Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Kalahari

Koördinate:23°S22°O / 23°S 22°O /-23; 22
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Kalahariwoestyn
Nasa-Satellietbeeld van die Kalahariwoestyn
Die Kalahariwoestyn in Namibië

DieKalahariwoestyn is 'n uitgestrekte dorre tot halfdorre sanderige gebied. Dit is geleë in suidelike Afrika, met 'n oppervlakte van ongeveer 900 000 km², wat 'n groot gedeelte vanBotswana insluit, en dele vanNamibië enSuid-Afrika. Die omliggende Kalaharibekken se oppervlakte strek oor meer as 2,5 miljoen km².

Die enigste permanenterivier is dieOkavango. Dié rivier dreineer in 'ndeltagebied wat uit moerasse bestaan en 'n ryke natuurlewe ondersteun. Daar bestaan ook antieke droë rivierbeddings –Omuramba genoem – dwarsoor die sentrale noordelike dele van die Kalahari wat poele water bevat tydens die reënseisoen. Die rivierbeddings is deesdae meestal weidingsareas waar minder wilde diere voorkom as vroeër. Daar was in die verlede 'n groot verskeidenheid diere soosolifante enkameelperde asook roofdiere soosleeus enjagluiperds.

Etimologie

[wysig |wysig bron]

Kalahari is afgelei van dieTswanawoordkgala wat "groot dors", of "'n waterlose plek", beteken.[1] Die Kalahari beskik nie oor enige standhoudende grondwater nie.

Geografiese gegewens

[wysig |wysig bron]

Ligging

[wysig |wysig bron]

DieKalaharibekken is ’n vaag omlynde halfwoestyn wat op die hoogland van Suider-Afrika geleë is en wat strek van dieOranjerivier in die suide tot by die oorsprong van dieZambezirivier in die noorde. In die weste strek dit tot op die hooglande vanNamibië enAngola en in die ooste tot op die plato's van Transvaal enZimbabwe. Die gebied beslaan ongeveer 1,2 miljoen km2 en lê tussen 650 en 1 200 m bo seevlak. In Suid-Afrika word die naam Kalahari ook gebruik vir die halfwoestyn wat strek van die Oranjerivier tot by dieOkavangodelta inBotswana.

Bou en afwatering

[wysig |wysig bron]
'n Lugbeeld van die Kalahariwoestyn
Kleipan in die Kalahariwoestyn
'n Donderstorm in die Kalahariwoestyn

Die Kalahari se woestynagtige karakter is in die eerste plek nie toe geskryf aan 'n lae reënval nie, maar aan die aard van sy grond, naamlik los sand, waarin die water vinnig wegdreineer en dus van min waarde vir die plantegroei is. Die Kalahari word daarom as ’n edafiese woestyn (sygwoestyn) en nie as 'n klimaatwoestyn soos dieNamibwoestyn beskou nie. Die Kalahari is eintlik 'n voortsetting van dieKaroo. Die grootste deel van die Kalahari is plat.

Die oostelike deel, waar die Kalahari met dieHoëveld saamsmelt in 'n oorgangstreek, is heuwelagtig en word dieGhaapse plato genoem, na aanleiding van 'n plant wat algemeen in die gebied voorkom. Op hierdie plato lê dieLangberge, die Asbesberge en die Kurumanheuwels. Na die weste en noordweste gaan die hoër dele oor in die Kalahari-depressie, ook bekend as die Kalaharisandveld. Die sandveld, wat van die Oranjerivier oor 'n afstand van 3200 km tot inZambië en van dieEtoshapan vir 1500 km tot inZimbabwe strek, vorm die wêreld se grootste aaneenlopende sandoppervlakte.

In die droër suidweste is die sand rooi, soms in duine gewaai en plek-plek deur graspolle bestendig. Noordwaarts, waar dit natter is, is die sand wit tot gryswit en in breë, plat duine gewaai. Sowat 25 km vanRietfontein, in die suidweste van die Kalahari, word 'n ongewone rotsformasie aangetref. Toe G.A.Farini (sy regte naam wasWilliam Leonard Hunt) in 1885 tydens 'n jagekspedisie in die Kalahari op hierdie ongewone formasie afkom, het hy geglo dat dit die ruïnes van 'n stad was. Verskeie ekspedisies het deur die jare na Farini se sogenaamde Verlore Stad gaan soek, maar sonder welslae. In 1964 het 'n Suid-Afrikaanse argeoloog, dr.A.J. Clement, tydens ’n ekspedisie vasgestel dat Farini se beskrywing van die Verlore Stad ooreenstem met die vorm en voorkoms van die rotsformasie by Rietfontein.

