Halley se Komeet, amptelik1P/Halley,[2] is die bekendstekortperiodekomeet en is elke 75–76 jaar van dieAarde af sigbaar.[2] Dit is die enigste kortperiodekomeet wat duidelik met die blote oog van die Aarde af gesien kan word en dus die enigste komeet wat die gewone mens twee keer in sy lewe sal sien.[4] Ander komete wat met die blote oog gesien kan word, is dalk helderder en skouspelagtiger, maar kan net een keer in ’n duisend jaar hul verskyning maak.
Halley se kom en gaan in onsSonnestelsel is reeds van minstens 240 v.C. deursterrekundiges waargeneem en aangeteken. Duidelike rekords van die komeet se verskynings is inChina,Babilonië enMiddeleeuseEuropa gemaak, maar dié skrywers het nie geweet dat dit dieselfde komeet is nie. DieEngelse sterrekundigeEdmond Halley, na wie dit genoem is, was die eerste persoon wat (in 1705) vasgestel het die komeet keer periodiek terug na die binneste Sonnestelsel. Halley se Komeet het in 1986 die laaste keer hier sy verskyning gemaak en sal weer in middel 2061 van die Aarde af te sien wees.[5]
In 1986 was Halley die eerste komeet wat in detail deurruimtetuie bestudeer is en dit was die eerste waarnemingsdata oor die struktuur van ’n komeetkern en die vorming van ’nkoma (atmosfeer).[6][7] Hierdie waarnemings het ’n aantal bestaande voorspelling bevestig, onder meer die "vuil sneeubal"-teorie vanFred Whipple dat Halley moet bestaan uit ’n mengsel vanvlugtige ys – sooswater,koolstofdioksied enammoniak – enstof. Die sending het ook die mens se begrip van Halley verbeter, soos dat sy oppervlak grootliks bestaan uit stowwerige, nievlugtige materiaal en dat net ’n klein deel daarvan ysagtig is.
Die komeet se naam word dikwels uitgespreek asof dit met dieEngelse woordevalley ofdaily rym.[8] Die spelling van Edmond Halley se naam in sy leeftyd het ingesluitHailey, Haley, Hayley, Halley, Hawley enHawly, en dit is dus onseker hoe dit destyds uitgespreek is.[9]
Halley was die eerste komeet wat die mens besef het ’n periodieke verskyning maak. Tot met dieRenaissance was die konsensus oor komete dat hulle steurings was in die Aarde seatmosfeer. Een van die voorstanders van dié teorie wasAristoteles.Tycho Brahe het dit in 1577 verkeerd bewys metparallaksmeting deur te wys dat komete verder weg as diemaan moet lê. Baie geleerdes was steeds nie oortuig dat dié voorwerpe om die Son wentel nie en het gedink hulle volg ’n reguit pad deur die Sonnestelsel.[10]
In 1687 hetIsaac Newton syPhilosophiæ Naturalis Principia Mathematica gepubliseer en daarin sy wette vanswaartekrag en beweging uitgestippel, maar sy werk oor komete was onvoltooid. Hoewel hy vermoed het dat twee komete wat in 1680 en 1681 verskyn het, dieselfde komeet was op pad na en terug van die Son (dit het later geblyk hy was reg),[11] het hy nie daarin geslaag om komete heeltemal in sy model te laat sin maak nie. Dit was eindelik Newton se vriend, die redakteur en uitgewerEdmond Halley, wat Newton se nuwe wette in sy 1705-werkSynopsis of the Astronomy of Comets gebruik het om die invloed vanJupiter enSaturnus se swaartekrag op komete se wentelbane te bereken.[12] Nadat hy historiese rekords bestudeer het, het dié berekenings hom in staat gestel om uit te werk dat die wentel-elemente van ’n tweede komeet wat in 1682 sy verskyning gemaak het, feitlik dieselfde was as dié van twee komete wat in 1531 deurPetrus Apianus en in 1607 deurJohannes Kepler waargeneem is.[12] Hy het afgelei al drie komete is dieselfde voorwerp wat elke 76 jaar terugkeer. Dié periode is intussen aangepas tot elke 75–76 jaar. Ná ’n rowwe skatting oor die invloed van die planete se swaartekrag het hy voorspel die komeet sou in 1758 terugkeer.[13]
