Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Europa

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Europa
Ligging van Europa op 'n wêreldkaart
Oppervlakte10 180 000 km² (6de)
Bevolking742 452 000 (2013, 3de)
Bevolkingsdigtheid73/km²
Lande~50 (en ~5 omstrede)
Afhanklike gebiede6
TaalfamiliesIndo-Europees
Oeraals
Turks
Baskies
Semities
Noordwes-Kaukasies
Noordoos-Kaukasies
Mongools
TydsonesUTC-1 (Ysland) totUTC+4 (Rusland)
Grootste stedeVlag van TurkyeIstanboel (transkontinentaal)
Vlag van RuslandMoskou
Vlag van FrankrykParys
Vlag van Verenigde KoninkrykLonden
Vlag van SpanjeMadrid
Vlag van SpanjeBarcelona
Vlag van RuslandSint Petersburg
Vlag van ItaliëRome
Vlag van DuitslandBerlyn
PortaalEuropa
Vir die vierde grootste maan van die planeet Jupiter, sienEuropa (maan).

Europa (afgelei vanGrieks Εὐρώπη ofEurṓpē) is 'n vasteland wat oor die westelike vyfde van dieEurasiese landmassa strek. Alhoewel dit in geografiese opsig eerder as subkontinent geklassifiseer kan word wat saam metAsië die vasteland van Eurasië vorm, word dit vanweë sy historiese en kulturele ontwikkeling meestal as selfstandigekontinent beskou. Eeue lank was Europa in kulturele en ekonomiese opsig die middelpunt van diewêreld. So het die term Europa naas sy geografiese definisie ook betrekking op kulturele, politieke, ekonomiese, regtelike en ideële aspekte.

Naam

[wysig |wysig bron]

Die naamEuropa strek in sy Griekse vorm Εὐρώπη ver terug. Hier is die termEurṓpē meestal as 'n samestelling van die Oud-Griekse εὐρύς (eurýs, "wyd") en ὄψ (óps, "sig, gesig") opgevat – dus wasEurṓpē "die (vrou) met die wye sig".

Volgens dieGriekse mitologie wasEuropa die naam van 'n Fenisiese koningsdogter wat deur die godZeus in die gestalte van 'n stier swemmend na die eilandKreta ontvoer en daar deur hom verlei is. Sommigeetimoloë neem aan dat hierdie naam oorspronklik aan 'nSemitiese taal ontleen en daarna vergrieks is.[1] Dit is moontlik van die Fenisieseerob "donker" of "aand" afgelei.

Geografie

[wysig |wysig bron]
'n Satellietfoto van Europa (ortografiese projeksie)

Europa word deur dieBosporus en dieDardanelle vanKlein-Asië geskei en deur dieMiddellandse See en dieStraat van Gibraltar vanAfrika. In die weste word dit deur dieAtlantiese Oseaan en in die noorde deur die Noordoostelike Yssee begrens. In die suide, weste en noorde strek seearms van die Atlantiese Oseaan diep in die landmassa in en maak van Europa die vasteland met die mees onreëlmatige kuslyn – die hartland word deur talle skiereilande en eilande omring.

In die ooste is daar geen presiese geografiese of geologiese grens tussen Europa en Asië nie. Die "grense van Europa" word dus as gevolg van maatskaplike konvensies bepaal, terwyl 'n geografiese definisie van Europa steeds willekeurig is. So het die Franse filosoofBernard-Henri Lévy opgemerk dat Europa eerder 'n "gedagte" sou wees as 'n plek.

Die Sweedse offisier en aardrykskundige maar Duitse boorling Philip Johan von Strahlenberg (1676–1747) het dieOeralgebergte en -rivier as die oostelike grens van Europa gedefinieer. Tussen dieKaspiese See en dieSwart See loop die grenslyn noord van dieKaukasus-gebergte.

Europa strek oor 'n oppervlakte van sowat 10,5 miljoen vierkante kilometer en is dus die tweede kleinste vasteland náAustralië. Die mees noordelike punt van die Europese vasteland lê op dieskiereiland Nordkinn inNoorweë, die mees suidelike is die Punta de Tarifa inSpanje, die mees westelike dieCabo da Roca inPortugal. In noord-suidelike rigting strek die vasteland oor 'n afstand van sowat 3 800 kilometer, in oos-westelike rigting oor sowat 6 000 kilometer, vanaf dieOeralgebergte inRusland tot by die Atlantiese kus van Portugal.

