Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Halifax, Nova Scotia

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Halifax
Halifax Regional Municipality

KaartWapen
Vlag
 LandKanada
 ProvinsieNova Scotia
 Koördinate44°39′N63°34′W / 44.650°N 63.567°W /44.650; -63.567
 Stigting1749
 Oppervlak: 
 - Totaal5 490,18vk km
 Hoogte bo seevlak10 m
 Bevolking: 
 - Totaal (2006)372 679
 - Bevolkingsdigtheid67,9/vk km
 - Metropolitaanse gebied412 273
 TydsoneUTC -4 (Atlantiese tyd)
 BurgemeesterPeter Kelly
 Amptelike Webwerfwww.halifax.ca

Halifax is die hoofstad en grootste metropolitaanse gebied vanNova Scotia, Oos-Kanada.

Ná sy samesmelting met Dartmouth en Bedford in die jaar1996 vorm die stad en sy omgewing die streeksmunisipaliteitHalifax Regional Municipality met sowat 360 000 inwoners (2001). Halifax is die ekonomiese sentrum van die Atlantiese provinsies en die tweede grootste Kanadese kusstad naVancouver (Brits-Kolombië), terwyl sy seehawe die wêreld se tweede grootste natuurlike hawe naSydney (Australië) is. Dit is een van min hawens in Kanada wat dwarsdeur die jaar ysvry bly. Dit lê nader aan Europa as enige ander belangrike Noord-Amerikaanse seehawe suid van Newfoundland/Terre Neuve.

Die stad het 'n belangrike rol in die geskiedenis van Kanada gespeel en is oorspronklik veral as 'n Britse militêre teenwig vir die Franse seevesting Louisbourg, op dieKaap-Breton-eiland aangelê. Meer as een miljoen immigrante en vlugtelinge het by Halifax sePier 21 voet aan wal gesit.

Vandag is Halifax 'n kosmopolitiese stad met kleinerwolkekrabbers en 'n gerestoureerde historiese stadskern wat byna volledig met die see omsluit word. Halifax se universiteite, met sowat 20 000 studente, dra by tot die kulturele lewe van die stad wat soms die "San Francisco van die noorde" genoem word - 'n verwysing na die brug oor die Narrows, wat Halifax met Dartmouth verbind en 'n bietjie na die KalifornieseGolden Gate-brug lyk, die hawebuurt en die vestingsberg Citadel Hill met sy steil strate. Vanweë sy musieklewe word Halifax tans ook dikwels met die Noordwes-Amerikaanse stadSeattle vergelyk.

Geskiedenis

[wysig |wysig bron]

Die eerste bewoners van die gebied was Mi'kmaq-Indiane, wat die baai van HalifaxChebookt ("Groot lang hawe") genoem het.

Halifax se stadsklok in die aandskemer

Op9 Julie1749 het kaptein-generaal Edward Cornwallis met sowat 2 500 setlaars op die Chebucto-skiereiland geland om 'n nedersetting en voorpos vir die Britse troepe te stig. Die klein vesting is ter ere van Lord Halifax, die president van die Britse handelskamer, "Halifax" genoem en vanweë sy strategiese ligging reeds in die volgende jaar tot hoofstad van Nova Scotia verklaar. In dieselfde jaar is in die omgewing nog 'n nedersetting, Dartmouth, gestig. Die pont, wat die twee stede sedert1752 met mekaar verbind, is die oudste seewaterpont in Noord-Amerika.

Ondanks baie moeilikhede het Halifax vinnig ontwikkel, en in die stad is in 1752 die eerste Kanadesekoerant, dieHalifax Gazette, uitgegee en drie jaar later die eerste poskantoor in Kanada opgerig. Met die bou van die eerste kaai in1758 het Halifax se geskiedenis as 'n belangrike Kanadese hawestad begin. In 'n tyd toe Groot-Brittanje en Frankryk daarna gestrewe het om Noord-Amerika te beheer, het stad as basis vir Britse militêre operasies teen die Franse fort inLouisbourg gedien.

Dit was veral dergelike operasies tydens oorloë en internasionale konflikte, waarop die ekonomiese vooruitgang en welvaart van die stad aanvanklik berus het. Prins Edward, die seun van koningGeorge III van die Verenigde Koninkryk, het tussen1794 en1800 as opperbevelhebber van die Britse magte in Noord-Amerika gedien en met 'n reeks administratiewe en ander openbare geboue, wat hy laat oprig het, sy argitektoniese stempel op Halifax afgedruk.

Halifax was in dieEerste enTweede Wêreldoorlog 'n belangrike uitvoerhawe vir ammunisie en ander militêre uitrusting wat met skeepskonvooie na Europa vervoer is. Een van hierdie militêre operasies het egter ook die grootste mensgemaakte ontploffing - voordat 'n atoombom dieJapanse stadHirosjima getref het - veroorsaak. Op6 Desember1917 het meer as 2 000 mense by die botsing van die Franse skipMont Blanc met die Belgiese stoomskipImo gesterf, 9 000 is beseer, en groot dele van die skiereiland is in die ramp in puinhoop gelê.

In1925 het die eerste transatlantiese telegraafverbinding ontstaan, en in1941 hetTrans Canada Airways 'n gereelde lugroete tussen Halifax en Vancouver ingestel. Die internasionale lughawe van Halifax is in1960 geopen. In Junie1995 was Halifax die gasheerstad van die G-7 groep (die sewe belangrikste nywerheidslande) se spitsberaad.

Klimaat

[wysig |wysig bron]

Halifax se weer is onvoorspelbaar, maar danksy die invloed van dieAtlantiese Oseaan gematig in vergelyking met dié van Sentraal-Kanada. Gewoonlik beweeg temperature tussen -5°C en +25°C. Sneeuval tree in die maande van Desember tot Maart op, dikwels in die vorm van sneeustorms. 'n Rekord-sneeuval van 950 millimeter begelei een van hierdie storms inFebruarie2004.

Die lente se weer word deur mis en koel temperature gekenmerk, terwyl die somer warm en droog of koel en reënerig kan wees. Die vroeë herfs is dikwels nog warm met baie sonskyn.

Reënval en temperature in Halifax

[wysig |wysig bron]

Maand

JanFebMarAprMeiJunJulAugSepOktNovDes
Reënval (mm)13710912511410410297112104137135137
Reënval (duim)5,44,34,94,54,143,84,44,15,45,35,4
Minimale temperature (°C)-9-9-5-14913131050-6
Maksimale temperature (°C)0-13815202323191482
Minimale temperature (°F)161623303948555550413221
Maksimale temperature (°F)323037465968737366574636

Ekonomie

[wysig |wysig bron]
Die barkEuropa het in 2004 'n besoek aan Halifax se hawe afgelê

Danksy die groot konsentrasie van regeringsinstellings en privaat sakeondernemings het die streeksmunisipaliteit Halifax tot 'n beduidende ekonomiese sentrum in die oostelike Kanada ontwikkel, en Halifax dien nou as 'n sake-, finansiële, administratiewe en kulturele sentrum vir die Atlantiese kusprovinsies. Belangrike werkgewers en dryfkragte agter die ekonomiese groei sluit die Departement van Nasionale Verdediging en die Hawe van Halifax in.

Die uitgestrekte natuurlike hawe met sy moderne houergeriewe is nog steeds toeganklik wanneer die deurvaart na die Sint-Laurensrivier-waterweg deur ys versper word. Die Halifaxhawe dien ook as basis vir Kanada se Atlantiese Vloot en maak van die stad saam met die internasionale lughawe en verbeterde spoorweg- en padverbindings 'n eersterangse vervoersentrum wat steeds meer nywerhede lok. Die plaaslike eiendomsmark het aan die begin van die 21ste eeu sterk gegroei, en naas nuwe projekte is ook sommige van die vroeëre werkersklasbuurte opgeknap.

Die ekonomie in Halifax se landelike omgewing steun op landbou,vissery,mynbou, bosbou en die ontginning van natuurlikegas. Die Musquodoboit-vallei het tot die streek se bos- en landbousentrum ontwikkel. Van die 150 plase in die streeksmunisipaliteit is 110 volgens die sensus van 2001 in familiebesit. Die plaaslike vissery is in talle kleiner visserhawens langs die kus werksaam, terwyl die streek se natuurlike gasvelde voor die kus van die eiland Sable Island lê. Klei, leiklip,goud, kalksteen en gips word in die landelike gebiede van die vasteland ontgin.

Besienswaardighede

[wysig |wysig bron]
Die Angus A. MacDonald-brug verbind Halifax met Dartmouth
'n Nagtelike uitsig oor Halifax
  • DiePrivateers' Wharf is 'n gerestoureerde hawebuurt uit die 19de eeu met restourante en kroeë. Hier lê 'n namaaksel van die beroemde skoenerBluenose uit Lunenburg geanker. DieBluenose word ook op Kanada se 10-sent-muntstukke uitgebeeld.
  • Die stervormigeHalifax Citadel op Citadel Hill vorm die ou fort se sentrale gebou en bied 'n pragtige uitsig oor die stad. Citadel Hill pronk met noukeurig gerestoureerde geboue en meubels en is in1956 tot nasionale monument verklaar en een van die mees besoekte geskiedkundige besienswaardighede in Kanada. Vandag tree studente van die Universiteit van Halifax in Skotse kleredrag en met doedelsakke as die fort se bemanning op.
  • DieNova Scotia Museum of Natural History behandel die geskiedenis en natuur van Nieu-Skotland en pronk met argeologiese vondse soos die oorblyfsels van 'n 11 000 jaar oue nedersetting, mastodon-bene, 'n walvisgeraamte en voorwerpe wat deur die vroeë setlaars en plaaslike Mi'kmaq-Indiane vervaardig is.

Bekende boorlinge

[wysig |wysig bron]
Wikimedia Commons bevat media in verband metHalifax, Nova Scotia.
Vlag van KanadaHoofstede vanKanadaWapen van Kanada
HoofstedeCharlottetownEdmontonFrederictonHalifaxIqaluitOttawaQuebecstadReginaSt. John'sTorontoVictoriaWhitehorseWinnipegYellowknife
Internasionaal
Nasionaal
Geografies
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Halifax,_Nova_Scotia&oldid=2537615"
Kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp