Dieboson word soms ook die "God-deeltjie" genoem na aanleiding van die titel van ’n boek deur dieNobelprys-wennerLeon Lederman,The God Particle: If the Universe Is the Answer, What Is the Question? (1993), waarin die skrywer onder meer beweer dat die ontdekking van die deeltjie noodsaaklik is om die struktuur vanmaterie finaal te verstaan. Wetenskaplikes hou egter nie van dié term nie.[6]
In deeltjiefisika gee elementêre deeltjies enfundamentele wisselwerkings vorm aan die wêreld om ons. DieStandaardmodel is ’n teorie wat hierdie deeltjies, waaruit allematerie enstraling bestaan en wat dus die basiese boublokke van die heelal is, beskryf. Dit verduidelik feitlik alles wat ons waarneem behalweswaartekrag.[7]
Tot in die 1960's het die Standaardmodel egter nie verklaar hoe elementêre deeltjies massa verkry nie. In 1964 is die bestaan van die Higgsboson voorspel om dié meganisme te verduidelik. Die tentatiewe ontdekking daarvan in Julie2012 kan bewys dat die Standaardmodel wesenlik korrek is. As dit blyk dié boson is nie die Higgsdeeltjie nie, sal die mens dalk moet herbesin oor hoe die heelal saamgestel is.
Die boson is genoem na dieBritsefisikusPeter Higgs wat die bestaan daarvan voorgestel het. Volgens hom en ander wetenskaplikes was die heelal in die eerste biljoenste van ’n sekonde ná dieGroot Knal gevul met deeltjies sonder enige massa wat teen die spoed van lig deur die lug geblits het. Vanweë hul interaksie met die Higgsveld het die deeltjies massa verkry en eindelik die heelal gevorm. Die Higgsveld is ’n teoretiese en onsigbare energieveld wat deur die hele heelal voorkom. Deeltjies kry massa deur ’n voortdurende wisselwerking met dié veld. Sommige deeltjies, soos diefotone wat lig vorm, word nie daardeur geraak nie en hulle het dus geen massa nie.
Eksperimente om die bestaan van die boson te bevestig en die aard daarvan vas te stel het eers in die 1980's in alle erns begin en in 2010 momentum gekry met die ingebruikneming van die CERN seGroot Hadronversneller (GHV).[8]
Omdat die deeltjie feitlik dadelik verval nadat dit ontstaan het (binne ’n septiljoenste van ’n sekonde), kan net baie hoë-energie-deeltjieversnellers dit waarneem en registreer. Die GHV is die wêreld se grootste en kragtigste versneller, ’n pyp van 27 km lank in ’n tonnel 100 m onder die grond op die grens tussenFrankryk enSwitserland. Twee strale protone word in teenoorgestelde rigtings afgevuur en bots teen mekaar. Dit veroorsaak baie miljoene botsings per sekonde tussen deeltjies en herskep so die toestande wat ontstaan het ná die Groot Knal, toe die Higgsveld gevorm het.
Die enorme hoeveelheid inligting word deur tallerekenaars ontleed. Van al die triljoene botsings, is baie min net reg om die Higgsdeeltjie te vertoon. Dit maak die proses uiters langsaam.
Simulasie van die hipotetiese verval van 'n Higgsdeeltjie, CMS/CERN.
Op 4 Julie 2012 is in twee afsonderlike eksperimente die bestaan van ’n voorheen onbekende deeltjie bevestig met ’n massa van sowat125 MeV/c2 (sowat 133 protonmassas) en dit val binne die massa wat voorspel is die Higgsboson sou wees.
Volgens wetenskaplikes is die kans dat die onbekende deeltjie nie die Higgsboson is nie, een uit ’n miljoen.[9] Hoewel op 14 Maart 2013 tentatief bevestig is dat dit wel die Higgsboson is,[4][10][11] is baie verdere werk nodig voordat onteenseglik bewys kan word of dit wel die geval is.
Die deeltjie het reeds bewys dat dit optree en verval op baie maniere wat deur die Standaardmodel voorspel word, en daar is ook tentatief bevestig dat dit ’npariteit van + enspin van 0 het,[4] twee fundamentele kriteria van ’n Higgsboson. Dit is dus die eersteskalêre deeltjie wat in die natuur ontdek is,[12] hoewel ’n paar eienskappe nog nie ten volle bewys is nie en sommige gedeeltelike resultate nie presies ooreenstem met dit wat verwag is nie. Sommige date moet ook nog verwerk word.[10]
Teen Maart 2013 was dit steeds onseker of die ontdekte boson se eienskappe presies met die Standaardmodel se voorspellings sal ooreenstem en of daar nog Higgsbosone bestaan, soos in sommige teorieë voorspel word.[11]