Daar kan aanvaar word dat wat Farini dus vir die ruïnes van 'n stad aangesien het, in werklikheid net 'n rotsformasie is wat deur geologiese prosesse en die verdere inwerking van die natuur sy ongewone vorm verkry het. Daar is min riviere in die Kalahari en die meeste is nie-standhoudend. Die belangrikste riviere in die suide is dieMoloporivier en sy takriviere, dieAuobrivier,Nossobrivier enKurumanrivier. Die Molopo sluit hom naby dieAugrabieswaterval by dieOranjerivier aan.

Kenmerkend vir die Kalahari is sy ondergrondse dreinering, wat meebring dat sy riviere grotendeels droë lope is wat slegs na goeie reën vloei. Die Nossob, byvoorbeeld, vloei net wanneer swaar reëns in die brongebied in Namibië geval het. Die standhoudende riviere is onder meer dieKunene-, dieOkavango- en dieBotletle-rivier in die noorde van die Kalahari. Die Kunene en Okavango word deur die hoë reënval – tot 1 500 mm – in die noorde van Angola gevoed. Water van die Okavangorivier dreineer in die Okavangomoeras, waaruit die Botletle-rivier weer gevoed word. Van die Okavangomoeras vloei die Botletle suidoos en mond uit in die Xaumeer en dreineer uiteindelik in die Makgadikgadi-soutpan. Sowat 7 000 soutpanne word suid van die Okavango- en die Zambezirivier aangetref. 'n Gebied in die Noord-Kaap staan trouens ook bekend as diePannestreek of die Kalaharipannewêreld.

Panne wat waterdig geword het vanweë veranderinge in die struktuur van die grond, is van groot belang, aangesien hulle op baie plekke die enigste bron van oppervlakwater is na die reënseisoen. Die Makgadikgadi-soutpan in die noordooste van die Kalahari bestaan in werklikheid uit verskeie soutpanne, onder meer die Ntwetwe-pan en panne van die Sua-pangebied. Die Makgadikgadi-pan is waarskynlik een van die grootste soutpanne ter wêreld en bestaan uit 'n groot versteende meerbedding van 6 500 km².

Wanneer dieOkavangomoeras as gevolg van swaar reën in Angola oorstroom word en water via die Botletlerivier na dieMakgadikgadi-pan vloei, word die hele pan vol water. Dit is dan 'n voël- en wildparadys. Onder die enkele mere is die Xau – en die Ngamimeer, wat albei uit die Okavangomoeras en Botletlerivier gevoed word. DieNgamimeer het in die sestigerjare opgedroog, maar is na goeie reën weer opgevul.

Klimaat

[wysig |wysig bron]
Fietsryer in die Namibiese hitte

Die Kalahari se klimaat kom baie ooreen met die van die Karoo. Die gemiddelde dagtemperatuur wissel tussen 8°C in die winter en 32°C in die somer. In die winter is die dae sonnig en die nagte bitter koud. Die nagtemperatuur kan tot benede vriespunt daal en strawwe ryp kom voor.

Die reënval in die Kalahari wissel tussen 750 mm in die noorde tot ’n skrale 325 mm in die suide. Van oos na wes wissel die reënval tussen 400 en 150 mm. Die reënwater syfer vinnig weg in die los gryswit of rooi sand sodat oppervlakwater skaars is. Wanneer die Kalahari goeie reëns kry, soos in 1975 en 1976, verander dit in 'n groen grasveld. Die Kalahari is in 'n somerreënvalstreek en verspreide donderbuie kom dikwels voor. Warm weste- en noordwestewinde waai gedurende die somermaande.

Plantegroei en dierelewe

[wysig |wysig bron]

Plantegroei

[wysig |wysig bron]
Kubu-eiland in die Kalahariwoestyn
Duiwelsklou (Harpagophytum) in die Kalahariwoestyn

Die plantegroei van die Kalahari stem baie ooreen met die van die Karoo, hoewel dit veral langs riviere weelderiger groei. Die savanneplantegroei word gekenmerk deur harde polgras, struike en doringbome. Verskeie grassoorte groei yl op die rooi sandduine in die suide, maar na die noorde, waar die reënval hoër is, is die grasveld ruier. DieSchmidtia kalahariensis, ook bekend as kalaharigras, 'n eenjarige polgras wat wydverspreid in die doringveld voorkom, dien as weiding, maar het geen hoë voedingswaarde nie.

Daarteenoor het die geharde kalaharisandkweek (Schmidtia bulbosa) in die noordelike dele besonder goeie voedingswaarde.Vetplante,aalwyne,melkbos enturksvye word algemeen aangetref. Doringbome kom in die noorde weliger voor as in die suide, terwyl die kameeldoring (Vachellia erioloba) oral voorkom en dikwels oorheers. Ander bome wat in die Kalahari groei, is die kremetartboom (Adansonia digitata), mopanie (Colophospermum mopane), swarthaak (Senegalia mellifera), driedoring (Rhigozum trichotomum) en trassiebos (Vachellia hebeclada).

Verskeie immergroen bome groei langs die standhoudende riviere. Twee soorte wildevrugte wat 'n baie belangrike rol speel in die ekologie van die Kalahari, is die tsamma (Citrullus lanatus) en diegemsbokkomkommer (Acanthosicyos naudinianus). Die tsamma is 'n eenjarige, kruidagtige rankplant wat veral in die duine groei. Die ronde, gladde vrugte het 'n baie hoë voginhoud, net soos die vrugte van die gemsbokkomkommer, en is dus 'n belangrike bron van vloeistof vir diere.

Die gemsbokkomkommer is ’n meerjarige plant wat 'n groot wortelknol het en elliptiese vrugte dra wat met stekels oortrek is. Hoewel die gemsbokkomkommer meer gereeld dra as die tsamma, is laasgenoemde oor 'n langer tyd beskikbaar. Omdat oppervlakwater in die Kalahari so skaars is, is diere soos wurms, korinkrieke envoëls (byvoorbeeldvolstruise en glansspreeus) en selfshiënas op wildevrugte aangewese. Tsammas en gemsbokkomkommers is ook 'n belangrike bron van voedsel en water vir die Kalahari-boesmans. Dietsamma word gekook deur dit in die sand te begrawe. Vuur word dan in 'n gat in die sand gemaak, sand word op die vuur gegooi, die tsamma word bo-op geplaas en met sand bedek.

Die volgende dag is die vrug gereed. Die tsamma word ook rou geëet deur die een punt oop te sny en die middelste gedeelte uit te haal en te eet. Die res van die vleis word fyngemaal tot ’n waterige massa en dan geëet of gedrink. Die gemsbokkomkommer word meestal gaar geëet. Van die pitte van albei vrugte word 'n gereg gemaak deur dit te droog, te braai en te maal.

Dierelewe

[wysig |wysig bron]
'nGraatjiemeerkat (Suricata suricatta) in die Kalahariwoestyn

Omdat die Kalahari yl bevolk is, is wild nog volop. Daar is 'n groot verskeidenheid wildsoorte en voëls, wat die Kalahari 'n ware wildparadys maak en tot gevolg gehad het dat verskeie wildreservate in die Kalahari gevestig is. Daar is meer wild in die noorde as in die suide, veral langs die standhoudende riviere, mere en panne. Troppe olifante, kameelperde,buffels,sebras enkoedoes is volop in die noorde, waar meer water beskikbaar is.

In die suide, waar die water skaars is, kom wild soosgemsbokke,elande,wildebeeste en springbokke voor. Die bekende Kalaharileeu en ander roofdiere soos jagluiperds en jakkalse is volop, en 'n groot verskeidenheid slange en ander reptiele word aangetref. Die Kalahari is ook 'n voëlparadys vanweë die swerms kraanvoëls, ibisse, reiers, ganse en ooievaars wat daar voorkom, veral in die Chobe- en Moremireservate. Kleiner voëls soos byevreters en lewerike word ook hier aangetref. Daar is verskeie wildreservate in die Kalahari, waarvan die Nasionale Kalahari-gemsbokpark in Noordwes-Kaap die bekendste is. Aan hierdie park grens 'n gebied van sowat 11 000 km2 in Botswana se Kgalagadipark.

Baie mense beskou die deel waarin die Kgalagadipark geleë is, as die hart van die Kalahari. Daar is ook die Sentraal-Kalahari en die Khutswe-wildreservaat, wat saam meer as 15 000 km2 groot is. DieChobe Nasionale Park in die noorde van Botswana beslaan 11 600 km2. Botswana se grootste troppe olifante word hier aangetref. Seekoeie en krokodille hou by dieChoberivier. Die mere en panne is die grootste versamelplek van verskeie wild- en voëlsoorte.

Ekostreke

[wysig |wysig bron]

'n Deel van die gebied word tot die WWF-ekostreekKalahari se droë savanne (AT 1309) gereken. Die noordoostelike deel word dieKalahari se Acacia-Baikiaea-bosland (AT0709) genoem.

Sien ook

[wysig |wysig bron]

Bronne

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. "The Kalahari-Basin" (in Engels). 15 Julie 2010. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 25 Julie 2015.

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
Artikels oor Namibië 
Geskiedenis
Geografie
Politiek
Ekonomie
Samelewing
NormdataEdit this at Wikidata

23°S22°O / 23°S 22°O /-23; 22

Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Kalahari&oldid=2679881"
Kategorieë:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp