Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Henry Moore

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Henry Moore

Henry Moore in sy ateljee in Engeland, 1975
GeboortenaamHenry Spencer Moore
Gebore(1898-07-30)30 Julie 1898
Castleford,Yorkshire,Engeland
Sterf31 Augustus 1986 (op 88)
Much Hadham,Hertfordshire, Engeland
Laaste rusplekPerry Green-kerkhof, Much Hadham, Hertfordshire, Engeland
NasionaliteitVlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
VeldBeeldhouwerk, tekening, grafika, tekstiele
OpleidingLeeds School of Art, Royal College of Art
BewegingBronsbeeldhouwerk,modernisme
WerkeLiggende figure, 1930's–1980's

Henry Moore (30 Julie1898 – 31 Augustus1986) was 'n Engelsebeeldhouer wat bekend is vir sy brons- en klipbeelde van die mens wat in sy elementêre en gereduseerde vorm weergegee word. Driehooftemas kan in sy werk onderskei word, naamlik moeder en kind, liggende figuur en familie.

Drie Staande Figure, Battersea Park

Henry Moore is op 30 Julie 1898 in Castleford (Yorkshire) gebore. Hy wou as kind reeds 'n beeldhouer word. Ná 2 jaar se opleiding aan die Leeds School of Art is hy in 1921 na die Royal College of Art inLonden. Die kunswerke in museums wat hy besoek het, het 'n groter invloed op sy werk gehad as die akademiese onderrig wat hy ontvang het, en in sy vroeë werke is elemente van dieEgiptiese,Babiloniese, Argaïese,Etruskiese enOud-Mexikaanse kuns, sowel as elemente van die primitiewe kuns vanAfrika en dieSuidsee-eilande te bespeur. Moore se beelde word bepaal deur sy suiwer gevoel vir massa en volume, vlak en lyn, holtes en kurwes en 'n eenheid van begrip. Van die begin af kon daar 3 hooftemas in sy werk onderskei word, naamlik moeder en kind, liggende figuur en familie, meestal oergestaltes met 'n magiese krag wat tot die toeskouer spreek.

Aanvanklik is Moore beïnvloed deur tydgenote soosJacob Epstein (1880–1959) enJean Arp (1887–1966), maar ná 1930 het sy werk selfstandiger geword. Geërodeerde vorme van skulpe en kieselstene wat deur die see glad geskuur is, het toe die inspirasie vir sygeabstraheerde menslike gedaantes gevorm. In 1928 het hy sy eerste opdrag,Noordewind, vir 'n Londense stasie ontvang. SyLiggende vrou (1929), wat in die Leeds City Arts Galleries staan, is 'n oorspronklike vertolking van 'n rustende figuur op 'n Etruskiese sarkofaag.

Sy indrukwekkendste groepstandbeeld is dieDrie Staande Figure in die Battersea Park in Londen (1947/48). Moore het in die veertigerjare vir die eerste keer inbrons begin werk. Voorheen het hy direk in klip of hout gewerk, soms met die hulp van 'n kleimodel. Een van sy eerste bronswerke isDie Familie (1945 tot 1949). wat in dieMuseum of Modern Art inNew York opgeneem is. Sedert 1950 het hy feitlik net in brons gewerk.

In 1980 het Moore sy rug beseer en daarna kon hy nie meer groot opdragte uitvoer nie. Sy beelde was van veel kleiner formaat en hy het hom veral op dietekenkuns toegelê. Moore het hom reeds gedurende dieTweede Wêreldoorlog as vaardige tekenkunstenaar bewys met sy sketse van mense in Londense bomskuilings. Hy het ook gebruik gemaak van houtskool, waterverf, potlood, pastel, balpuntpen en gouache. Afgesien van figuurstudies het hy ook studies van landskappe, renosterskedels en binnenshuise tonele gedoen.

Henry Moore is op 31 Augustus 1986 in sy huis in Much Hadham, Hertfordshire oorlede waar sy liggaam in die Perry Green-kerkhof begrawe is. Hy was 88 jaar oud.

Bronnelys

[wysig |wysig bron]
  • Senior, Pat: Henry Moore - Elephant Skull - an exhibition at the Johannesburg Art Gallery. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 22, nr. 3, Maart 1973
  • Henry Moore - his development.In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 22, nr. 3, Maart 1973
  • Wêreldspektrum, Vol. 19, 156-157, ISBN 0 908409 60  5

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
NormdataEdit this at Wikidata
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Henry_Moore&oldid=2726159"
Kategorieë:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp