DieGroep van Sewe (kortG7) is 'n informele forum van die Westerse wêreld se leidende nywerheidslande wat in 1975 in die lewe geroep is. Die G7 se staats- en regeringshoofde kom gereeld vir spitsberade byeen om ekonomiese en ander kwessies te bespreek. Die G7 bestaan tans uitDuitsland,Frankryk,Italië,Japan,Kanada, dieVerenigde Koninkryk en dieVerenigde State. DieRussiese Federasie, wat in 1998 tot die forum toegetree het wat vervolgens asGroep van Agt bekendgestaan het, is ná die anneksasie van dieKrim-skiereiland op 25 Maart 2014 uitgesluit. Die forum het sodoende na sy oorspronklike formaat teruggekeer.[1][2]
Staats- en regeringsleiers tydens die 43ste G7-spitsberaad in Taormina, Italië: Donald Tusk, Justin Trudeau, Angela Merkel, Donald Trump, Paolo Gentiloni, Emmanuel Macron, Shinzō Abe, Theresa May, Jean-Claude Juncker (van links na regs)
Die Europese Gemeenskap (sedert 1993 dieEuropese Unie) neem sedert 1977 aan die spitsberade deel en word deur die Europese Kommissie en die land, wat op dié tydstip die roterende presidentskap van die Europese Unie beklee, verteenwoordig.
Die forum het hom aanvanklik op die koördinasie van die lidlande se ekonomiese beleid toegespits, maar het later ook begin om internasionale vraagstukke soos die stryd teen armoede in die ontwikkelende lande, werkloosheid, die stryd teen misdaad enterrorisme en die proliferasie van massavernietigingswapens te behandel.
Die eerste internasionale ekonomiese spitsberaad van die (destyds ses) leidende nywerheidslande het in 1975 as G6-spitsberaad op inisiatief van die Franse regering in die kasteel van Rambouillet (Frankryk) plaasgevind.
Die G7-spitsberade word veral gekenmerk deur die geleidelike uitbreiding van hulle agenda's. Terwyl hulle in die 1970's nog deur ekonomiese vraagstukke oorheers is, het ook dieinternasionale politiek in die 1980's meer aandag gekry. In die negentigerjare het dit saam met kwelvrae soos die bestryding vanterrorisme tot die hoofonderwerp van die spitsberade ontwikkel.