Grand Tour [gʀɑ̃ˈtuːʀ] (Frans vir "Groot Reis") was die vakterm vir die verpligte uitgebreide opvoedkundige en kulturele reis wat seuns uitEuropese, maar veral Britse adellike families (later ook seuns uit die hoër burgerklas) vanaf dieRenaissance-tydperk deurSentraal-Europa,Italië,Spanje,Portugal, en soms ook dieBaltiese lande, dieHeilige Land of dieBalkanskiereiland, as laaste deel van hul opvoeding onderneem het. In 'n wyer betekenis van die term word ook na die studiereise van volwassenes uit adel en hoërklas só verwys. Veral inEngeland word beskrywings van dieGrand Tour in die 18de eeu 'n belangrike genre in die nie-fiksionele literatuur. Die kulturele invloede, waaraan jong aristokrate in vastelandse Europa blootgestel is, is daarnaas in die destydse Britse boukuns weerspieël. HistorieseGrand Tour-literatuur is derhalwe 'n belangrike studieveld en bron vir wetenskaplikes wat navorsing doen oor die kulturele bande en uitruil tussen Europese lande.
Die Engelse termGrand Tour, 'n Franse ontlening, is vir die eerste keer in 1670 deur dieRooms-Katolieke geestelike en reisskrywer Richard Lassels (omstreeks 1603–1668) in sy boekVoyage to Italy, or, A compleat journey through Italy gebruik. Hierdie werk is 'n opvoedkundige beskrywing van die veeleisende en moeilike reis deur Europa wat as deel van die nodige persoonlikheidsvorming beskou is, ver van die veilige omgewing van die ouerhuis en die adellike kringe waarin jongmense van edele afkoms grootgeword het. Lassels het dieGrand Tour beskryf soos 'n vaste ritueel - met 'n voorgeskrewe reisroete, belangrike plekke en besienswaardighede asook die ideale verblyftyd.[1]
Jong volwassenes het gewoonlik 'n minimum van tien maande, dikwels twee tot vier jaar deur Europa gereis om hul horison te verbreed, met vreemde tale, argitektuur, geografie en kultuur as hul hoofbelangstellings. Hulle was welvarend genoeg om die ontstaan van 'n hele bedryf te bevorder wat hulle van reisgidse, plaaslike toergidse en akkommodasie voorsien het. Padrowers was 'n konstante bedreiging, en so het jong toeriste betreklik min kontant saamgeneem. Hulle het in plaas daarvan kredietbriewe vanLondense banke aan hul gashere voorgelê.
'n Verblyf in groot metropole wat destyds as kulturele sentrums beskou is -Parys,Rome,Venesië, maar ookNapels enFlorence - het hoog op die agenda gestaan. Die Franse hoofstad was die gewildste bestemming - nie net vanweë die goed ontwikkelde padnetwerk nie, maar ook omdat Frans die belangrikste vreemde taal vir die destydse Britse elite was. Reise na ander dele van Europa, buite Frankryk en Italië as klassieke bestemmings, is deur die swak vervoerinfrastruktuur belemmer.[2]
Die veranderende onderwysideaal, die vestiging van inheemse universiteite en ander akademiese instellings, die strewe van vorste om die afvloei van kapitaal na die buiteland as gevolg van luukse reise te beperk, en politieke omwentelinge soos dieFranse Rewolusie van 1789 het in die loop van die 18de eeu 'n einde gemaak aan die oorspronklikeGrand Tour-tradisie.[3] In die 19de eeu het dietoerismebedryf as gevolg van die vinnige ontwikkeling van spoorvervoer ingrypende veranderinge ondergaan. Anders as die klassiekeGrand Tour-reisigers het besoekers hulself nie meer beperk tot die tradisionele kanon van antieke besienswaardighede nie, maar belang begin stel in die reisland self, sy bewoners, kultuur en leefstyl.
Twee groepe van mense het reeds lank voor die 18de eeu die Alpe oorgesteek, om godsdienstige of akademies-opvoedkundige redes. Christelike pelgrims het, veral in die Heilige Jare wat deur diepous geproklameer is, aangetrokke gevoel deur Rome se Sewe Pelgrimskerke. Met hul reis daarheen kon hulle van sonde vrygespreek word.
Noord-Europese kunstenaars en boumeesters, na wie asTramontani verwys is, was die tweede groep wat vanaf die vroeë 16de eeu na Italië gereis het om antieke en Renaissance-boukuns noukeurig te bestudeer.