res van die teks geskei.