Die Romeinse Ryk teen die jaar 120 n.C., met die provinsie Gallia NarbonensisGallië
Gallia Narbonensis was 'n Romeinse provinsie in die huidige gebied vanLanguedoc enProvence (Suid-Frankryk).
Die verowering van Gallia Narbonensis tussen 125 en 121 v.C. het aan die voorpunt van die latere Romeinse magsuitbreiding inGallië onderGaius Julius Caesar (58 tot 50 v.C.) en uiteindelik ook in dele van Germanië (onder Augustus) gestaan.
Die provinsie is in 121 v.C. onder sy oorspronklike naamGallia Transalpina by dieRomeinse Ryk ingelyf. Die Romeine het na die gebied meesal asProvincia Nostra ("Ons Provinsie") ofProvincia verwys, 'n naam wat in die huidigeProvence voortleef. Die naam Gallia Narbonensis is afgelei van die Romeinse kolonie Narbo Martius (die huidige Narbonne), wat in 118 v.C. aan die Mediterreense kus gestig is.
Aangesien dit onmiddellik aanItalië gegrens het, het die Romeine groot voordeel uit die beheer oor die gebied getrek. Dit het hulle in staat gestel om die belangrike handelroetes tussen Italië en die Iberiese skiereiland en tussen Gallië en die handelsentrum Massilia (die huidigeMarseille) te kontroleer.
Daarnaas het die provinsie as 'n soort strategiese stootkussing teen die aanvalle van Galliese stamme en as 'n gewilde gebied vir die vestiging van Romeinse veterane gedien, wat hier plase van die Romeinse staat ontvang het. In die Republikeinse tydperk is die Romeinse kolonie Narbo (Narbonne), in die Caesariese tydperk Arelate (Arles), tydens die Triumviraat Arausio (Orange) en onder die heerskappy van Augustus Forum Iulii (Fréjus) en moontlik ook Valentia (Valence) gestig.
Die kolonies is deur stadsregerings met Romeinse instellings beheer, waarvoor veterane kandidaat gestaan het. Waarskynlik het ook 'n groot aantal Galliese adellikes in die gebied Romeinse burgerskap gekry en hulle in die nuwe kolonies gevestig.