Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Elsas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Alsace

Localisation de l'Alsace en France
DépartementsBas-Rhin (67)
Haut-Rhin (68)
PrefektuurStraatsburg
Bevolking1 794 000 inw.
(2004)
Bevolkingsdigtheid217 inw./vk km
Oppervlakte8 280 vk km
Arrondissemente13
Kantons75
Munisipaliteite904
President van
Gewestelike Raad
Philippe Richert
(UMP)

Elsas (Frans:L'Alsace,Elsasser Duits:s'Elsass,Duits:das Elsass) was 'n administratiewe gewes (Frans:région) vanFrankryk wat bestaan het uit diedépartementsBas-Rhin ("Laer Ryn") in die noorde enHaut-Rhin ("Bo-Ryn") in die suide. Elsas was in die noordooste van Frankryk en aan die wesoewer van dieRyn geleë waar dit 'n gemeenskaplike grens metDuitsland enSwitserland gedeel het. As deel van administratiewe hervormings is Elsas saam metLotaringe enChampagne-Ardenne met ingang van 1 Januarie 2016 tot 'n nuwe gewes verenig,Grand Est.

Die streek se hoofstad en grootste nedersetting isStraatsburg, gevolg deur die nywerheidstadMulhouse (onderhoofstad van Haut-Rhin), enColmar, hoofstad van Haut-Rhin. Elsas het verskeie oorgange tussen Duitse en Franse beheer ondergaan en die argitektuur en kultuur het steeds 'n sterk Germaanse karakter.

Histories het die gebied ook vroeër dieTerritoire de Belfort, vandag deel vanFranche-Comté, ingesluit.

Geskiedenis

[wysig |wysig bron]
Mont Sainte-Odile klooster

In prehistoriese tye is Elsas deur nomadiese jagters bewoon, maar teen 1500 v.C. hetKelte hulle in Elsas gevestig en die grond begin bewerk. Teen 58 v.C. het die Romeine die gebied ingeval en Elsas as 'n wynboustreek gevestig. Om die waardevolle nywerheid te beskerm het die Romeine fortifikasies en militêre kampe gebou wat ontwikkel het in verskeie gemeenskappe wat kontinu tot vandag toe bewoon is.

Met die ondergaan van dieRomeinse Ryk is Elsas deur dieAlemanne ingeneem. Die Alemanne was 'n landbouvolk en hulle taal vorm die basis van die hedendaagseElsasser dialek. Die Alemanne is in 496 deur dieFranke onderClovis I verower en Elsas het 'n Frankiese hertogdom van die Koninkryk van Austrasië geword. Elsas het onder Frankiese beheer gebly totdat dit in 843 volgens dieVerdrag van Verdun in drie verdeel is. Die kleinseuns vanKarel die Grote – formeel bekend as die stigter van die Frankiese Ryk – het die ryk in drie dele gedeel. DieBenelux state, Elsas enLotharinge het die Frankiese Middel Ryk gevorm wat deur die jongste kleinseun Lothar geheers is. Louis die Duitser het die Oostelike deel gekry wat sou ontwikkel tot dieHeilige Romeinse Ryk en later tot vandag se Duitsland. Karel die Kale het die westelike gedeelte wat later Frankryk geword het gekry. Pepyn II, 'n kleinneef van die drie broers, is die koninkryk van Aquitaine, vandag 'n région in die suidweste van Frankryk, toegeken maar dit was onder die outoriteit van Karel. Lothar is in 855 vroeg dood en sy ryk is weer in drie gedeel. Die deel wat as Lotharinge bekend saat is aan Lothar se seun gegee. Die res is verdeel tussen Lothar se broers Karel die Kale (heerser van die Wes-Frankiese ryk) en Ludwig die Duitser (heerser van die Oos-Frankiese ryk). Lotharinge is later deur dieHeilige Romeinse Ryk geannekseer.

Nadat dit vir 'n tydlank deel was van die Koninkryk vanBoergondië het Elsas in die15de eeu deel geword van dieHeilige Romeinse Ryk as die westelike deel van die Hertogdom vanSwabe en later onder die administrasie van dieOostenrykse huis vanHabsburg. Elsas het 'n bloeitydperk beleef in die 12de en 13de eeue onder die Hohenstaufen Keisers, maar die tydperk van voorspoed is in die 14de eeu deur 'n reeks velle winters, misoeste en dieSwart Dood tot 'n einde gebring. Die blaam vir die beproewings is voor die deur van dieJode gelê wat gelei het tot diepogroms van 1336 en 1339. 'n Verdere natuurramp was die Ryngrabenaardbewing van 1356, een van die ergste inEuropa se geskiedenis.

Tydens dieRenaissance het voorspoed na Elsas teruggekeer onder die Habsburg administrasie, tot met dieDertigjarige Oorlog wat groot dele van suidelike Duitsland swaar getref het. Die grootste deel van Elsas is aan Frankryk afgestaan met dieVrede van Wesfale in 1648, wat die begin aandui van Elsas enLotharinge, as 'n bestrede gebied tussen Frankryk en Duitsland.

Die stad Straatsburg is tydens die heerskappy vanLouis XIV van Frankryk deur Frankryk geannekseer, op 'n stadium toe Habsburg en ander Duitsers betrokke was in gevegte met die Turke, by dieSlag van Wene. Sedert 500 is die gebied oorwegend deurGermaanssprekende mense bewoon en hulle het pogings om Frans en gebruike wat op hulle afgedwing is teëgestaan.

'n Elsas vrou in tradisionele drag.

Beide Alsace en Lotharinge het as "Reichsland Elsaß-Lotharingen" (Elsas-Lotharinge), deel geword van die nuwe Duitse Ryk onder kanselierOtto von Bismarck na dieFrans-Pruisiese Oorlog van 1870–1871. 'n Geskatte 50 000 mense (uit 'n totale bevolking van omtrent 1,5 miljoen) het geëmigreer, onder andere na Frankryk en Amerika. Frans is in skole verban en allekoerante moes in Duits gepubliseer word.[1] Elsas het deel gebly van Duitsland tot aan die einde van dieEerste Wêreldoorlog toe Duitsland dit in terme van dieVerdrag van Versailles afgestaan het.VSA PresidentWoodrow Wilson het egter aangedring dat dierégion wetlik selfregeringstatus moes hê aangesien die grondwet daarvan gestel het dat dit alleen deur die outoriteit van dieKeiser gebind is en nie aan die Duitse staat nie.

Die ingang na Ouvrage Schoenenbourg langs dieMaginotlinie in Elsas

Gevolglik het die regering van Elsas-Lotharinge onafhanklikheid verklaar as dieRepubliek van Elsas-Lotharinge, maar dit kon nie die Franse teëstaan wat dit 'n week later oorgeneem het nie. Frankryk het nie 'n plebissiet geduld soos op daardie stadium deur dieVolkebond toegestaan is in sommige Duitse gebiede nie.

Na die Eerste Wêreldoorlog is die vestiging van Duitse identiteit in Elsas omgekeer. Duitsers wat hulle na 1871 in Elsas gevestig het, is verban. Frans het die amptelike en onderwystaal geword. Dierégion was nie onderworpe aan sommige van die veranderinge in Franse reg van 1871 tot 1919, soos die Wet op die Skeiding van die Kerk en die Staat nie.

