Die Skepping van die Kosmiese Oseaan en die Elemente, uit dieShivapurana, c. 1828.
Hindoemitologie is ’n groot versamelingmitiese vertellings inHindoeïsme wat inSanskrit geskrifte soos dieMahabharata enRamayana, antiekeTamil geskrifte soos die Sangam-letterkunde enPeriya Puranam, asook ander streekletterkunde vanSuid-Asië opgeteken is. As sulks is dit ’n onderafdeling van hoofstroom- Indiese en Nepalese kultuur.
Eerder as ’n eenvormige geheel, kom dieselfde mite in verskeie weergawes voor wat wissel van tradisie tot tradisie, sekte tot sekte en streek tot streek. Alle Hindoes beskou dit dus nie as letterlike weergawes van die geskiedenis nie, maar as verhale met ’n dieper, dikwels simboliese, betekenis. Die mites word ook dikwels op verskillende maniere vertolk.[1]
Die mitologie wat uit klassieke Hindoeïsme ontwikkel het, het sy oorsprong in die tyd van dieVediese beskawing en antiekeVediese godsdiens. Die vierVedas, veral die lofsange van dieRigveda, bevat verwysings na talle temas soos gode, riviere, ens.
Die karakters, filosofie en stories wat die Vediese mites uitmaak, is onlosmaaklik verbind aan Hindoegelowe. Daar is vier Vedas: dieRigveda,Yajurveda,Samaveda enAtharvaveda.
Rama (regs), wat op die skouers van Hanuman sit, in ’n geveg met die demoonkoning Ravana. ’n Toneel uit dieRamayana.
Baie materiaal uit die tyd van klassieke Sanskrit het bewaar gebly in die Sanskrit epiese gedigte. Benewens ware mitologie, bevat die gedigte ook ’n groot verskeidenheid inligting oor die antieke Nepalese en Indiese gemeenskap, filosofie, kultuur, godsdiens en lewenswyses. Die twee groot epiese Hindoegedigte, dieRamayana enMahabharata, vertel die verhaal van twee spesifieke inkarnasies van Vishnu (Rama enKrishna). Dié twee werke is bekend asItihasa ("Geskiedenis"). Albei gedigte dien as godsdiensgeskrifte én groot bronne van filosofie en moraliteit. Hulle is in hoofstukke verdeel en bevat verskeie kort stories en morele situasies, waar die karakter ’n sekere gedragspatroon openbaar wat in lyn is met Hindoewette en die kodes van regverdigheid. Die beroemdste van dié hoofstukke is dieBhagavad Gita (Sanskrit: "Die Hemellied") in dieMahabharata, waarin Krishna voor die Slag van Kurukshetra die begrippe plig en regverdigheid aan die held Arjuna verduidelik. Hierdie storie is goed veranker in Hindoefilosofie en dien vir Hindoes as ’n bron vir gelykenisse en aanbidding. DieMahabharata is die langste epiese gedig ter wêreld – dit is meer as 2 miljoen lyne lank.
Die gedigte self handel oor gebeure in verskillendeyugas (tydperke). Daar was vier verskillende yugas: die Satya of Krita (Eerste) Yuga, Treta (Tweede) Yuga, Dvapara (Derde) Yuga en Kali (Vierde) Yuga. DieRamayana, wat deur die groot ghoeroeValmiki geskryf is, beskryf die lewe van Rama (die sewendeavatar van Vishnu) en speel in die Tweede Yuga af. DieMahabharata, wat oor die lewe van die Pandavas handel, speel in die Derde Yuga af, ’n tydperk wat met Krishna (die agtste avatar van Vishnu) verbind word.
DiePuranas bevat stories wat oud is en nie in die epiese gedigte verskyn nie, of net vlugtig. Dit is legendes en stories oor die oorsprong van die wêreld en die lewe en avonture van ’n groot verskeidenheid gode, godinne, helde, heldinne en mitologiese wesens (asuras, danavas, daityas, yakshas, rakshasas, gandharvas, apsaras, kinnaras, kimpurusas, ens.). Dit handel oor tradisies wat verband hou met antieke konings, sieners, inkarnasies van gode en legendes oor heilige plekke en riviere. DieBhagavatapurana is waarskynlik die Purana wat die meeste gelees word; dit vertel van die legendes van Vishnu en sy avatars op aarde.
Daar word op meer as een manier gedink aan die skepping. Volgens een van die oudstekosmogoniese mites in dieRigveda (RV 10.121) het die aarde ontstaan as ’n kosmiese eier,hiranyagarbha. DiePurusha Sukta (RV 10.90) vertel alle dinge is gemaak uit die verskeurde ledemate van Purusha, ’n groot nienatuurlike man wat deur die gode geoffer is. In die Puranas het Vishnu, in die vorm van ’n wildevark, in die kosmiese waters gespring en die aarde (Bhumi ofPrithivi) voortgebring.
Volgens dieShatapatha Brahmana wasPrajapati, die eerste skepper en vader van almal, in die begin alleen in die wêreld. Hy het homself in twee wesens omskep, ’n man en ’n vrou. Die vrou, wat gemeenskap met haar skepper asbloedskande beskou het, het uit sy omhelsings weggevlug en haar as verskeie diere vermom. Die man het haar agtervolg in die vorm van die mannetjie van elkedier, en uit dié ontmoetings het verskeie spesies ondiere voortgekom (Shatapatha Brahmana, xiv. 4, 2). Prajapati is gou in die Puranas metBrahma vervang.
In die Puranas het Vishnu en Maheshvara (Shiva), onderskeidelik die bewaarder en vernietiger, by Brahma die skepper aangesluit om ’n goddeliketriade (drie-eenheid) te vorm. Dieheelal is deur Brahma geskep, deur Vishnu bewaar en deur Shiva vernietig vir die volgende skepping. In sommige mites word Brahma se geboorte egter aan Vishnu toegeskryf. Brahma is dikwels uitgebeeld as sittende op ’n lotus wat uit Vishnu se naeltjie voortkom terwyl laasgenoemde op die kosmiese slang, Ananta (Shesha) rus. In dié mites was Vishnu aanvanklik alleen en toe hy oor die skepping dink, is Brahma geskep uit die lotus wat uit sy naeltjie gekom het.
In Hindoeïsme word 14 wêrelde geïdentifiseer – sewe hoëres (die hemel) en sewe laeres (die onderwêreld). (Die aarde word beskou as die laagste van die sewe hoër wêrelde.) Die sewe hoër wêrelde is die sewevyahrti's:bhu (land, aarde),bhuvas (lug/atmosfeer),svar (son, hemel, wêreld van die gode, lug, die ligging van die planete en sterrebeelde, klank, stemme, tone, wysies en skittering),mahas,janas,tapas ensatya (die wêreld wat deur Brahma regeer is). Die laer wêrelde ofpaatalas isatala,vitala,sutala,rasaataala,talatala,mahaatala enpaatala.[2]
Al die wêrelde behalwe die aarde is tydelike woonplekke: ná ’n persoon se dood op aarde weeg die god van die dood en geregtigheid (Yama) die mens se goeie en slegte dade teen mekaar op en besluit of die siel na ’n hemel of ’n hel moet gaan, vir hoe lank en in watter hoedanigheid of vorm. Aan die einde van die siel se tydperk daar keer dit na die aarde terug (word dit herbore as ’n lewensvorm op aarde). Daar word geglo net van die aarde af, en net ná ’n menslike lewe, kan die siel algehele redding verkry, die toestand wat vry is van die siklus van geboorte en die dood, ’n toestand van algehele en ewige saligheid.[3][4]
Volgens die Hindoestelsel gaan die kosmos vir ewig deur siklusse binne siklusse. Die basiese siklus is diekalpa, ’n "dag van Brahma", of 4320 miljard aardjare. Dié dag se nag is ewe lank. Altesaam 360 sulke dae en nagte is ’n "jaar van Brahma", en sy lewe is 100 sulke jare lank. Die grootste siklus is dus 311040000 miljard jaar lank, waarna die hele heelal terugkeer na die naamlose wêreldgees, totdat ’n nuwe skeppergod ontwikkel het.
In elke kosmiese dag skep die god die heelal en absorbeer dit weer. In die kosmiese nag slaap hy en die hele heelal word in sy liggaam opgeneem, waar dit bly as ’n potensialiteit, of moontlikheid. In elke kalpa is 14 manvantaras, of sekondêre siklusse, wat elk 306720000 jaar lank is, met lang tussenposes tussinin. In hierdie tydperke word die wêreld herskep en ’n nuwe Manu verskyn as die voorsaat van die mens. Ons is nou in die sewende manvantara van die kalpa, waarvan die Manu bekend is as Manu Vaivasvata.
Elke manvantara bevat 71 mahayugas, of eons. Elke mahayuga word weer verdeel in die vier yugas, of tydperke. Hulle is onderskeidelik 4800, 3600, 2400 en 1200 "jaar van die gode" lank, wat elk gelyk is aan 360 mensjare. In elke yuga is daar ’n afname in vroomheid, moraal, krag, statuur en geluk. Ons is tans in die Kali Yuga. Dit het volgens oorlewering in 3102v.C. begin, die jaar waarin die Mahabharata-oorlog glo plaasgevind het.
Die einde van die Kali Yuga word gekenmerk deur die verwarring van klasse, die omverwerping van die gevestigde standaarde, die staking van alle godsdiensrites en die heerskappy van wrede konings. Kort hierna word die wêreld deur ’n vloed en vuur vernietig.
Dieeinde van die lewe is drieledig: "onvoorsien, elementêr en absoluut". Die eerste einde, aan die einde van elke kalpa of "dag van Brahma", wordnaimittika genoem; dit is onvoorsien en voorwaardelik; dit geskied in die nag. Die tweede einde is die algemene ontbinding van die elemente in hul primitiewe bron, ofprakriti, en dit gebeur aan die einde van Brahma se lewe. Die derde, absolute en finaleatyantika is individuele verdelging, die ewige ontheffing van toekomstige bestaan.
Tien avatars vanVishnu (Matsya, Kurma, Varaha, Vamana,Krishna, Kalki,Boeddha, Parshurama, Rama en Narasimha). Skildery in die Victoria and Albert-museum.
Vishnu het uitgestyg van ’n minder belangrike songod in dieRigveda tot een van die Hindoetriade saam met Brahma en Shiva tot die oppergod inVaishnavisme. Sy bereidwilligheid om te inkarneer in tye van nood om regverdigheid (dharma) te herstel, was die inspirerende tema wat hom beide die oppergod en ’n barmhartige uitdeler van grasie (prasada) gemaak het. Volgens die Puranas slaap hy in die oer-oseaan, op die duisendkoppige slang Shesha. In sy slaap groei ’n lotus uit sy naeltjie en in die lotus word die skeppergod Brahma gebore, en hy skep dan die wêreld. Ná die skepping word Vishnu wakker en regeer in die hoogste hemel,Vaikuntha. As beskermer van lewe is een van sy take om dinge op aarde te kom regruk as dit skeefloop. Hy het 10 avatars, of inkarnasies, volgens die gewildste klassifikasie. Hulle is: die Vis (Matsya), die Skilpad (Kurma), die Wildevark (Varaha), die Leeu (Narasimha), die Dwerg (Vamana), Parashurama, Rama, Krishna, Balarama enKalki (die inkarnasie wat later in die Kali Yuga sal kom).
Shiva word inShaivisme beskou as die oppergod, die bron en doel van alles. Die Pashupata, Shaiva Siddhanta en sommige ander sektes beskou hom as gelyk aan, of selfs groter as, die Absolute (Brahman). Shiva se persoonlikheid is teenstrydig, want hy kan ’n morele en paternalistiese god wees, of ’n god van die buitestanders, dié wat buite die Brahmaniese hoofstroom staan. Hy word op verskeie maniere aanbid.
In die klassieke Hindoeïsme is Shiva die god van vernietiging, wat gewoonlik uitgebeeld word as ajogi wat op die berg Kailasa in dieHimalaja woon. Sy lyf is vol as gesmeer, sy hare opgestapel in gekoekte lokke. Hy het ’n dierevel aan en dra ’n drietandvurk. ’n Kobra dien dikwels as sy krans en die halfmaan as sy haarornament. Hy het ’n derde oog in die middel van sy voorkop wat hy toehou. Hy word soms vergesel van sy vrou,Parvati, en hul twee seuns,Skanda met sy ses gesigte enGanesha met die olifantkop.
Devi isShakti, die krag van haar manlike eweknie. As ’n enkele godin kan Devi beskou word as Parvati, die vrou van Shiva. Sy is ook bekend asMahadevi, die "groot moedergodin", en is Shiva se gelyke. Sy kan ook beskou word as die oppergodheid van die heelal, die bron van alles wat lewe. Wanneer sy as ’n vrou en ma beskou word, lei haar kalm aard tot pragtige, gehoorsame vroue soos wat Parvati vir Shiva is, Lakshmi vir Vishnu en Sarasvati vir Brahma.
In haar aggressiewe manifestasie asDurga is sy ’n vernietiger van die bose, verpersoonlik as die buffeldemoon Mahisha. Op haar kragtigste is sy Kali of Chamunda, wat die bloed drink van die demoon Raktabija ("bloedsaad"), van wie elke bloeddruppel wat op die grond val, meer demone tot gevolg het.
Benewens Vishnu, Shiva en Durga word baie ander devatas (devas of gode) aanbid.Brahma het in die laatVediese tydperk in die Aranyaka-en Upanishad-geskrifte belangrik geword. In die Brahmanas is hy met Prajapati verbind en het hy hom eindelik as die skeppergod vervang. Sy skeppings is egter later as herskeppings beskou. Dit was Shiva, Vishnu of Devi wat die oorspronklike skepper van die heelal is. Brahma is net die huidige skepper (of herskepper).
DieRigveda vertel van 33 gode, die Tridasha ("Drie maal tien"). Hulle het bestaan uit die 12Adityas, die 8Vasus, die 11Rudras en die 2Ashvins.Indra, of Shakra, die meester van die gode, is die eerste van die 33, gevolg deurAgni. Sommige van dié broer-gode kon in pare aangeroep word, soos Indra-Agni, Mitra-Varuna en Soma-Rudra.
Sommige devatas word verbind met spesifieke elemente of funksies: Indra, wat ook die heerser van die laer hemel Amaravati is, is in beheer van weerlig en reën; Varuna[5] is die god van die waters; Yama van die dood; Kubera van edelmetale, minerale, juwele en rykdom; Agni van vuur; Surya van die son; Vayu van die wind; en Chandra van die maan. Yama, Indra, Varuna en Kubera is bekend aslokapalas, of bewaarders van die heelal.
Shiva en Parvati se seuns is Skanda en Ganesha. Eersgenoemde is die god van oorlog en laasgenoemde van hindernisse. Ganesha word aanbid aan die begin van alle take wat onderneem word om hindernisse te verhoed. Kama is die Indiese god van liefde wat deur Shiva tot as verbrand en daarna weer opgewek is.
Onder die devi's is Lakshmi, die vrou van Vishnu, die godin van goeie geluk en wêreldlike seëninge. Sarasvati, die vrou van Brahma, is die beskermvrou van die kunste, musiek en letterkunde.
In die Hindoemitologie is ook talle ander soorte wesens. Die Nagas (slanggeeste) is halfmenslik, maar het die stert van ’n slang; hulle woon in die pragtige ondergrondse stad Bhogavati en bewaak groot skatte. Die Yakshas, wat met die god Kubera verbind word, is ’n soort kabouter of fee en word deur plattelandse mense aanbid. Die Gandharvas, wat almal manlik is, is die diensknegte van Indra asook hemelse musikante. Die Kinnaras, die Indiese sentoure, word met hulle verbind. Die vroulike weergawe van die Gandharvas is die Apsaras. Hulle is beeldskoon en wellustig, en hou veral daarvan omaskete te verlei terwyl hulle mediteer.
Die Rishi's (wysgeers of sieners) was legendariese wyse manne van die antieke tyd, onder andere die komponiste van die Vediese lofsange. Aan die hoof was die "Sewe Rishi's", wat geïdentifiseer word met diesterre van dieGroot Beer: Marichi, Atri, Angiras, Pulastya, Pulaha, Kratu en Vashistha. Ander belangrike rishi's sluit in Kashyapa en Daksha, die voorsate van gode en mans; Narada, wat dievina uitgevind het en beskou word as die beste van die Vaishnavas (volgelinge van Vishnu); Brihaspati en Shukra, die instruktrise van onderskeidelik die gode en die demone; en Agastya wat godsdiens en kultuur in die suide van die skiereiland versprei het. Die Pitrs is "vaders" of "voorvadergeeste" wat verbind word met die rituele offerandes aan die geeste van die afgestorwenes.
