Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Frans

Hierdie artikel is gekies as 'n voorbladartikel. Klik gerus hier vir meer inligting.
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sienFranse.
 
Frans
français 
Uitspraak:[fʁɑ̃sɛ]
Gepraat in:Frankryk,België,Switserland,Luxemburg,Monaco,Kanada,Italië (Aosta-vallei),Kanaaleilande, groot dele vanNoord-,Wes- enSentraal-Afrika,Oseanië,Karibiese Seegebied, dele vanSuidoos-Asië, eilandgroepe in dieIndiese Oseaan. SienAmptelike status
Gebied:Wêreldwyd
Totale sprekers:115 miljoen (moedertaal)
185 (tweede taal)[1] 
Rang:11 (moedertaal), 5 (totaal)
Taalfamilie:Indo-Europees
 Romaans
  Wes-Romaans
   Galloiberies
    Galloromaans
     Gallorhaeties
      Oïl
       Frans 
Skrifstelsel:Latyns (Franse alfabet) 
Amptelike status
Amptelike taal in:Flag of the United Nations Verenigde Nasies
Afrika-unie
Flag of Europe Europese Unie
NAVO
NAFTA
Vlag van België België
Vlag van Benin Benin
Vlag van Burkina Faso Burkina Faso
Vlag van Burundi Burundi
Vlag van Comore-eilande Comore-eilande
Vlag van Djiboeti Djiboeti
Vlag van Ekwatoriaal-Guinee Ekwatoriaal-Guinee
Vlag van Frankryk Frankryk
Vlag van Gaboen Gaboen
Vlag van Guinee Guinee
Vlag van Haïti Haïti
Vlag van Ivoorkus Ivoorkus
Vlag van Kameroen Kameroen
Vlag van Kanada Kanada
Flag of the Democratic Republic of the Congo Demokratiese Republiek die Kongo
Flag of the Republic of the Congo Kongo
Vlag van Luxemburg Luxemburg
Vlag van Madagaskar Madagaskar
Vlag van Mali Mali
Vlag van Monaco Monaco
Vlag van Niger Niger
Vlag van Rwanda Rwanda
Vlag van Senegal Senegal
Vlag van Sentraal-Afrikaanse Republiek Sentraal-Afrikaanse Republiek
Flag of Seychelles Seychelle
Vlag van Switserland Switserland
Vlag van Togo Togo
Vlag van Tsjad Tsjad
Vlag van Vanuatu Vanuatu
Vlag van Guernsey Guernsey
Vlag van Jersey Jersey
Louisiana
Aosta-vallei
Gereguleer deur:Académie française (Franse Akademie) inVlag van Frankryk Frankryk
Délégation générale à la langue française et aux langues de France, Service de la langue française inVlag van België België
Office québécois de la langue française inVlag van Kanada Kanada
les Conseils supérieurs de la langue française de France, de Belgique et du Québec (internasionaal)
Taalbedreigingstatus
Bedreig

CRKrities bedreigde
SEErg bedreigde
DEBedreigde
VUKwesbare
   Veilig   

NENie bedreig nie
Dit isnie 'n bedreigde taal volgens dieUNESCO-wêreldatlas van bedreigde tale.
Taalkodes
ISO 639-1:fr
ISO 639-2:fre/fra
ISO 639-3:fra 
Die Franssprekende wêreld

   Moedertaal

   Ampstaal

   Sekondêre of nie-amptelike taal

   Minderheidstaal

Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat.

DieFranse taal (le français [lə fʁɑ̃sɛ]luister(hulp·inligting) ofla langue française [la lɑ̃ɡ fʁɑ̃sɛz]) behoort tot dieRomaanse groep binne dieIndo-Europese taalfamilie. Van al die Romaanse tale het dit ten opsigte van sy struktuur en uitspraak die sterkste wegbeweeg van die oorspronklikeLatyn.

Frans is naasEngels die enigstewêreldtaal wat op vyf vastelande gepraat word, en dit is die amptelike taal of verkeerstaal van meer as die helfte van die Afrikalande. Dit is ook een van die belangrikste tale van die internasionale en diplomatieke verkeer, 'n beduidende onderwystaal en dietaal van internasionale organisasies soos die UPU (Wêreldposunie).

Taalgeskiedenis

[wysig |wysig bron]

Keltiese invloede

[wysig |wysig bron]
Romeinse provinsies en stamgroepe van die Galliese gebied in die laat 1ste eeu v.C.

Die oorspronklikeGallies ('nKeltiese taal) is na die Romeinse verowering vanGallië oor 'n tydperk van vyf eeue deur die Latynse taal verdring, waarby die stedelike gebiede, die administrasie, die Romeinse garnisoene en die skoolstelsel die voortou geneem het. In teenstelling met hierdie instellings het die plattelandse gebiede die Keltiese taal nog tot in die 5de eeu n.C. bewaar. Net 'n klompie woorde (soospetit "klein",lieue "myl" enbrasser "brou") en plekname (met byvoorbeeld die agtersetsel-ac soos inCognac) het tot vandag van die Galliese taal oorgebly.

Die feit dat die Kelte nie die desimale stelsel met die getal tien as basis gebruik het nie, maar die getal twintig, leef voort in die Franse woordquatre-vingts ("tagtig", eintlik "vier (keer)-twintig", naas die uit die Latynse taal oorgeërfde woordoctante, wat in Kanada, België en Switserland gebruiklik is, ofhuitante, 'n Belgiese en Switserse term).

Frankiese invloede

[wysig |wysig bron]

Met die Germaanse invalle van dieWes-Gote in Akwitanië, die Boergondiërs in die ooste en veral dieFranke in die noorde van die huidige Frankryk het die verval van die Galloromeinse kulturele lewe begin. Alhoewel die Germane die verromanisering van die land veral danksy die magsposisie van die Katolieke kerk, wat as bewaarder van die antieke Grieks-Latynse kultuur opgetree het, nie meer kon keer nie, het hulle tog 'n groot invloed by die vorming van die Gallies-Franse variant van die Vulgêrlatynse taal uitgeoefen, wat later aan die Franse taal sy besondere karakter binne die Romaanse taalfamilie gegee het.

Die Franke het oorspronklik uit die gebied van die Nederryn enWeser (in die huidige Duitsland) gekom en in die tydperk van die volksverhuising verder wes- en suidwaarts getrek. Die huidige Frankiese taalgebied sluit die gewes Franken in Noord-Beiere en Noord-Württemberg, Suid-Thuringe,Hesse, Noord-Baden,Rynland-Palts, die noordelikeElsas,Lotaringe,Saarland,Luxemburg, die Rynland, die Duitstalige gebiede van Oos-België, die Nederryn-gebied,Limburg,Holland,Zeeland,Brabant enVlaandere in. Omtrent 500 wasKeulen die sentrum van die Frankiese gebied.

Vanaf die agste eeu het destydse geskiedkundiges 'n onderskeiding tussen die Saliese Franke (in die gebied van die huidige België en Nederland; die naam is afgelei van Oudfrankiessal(a) "heerskappy" ofSala "die rivier IJssel") en dieRipuariese Franke van die huidige Duitse Rynland gemaak. Die Saliese Franke het nouer bande met die Romeine gehandhaaf en was die leiers by die uitbreiding van die Frankiese magsgebied in die vierde en vyfde eeu.

Teen die jaar 500 het hulle die Loire-rivier in die huidige Frankryk bereik. Die Franke was die eerste Germaanse volk wat 'n nasionale en taalbewussyn ontwikkel het. In Duitsland het die Middel-, Ryn-, Suidryn- en Oos-Frankiese gebiede drie eeue later belangrike sentra van die Oudhoogduitse skryftaal geword.

Die Frankiese koningClovis I het in 496 die Katolieke geloof aangeneem en sodoende die steun van die geestelikheid vir sy heerskappy verseker. Dit was veral die klerus en die Romaanstalige stede wat by die Frankiese veroweraars die gebruik van die Latyns-Romaanse taal bevorder het.

In wat tot die Franse taalgebied sou ontwikkel, is die Frankiese bevolking – 'n klein minderheid – uiteindelik geleidelik verromaniseer, maar hierdie proses was baie stadig. Die noorde van Frankryk het eeue lank tweetalig gebly; tekste van Isidor van Sevilla is in die 9de eeu in Neustrië (die gebied tussen die Engelse kanaal, dieBretagne en die Loire) nog steeds in Oudhoogduits vertaal. Ook ná die tyd van Karel die Grote tot by die splitsing van die ryk in 843 het die immigrasie van Franke voortgeduur. Die aantreklikheid en superioriteit van die Romaanse kultuur, die Latynse ampstaal van die Merowingiese Ryk en die oormag van die Romaanstaliges was die vernaamste redes vir die feit dat dieFrankiesedialekte in Frankryk binne 'n tydperk van sowat driehonderd jaar uitgesterf het. Omtrent 800 was die meeste Frankiese krygers die Germaanse taal nie meer magtig nie, tog het jong Frankiese edellui uit die Wes-Frankiese Ryk in die 9de eeu dikwels 'n tyd lank in die Oostelike (Duitse) Ryk gebly om die Frankiese taal aan te leer.

Baie min tekste van die geskrewe Oudhoogduitse taal uit die Karolingiese Ryk is bewaar, onder meer twee sogenaamde geselsboekies uit Parys enKassel wat voorbeelde gee van die Oudhoogduits-Frankiese taal:Wer pist du? Wanna quimis? Fona weliheru lantskeffi sindos? (Nieuhoogduits:Wer bist du? Woher kommst du? Aus welcher Gegend reist du an?) In die tydperk tussen 850 en 1000 het ook die Romaans-Germaanse taalgrens in die noorde verstewig, waar vanaf die 9de eeu die Nederfrankiese en uiteindelik Nederlandse dialekgebied ontstaan het.

Talle van die morfologiese en sintaktiese veranderings wat die Galloromaanse taal ondergaan het, is deur die invloed van die Frankiese taal veroorsaak. Die Oudfranse klanke het meer ooreenkomste met dié van Germaanse tale getoon as met dieVulgêrlatynse taal.

Die Frankiese ontlenings in die Oudfranse taal het natuurlik talle aspekte van die Frankiese kultuur weerspieël; dit was veral woorde uit die krygskuns soosbeffroi (van Frankies *bergfrid "wagtoring"), regswese en politiek (Fransfief "leen" van Frankies *fehu "vee, fortuin"; Middellatynfeudum), hofhouding (Oudfransmaréchal "perdekneg" van Frankies *marahskalk), huisbou en huisraad (Fransmalle "reiskoffer" van Frankies *malha), werktuie en gereedskap, natuurlewe (jardin "tuin" van Frankies *gard), landbou, klerasie (Fransgant "handskoen" van Frankieswant), liggaamsdele en ander gebiede. Ook 'n aantal voor- en agtervoegsels is van Frankiese herkoms, soosmé- "mis-" in byvoorbeeldméconnaître enmépriser, -ard en -art uit Frankies-hart en-hard. Die agtervoegsel-ard is in die Nieufranse taal nog steeds produktief en kom voor in woordvormings soosvieillard "grysaard, ou man",canard "eend",campagnard "plattelander" endreyfusard (histories) "aanhanger van Dreyfus".

Die omgangstaal in die suide van Frankryk is nie deur hierdie veranderings beïnvloed nie.

Oudfrans

[wysig |wysig bron]

Die Oud-Franse (vieux français) taal het geleidelik uit die Vulgêrlatynse omgangstaal van Gallië (lingua rustica romana) ontstaan; die oudste Franstalige dokument van 842 is dieStraatsburgse Ede (Latyn:Sacramenta Argentariae) wat deurLodewyk die Duitser enKarel die Kale tydens die stryd teen hulle broer Lotharius afgelê is. Karel het dieGermaanse (Oudhoogduitse), Lodewyk dieRomaanse (Oudfranse) taal gebruik. Die skrywer van die eed wat gewoonlik net Latynse tekste moes handhaaf het gesukkel met die opskryf van die destydse spreektaal, en daar is soms twee spellings vir woorde soos "fradre" (wat ook as "fradra" voorkom). Lodewyk se woorde in Oudfrans:

'n Uittreksel uit die Straatburgse Ede (Sacramenta Argentariae) van 842

Pro Deo amur et pro christian poblo et nostro commun salvament, dist di in avant, in quant Deus savir et podir me dunat, si salvaraeio cist meon fradre Karlo, et in adiudha et in cadhuna cosa, si cum om per dreit son fradra salvar dist, in o quid il mi altresi fazet; et ab Ludher nul plaid numquam prindrai, qui meon vol cist meon fradre Karle in damno sit.

Die bostaande teks in die Oudfranse taal van die 11de eeu:Por dieu amor et por del cretsiien poeple et nostre commun salvement, de cest jorn en avant, quan que Dieus saveir et podeir me donet, si salverai jo cest mine fredre Charlon, et en aiude, et en chascune chose, si come on par dreit son fredre salver deit, en ço que il me altresi façet, et a Lodher nul plait onques ne prendrai, qui mien vueil cest mien fredre Charlon en dam seit.

Die huidige Franse vertaling:Pour l'amour de Dieu et pour le peuple chrétien et notre commun salut, de ce jour en avant, en tant que Dieu savoir et pouvoir me donne, si défendrai-je mon frère Charles (et lui serai) en aide et en chaque chose, ainsi qu'un homme par droiture son frère doit défendre en chose que lui également ferait, et avec Lothaire aucun accord jamais ne prendrai qui de mon vouloir, à ce mien frère Charles à dommage soit.

Met die Verdrag vanVerdun (843) het die skeiding van die Wes-Frankiese (Francia occidentalis, hiervan is ook die moderne naamFrance "Frankryk" afgelei) en die Oos-Frankiese Ryk (Francia orientalis), wat later asDuitsland bekend sou staan, begin.

Die Oudfranse taal (langue d'oïl; vergelykOksitaans, dielangue d'oc) wat tussen 850 en 1350 in Noord-Frankryk gepraat is, het eintlik uit 'n handvol dialekte soosNormandies,Pikardies, Sjampanjies, Fransies en Lotaringies bestaan wat almal ook as skryftale gedien het. Langsamerhand het die streektaal van dieÎle-de-France rondomParys, die Fransiese dialek, omtrent 1200 die standaardtaal van digters en ander skrywers geword.

Die Oudfranse klankstelsel het sterk van moderne Frans verskil; terwyl die huidige Franse net oor 16 kinkers beskik, was daar in die Oudfranse taal nog nege vokale, vyf nasale, twaalf diftonge, vyf nasaaldiftonge en drie triftonge. Die letterc is voor die medeklinkers e en i nog met 'naffrikaat /ts/ uitgespreek, en dieg inestrange het nog soos dieg in Engelsgentleman geklink. Desgelyks het die uitspraak van die "j" en "ch" ook eers later versag. Die Middelengelse taal het hierdie Oudfranse klanke uit dieAnglo-Normandiese dialek oorgeneem wat na die verowering vanEngeland eeue lank as ampstaal gepraat is; Engelse woorde soosjudge enchange het die ou j- en g-klanke bewaar, terwyl die moderne Fransjuge enchanger met 'n sagte "j" en "ch" laat begin.

Aan die einde van die 12de eeu het ook die "s" verdwyn in gevalle waar dit deur 'n medeklinker opgevolg is:feste het geleidelikfête geword (dieaccent circonflexe, of kappie, dui aan dat die "s" verdwyn en die uitspraak van die "e" verander het). Ook in hierdie geval het die Engelse taal die ou klanke bewaar:fêtefeast,bêtebeast,tempêtetempest,hôtelhostel (die Fransehôtel is later nog eens ashotel oorgeneem).

Die woordvolgorde was – veral in die digkuns – nog taamlik vry soos in die Latynse oorsprongstaal, terwyl die ses Latynse naamvalle verdwyn het. Die Oudfranse taal het die subjeks- en objeksnaamval (rektus en obliquus) geken en maskulina en feminina by selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde onderskei. Aangesien die kenmerkende uitgange van die werkwoorde persoons- en getalverskille aangedui het, is nog geen persoonlike voornaamwoorde benodig nie. Diedubbele ontkenning metne... pas het nog nie in die Oudfranse taal bestaan nie, die konstruksie metne... was voldoende. Ook die tye is gewoonlik sonder vaste reëls gebruik.

Die 12de eeu is deur 'n sterk belangstelling vir die Latynse taal gekenmerk. Dit was veral lede van die klerus wat die werke van klassieke outeurs gekopieer het, en Latyn het die akademiese lewe aan die Universiteit van Parys oorheers wat teen die begin van die 13de eeu opgerig is. Latyn het die taal van die hoër onderwys, die regswetenskap, die kerk, die wysgerige en wetenskaplike letterkunde gebly. Net die geskiedskrywers en digters het die Oudfranse taal bo Latyn verkies. Die digkuns het sy inspirasie in die ou klassieke mites gevind wat as Christelike en hoofse verwerkings nuwe aandag getrek het, die Kelties-Bretonse Artussage (Matière de Bretagne), die literêre opbloei van dieOksitaanstalige Suid-Frankryk waarvandaan talle leenwoorde soosamour gekom het, en met die kruistogte ook die Oosterse luukse van dieBisantynse Ryk. Vir die hoofse romans is 'n verfynde taal ontwikkel wat met die uitbreiding van hierdie genre van Oudfrans die leidende literêre taal vanEuropa gemaak het.

Guiot de Dijon: Chanterai por mon corage (geskryf tydens die DerdeKruistog van 1189)
Chanterai por mon corage
Que je vueil reconforter,
Qu'avecques mon grant domage
Ne quier morir ne foler,
Quant de la terre sauvage
Ne voi mes nul retorner
Ou cil est qui rassoage
Mes maus quant g'en oi parler.
Dex, quant crïeront "Outree",
Sire, aidiés au pelerin
Par cui sui espaventee,
Car felon sont Sarazin.
Guiot de Dijon: Ek gaan sing om my hart te vertroos
Ek gaan sing om my hart te vertroos
Want ek wil nie sterf of mal word nie
Ondanks my groot kwelling.
Ek kan niemand sien
Wat van die wilde land terugkom nie.
Waar is die een wat my hart gerus kan stel
Wanneer ek hoor dat iemand van hom praat.
God! As hulle "Outree" roep, staan die pelgrim by
Vir wie ek sidder,
Want die Sarasene is verraderlik.

Middelfrans

[wysig |wysig bron]
Onderkoning Frans I (François Ier, 1515–1547) het Frans die amptelike taal van Frankryk geword

Die Middelfranse (moyen français) tydperk het omtrent 1350 begin en in die 15de en 16de eeu geëindig.

Ná die uitbreek van dieHonderdjarige Oorlog tussen Frankryk en Engeland is 'n agteruitgang van die literêre lewe bespeur, terwyl daar ingrypende veranderings op die gebied van die klankstelsel plaasgevind het wat ook die sinsbou geraak het. Die diftonge het grotendeels tot monoftonge verander, die "s" het voor medeklinkers verdwyn (net soos die "e" indien dit aan die woordeinde staan of nie beklemtoon word nie). Aangesien die "s" die naamvalle, meervoud en persoon aangedui het, is 'n onbepaalde lidwoord vir die meervoudsvorm geskep, en voor die werkwoord staan nou verpligte persoonlike voornaamwoorde. Die vervoeging en verbuiging is vereenvoudig, die woordvolgorde (wat nou gereeld as subjek – werkwoord – objek genormeer word) en die gebruik van die tye is aan vaste reëls onderwerp.

Die belangrikste wysigings op die gebied van die grammatika was die dubbele ontkenning metne... pas, die ontwikkeling van diefutur proche metaller + infinitief en die refleksiewe vorm van die werkwoord wat nou in plaas van die passief gebruik word.

Terwyl talle Germaanse leenwoorde uit die Middelfranse taal verdwyn het, het die klassieke tale en Italiaans 'n sterk invloed op die Franse taal uitgeoefen. Daar was 'n behoefte om steeds meer vakterme te skep, en mettertyd het die Middelfranse taal oordoeblette van Latynse woorde beskik wat sowel in 'n oorgeërfde asook in 'n nuut ontleende vorm bestaan, sooschosecause (van Latyncausa) enloyal enlégal (van Latynlegalis, -e).

In die laat Middelfranse periode vanaf die 15de eeu het die standaardisering van die Franse taal begin; woordeboeke en grammatika's is uitgegee en het saam met die uitgebreide boekdrukkery die eenvormigheid van die taal en sy spelling bevorder. Taalpurisme en die leidende rol, wat die hoofse taal nou begin speel het, was kenmerke van die laat Middelfranse taalontwikkeling.

In 1523 het Lefèvre d'Étaples die Nuwe Testament vertaal, vyf jaar later was ook die Hebreeuse Geskrifte in Frans beskikbaar, ondanks die hewige kritiek vanuit geleerde kringe – met name dieSorbonne. Met die vertaling vanJohannes Calvyn se werke vanaf 1541 het Frans die taal van dieHugenote geword.

Vanaf die 16de eeu het 'n aantal digters die bewys gelewer dat Frans as taal van die wetenskap, wysbegeerte en digkuns sonder meer met Latyn kon meeding. Die digter François Rabelais (omtrent 1494–1553) het byvoorbeeld oor 'n geweldige woordeskat beskik en ook sy eieneologismes geskep wat van sy Frans 'n tot dusver ongekende uitdrukkingsmiddel gemaak het. Pogings om die Franse spelling by die moderne taalgebruik en uitspraakgewoontes aan te pas het egter misluk, en die geleerdes het selfs 'n historiese spelling ingevoer waar medeklinkers, wat in die gesproke taal lankal verstom was, weer geskryf moes word om die Latynse oorsprong van woorde aan te dui. Woorde soossept (sewe, van Latynseptem),temps (tyd; weer, van Latyntempus) envingt (twintig, van Latynviginti) is voorbeelde van hierdie histories-etimologiese spelling.

Nieufrans

[wysig |wysig bron]
Die Franse taal word soms "Molière se taal" genoem (1622–1673)
Die Edik van Villers-Cotterêts het in 1539 deur middel van taalbeleid die invloed en magsbasis van die Franse sentrale staat vergroot
Die Franse taalgebied:██ Moedertaal██ administratiewe taal██ sekondêre of nie-amptelike taal██ Franse minderhede
Franse taalkennis in die lidlande van dieEuropese Unie
Die Franse taalgebied van die Afrikalande

In die 15de en 16de eeu het die geleidelike oorgang na die moderne Nieufranse spreektaal begin. Die oorgangstydperk is deur 'n noukeurige slyping van die taal gekenmerk. Die Edik van Villers-Cotterêts het in 1539 bepaal dat Frans (of beter, die standaardtaal van dieÎle-de-France rondom Parys) die enige ampstaal van die Koninkryk Frankryk sou wees (la seule et unique langue du Royaume de France).

In dieselfde jaar het die eerste woordeboek van die Franse taal verskyn. Grammatikale publikasies en nuwe woordeboeke, wat in die volgende dekades saamgestel is, het daarin geslaag om die taal te standaardiseer. Die hoofinvloede in dié tyd was die Italiaanserenaissance en diehumanisme. Terwyl die een die Latynse oorsprong van die Franse taal beklemtoon het, het die ander die rol van die volkstaal bevorder.

Die hoofse digter Malherbe (1555–1628) het teen die begin van die 17de eeu 'n groot invloed op die klassieke taal uitgeoefen. Hy het die taal van neologismes en invloede van die streekdialekte gesuiwer. Die harmonie van die taal en sy algemene verstaanbaarheid was sentrale oogmerke van sy taalkundige werk. Hy het begin om die sinsbou te harmoniseer, die gebruik van die persoonlike voornaamwoord (wat in Latyn en die meeste Romaanse tale nie gebruik word nie) bevorder en die inversie van die subjek afgekeur.

Die ItaliaanseAccademia della Crusca het die aanleiding vir die stigting van dieAcadémie française (1635) gegee wat hom op taalsuiwering, die grammatikale taalontwikkeling en die retoriek toegespits het.Kardinaal de Richelieu, die beskermheer van die akademie, het in 1694 'n nuwe woordeboek en grammatika deur die taalkundiges laat saamstel. Dit is ook die akademie wat tans die taalbeheer oor Frans uitoefen.

Die 17de eeu was die klassieke eeu van die Franse letterkunde, en die filosoofRené Descartes (1596–1650) het met sy werke die bewys gelewer dat die Franse taal wetenskaplike en wysgerige gedagtes net so gemaklik kon formuleer soos Latyn, wat nou ten gunste van Frans op alle gebiede afgeskaal is. In adellike kringe het die salons baie gewild geraak; hier het die edeles in die huise van aristokrate saamgekuier en literêre werke bestudeer. Dit was die salon van die Madame de Rambouillet, later dié van Madame de Sablé, Madame de Maintenon en veral Mademoiselle de Scudéry wat die taal deur die bespreking van literêre, wetenskaplike en amoureuse sake laat opbloei het. DiePresieuses, soos hulle genoem is, het hulle vir 'n verhewe taalgebruik beywer wat nuwe, geesryke woordskeppings soosenthousiasmer enféliciter ingesluit het. Byvoeglike naamwoorde, wat uiterste toestande kan beskryf, was baie gewild onder die Presieuses; uitdrukkings soosterrible,horrible,admirable,furieux eneffroyablement was tipiese neologismes van hierdie tydperk. Nederige en onbeskaafde uitdrukkings is vermy en met behulp van nuwe woorde omskryf. Die digterMolière (1622–1673) het die salongangers in syFemmes Savantes (Geleerde Vroue) enPrécieuses Ridicules bespot. Tog het hulle 'n waardevolle bydrae tot die ontwikkeling van die Franse taal gelewer wat inEuropa vanaf die vroeë 18de eeu die taal van die beskaafde kringe en die diplomatie geword het. Die Pruisiese koningFrederik die Grote het byvoorbeeld oorwegend Frans gepraat en geskryf, terwyl sy Duits steeds gebrekkig gebly het.

Die uitspraak, woordvorming en sinsbou van Frans het al in die 17de eeu begin verstewig. In die tyd voor dieFranse Rewolusie is die woordeskat nog eens deur woorde uit die streek- en volkstaal verryk, waarby die literêre werk van onder meer Rousseau en Diderot 'n belangrike rol gespeel het. Engelse en Duitse vakterminologie uit die politieke sfeer, die sport, mynbou en geologie is ontleen. Die sentralisering van die administrasie in die verloop van die Franse Rewolusie het weer eens die posisie van die Paryse Frans verstewig; tegelykertyd is nuwe begrippe uit die klassieke tale se woordeskat gevorm, wat veral vir die nuwe bedeling en die nuwe maatstelsel benodig is:Arrondissement,département,municipalité, préfet;gramme,mètre,kilomètre enlitre is neologismes uit hierdie tydperk. Aangesien teen die einde van die 18de eeu sowat 'n kwart van die bevolking die Franse taal nie magtig was nie, is die streekdialekte en die tale van die minderhede verdruk.

Die digters van die 19de eeu het gepoog om die woordeskat van die taal verder uit te brei; hul bronne was die taal van die 15de en 16de eeu, streekdialekte en die omgangstaal. Dit was die tydperk van die nominalisme, 'n styl wat werkwoorde en byvoeglike naamwoorde deur nominale konstruksies vervang het, en die begin van die sterk Engelse invloed. DieFranglais, 'n taalgebruik wat deur 'n groot aantalanglisismes gekenmerk word, word deur die owerhede bestry.

Die moderne omgangstaal met sy talle afwykings van die grammatikale norme, die sogenaamdefrançais avancé (Gevorderde Frans), gee 'n indruk van wat moontlik in die toekoms die nuwe standaardtaal sal wees. So is byvoorbeeld die dubbele ontkenning aan die verdwyn, enne...pas is in die omgangstaal al vereenvoudig totpas.

Taalregisters

[wysig |wysig bron]

Daar bestaan 'n enorme kloof tussen die literêre taal, wat deur die taalbouers geslyp word, en die algemene omgangstaal. Die norme van die skryftaal en korrekte spreektaal –français écrit enfrançais parlé correct – geld nie noodsaaklik vir die gewone spreektaal –français parlé – nie. Die gesproke Frans het variante soos dielangue familière – die omgangstaal van die goed opgeleides, dielangue populaire – die algemene omgangstaal – en dieargot, die groeptaal van 'n spesifieke beroep, klas of kring.

Die Loi Toubon (Toubon-wet)

[wysig |wysig bron]
Eerste bladsy van die Toubon-wet

Die Loi Toubon, wat op 4 Augustus 1994 deur die Franse parlement aanvaar is, dra die naam van die destydse Franse Minister van Kultuur, Jacques Toubon. Die doelstelling van die wet is die beskerming van die Franstalige verbruikers en werknemers en die bevordering van veeltaligheid, onder meer ook in die media.