Topografie

[wysig |wysig bron]

Wes-Europa kan rofweg in drie groot landskapsvorme verdeel word: die vlaktes van die noordweste en noorde, die laer bergreekse en die relatief jong hoë bergreeks wat nog gedeeltelikvergletser is en vanuit diePireneë-bergreeks langs die Frans-Spaanse grens oor dieAlpe van Sentraal-Europa tot by die Karpate-bergreeks strek. Hieraan sluit aan: die Pireneë-,Apennyne- enBalkanskiereilande in die suide,Skandinawië,Jutland en die Britse Eilande in die noorde. Oos-Europa is 'n wydgestrekte en amper eenvormige vlakte wat van dieNoordelike Yssee tot by die Swart See strek.

Waterliggame

[wysig |wysig bron]
Finland is eweneens bekend as "die Land van die DuisendMere".[2][3]

Die meeste groot Europese riviere het dwarsdeur die jaar genoeg water om as belangrike waterweë en lewensare te dien. Baie van hulle word deur kanale met mekaar verbind. Die meeste Europese mere is in die vroeër vergletserte gebiede van Noord-Europa en aan die voet van die Alpe geleë. Die langste riviere isWolga (3 531 km),Donau (2 858 km),Dnjepr (2 201 km) en onder meer dieRyn (1 320 km); die grootste mere sluit dieLadogameer (17 700 km²),Onegameer (9 720 km²) enVänernmeer (5 584 km²) in.

Klimaat

[wysig |wysig bron]
Sneeu op die kerkhof van Mariazell,Oostenryk

Vanweë die nou verbinding tussen land en see en die bergreekse wat van wes na oos loop word Europa in klimatiese opsig deur die heersende westelike winde en die matigende invloed van die warmGolfstroom gekenmerk – so trek die vasteland voordeel uit baie gunstige klimaattoestande met 'n gematigde seeklimaat wat dwarsdeur die jaar reënval verseker, soms selfs jaarlikse neerslae van meer as 2 000 millimeter. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur inBordeaux, Suidwes-Frankryk beloop byvoorbeeld 12,8 °C, terwylHalifax in dieKanadese provinsieNova Scotia met slegs 6,3 °C merkbaar koeler is – ofskoon dit op dieselfdebreedtegraad lê.

Hierdie seeklimaat gaan eers ver in die ooste en suidooste in 'n kontinentale klimaat met groter seisoenale temperatuurskommelinge en somerreën met soms minder as 500 millimeter per jaar oor. Net die gebied suid van die Alpe-bergreeks strek tot in die subtropiese sone met droë somers en winterreën, die sogenaamde Mediterreense klimaat. Die uiterste noorde van Europa het 'n Arktiese klimaat.

Demografie

[wysig |wysig bron]
Verspreiding van tale in Europa
Bevolkingsgroei in en rondom Europa in 2010[4]

In 2017 is die bevolking van Europa deur dieVerenigde Nasies rondom 742 miljoen geskat,[5] wat effens meer as een negende van die wêreldbevolking is. Hierdie getal sluitSiberië (ongeveer 38 miljoen mense) in, maar die Europese Turkye (ongeveer 12 miljoen) is uitgesluit.

In die20ste eeu het Europa byna 'n kwart van die wêreldbevolking gehad.[6] Die bevolking van Europa het in die afgelope eeu gegroei, maar in ander wêrelddele (veral Afrika en Asië) het die bevolking vinniger gegroei.[7] Onder die vastelande het Europa 'n relatiewe hoëbevolkingsdigtheid, tweede net na Asië. Die grootste deel van Europa is in 'n modus van sub-vervangingsvrugbaarheid, wat beteken dat elke nuwe (gebore) generasie minder bevolk word as die ouer.

Volgens taal en historiese ontwikkeling word 95 persent van die bewoners by dieIndo-Europese volksgroepe gereken (waarvan 'n derdeGermane enKelte, 'n derdeSlawiërs, 'n kwart Romane en kleiner groepe vanGrieke,Albanese enBalte), vyf persent isFins-Oegriese volke.

Ná die laaste kouetydperk het talle volksgroepe hulle in Europa gevestig en oor die eeue met mekaar vermeng. DieChristelike beskawing (metRooms-Katolieke,Protestante enOrtodokse) vorm die basis vir die oorgrote meerderheid van Europese kulture.

Europa is 'n dig bevolkte en verstedelikte vasteland. Sy nywerheidsgebiede word deur 'n baie hoë bevolkingsdigtheid van tussen 250 en meer as 1 000 inwoners per km² gekenmerk, veral dele van dieVerenigde Koninkryk,Noord-Frankryk enDuitsland,Nederland,Noord-België,Noord-Italië,Opper-Silesië inSuidwes-Pole en dele vanOekraïne. Daarenteen is die bergstreke, Noord- en Oos-Europa met soms minder as 10 inwoners per km² yl bevolk. Die digbevolkste land in Europa (en in die wêreld) is diemikrostaatMonaco.

Politiek

[wysig |wysig bron]

Die politieke kaart van Europa is aansienlik afgelei van die herorganisasie van Europa na dieNapoleontiese Oorloë in1815. Die heersende vorm van regering in Europa is parlementêre demokrasie, in die meeste gevalle in die vorm van 'nrepubliek. In 1815 was die heersende vorm van regering nog steeds diemonargie. Europa se oorblywende elf monargieë (behalwe die mikrostaat vanVatikaanstad) isgrondwetlike monargieë.

Europese integrasie is die proses van politieke, wettige, ekonomiese (en in sommige gevalle sosiale en kulturele) integrasie van Europese lande, aangesien dit voortgesit word deur die magte wat dieRaad van Europa geborg het sedert die einde van dieTweede Wêreldoorlog.

DieEuropese Unie is, sedert sy stigting in 1993, die fokus van ekonomiese integrasie op die kontinent. Meer onlangs is die Eurasiese Ekonomiese Unie tot stand gebring as 'n eweknie wat uit voormaligeSowjetstate bestaan.

27 Europese lande is lede van die politiek-ekonomiese Europese Unie, 26 van die grensvryeSchengen-gebied en 19 van die monetêre unieEurosone. Onder die kleiner Europese organisasies is dieNordiese Raad,Benelux, die Baltiese Vergadering en dieVisegrád-groep.

Ekonomie

[wysig |wysig bron]
Steenkoolaangedrewe stoomenjins het die nywerheidsomwenteling in Engeland en ander dele van Europa aangedryf

In die 19de eeu het Europa danksy dienywerheidsomwenteling, wat sy aanvang in Engeland geneem en later oor die hele vasteland uitgebrei het, die leidende rol in die wêreldekonomie gespeel. Ná dieTweede Wêreldoorlog het Europa se ekonomiese struktuur as gevolg van die vasteland se verdeling in markekonomieë (in Wes-Europa) en sosialistiese plan-ekonomieë (in Oos-Europa) ingrypend verander. Hierdie verdeling is eers met die politieke omwenteling van 1989/90 geleidelik oorkom.

'n Verskeidenheid instellings en organisasies, soos dieEuropese Vryehandelsone EFTA en dieEuropese Ekonomiese Gemeenskap EEG (die huidigeEuropese Unie) bygedra tot Europa se vinnige ekonomiese groei wat in baie dele van die kontinent tot in die 1970's en 1980's voortgeduur het. Kenmerkend vir Europa se ekonomie is die sterk handelsbande met ander wêrelddele.

Die Europese landbousektor is grotendeels gemeganiseer en produseer groot oorskotte. Belangrike agrariese produkte van Europa sluitgraan,aartappels,suikerbeet en voerplante asook bees-, vark- en skaapvleis. Italië en Frankryk is ook op wêreldvlak die beduidendste wynprodusente.

Europa het 'n wye verskeidenheid natuurlike hulpbronne, alhoewel die ontginning tans stagneer of afneem. So word weens die sterk vraag naru-olie enaardgas mindersteenkool ontgin. Daar is belangrike voorkomste vanbruinkool, ystererts, kalisoute en metale. Groter olievelde word in dieNoordsee, in Rusland enRoemenië aangetref, terwyl aardgas veral in 'n aantal Wes-Europese lande ontgin word.

Europa is die tweede grootste nywerheidsmag ter wêreld ná Noord-Amerika. Sy nywerhede het aanvanklik veral in gebiede met beduidende natuurlike hulpbronne ontwikkel – hierdie streke is tot vandag die mees digbevolkte dele van die vasteland. Ander belangrike industriële sentrums het in seehawens, groot handelstede en ander nedersettings langs handelsroetes ontwikkel. Hier word onder meer verwerkende nywerhede, tekstiel- en metaalfabrieke, masjienbou, elektriese-, papier- en voedselnywerhede asook drukkerye aangetref. Die vervaardiging van plastiek en elektroniese goedere toon sterk groei.

Ru-olie, aardgas en kernkrag voorsien in die stygende vraag na energie.Hernubare energiebronne soos wind- en sonkrag speel 'n steeds belangriker rol, terwyl waterkrag veral in die Alpelande, in Skandinawië, in Oekraïne en Rusland aangewend word.

Rasionalisering en die verskuiwing van werksgeleenthede na ekonomieë met laer kostestrukture het in dele van Europa tot grootskaalse deïndustrialisasie en die groei van tersiêre bedrywe gelei wat produksie-georiënteer (navorsing, besigheidsadvies, advertensiebedryf en ander) of verbruikers-georiënteer (opleiding, vryetydsaktiwiteite en vermaak) kan wees.

Met dieVerdrag van Maastricht het in 1999 aanvanklik twaalf lidstate van die Europese Unie saamgesluit om 'n monetêre unie te vorm. Vanaf 1 Januarie 2002 isEuro-banknote en -muntstukke ingevoer. Die Europese geldeenheid is tans die wettige betaalmiddel in 16 EU-lidlande en ses ander Europese state.

Lande van Europa

[wysig |wysig bron]
Hoofartikel:Lys van Europese lande.
Die lande van Europa met vlae
Politiese kaart van Europa
DieVerenigde Nasies se indeling van Europa in substreke:[8]
██ Noord-Europa██ Wes-Europa██ Oos-Europa██ Asiatiese gedeelte van Rusland██ Suid-Europa██ Lande van Wes-Asië met gedeeltelike gebied in Suid-Europa: Turkye██ Asiatiese gedeeltes van hierdie lande██ Lande van Wes-Asië met gedeeltelike gebied in Oos-Europa: Georgië en Azerbeidjan██ Asiatiese gedeeltes van hierdie lande██ Lande van Sentraal-Asië met gedeeltelike gebied in Oos-Europa: Kasakstan██ Asiatiese gedeeltes van hierdie lande
DieCentral Intelligence Agency seThe World Factbook-indeling van Europa in substreke:
██ Noord-Europa██ Wes-Europa██ Sentraal-Europa██ Suid-Europa██ Suidoos-Europa██ Suidwes-Europa██ Oos-Europa
Indeling van Europa in substreke volgens kulturele kriteria
Naam van streek en gebied, metvlag[9]Oppervlak
(km²)
Bevolking[10]JaarBevolkingsdigtheid
(per km²)
Hoofstad
Noord-Europa
Vlag van Åland Åland (Finland)1 58028 666201318Mariehamn
Vlag van Denemarke Denemarke42 9235 707 2512016133Kopenhagen
Vlag van Estland Estland45 3391 311 759201628Tallinn
Flag of the Faroe Islands Faroëreilande (Denemarke)1 39949 709201336Tórshavn
Vlag van Finland Finland338 4245 486 125201518Helsinki
Vlag van Letland Letland64 5891 973 700201434Riga
Vlag van Litaue Litaue65 3002 884 840201645Vilnius
Vlag van Noorweë Noorweë385 1785 214 900201616Oslo
Vlag van Swede Swede450 2959 851 017201522Stockholm
Vlag van Ysland Ysland102 775329 10020153Reykjavik
Oos-Europa
Vlag van Armenië Armenië29 7433 018 8542011102Jerewan
Vlag van Azerbeidjan Azerbeidjan86 6009 624 9002015106Bakoe
Vlag van Georgië Georgië69 4203 729 500201554Tbilisi
Vlag van Kasakstan Kasakstan2 724 90017 563 30020156Astana
Vlag van Roemenië Roemenië238 39120 121 641201184,4Boekarest
Vlag van Moldowa Moldowa33 8462 913 2812014105Chişinău
Vlag van Oekraïne Oekraïne603 50044 429 471201574Kiëf
Vlag van Rusland Rusland17 098 242144 192 45020158Moskou
Vlag van Belarus Belarus207 5959 498 700201646Minsk
Sentraal-Europa
Vlag van Duitsland Duitsland357 16881 459 0002015227Berlyn
Vlag van Hongarye Hongarye93 0309 855 5712015107Boedapest
Vlag van Liechtenstein Liechtenstein16037 3402014227Vaduz
Vlag van Oostenryk Oostenryk83 8798 662 5882015101Wene
Vlag van Pole Pole312 67938 483 9572014123Warskou
Vlag van Slowakye Slowakye49 0355 415 9492013111Bratislava
Vlag van Slowenië Slowenië20 2732 063 0772015102Ljubljana
Vlag van Switserland Switserland41 2858 211 7002014198Bern (de facto)
Flag of the Czech Republic Tsjeggië78 86610 541 4662015134Praag
Suid-Europa
Vlag van Albanië Albanië28 7482 821 9772010111Tirana
Vlag van Andorra Andorra46884 0822010180Andorra la Vella
Vlag van Bosnië en Herzegowina Bosnië en Herzegowina51 1294 613 414201090Sarajevo
Vlag van Bulgarye Bulgarye110 9947 364 570201077Sofia
Vlag van Gibraltar Gibraltar (Verenigde Koninkryk)6,829 43120104 328Gibraltar
Vlag van Griekeland Griekeland131 99011 295 002201085Athene
Vlag van Italië Italië301 33860 418 7112010201Rome
Flag of Kosovo Kosovo10 9081 859 2032010170Pristina
Vlag van Kroasië Kroasië56 5944 489 409201081Zagreb
Flag of the Republic of Macedonia Noord-Masedonië25 7132 114 550201082Skopje
Vlag van Malta Malta316412 96620101 307Valletta
Vlag van Montenegro Montenegro13 812672 181201050Podgorica
Vlag van Portugal Portugal92 09011 317 1922010114Lissabon
Vlag van San Marino San Marino6131 7162010501San Marino
Vlag van Serwië Serwië77 4747 120 6662010102Belgrado
Vlag van Spanje Spanje504 03046 030 109201093Madrid
Vlag van Turkye Turkye783 56278 741 0532010102Ankara
Flag of the Vatican City Vatikaanstad0,4482620101 877Vatikaanstad
Wes-Europa
Vlag van België België30 52811 190 8452015364Brussel
Vlag van Eiland Man Man (eiland)57284 4972011148Douglas
Vlag van Frankryk Frankryk643 80166 644 0002016116Parys
Vlag van Guernsey Guernsey7865 8492014844Saint Peter Port
Flag of Ireland Ierland70 2734 635 400201565Dublin
Vlag van Jersey Jersey11899 5002014819Saint Helier
Vlag van Luxemburg Luxemburg2 586562 9582015194Luxemburg-stad
Vlag van Nederland Nederland41 54316 971 452201518Amsterdam
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk242 49564 716 0002015256Londen
Europa Totaal10 180 000742 452 0002013213

Sien ook

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. www.etymonline.com: Europa
  2. Li, Leslie (16 April 1989)."A Land of a Thousand Lakes".The New York Times (in Engels). Besoek op29 Desember 2021.
  3. Statistieke van Finland
  4. CIA.govGeargiveer 27 Mei 2016 opWayback Machine CIA population growth rankings, CIA World Factbook
  5. https://population.un.org/wpp/
  6. Groei van Wêreldbevolking, 1950–2050. Population Reference Bureau.Geargiveer 22 Julie 2013 opWayback Machine
  7. "World Population Prospects: The 2006 Revision Population Database". UN — Department of Economic and Social Affairs. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 7 Januarie 2010. Besoek op10 Junie 2008.
  8. "Standard Country or Area Codes for Statistical Use" (in Engels). Millenniumindicators.un.org.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 April 2020. Besoek op25 Augustus 2012.
  9. Europese Kontinent/Kaart van Europa
  10. (en)USCensusBureau:Countries and Areas Ranked by Population: 2009Geargiveer 13 Oktober 2013 opWayback Machine

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]


Kontinente van diewêreld


Afrika-Eurasië

Amerikas

Eurasië

Oseanië


Afrika

Antarktika

Asië

Australië

Europa

Noord-Amerika

Suid-Amerika

Geologiese superkontinente :Gondwana ·Laurasië ·Pangaea ·Rodinia ·Ur ·Vaalbara

Gebiede van die Wêreld
Afrika
Amerikas
Eurasië
Oseanië
Poolgebiede
Lande en gebiede inEuropa
Onafhanklike lande
Omstrede gebiede
Afhanklike gebiede
Finland
Koninkryk van Denemarke
Noorweë
Portugal
Verenigde Koninkryk
Lande van
1. Landdeels inAsië. 2. Geografies inAsië, maar gereeld beskou as deel vanEuropa a.g.v. kulturele en historiese oorwegings. 3. Aangedui as dieKanaaleilande.
Internasionaal
Nasionaal
Geografies
Kunstenaars
Ander
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Europa&oldid=2737182"
Kategorie:
Versteekte kategorie:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp