Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Henri Becquerel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Henri Becquerel

Antoine Henri Becquerel (Parys, 15b Desember, 1852 – Le Croisic, 25 Augustus, 1908) was 'nFransefisikus. Die SI eenheid virradioaktiwiteit, diebecquerel (Bq), is na hom vernoem.

Hy het op 1 Maart 1896radioaktiwiteit per toeval ontdek. In 1903 is dieNobelprys vir Fisika, saam metPierre enMarie Curie, aan hom toegeken "ter erkenning vir die buitengewone diens wat gelewer is deur sy ontdekking van spontane radioaktiwiteit."

Biografie

[wysig |wysig bron]

Henri Becquerel is in Parys gebore in 'n familie wat aan wetenskaplike navorsing toegewy is. Sy pa, Alexandre-Edmond Becquerel, was 'n professor intoegepaste fisika en het sonstrale, fotografie, die aktiwiteit van warm gasse en luminesensie nagevors. Sy oupa, Antoine César Becquerel, was 'n lid van dieRoyal Society en uitvinder van 'nelektrolitiese metode vir die onttrekking van metale uit hul ertse.

Becquerel se vroeë opleiding het by die Lyceé Louis-le-Grand plaasgevind; daarna studeer hy wetenskap aan die École Polytechnique en siviele ingenieurswese aan die École des Ponts et Chaussées. In 1877 het hy gegradueer en 'n pos as ingenieur by die Nasionale Ministerie van Brûe en Paaie aanvaar.

Magneto-optika

[wysig |wysig bron]

Gedurende sy studiejare aan die École des Ponts et Chaussées het Becquerel diep geïnteresseerd geraak inMichael Faraday se navorsingswerk oor die effek vanmagnetisme oplig. Faraday het in 1845 ontdek dat gepolariseerde lig 'n rotasie ondergaan terwyl dit deur 'n magnetiese veld beweeg ('n verskynsel wat die Faraday-effek genoem word). Becquerel het 'n formule ontwikkel wat die verband tussen hierdie rotasie en die breking wat deur 'n ligstraal ervaar word, verduidelik wanneer dit van een medium (deurskynende stof) na 'n ander beweeg. Hy het die resultate in 1875 in sy eerste wetenskaplike artikel gepubliseer, hoewel hy later ontdek het dat sy aanvanklike resultate op sekere punte verkeerd was.

Hierdie effek is in vaste stowwe en vloeistowwe waargeneem, en Becquerel het getoon dat dit ook ingasse voorkom. Hy het jare lank belang gestel in vrae oor magneto-optika. Sy entoesiasme het herleef toe die Nederlandse fisikusPieter Zeeman in 1897 die Zeeman-effek ontdek het, die splitsing van spektrale lyne onder die invloed van sterk magnetiese velde. Dit het nuwe perspektiewe vir Becquerel se navorsing geopen.

In 1874 trou Becquerel met Lucie-Zoé-Marie Jamin, die dogter van Jules Célestin Jamin – professor in fisika aan die Universiteit van Parys. Sy is vier jaar later in Maart 1878 oorlede, kort na die geboorte van hul enigste kind, Jean. Hierdie seun sou later ook 'n fisikus word. Sy oupa is twee maande vroeër oorlede, en sy pa het sy pos as professor in fisika by die Muséum d'Histoire Naturelle (Museum vanNatuurgeskiedenis) in Parys aangeneem, en Antoine Henri het sy assistent geword.

Luminesensie

[wysig |wysig bron]

In 1888 het Becquerel sy PhD aan die Universiteit van Parys ontvang oor 'n onderwerp waaraan sy pa vir baie jare gewerk het: luminesensie, die uitstraal van lig van onverhitte voorwerpe. Vir sy PhD het hy navorsing gedoen oor die effek van polarisasie op luminesensie. In 1889 is hy verkies tot lid van die Académie des Science.

Toe sy pa in 1891 oorlede is, is hy as sy opvolger by die Muséum d'Histoire Naturelle aangestel. In dieselfde jaar het hy ook die siek Alfred Potier by die École Polytechnique vervang. Uiteindelik, in 1894, is hy aangestel as hoof van ingenieurswese by die École des Ponts et Chaussées.

Becquerel het in 1890 met sy tweede vrou, Louise-Désiree Lorieux, die dogter van 'n myninspekteur, getrou; hierdie huwelik het kinderloos gebly.

Radioaktiwiteit

[wysig |wysig bron]

Becquerel se navorsing het momentum gekry ná die ontdekking deurWilhelm Röntgen in 1895 van dieX-strale wat na hom vernoem is. Wat hom veral opgeval het, was die ooreenkomste tussen hierdie X-straalbestraling en die luminesensie, wat hy self jare lank nagevors het.

Sy hipotese

[wysig |wysig bron]

Becquerel het geglo daar is 'n moontlikheid dat X-strale se "X-strale" verantwoordelik was virfluoressensie, die verskynsel van stowwe wat 'n nagloei het nadat dit aan sonlig blootgestel is. As sy hipotese korrek was, sou dit beteken dat die strale ook spore op 'n fotografiese plaat gelaat het.

Becquerel se eksperiment

[wysig |wysig bron]

Becquerel se hipotese het hom daartoe gelei om 'n baanbrekende eksperiment uit te voer. In die laboratorium van die Muséum het Becquerel 'n kristal uraansout, 'n stof wat Becquerel geglo het fluoresserend is, vir 'n geruime tyd aan die sonlig blootgestel en dit dan op 'n fotografiese plaat geplaas. Die plaat het geblyk swart te wees na ontwikkeling.

Becquerel het eers sy ware ontdekking gemaak nadat hy reeds sy toetsopstelling skoongemaak en weggesit het: al was die uraansout nie aan die son blootgestel nie, het dit spore op die plaat gelaat. Becquerel se verduideliking was dat die uraansout spontaan 'n onsigbare en deurdringendestraling uitstraal, wat blykbaar verskil van X-strale. Omdat hy vermoed dat hulle uit dieuraan self afkomstig is, het hy hulle rayons uraniques (uraanstrale) genoem; en sy kollegas die "strale van Becquerel". Becquerel het opgemerk dat hierdie strale 'n gas ioniseer. Hy het ook opgemerk dat suiwer uraan 'n sterker invloed as uraansout uitgeoefen het. Hy het die verskynsel vir meer as 'n jaar bestudeer, maar in April 1897 het hy aanbeweeg na ander werk, met die mening dat die navorsing uitgeput was. Die navorsing is voortgesit deur Marie en Pierre Curie, wat hierdie verskynsel radioaktiwiteit genoem het.

Latere lewe

[wysig |wysig bron]

In 1908, die jaar van sy dood, is Becquerel verkies tot permanente sekretaris van die Académie des Sciences. Hy was ook 'n lid van die Accademia dei Lincei en van die Koninklike Akademie vanBerlyn. Hy is op die ouderdom van 55 in Le Croisic, Frankryk, oorlede. Benewens die Nobelprys in 1903 het hy ook die Rumford-medalje (1900), die Helmholtz-medalje (1901) en die Barnard-medalje (1905) ontvang. Daarbenewens is hy in 1900 'n Offisier van die Franse Legioen van Eer aangestel.[1][2][3][4][5][6][7]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. "Becquerel, Henri, 1852-1908".history.aip.org. Besoek op17 April 2022.
  2. "Fellows of the Royal Society". London:Royal Society. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 16 Maart 2015.
  3. "The Discovery of Radioactivity".Berkeley Lab. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 15 Junie 2020. Besoek op28 Mei 2012.
  4. Henri Becquerel. [S.l.]: Great Neck Publishing. 2006.ISBN 9781429816434.OCLC 1002022209.
  5. "Henri Becquerel".Nobel Prize. 1903. Besoek op15 Julie 2019.
  6. Karbowski, Andrzej (2012)."Biography: Henri Antoine Becquerel (1852 – 1908)"(PDF). Storytelling @ Teaching Model. Geargiveer vanafdie oorspronklike(PDF) op 6 April 2018. Besoek op13 April 2018.
  7. "Henri Becquerel - Biography, Facts and Pictures".www.famousscientists.org (in Engels (VSA)). Besoek op6 Maart 2018.
Wenners van dieNobelprys vir Fisika
1901–1925
1926–1950
1951–1975
1976–2000
2001–
nou
Chemie
Letterkunde
Vrede
Fisika
Fisiologie of Geneeskunde
NormdataEdit this at Wikidata
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Henri_Becquerel&oldid=2700629"
Kategorie:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp