Guyana (Engels: [ɡaɪˈɑːnə] of [ɡaɪˈænə],luister(hulp·inligting)), amptelik dieKoöperatiewe Republiek Guyana (Co-operative Republic of Guyana) is 'nland in die noorde vanSuid-Amerika net noord van dieewenaar met 'n oppervlakte van 214 969 km² en 'n bevolking van 794 099 in 2024.[1] Dit word begrens deurVenezuela in die weste,Brasilië in die suide,Suriname in die ooste en dieAtlantiese Oseaan in die noorde. Diehoofstad en grootste stad isGeorgetown, wat langs die noordelike kus geleë is. Net wes van Georgetown mond dieEssequibo, die land se langste rivier, in die Atlantiese Oseaan uit.
Guyana is die enigste lidland van dieBritse Statebond op die vasteland van Suid-Amerika, hoewel dit dikwels beskou word as deel van dieKaribiese gebied weens sy sterk kulturele, historiese en politieke bande met die Karibiese lande. Dit is ook die enigste onafhanklike land van Suid-Amerika met Engels asamptelike taal. Guyana se bevolking bevat 'n groot verskeidenheid vanIndiese,Afrika-,Amerindiese en anderetniese groepe.
Guyana se naam is afgelei van die Guyanas, 'n groot hoogland noord van dieAmasonerivier en oos van dieRío Orinoco;guiana beteken "land van baie water".[6] Die Guyanas het voorheen dele van Brits-Guyana (Guyana),Frans-Guyana ('nFranse oorsese gebied), Nederlands-Guyana (Suriname), Portugees-Guyana (dieBrasiliaanse deelstaatAmapá) en Spaans-Guyana (die Venezolaanse streek Guyana) ingesluit.
Guyana is in 1498 deurChristophorus Columbus tydens sy derde reis virEuropa ontdek enWalter Raleigh het dié gebied in 1596 beskryf. DieNederlanders het as eerste verskeie kolonies in dié gebied gestig: Essequibo (1616), Berbice (1627) en Demerara (1752). Nadat die Britte die gebied in 1796 oorgeneem het, het die Nederlanders die gebied in 1814 formeel aan dieVerenigde Koninkryk afgestaan. In 1831 is die drie kolonies tot Brits-Guyana saamgesluit. Op 26 Mei 1966 het Guyana van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword en op 6 Oktober 1980 'nrepubliek binne die Britse Statebond. Sedert sy onafhanklikheid eis Venezuela die westelike gebied van Guyana asGuayana Esequiba op.