Halley se voorspelling het waar geword, hoewel dit eers op 25 Desember 1758 gesien is. Dit het eers in 13 Maart 1759 deur syperihelium beweeg – die aantrekkingskrag van Jupiter en Saturnus het ’n vertraging van 618 dae veroorsaak.[14] Dié uitwerking is voor die komeet se terugkeer bereken deur ’n span Franse wiskundiges,Alexis Clairaut, Joseph Lalande en Nicole-Reine Lepaute, en hulle het voorspel die komeet sou op 13 April terugkeer.[15] Hul berekening was net ’n maand uit.[16] Halley self het nie die komeet sien terugkeer nie aangesien hy in 1742 oorlede is.[17]
Die bevestiging van die komeet se terugkeer was die eerste bewys dat iets anders as planete ook om die Son wentel. Dit was ook een van die eerste suksesvolle toetse virNewton se meganikawette.[18] Die komeet is in 1759 deur die Franse sterrekundigeNicolas-Louis de Lacaille na Halley genoem.[18]
Die moontlikheid is al genoem datJoodse sterrekundiges in die 1ste eeu n.C. al besef het Halley is ’n periodieke komeet.[19] As bewys word ’n paragraaf in dieTalmoed[20] aangehaal wat verwys na " ’n ster wat elke sewentig jaar verskyn en die kapteins van skepe laat foute maak."[21]
Halley se wentelperiode oor die afgelope drie eeue was tussen 75 en 76 jaar, hoewel dit sedert 240v.C. gewissel het tussen 74 en 79 jaar.[18][22] Sy baan om die Son is hoogs ellipties, met ’neksentrisiteit van 0,967 (waar 0 ’n perfekte sirkel is en 1 ’n paraboliese baan). Syperihelium, die punt in sy baan waar die komeet die naaste aan die Son is, is net 0,6AE, effens minder as die afstand tussen die Son en die Aarde. Dit is tussen die wentelbane vanMercurius enVenus. Syafelium, of verste afstand van die Son af, is 35AE (rofweg die afstand vanPluto). Wat ongewoon vir ’n voorwerp in die Sonnestelsel is, is dat Halley ’n retrograde wentelbaan het; dit wentel om die Son in die teenoorgestelde rigting as die planete. Die baan seinklinasie is 18° tot diesonnebaan, met ’n groot deel daarvan suid van die sonnebaan.[23] Vanweë sy retrograde wentelbaan het dit een van die grootste snelhede in die Sonnestelsel relatief tot die Aarde. In 1910 was sy relatiewe snelheid 70,56km/s (254 016km/h) toe dit verby die Aarde beweeg.[24] Omdat sy wentelbaan op twee plekke na aan dié van die Aarde kom, sorg Halley se Komeet vir tweemeteoorreëns: die Eta-Aquariïdes vroeg in Mei en die Orionides laat in Oktober.[25] Waarnemings in 1986, met die laaste verskyning van Halley, het daarop gedui dat die Eta-Aquariïdes dalk nie van die komeet af kom nie, hoewel dit dalk daardeur versteur word.[26]
Die wentelbaan van Halley (in blou) teen die wentelbane van Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus (in rooi).
’n Orionide-meteoor van Halley se Komeet af tref die lug onder dieMelkweg en regs van Venus (die helder kol regs onder).
Halley word geklassifiseer as ’n "periodieke" of "kortperiodekomeet" – een met ’n wentelperiode van 200 jaar of korter. In teenstelling hiermee het "langperiodekomete" wentelperiodes van duisende jare. Periodieke komete het ’n gemiddelde inklinasie van 10º en ’n wentelperiode van net 6,5 jaar, en dus is Halley nie ’n tipiese kortperiodekomeet nie.[18] Die meeste kortperiodekomete (dié met ’n wentelperiode van korter as 20 jaar en ’n inklinasie van 20–30º of minder) word "Jupiterfamilie-komete" genoem en dié soos Halley, met wentelperiodes van tussen 20 en 200 jaar en ’n inklinasie van 0-90º of meer, word "Halleytipe-komete" genoem.[27] Tot in 2013 is net 72 Halleytipe-komete waargeneem teenoor 470 Jupiterfamilie-komete.[28]
Die wentelbane van die Halleytipe-komete dui daarop dat hulle eens langperiodekomete was waarvan die wentelbane deur die swaartekrag van die groot planete versteur is en wat na die binneste deel van die Sonnestelsel gestuur is. As Halley eers ’n langperiodekomeet was, het dit waarskynlik ontstaan in dieOort-wolk,[27] ’n sfeer van komeetagtige voorwerpe, met ’n maksimumafstand van 20000–50000 AE. Daarteenoor ontstaan Jupiterfamilie-komete waarskynlik in dieKuiper-gordel,[27] ’n plat skyf ysige afval tussen 30AE (Neptunus se wentelbaan) en 50AE van die Son af (in dieverstrooide skyf). ’n Ander punt van oorsprong is voorgestel vir die Halleytipe-komete. In 2008 is ’ntrans-Neptunus-voorwerp, 2008KV42, ontdek met ’n retrograde wentelbaan soortgelyk aan Halley s’n. Sy baan strek van net buite dié vanUranus tot twee keer dié van Pluto. Dit kan ’n lid wees van ’n nuwe populasie klein Sonnestelsel-voorwerpe wat as bron dien van Halleytipe-komete.[29]
Halley se Komeet is moontlik al 16000 tot 200000 jaar in sy huidige wentelbaan.[30] Ander faktore as swaartekrag kan baie belangrik wees;[30] terwyl Halley in die Son se rigting beweeg, stuur dit strome gas van sy oppervlak af, en dit kan die komeet effens van sy wentelbaan laat afwyk. Hierdie veranderings in sy wentelbaan kan afwykings van vier dae in sy perihelium veroorsaak.[31]
In 1989 het Boris Chirikov en Vitaly Vecheslavov ’n ontleding gedoen van 46 verskynings van Halley se Komeet uit historiese rekords en rekenaarsimulasies. Dit het gewys die dinamika van die komeet was chaoties en onvoorspelbaar oor ’n lang tydperk.[32] Halley kan tot 10miljoen jaar oud wees. Meer onlangse studies het daarop gedui dat die komeet binne die volgende tienduisende jare kan verdamp of middeldeur breek, of dit kan binne ’n paar honderdduisend jaar uit die Sonnestelsel gewerp word.[27] Waarnemings deur D.W. Hughes het daarop gedui dat die massa van die komeet se kern tydens die laaste 2000 tot 3000 omwentelings met 80–90% afgeneem het.[7]
DieGiotto- en dieWegasending het sterrekundiges hul eerste blik gegee op Halley se oppervlak en struktuur. Nes alle ander komete begin Halley se vlugtige verbindings (dié met ’n lae kookpunt sooswater,koolstofmonoksied,koolstofdioksied en ander yse) vanaf die oppervlak van sy kernsublimeer terwyl dit na die Son toe beweeg.[33] Dit bring mee dat die komeet ’nkoma of atmosfeer ontwikkel van tot 100000km breed.[34] Die verdamping van hierdie vuil ys stelstofdeeltjies vry wat saam met die gas weg van die kern af beweeg. Gasmolekules in die koma absorbeer sonlig en straal dit weer uit teen verskillende golflengtes, ’n verskynsel bekend asfluoressensie, terwyl stofdeeltjies die sonlig versprei. Albei prosesse is daarvoor verantwoordelik dat die koma sigbaar is.[4] Omdat ’n deel van die gasmolekules in die koma deur die Son seultravioletstralinggeïoniseer word,[4] trek die druk van diesonwind, ’n stroom deeltjies wat deur die Son uitgestraal word, die koma se ione in ’n lang stert wat tot verder as 100miljoen kilometer die ruimte in kan strek.[33][35] Veranderinge in die vloei van die sonwind kan veroorsaak dat die stert heeltemal wegbreek van die kern af.[6]
Waarnemings van Halley se Komeet wat tussen 22 en 28September 164v.C op ’n kleitablet gemaak is, Babilon, Irak. Britse Museum.
