Johannes Brahms (7 Mei1833 –3 April1897) was 'nDuitse komponis en pianis en een van die voorste musikante van die Romantiese periode. Hy is inHamburg gebore, maar het 'n groot deel van sy professionele lewe inWene inOostenryk deurgebring, waar hy die leidende figuur van die Oostenrykse musiektoneel was. Brahms word vandag as een van die vooraanstaande Europese komponiste van die tweede helfte van die 19de eeu beskou.[1]
Brahms was reeds in sy eie leeftyd 'n gewilde en invloedryke musikant en komponis. Hy het komposisies vir klavier, kamerorkeste, simfonie-orkeste, kore en solo-sangers geskep. Hy was 'n bedrewe pianis en het dikwels die eerste opvoering van sy eie werke gegee. Hy het ook saam met die vooraanstaande opvoerders van sy tyd gewerk, soos die pianis Clara Schumann en vioolspeler Josef Joachim. Baie van sy werke vorm vandag steeds die hoofbestanddeel van konsertrepertoriums. Talle werke is egter vandag verlore: Brahms was 'n perfeksionis wat baie van sy komposisies vernietig het en geweier het om ander te publiseer.
Dit is kenmerkend van Brahms se komposisies dat hulle tradisioneel dog innoverend is. Sy musiek is gewortel in die strukture en komposisietegnieke van die barok- en klassieke meesters. Verder was Brahms self 'n meester vankontrapunt, 'n komplekse metode van komposisie wat die verhouding tussen twee of meer stemme uit 'n ander oogpunt asharmonie benader.
Hy het gepoog om die "reinheid" van die tradisionele komposisiestrukture te eer deur hulle tot 'n romantiese vorm te ontwikkel en het in die proses nuwe benaderings tot harmonie en melodie geskep. Alhoewel baie van sy tydgenote sy musiek as té akademies beskou het, is sy bydraes en vakmanskap sedertdien deur verskeie komponiste bewonder, soos die progressiewe komponis Arnold Schoenberg (1874–1951) en die konserwatiewe komponisEdward Elgar (1857–1934).
Benewens sy talle liedjies (waarvan syWiegelied moontlik die bekendste is) het Brahms vier simfonieë, vier concerto's, 'n requiem, klavier- en kamermusiek gekomponeer.