Die Asuras ("ongoddelikes") is die belangrikste bose geeste wat heeltyds in oorlog met die gode is en wie se mag hulle soms aanval, maar nooit verower nie. Hulle sluit al die sonde-demone in, die seuns van beide Diti (Daityas) en Danu (Danavas) asook verskeie spesiale groepe soos die Kalakeyas en Nivatakavachas. Demone word gewoonlik deur Indra of Vishnu verslaan. Effens minder erg is die Pisachas, wat op slagvelde en ander plekke van gewelddadige sterftes rondhang, asook ’n spesiale klas demone, die Vetala ofvampiere, wat in lyke woon. Daarbenewens is Preta en Bhuta ("spoke") die naakte geeste van mense wat ’n gewelddadige dood gesterf het en vir wieshraddha (’n ritueel vir voorvaders) nie uitgevoer is nie.
Daar was altesaam 12 hewige oorloë tussen die devas (gode) en asuras (demone) oor beheer van die drie wêrelde (hemel, aarde en onderwêreld). Hulle was die Varaha, Narasimha, Tarakamaya, Andhaka-vadha, Traipura, Amrtamathana, Vamana, Dhvajapata, Adibaka, Kolahala, Vritra-vadha en Halahala.
In die eerste oorlog het Varaha in ’n geveg in die kosmiese oseaan vir Hiranyaksha met sy slagtande doodgemaak. In die tweede is Hiranyakashipu diedaitya deur Narasimha vermoor. In die derde het Skanda vir Taraka, die seun van Vajranga, verslaan. Andhaka, die pleegkind van Hiranyaksha, het in die vierde aan die hand van Vishnu gesterf. In die vyfde het Shiva diedanavas onder leiding van die drie seuns van Taraka doodgemaak nadat die ander gode misluk het. Mahabali is in die sesde deur Indra verslaan. In die sewende het Vamana vir Mahabali gevange geneem nadat hy die drie wêrelde in drie treë afgemeet het. In die agtste het Indra vir Viprachitti en sy volgelinge, wat onsigbaar geword het, vermoor. In die negende het Kakutstha, die kleinseun van Ikshvaku, Indra gehelp om Adi-Baka te verslaan. Sanda en Marka, die seuns van Shukra, is in die tiende vermoor. In die elfde is Vritra en diedanavas wat hom gehelp het, deur Indra verslaan met Vishnu se hulp. In die twaalfde het Raji, die jonger broer van Nahusha, Indra gehelp om die asuras te verslaan.
Benewens die tradisionele wapens soos swaarde, spiese, knuppels, pyle en stawwe noem die geskrifte die gebruik van verskeie wapens wat elk met ’n spesifieke godheid verbind word, soos Indra se weerligstraal, dieShiva Dhanush (’n boog), dieSudharshan Chakra (’n diskus) en dieTrishul (’n drietandvurk).
Soms dui die naam van dieastra (wapen) op sy funksie of die natuurkrag wat dit oproep. DieNagastra (Nag = slang) het byvoorbeeld duisende slange uit die lug laat reën. DieAgneyastra (Agni) is gebruik om die vyand aan die brand te steek en dieVarunastra (Varuna) om vlamme te blus of vloede te veroorsaak. Sommige wapens soos dieBrahmastra is net teen individue gebruik.
Benewens dieastras is wapentuig soos harnasse, krone en helms gebruik.
Die verhaal van die groot vloed word in antieke Hindoegeskrifte genoem, veral dieSatapatha Brahmana.[6] Dit stem min of meer ooreen met soortgelyke verhale in ander godsdienste en kulture.Manu word deur Vishnu oor die komende vloed ingelig. Hy word beskerm deur die god se avatar Matsya, wat die vorm van ’n vis aangeneem het om van alle immorele mense ontslae te raak en die gelowiges, plante en diere te beskerm.[7]
Ná die vloed inspireer die god die geskrifManusmriti, wat grootliks op dieVedas geskoei is. Daarin word besonderhede oor morele gedrag en die verdeling van die gemeenskap volgens diekaste-stelsel uiteengesit.[8][9]