Ondanks die grootte van die koma is Halley se kern relatief klein: skaars 15kilometer lank en 8km wyd en dik. Sy vorm lyk byna soos dié van ’ngrondboontjie.[34] Dit het ’n relatief laemassa (rofweg2,2×1014kg)[36] en sy gemiddelde digtheid is sowat0,6g/cm3, en dit dui daarop dat dit bestaan uit ’n groot aantal klein stukkies wat losweg bymekaargehou word.[37]
Waarnemings van die koma se helderheid van die Aarde af het sterrekundiges laat voorspel dat Halley se rotasieperiode sowat 7,4 dae is. Foto's wat uit verskillende ruimtetuie geneem is, het ’n periode van 52uur aangedui.[7] As die onreëlmatigheid van die kern se vorm in ag geneem word, is Halley se rotasie waarskynlik kompleks.[33] Hoewel net 25% van die komeet se oppervlak in besonderhede afgeneem is tydens verbyvlugte, het die foto's ’n uiters wisselvormige topografie onthul met heuwels, berge, riwwe, komme en minstens een krater.[7]
Halley is die aktiefste van alle periodieke komete – ander soosEncke se Komeet enHolmes se Komeet wys aktiwiteit van een of tweegrootteordes swakker.[7] Sy dagkant, die kant wat na die Son wys, is baie aktiewer as die nagkant. Ruimtetuig-waarnemings het gewys gasse wat van die kern af stroom, is 80% water, 17% koolstofmonoksied en 3-4% koolstofdioksied[38] met spore vankoolwaterstof,[39] hoewel meer onlangse bronne ’n waarde van 10% vir koolstofmonoksied aangedui het asook spore vanmetaan en ammoniak.[40] Die stofdeeltjies is algemene stof wat in die buitenste Sonnestelsel voorkom en kieselsuursoute, soos dié wat in aardrots gevind word.[33]
Giotto het die eerste bewyse gelewer ter ondersteuning van Fred Whipple se "vuil sneeubal"-teorie; Whipple het gemeen komete is ysvoorwerpe wat deur die Son verhit word namate dit nader aan die binneste Sonnestelsel beweeg, en dit veroorsaak dat ys op die oppervlak sublimeer (direk van ’n soliede stof in ’n gas verander) en dat strome vlugtige materiaal uitwaarts beweeg en die koma vorm. Giotto het bewys dié model is in breë trekke korrek,[33] hoewel met wysigings. Halley sealbedo is byvoorbeeld sowat 4%, wat beteken dit weerkaats net 4% van die sonlig wat daarop val; omtrent wat ’n mens van steenkool verwag.[41] Hoewel dit dus helder wit van die Aarde af lyk, is Halley se Komeet eintlik pikswart. Die oppervlaktemperatuur van verdampende "vuil ys" wissel van 170K (−103°C) by ’n hoër albedo tot 220K (−53°C) by ’n lae albedo; Wega1 het gevind Halley se oppervlaktemperatuur is in die omgewing van 300–400K (30–130°C). Dit dui daarop dat slegs 10% van Halley se oppervlak aktief is en dat groot dele daarvan bedek word deur ’n laag donker stof, wat hitte behou.[6] Hierdie waarnemings dui daarop dat Halley inderwaarheid hoofsaaklik uit nievlugtige materiale bestaan, en dus eerder soos ’n "sneeuerige stofbal" lyk as ’n "vuil sneeubal".[7][42]
Danksy berekenings kon Halley se vroeëre verskynings in historiese rekords gevind word. Die volgende tabel gee die name aan vir elke verskyning van die komeet van 240v.C. af toe dit die eerste keer aangeteken is.[2][43] "1P/1982U1, 1986III, 1982i" dui byvoorbeeld daarop dat vir die perihelium in 1986, Halley die eerste bekende periodieke komeet is (1P) en dit is die eerste keer gesien in die "halfmaand" U (die eerste helfte van November) in 1982 (dit gee 1P/1982 U1); dit was die derde komeet verby perihelium in 1986 (1986 III), en die negende komeet wat in 1982 gesien is (voorlopige naam 1982i). Die perihelium-datums van elke verskyning word aangegee.[44] Die volgende perihelium-datum is by benadering. Die perihelium-datums 1607 en later is in dieGregoriaanse kalender en die datums 1531 en vroeër in dieJuliaanse kalender.[45]
1P/−239 K1, −239 (25 Mei 240 v.C.)
1P/−163 U1, −163 (12 November 164 v.C.)
1P/−86 Q1, −86 (6 Augustus 87 v.C.)
1P/−11 Q1, −11 (10 Oktober 12 v.C.)
1P/66 B1, 66 (25 Januarie 66 n.C.)
1P/141 F1, 141 (22 Maart 141)
1P/218 H1, 218 (17 Mei 218)
1P/295 J1, 295 (20 April 295)
1P/374 E1, 374 (16 Februarie 374)
1P/451 L1, 451 (28 Junie 451)
1P/530 Q1, 530 (27 September 530)
1P/607 H1, 607 (15 Maart 607)
1P/684 R1, 684 (2 Oktober 684)
1P/760 K1, 760 (20 Mei 760)
1P/837 F1, 837 (28 Februarie 837)
1P/912 J1, 912 (18 Julie 912)
1P/989 N1, 989 (5 September 989)
1P/1066 G1, 1066 (20 Maart 1066)
1P/1145 G1, 1145 (18 April 1145)
1P/1222 R1, 1222 (28 September 1222)
1P/1301 R1, 1301 (25 Oktober 1301)
1P/1378 S1, 1378 (10 November 1378)
1P/1456 K1, 1456 (9 Junie 1456)
1P/1531 P1, 1531 (26 Augustus 1531)
1P/1607 S1, 1607 (27 Oktober 1607)
1P/1682 Q1, 1682 (15 September 1682)
1P/1758 Y1, 1759 I (13 Maart 1759, deur Halley voorspel)
12Donald K. Yeomans."Horizon Online Ephemeris System" (in Engels). California Institute of Technology, Jet Propulsion Laboratory.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Mei 2020. Besoek op8 September 2006.
↑O. Ajiki en R. Baalke."Orbit Diagram (Java) of 1P/Halley" (in Engels). Jet Propulsion Laboratory Solar System Dynamics.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2019. Besoek op1 Augustus 2008.
123456H.U. Keller, D. Britt, B.J. Buratti, N. Thomas (2005). "In Situ Observations of Cometary Nuclei". In M. Festou, H.U. Keller en H.A. Weaver (red.).Comets II(pdf). University of Arizona Press. pp.211–222.ISBN978-0-8165-2450-1.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
↑"Halley" (in Engels). Merriam–Webster Online.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2020. Besoek op21 Desember 2009.
↑J. D. Rayner (1998).A Jewish Understanding of the World. Berghahn Books. pp.108–111.ISBN1-57181-973-8.
↑D. K. Yeomans, J. Rahe and R. S. Freitag (1986). "The History of Comet Halley".Journal of the Royal Astronomical Society of Canada.80: 70.Bibcode:1986JRASC..80...62Y.
↑S. Nakano (2001)."OAA computing sectioncircular" (in Engels). Oriental Astronomical Association.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2019. Besoek op15 Mei 2007.
↑"Meteor Streams" (in Engels). Jet Propulsion Laboratory.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 April 2020. Besoek op15 Maart 2007.
↑Umasankar Mitra (1987). "An Investigation Into the Association Between Eta-Aquarid Meteor Shower and Halley's Comet".Bulletin of the Astronomical Society of India.15: 23.Bibcode:1987BASI...15...23M.
12D. I. Olsson-Steel (1987). "The dynamical lifetime of comet P/Halley".Astronomy and Astrophysics.187 (1–2):909–912.Bibcode:1987A&A...187..909O.
↑D. K. Yeomans, P. W. Chodas, G. Sitarski, S. Szutowicz, and M. Królikowska. "Cometary Orbit Determination and Nongravitational Forces".Comets II(PDF). University of Arizona Press. pp.137–151.ISBN978-0-8165-2450-1.{{cite book}}:Onbekende parameter|editors= geïgnoreer (hulp)AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
↑B.G. Marsden, G.V. Williams (1996). "Catalogue of Cometary Orbits 1996. 11de uitg".Catalogue of Cometary Orbits. International Astronomical Union.Bibcode:1996cco..book.....M.
↑J. L. Brady (1982). "Halley's Comet AD1986 to 2647BC".Journal of the British Astronomical Association.92. Lawrence Livermore-laboratorium, Universiteit van Kalifornië: 209.Bibcode:1982JBAA...92..209B.