Franse vermaaklikheidsprogramme is verplig om ten minste veertig persent Franstalige musiek uit te saai, waarvan die helfte onlangse produksies of werke van jong talente moet wees. As gevolg van die wet bied sommige internasionale kunstenaars nou 'n Franstalige versie van hulle treffers aan. Die wet verbied verder die gebruik van anglisismes in 'n amptelike of openbare konteks. Advertensies mag byvoorbeeld geen Engelse leuse sonder Franse vertaling bevat nie.

Kritici wys op die feit dat bepaalde woordvormings, wat deur die owerhede vasgelê is, in die omgangstaal steeds nie gebruik word nie – die amptelike termvacancelle byvoorbeeld het die Engelse leenwoordweek-end nie verdring nie. DieKanadese Frans gebruik egter uitsluitlik die termfin de semaine.

Tog is daar op baie gebiede suksesvol Franseneologismes geskep, byvoorbeeld in dierekenaarwetenskap, waar netordinateur (rekenaar),logiciel (sagteware) enmatériel (hardeware) gebruiklik is.

Frans in Kanada

[wysig |wysig bron]
Hoofartikel:Kanadese Frans.
DieOffice québécois de la langue française inMontreal,Quebec,Kanada

Sowat sewe miljoen Kanadese praat Frans as hulle moedertaal, waarvan ses miljoen inQuebec, en Frans is naas Engels een van die twee amptelike tale. Kanadese burgers het die reg op diensverskaffing in albei tale, waaronder ook die reg op moedertaalonderwys, selfs al is hulle taal 'n minderheidstaal in die betrokke provinsie, sodra die aantal sprekers dit regverdig.

Die federale regering word deur die wet verplig om sy werksaamhede in albei tale deur te voer en dienste in Engels en Frans te verskaf. Parlementsdebatte moet in albei ampstale vertaal word, en die meeste produkte wat in Kanada verkoop word moet tweetalige etikette dra.

Frans in Suid-Afrika

[wysig |wysig bron]

Hugenote aan die Kaap

[wysig |wysig bron]
'n Franstalige straatbord in Franschhoek
Die enigste gedrukte Afrikaans-Franse woordeboek (1950)

Vanweë die immigrasie van 'n aantalHugenote-gesinne na die Kaap is tussen 1688 en die vroeë 18de eeu 'n tyd lank Frans aan die Kaap gepraat. Suid-Afrika se Hugenote is oorspronklik Franse vlugtelinge, wat 'n toevlug in Nederland gevind het en later deur dieVerenigde Oos-Indiese Kompanjie aangemoedig is om na die Kaap te emigreer.

Vir die kompanjie was 'n Franstalige gemeenskap in die Kaap egter nie wenslik nie, en hulle het maatreëls getref om die immigrante so vinnig moontlik te laat vernederlands. Frans onder die Hugenote het in Suid-Afrika egter 'n natuurlike dood gesterf. Die Franse taal is in die kolonie nie "onderdruk" en "uitgeroei" nie, al is dié bewering ook dikwels gemaak deur mense wat 'n regverdiging gesoek het vir die onderdrukking van Hollands vanaf kort na die tweede Engelse besetting in die Kaap.[2]

Die Franse wou aanvanklik heeltemal apart bly van die "Duijtsche natiën". Die Hugenote was onder meer by Stellenbosch, maar veral inDrakenstein saamgekoek, want hulle wou ook nie ver uitmekaar woon nie (die verandering van woonplek is in Oktober 1688 toegelaat). Die spyt enkele dekades later om nie Nederlands te ken of meer leergeleenthede daartoe te hê nie, was hul eie skuld. Dit was egter van die begin af onvermydelik dat hulle in die bevolking met sy oorweldigende meerderheid Nederlands- en Duitssprekendes sou opgaan, veral as in ag geneem word dat van die Hugenote reeds voor hul aankoms Nederlands geken het. Die Hugenote wou op 28 November 1688 (skaars 'n maand later) ook hulle eie gemeente met eie kerkraad hê. Daarvoor het die Kommandeur sy geduld met die Hugenote verloor, hoewel ds. Pierre Simond die laaste woord gehad het: op 15 Junie 1689 skryf hy aan die Here XVII hoe ongerieflik hierdie toestande vir die Hugenote is om kerk by te woon en skool te gaan. Op 6 Desember van 1689 is 'n eie gemeente toegestaan, maar die Franse onderwys is afgekeur.

Die V.O.C. wou aanvanklik skoolmeesters onder die Franse instuur om die kinders in Hollands te laat skoolgaan. In die praktyk het daar niks van gekom nie. Dit is nou die jaar 1691 en verder. Vergeleke met Stellenbosch wat met sy stigting in 1679 eers tot 1700 moes wag vir 'n Hollandse voorleser, kan mens moeilik praat van hardhandige behandeling van die Franse wat betref die voorsiening van 'n Franssprekende dominee. In Stellenbosch Distrik was daar maar nog drie Franse families woonagtig – die ander is blykbaar toegelaat om na Drakenstein te verhuis. Al was daar ook 'n aansienlike bevolking Hollanders in Drakenstein in 1691, was daar tot 1700 ook nie 'n Hollandse skoolmeester en voorleser in daardie distrik nie.

Selfs met ds. Pierre Simond wat terugkeer na Europa in 1702, hetW.A. van der Stel die Here XVII gevra om 'n predikant te stuur watdie beijde in de duijtsche [d.w.s. Hollands]en France Taalen is ervaaren. Herhaaldelik sou die Here XVII met elke versoek aanvanklik teëstribbel, maar dan tog die versoek toestaan. In 'n versoekskrif van die Drakensteinse kerkraad (Junie 1703) is daar sprake van 116 gemeentelede van wie slegs 25 Hollands goed genoeg ken om die preke te verstaan. Of die getal doelbewus deur die Hugenote oordryf is, is onbekend.

In Drakenstein het dominee Paul Roux nog altyd voortgegaan om Franse dienste te hou. Op 8 Mei 1718 het die kerkraad nog gereël dat die Franse dienste elke Sondag net na die Hollandse een gehou moes wordal waar het ook voor een of twee menschen. Op 7 Februarie 1723 was daar nog 25 of 26 Franse bejaardes oor wat Nederlands nie kon verstaan nie. Na oorweging en heroorweging deur die Goewerneur en Raad is bevind die getal is nou te min om 'n aparte voorleser aan te stel, veral omdat die Hollandse voorleser Hermanus Bosman ook Frans geken het. Reeds op 10 Desember 1709 het die Politieke Raad die kerkraad van Drakenstein opgedra om voortaan geen stukke aan die regering meer in Frans te stuur nie, sodat die Franse taal na die dood van Paul Roux geen amptelike erkenning meer sal geniet nie. Niemand het beswaar daarteen gemaak nie.

Scholtz skryf:Teen 1725 was die Franse taal reeds op sterwe na dood. […]In die Drakensteinse kerkraad het koster Jeremias Roux na die afsterwe van Paul Roux nog af en toe 'n Franse diens gehou, totdat op 'n kerkraadsvergadering van 2 Junie 1726 besluit is om daar 'n end aan te maak. 'In overwegingen genomen zijnde […]dat Jeremias Roux nu en dan, wanneer 't hem te passe kwam, den dienst in 't Fransch heeft waargenomen, met een predikatie te lezen, en hij nu niet zoozeer op zijn verzoek, als wel om het kwalijk waarnemen van zijn dienst, van de kosterbedieninge ontslagen is, is goetgevonden, hem aan te zeggen dat hij niet meer den Franschen dienst zal hebben waar te nemen.'Dit is die laaste wat daar van Franse dienste in Drakenstein gehoor is. […]Die Franse sterrekundigeNicolas-Louis de Lacaille, wat in 1751 aan die Kaap was, vertel ons dat die oorspronklike vlugtelinge hul taal geleer het aan hul kinders, maar dié nie weer aan hul kinders nie, sodat hy niemand onder die veertig aangetref het wat nog Frans kon praat nie. Die Franssprekendes het hom verseker dat daar oor twintig jaar niemand sou wees wat nog Frans ken nie. Toe die natuurondersoekerLe Vaillant in 1783 Franschhoek besoek, tref hy daar net een ou man aan wat nog Frans kon praat.

Moderne Franssprekende gemeenskappe

[wysig |wysig bron]

Vandag is daar nog talle plek- en familiename van Franse oorsprong in Suid-Afrika.Franschhoek, een van die sentrums van die Franse setlaars, het selfs Franse straatborde. Sedert 1994 lei immigrasie uit die res vanAfrika ook tot beduidende Franssprekende gemeenskappe in Suid-Afrika in plekke soosMuizenberg. Tans is daar sowat 100 000 Franstaliges in Suid-Afrika, onder wie 7 600 Franse burgers.

Die invloei van immigrante en asielsoekers uit Midde-Afrika beteken dat Franstaliges tans toeneem in groot stede soosJohannesburg,Pretoria enKaapstad. Frans is ook gewild as tweede addisionele taal op skole in hierdie stede en word in alle groot universiteite in die land aangebied.

Fransmedium-onderwys en biblioteke

[wysig |wysig bron]

Kaapstad beskik oor 'n Franse skool, dieL’École française François-le-Vaillant du Cap. Verder is dieAlliance Française teenwoordig in die meeste groot sentra inSuid-Afrika en bevorder dieFranse Instituut (Frans:Institut français d'Afrique du Sud (IFAS)) kulturele, navorsings- en taalbetrekkinge met die Franssprekende wêreld.

In Julie/Augustus 2014 word Parow Openbare Biblioteek die tweede biblioteek in Suid-Afrika waar 'n nuwe versameling Franse kinderboeke toegevoeg is. Die Franse Instituut het in samewerking met Biblionef en die Alliance Française hierdie skenking gemaak. Die versameling bestaan uit prente-, strokiesprent-, feite- en woordeboeke. Die skenking is gemaak omdat vele Franssprekende kinders in Parow woon. Hulle kan sodoende hul moedertaal behou deur dit ook te leer lees en skryf.[3]

Gebrek aan moderne woordeboeke

[wysig |wysig bron]

Te midde van die ryke kulturele geskiedkundige erfenis, heers daar tot vandag toe 'n ononderbroke droogte op die Afrikaanse taalakker wat gedrukte tweetalige woordeboeke tussen Afrikaans en Frans betref. Dieenigste Afrikaans-Frans/Frans-Afrikaanse woordeboek is in 1950 laas geskryf deur B. Strelen (Departement Frans) en H. L. Gonin (Departement Latyn) aan dieUniversiteit van Pretoria. Hierdie baanbrekerswerk het geen herdruk of verdere ontwikkeling beleef nie. Hierdie woordeboekie van altesaam 412 bladsye het, weens sy beperkte beskikbare ruimte, geen idiome of spreekwoorde opgeneem nie. Daar is ook, soos in die voorwoord aangedui is, nie 'n wye verskeidenheid woorde as alternatiewe verskaf nie. Vakkundige terme kon ook nie opgeneem word nie. By byvoeglike naamwoorde, waar die vroulike uitgang -e bestaan (soos bygrand,grande), is hoofsaaklik slegs die manlike vorm verskaf. Die grootste sonde was die gebrek aan fonetiese transkripsie, maar ook woordherkomsverklarings; iets wat dieOxford Concise French Dictionary en die klein woordeboek van Harrap reeds kon bied.[4]

Wat die gedrukte formaat betref, is 'n Afrikaanssprekende leerling van die Franse taal dus steeds aangewese op woordeboeke in 'n derde taal, soos dié in Engels of Nederlands. Ook hierdie leksikografiese gebied in Afrikaans lê dus dekades lank braak.

Oui, je parle Rugby

[wysig |wysig bron]
Die amptelike embleem

Ter geleentheid van dieRugbywêreldbeker 2007, wat vir die eerste keer in 'n Franssprekende land gehou is, het die Franse Departement van Buitelandse en Europese Sake en verskeie instellings van die Francophonie – waaronder die internasionale Franstalige televisiekanaalTV5 Monde, die internasionale radiodiensRadio France Internationale en dieAlliance française in Parys – 'n veldtog begin wat buitelandse rugby-geesdriftiges aangemoedig het om Frans aan te leer.

Die veldtog se leuse –Oui, je parle Rugby ("Ja, ek praat Rugby") – was veral gemik op die sowat 450 000 internasionale besoekers en ander geesdriftiges wat die wedstryde as toeskouers gevolg het of andersins by die kampioenskap betrokke was. Frans is as 'n moderne wêreldtaal uitgebeeld, en die organiseerders het gehoop dat meer belangstellendes Franse taalkursusse aan Frankryk se kulturele instellings in die buiteland sou volg.

Vergelyking met ander Romaanse tale

[wysig |wysig bron]
AfrikaansLatynFransItaliaansSpaansOksitaans(Sentraal-)KatalaansPortugeesRoemeens
sleutelclavis | Vierde naamvalclavemclefchiavellaveclauclauchavecheie
nagnox | Vierde naamvalnoctemnuitnottenochenuèitnitnoitenoapte
singcantarechantercantarecantarcantarcantarcantara cânta
bokcaprachèvrecapracabracabracabracabracapră
taal, tonglingualanguelingualengualengallengualíngualimbă
pleinplateaplacepiazzaplazaplaçaplaçapraçapiaţă
brugpons | Vierde naamvalpontempontpontepuentepontpontpontepod
kerkecclesiaéglisechiesaiglesiaglèisaesglésiaigrejabiserică
hospitaalhospitalishôpitalospedalehospitalespitalhospitalhospitalspital
kaascaseus | Vulgêrlatynformaticumfromageformaggioquesoformatgeformatgequeijocaş

Sien ook

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, French" (in Engels).Ethnologue.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Mei 2020. Besoek op21 April 2016.
  2. Scholtz, J. du P. 1965. Verdwyning van die Franse Taal in Suid-Afrika. (Oorspronklik gepubliseer inDie Burger, 7 September 1939.) In:Afrikaans uit die vroeë tyd. Kaapstad: Nasou. pp.226-234.
  3. Laishley, K. 2014. Parow Library launches their French collection.Kaapse Bibliotekaris 58(4):4  :Parow Library now boasts a collection of French books for children. The French Institute, in partnership with Biblionef and the Alliance Française, donated the books to the library. Parow is only the second library in South Africa to receive this collection. The books are aimed at younger patrons and range from board books for babies to books for 12-13-year-olds. The collection includes picture books, cartoons, dictionaries and encyclopaedias.Parow has many French-speaking members. The adults speak, read and write French but the children often only understand French. This collection will allow them to learn to read and write French. The books issued on a patron’s library card and schools may make use of the block loan system.
  4. Inskip, Donald P. 1951. Resensie: Strelen, B. en H. L. Gonin: ,,Afrikaans-Frans en Frans-Afrikaans Woordeboek". In:Ons eie boek XVII(2):30-31 :The appearance of an Afrikaans-French and French-Afrikaans dictionary is a noteworthy event in South African cultural development. The way to understanding of the great French literary heritage will no longer lie exclusively through a third tongue, as has necessarily been the case hitherto; and we may hope also that direct contact with Afrikaans from the French side may lead to profitable exchanges and increased interest in South African affairs.The "Woordeboek" of Strelen and Gonin, is attractive in format and handy in use. On the whole the selection of words for inclusion is judicious and the range of meanings considerable: there can be no doubt that the dictionary fills a gap and will render good service. The concise grouping of words of common stem under one head is ably done and saves useful space. Having said this, one must add that the absence of any indication of pronunciation of either language is a grave defect, which must to some extent prevent the Dictionary from taking its rightful place with students. Whereas the Oxford Concise French Dictionary and the small Harrap find space for phonetic transcription (the Oxford Dictionary even manages to include etymologies in succinct form), this new arrival gives no guidance other than the asterisk before French aspirate "H".We can well believe that limitations of space pressed severely on the authors, but a more vigorous pruning of the vocabulary and the use of smaller type for certain secondary information might have left room for phonetic indication of pronunciation, and for more examples of common usage and constructions. For instance, the very uncommonacmé (included as well as the usualapogée) could well be sacrificed, as could probably such words aspontifical andfiligrane.All in all, however, we must welcome the hard work and enthusiasm which have gone to the making of this Dictionary and hope that the authors and the publishers will reap their due reward for enterprise and pioneering.

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
Wikipedia
Wikipedia
Sien gerusWikipedia se uitgawe inFrans
Wikimedia Commons bevat media in verband metFrans.
SienFrans in Wiktionary, die vrye woordeboek.


Indo-Europese tale:Kentum-tale:Italiese tale
Italiese groepOskies |Umbries |Faliskies |Latyn
Romaanse tale
IberoromaansAragonees |Asturies |Galicies |Katalaans |Ladino |Leonees |Portugees |Spaans
GalloromaansLangues d'oil:Frans |Gallo |Lorreins |Normandies (Auregnais |Guernésiais |Jèrriais |Sercquiais)Pikardies |Champenois |Waals |Anglo-Normandies
Oksitaans:Aranees |Auvergnat |Gaskons |Languedokies |Limousin |Provensaals
Frankoprovensaals
GalloitaliesLombardies |Monegaskies |Piëmontees |Venesiaans
RetoromaansRomansch |Ladinies |Friulaans
ItaloromaansDalmaties |Italiaans |Napolitaans
Suid-RomaansKorsikaans |Sardies (Campidanies,Galluraans,Logudories,Sassaries) |Sisiliaans
BalkanromaansAroemeens |Istro-Roemaans |Meglenoroemaans |Roemeens
Romaanse
Kunstale
Interlingua |Interlingue |Lingua Franca Nova
Internasionaal
Nasionaal
Ander

Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Frans&oldid=2845898"
Kategorie:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp