Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Jesse Jackson

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jesse Jackson
Jesse Jackson in 1983
Gebore
Jesse Louis Burns

8 Oktober1941
Greenville,Suid-Carolina, VSA
Sterf17 Februarie 2026 (op 84)
NasionaliteitVSA
Alma materNoord-Carolina Landbou- en Tegniese Staatsuniversiteit, Chicago Teologiese Seminarium
Beroepaktivis, dominee en politikus
Bekend virburgerregte aktivisme
EggenootJacqueline Brown
Kinders6
Handtekening

Jesse Louis Jackson (Burns;8 Oktober194117 Februarie2026) was 'n Amerikaanse burgerregte-aktivis, politikus en geordende Baptiste-predikant. As 'n protégé vanMartin Luther King jr. en James Bevel tydens die Amerikaanse burgerregtebeweging, het hy een van die mees prominente burgerregte-leiers van die laat 20ste en vroeë 21ste eeue geword. Van 1991 tot 1997 het hy as 'n skadu-afgevaardigde en skadu-senator vir dieDistrik van Columbia gedien. Hy was die vader van die Amerikaanse verteenwoordiger Jonathan Jackson en voormalige Amerikaanse verteenwoordiger Jesse Jackson Jr.

Gebore in Greenville,Suid-Carolina, het Jackson sy aktivisme in die 1960's begin en die organisasies gestig wat later saamgesmelt het om die Rainbow/PUSH-koalisie te vorm. Hy het sy werk in die 1980's na internasionale sake uitgebrei en 'n uitgesproke kritikus van die Reagan-administrasie geword. In 1984 stuur hy 'n veldtog van stapel om president van Amerika te word. Hy is aanvanklik beskou as 'n randkandidaat, maar het derde geëindig vir dieDemokratiese Party se interne nominasie verkiesing, net na voormalige vise-presidentWalter Mondale en senator Gary Hart. Hy het sy aktivisme voortgesit en in 1988 'n tweede keer gepoog om as presidensiële kandidaat benoem te word, waar hy as naaswenner geëindig het na die goewerneur vanMassachusetts, Michael Dukakis.

Jackson het nie weer vir die presidentskap gestaan nie, maar in 1990 is hy verkies as die skadusenator van die Distrik van Columbia, waar hy een termyn tydens die Bush- en Clinton-administrasies gedien het. Alhoewel hy aanvanklik krities was teenoor presidentBill Clinton, het hy later 'n ondersteuner geword. Jackson het van 1992 tot 2000Both Sides with Jesse Jackson opCNN aangebied. As kritikus van polisiebrutaliteit, dieRepublikeinse Party en konserwatiewe beleide, is hy wyd beskou as een van die invloedryksteAfro-Amerikaanse aktiviste van sy era. Hy sterf op 17 Februarie 2026 op 84-jarige ouderdom in sy huis in Chicago.

Vroeë lewe en opvoeding

[wysig |wysig bron]

Jackson is op 8 Oktober 1941 in Greenville,Suid-Carolina, gebore as Jesse Louis Burns, aan Helen Burns (1923–2015) , 'n 18-jarige hoërskoolleerling, en haar 33-jarige getroude buurman, Noah Louis Robinson (1908–1997).[1][2] Sy voorgeslagte sluit inCherokee, Afro-Amerikaanse slawe, Ierse plantasie-eienaars en 'nKonfederale balju.[3][4] Robinson, 'n voormalige professionele bokser, het vir 'n tekstielagent gewerk en was 'n bekende figuur in die swart gemeenskap. 'n Jaar na Jesse se geboorte trou sy moeder met Charles Henry Jackson, 'n poskantoor-instandhoudingswerker. Jesse is later deur Charles Henry Jackson aangeneem. Jesse het sy stiefpa se van aangeneem, hoewel hy gedurende sy grootwordjare ook 'n noue verhouding met Robinson behou het. Hy het gesê dat hy albei mans as sy vaders beskou.

As kind is Jesse Jackson deur ander kinders gespot oor sy buite-egtelike geboorte, en hy het gesê hierdie ervarings het hom gemotiveer om sukses te bereik. Hy het onderJim Crow -segregasiewette grootgeword en is moes agter in die bus gaan sit en aparte drinkfonteine gebruik – praktyke wat hy aanvaar het tot met die Montgomery-busboikot van 1955. Hy het by 'n rasse-geskeide skool, Sterling Hoërskool in Greenville, skoolgegaan. Daar is hy as klaspresident verkies, het 10de in sy klas geëindig en erekleure ("letters") inbofbal,voetbal enbasketbal verwerf.[5]

Nadat hy in 1959 hoërskool geslaag het, het Jackson 'n kontrak van 'n professionelebofbalspan van die hand gewys sodat hy die Universiteit vanIllinois met 'nvoetbalbeurs kon bywoon. Na sy tweede semester by hierdie oorwegend wit kollege, het hy oorgeskakel na North Carolina A&T, 'n histories swart universiteit in Greensboro,Noord-Carolina. Jackson het gesê dat hy van universiteit gewissel het omdat hy gevoel het dat rassistiese vooroordeel hom verhoed het omquarterback in dieAmerikaanse voetbalspan te speel. Die sosioloog Harry Edwards het later in 2002 die opmerking gemaak dat die Universiteit van Illinois wel voorheen 'n swartquarterback gehad het, maar ook opgemerk dat swart atlete wat oorwegend wit kolleges gedurende die 1950's en 1960's bygewoon het, 'n "kombinasie van kultuurskok en diskriminasie" teëgekom het.[6]

By A&T universiteit het Jacksonquarterback gespeel en is hy as president van die studenteraad verkies. Hy raak aktief in plaaslike burgerregte-proteste teen aparte biblioteke, teaters en restaurante. Hy het in 1964 met 'nBSc- graad in sosiologie gegradueer en daarna dieChicago Teologiese Kweekskool met 'n beurs bygewoon. Hy het die kweekskool in 1966 verlaat, drie vakke kort van sy meestersgraad, om voltyds op die burgerregte beweging te fokus. Hy is in 1968 as predikant georden. In 2000 het die Chicago Teologiese Kweekskool 'nMeestersgraad in Teologie aan hom toegeken op grond sy vorige studie en sy daaropvolgende werks- en lewenservaring.[7]

Burgerregte-aktivisme

[wysig |wysig bron]

Jackson het in 1965 deelgeneem aan die Selma na Montgomery-optogte wat deurMartin Luther King jr., James Bevel en ander burgerregte-leiers in Alabama georganiseer is. Beïndruk deur Jackson se dryfkrag en organisatoriese vermoëns, het King gou vir Jackson 'n rol in dieSouthern Christian Leadership Conference (SCLC) gegee, alhoewel hy bekommerd was oor Jackson se oënskynlike aandagsoekery. Toe Jackson van Selma optogte terugkeer, het hy opdrag gekry om 'n kantoor vir dieSCLC in Chicago te vestig.

Toe Martin Luther King Jr geskiet is, was Jackson onder in die parkeerterrein van die motel waar dit plaasgevind het. In die nasleep van King se dood het Jackson aanSCLC sePoor People's Crusade in Washington, DC, gewerk – maar hy het toenemend begin bots met Ralph Abernathy, King se opvolger as voorsitter van dieSCLC. In 1969 hetThe New York Times berig dat verskeie swart leiers Jackson as King se opvolger beskou en dat Jackson een van die min swart aktiviste was wat rasseversoening bevorder het.[8] Jackson het geglo dat daar 'n sameswering was om King te vermoor. In 1978 het hy vier uur lank met King se veroordeelde sluipmoordenaar, James Earl Ray, vergader. Jackson het gesê dat Ray wel betrokke was by King se sluipmoord, maar hom nie doodgemaak het nie, en dat die ander wat betrokke was "nog steeds op vrye voet is".[9]

Internasionale aktivisme

[wysig |wysig bron]
Jackson by die Verenigde Nasies in Maart 2012

Jackson se invloed het in die 1980's na internasionale sake uitgebrei. In 1983 het hy naSirië gereis om die vrylating van 'n gevange Amerikaanse vlieënier, vlootluitenant Robert Goodman, te bewerkstellig. Goodman is oor Libanon afgeskiet terwyl hy op 'n sending was om Siriese posisies in daardie land te bombardeer. Nadat Jackson 'n dramatiese persoonlike beroep op presidentHafez al-Assad, die Siriese president, gedoen het, is Goodman vrygelaat.Ronald Reagan het vir Jackson en Goodman op 4 Januarie 1984 in die Withuis ontvang. Dit het gehelp om Jackson se gewildheid as 'n Amerikaanse patriot te verhoog en het as 'n wegspringplek gedien vir sy presidensiële aspirasies in 1984. In Junie 1984 het Jackson die vrylating van 22 Amerikaners wat inKuba aangehou is, onderhandel na 'n uitnodiging deur die Kubaanse presidentFidel Castro. Aan die vooraand van die PersieseGolfoorlog van 1991 het Jackson 'n reis na Irak onderneem om bySaddam Hussein te pleit vir die vrylating van buitelandse burgers wat daar as 'n "menslike skild" aangehou is, wat die vrylating van verskeie Britse en 20 Amerikaanse individue verseker het.

Jackson was 'n uitgesproke aktivis omApartheid in Suid-Afrika te beëindig. Hy het byPous Johannes Paulus II en die Russiese leierMikhail Gorbatsjof vir ondersteuning vir dié saak gevra. Jackson hetNelson Mandela vergesel tydens Mandela se vrylating uit die tronk in Suid-Afrika. In 1997 het Jackson naKenia gereis om met die Keniaanse presidentDaniel arap Moi te vergader om as die Amerikaanse presidentBill Clinton se spesiale gesant vir demokrasie vrye en regverdige verkiesings te bevorder. In Mei 2024 het Jackson inThe Chicago Maroon oor dieGaza-oorlog geskryf. Hy het die aanval op Israel op 7 Oktober veroordeel, maar gesê dat Israel se reaksie en aanval op Palestynse burgerlikes 'n "slagting" was.[10]

Latere lewe, gesondheid en dood

[wysig |wysig bron]

Jackson is op 31 Desember 1962 met Jacqueline Lavinia Brown (gebore 1944) getroud, en het hulle vyf kinders gehad, insluitend die politieke kommentator Santita (1963), voormalige Amerikaanse verteenwoordiger Jesse Jackson Jr. (1965) en Amerikaanse verteenwoordiger Jonathan Luther Jackson (1966).

In Julie 2023 het Jackson aangekondig dat hy as leier van die Rainbow/PUSH beweging aftree.[11] Sy besluit is gegrond op sy gevorderde ouderdom sowel as verswakkende gesondheid. Jackson is in 2017 metParkinson se siekte gediagnoseer en is twee keer in 2021 in die hospitaal opgeneem, nadat hy positief getoets het virCOVID-19 en toe na 'n kopbesering. Die burgemeester van Chicago, Brandon Johnson, het gesê dat Jackson " 'n argitek van die siel van Chicago was... Sy geloof, sy deursettingsvermoë, sy liefde en sy onwrikbare toewyding aan mense inspireer ons almal om aan te hou streef na 'n beter môre".

In November 2025 is Jackson in Chicago in die hospitaal opgeneem. Sy diagnose is in April 2025 verander vanParkinsons na progressiewe supranukleêre verlamming (PSP), 'n neurodegeneratiewe toestand wat soos Parkinson kan lyk.[12] In Desember het sy familie aangekondig dat hy in 'n stabiele toestand in 'n verpleeginrigting was en na verwagting binnekort huis toe sou kom. Hy is op 22 Desember ontslaan.

Jackson is op 17 Februarie 2026 op 84-jarige ouderdom in sy huis in Chicago oorlede. Sy familie het sy dood op sosiale media aangekondig.[13][14]

Nalatenskap

[wysig |wysig bron]
  • Die AmerikaanseEbony Magazine het Jackson in 1971 op hul lys van "100 mees invloedryke swart Amerikaners" geplaas.
  • In 2000 het Bill Clinton die Presidensiële Medalje van Vryheid aan Jackson toegeken, die hoogste eerbewys wat aan Amerikaanse burgerlikes toegeken kan word.
  • In 2015 is Jackson met 'n eredoktersgraad van die Universiteit vanEdinburgh bekroon, uit erkenning van dekades se bevordering van burgerregte.[15]

Bronnelys

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. "Jackson, Jesse Louis".Stanford: The Martin Luther King, Jr. Research and Education Institute.Stanford University. Besoek op10 September 2023.Jackson was born in Greenville, South Carolina, on 8 October 1941 to an unmarried, teenage mother.
  2. "Helen Burns Jackson, mother of civil rights leader dies at 92".CBS News (in American English). 7 September 2015. Besoek op17 Februarie 2026.
  3. Frady, Marshall (28 November 2006).Jesse: The Life and Pilgrimage of Jesse Jackson (in Engels). Simon and Schuster.ISBN 978-1-4165-4349-7.
  4. Blue Clark,Indian Tribes of Oklahoma: A Guide, University of Oklahoma Press (2012), p. 75
  5. Henderson, Ashyia, red. (2001)."Jesse Jackson".Contemporary Black Biography. Vol. 27. Gale Group. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 6 September 2012. Besoek op30 September 2012.
  6. "ESPN.com: GEN - Edwards: The man who would be King in the Sports Arena".www.espn.com. Besoek op19 Februarie 2026.
  7. "The Telegraph-Herald - Google News Archive Search".news.google.com. Besoek op19 Februarie 2026.
  8. Herbers, John (June 2, 1969). "Chicago's Operation Breadbasket Is Seeking Racial Solutions in Economic Problems".The New York Times. ISSN 0362-4331.
  9. Frady, Marshall (1996).Jesse: The Life and Pilgrimage of Jesse Jackson. Random House. p. 230.
  10. Jackson, Sr., Jesse L. (3 Mei 2024)."A Message to the Protesters From Reverend Jesse L. Jackson, Sr".chicagomaroon.com. The Chicago Maroon. Besoek op29 September 2024.
  11. Williams, Raja Razek,Ashley R. (14 Julie 2023)."Civil rights leader Rev. Jesse Jackson to step down as Rainbow PUSH Coalition president".CNN (in Engels). Besoek op19 Februarie 2026.{{cite web}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  12. "Jesse Jackson hospitalized, under observation for a neurodegenerative condition".NBC News (in Engels). 13 November 2025. Besoek op19 Februarie 2026.
  13. Rainbow PUSH Coalition; Jackson, Yusef D.; Jackson Legacy Foundation (17 Februarie 2026)."🙏🏽🕊️".Instagram. Besoek op17 Februarie 2026.
  14. Stambaugh, John Blake, Alex (17 Februarie 2026)."The Rev. Jesse Jackson, pioneering civil rights activist and racial 'pathfinder,' dies at 84".CNN (in Engels). Besoek op19 Februarie 2026.{{cite web}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  15. "Honorary degree for Jesse Jackson".2015 News. The University of Edinburgh. Besoek op11 Januarie 2023.
Internasionaal
Nasionaal
Akademie
Kunstenaars
Mense
Ander
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Jesse_Jackson&oldid=2878199"
Kategorieë:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2026 Movatter.jp