Die Maginotlinie wat tussen 1930 en 1939 deur Frankryk gebou is het deur Elsas geloop. In September 1939 toeHitlerPole binne geval het, is een derde van Elsas se bevolking summier na Perigord aan die ander kant van Frankryk geëvakueer. In Junie 1940 is die Maginotlinie maklik omseil en dierégion is in effek deur Nazi Duitsland geannekseer en heropgeneem in dieGroßdeutsches Reich (Groot-Duitse Ryk). Elsas is verenig met Baden, en Lotharinge metSaarland. Die Duitse regering het nooit oor die vraagstuk onderhandel of formeel anneksasie verklaar nie. Hoogduits was die enigste geoorloofde taal. 'n Honderd en veertig duisend mans tussen die ouderdom sewentien en agt-en-dertig, wat as dieMalgré-nous (teen ons sin) bekend gestaan het, is deur die Duitse leër opgeroep en gedwing om teen hulle landgenote te veg.[1]

Frankryk het weer beheer oor die oorloggeteisterde gebied verkry in 1944 en die beleid om Frans aan te moedig voortgesit. Van 1945 tot 1984 is die gebruik van Duits in koerante byvoorbeeld beperk tot 'n maksimum van 25%.

Elsas ná 1945

[wysig |wysig bron]

In 1949 is Straatsburg as setel van die nuutgestigte Europaraad gekies. Hierdie besluit het aan die beginpunt van Elsas se na-oorlogse "Europese tradisie" gestaan. Straatsburg is in 1979 ook as een van die twee setels van die Europese Parlement gekies (naas Brussel) sodat Elsas homself naas dieBenelux-lande as kerngebied van dieEuropese Unie gevestig het. Die Europese Parlement het aanvanklik in die vergadersaal (Hémicycle) van die Europese Raad byeengekom en in 1999 sy eie gebou betrek.

Eers in die 1980's het die Wes-Duitse regering ingestem om skadeloosstelling aan Elsassers te betaal wat gedurende die Nasionaalsosialistiese besettingstyd gedwing is om diensplig in die Duitse weermag te doen. Geregtigdes het 'n eenmalige bedrag van gemiddeld DM 3 000 ontvang.

Die Elsassiese taal en kultuur is ná die oorlog deur die Franse owerheid gemarginaliseer sodat 'n groot deel van die bevolking na Frans as omgangstaal oorgeskakel het. Weens die strukturele veranderings in die plaaslike landbousektor, die vinnige verstedelikingsproses en immigrasie uit ander dele van Frankryk asookItalië,Portugal,Turkye enNoord-Afrika het die etniese samestelling van die bevolking ook verander.

Tans fungeer Frans as enigste amps- en onderwystaal. Steeds minder mense het kennis van Elsas se inheemse Alemanniese dialekte of Standaardduits, en dit is veral ouer inwoners wat Elsassiese Duits nog magtig is, of dit as omgangstaal besig. Nogtans het in 2010 48,1 persent van kinders in kleuter- en 91,1 persent van leerders in laerskole onderwys in Duits as vreemde taal ontvang. In middelskole het hierdie persentasie nog 73,2 persent beloop, in die hoogste standerds van hoërskole (lycées) net 15,4 persent. Hierdie persentasies is bo die gemiddeld van Frankryk.

Geografie

[wysig |wysig bron]
DieVogese en die Elsasvlakte

Elsas dek 'n oppervlak van 8,280 km² (190 km lank by 50 km wyd 1,5% van die oppervlak van Frankryk), wat dit die kleinste région van metropolitaanseFrankryk maak.Korsika het omtrent die selfde oppervlak. Dit strek van suid na noord langs dieRyn wat dit in die ooste begrens. Dit word in die noorde deur dieLauterrivier begrens waar die Duitse palts begin, en in die ooste deur die Ryn metBaden-Württemberg aan die anderkant van daarvan, in die suide deurSwitserland, in die suidweste deur die régionFranche-Comté en in die weste deur die régionLotharinge.

Die streek word in 'n aantal verskillende landskappe verdeel:

  • in die Oostedie Elsasvlakte (wat saam met Baden inDuitsland dieFossé rhénan vorm) wat deur dieIllrivier gedreineer word en toegewy is tot grootskaalse graanboerdery; woude beklee steeds 'n belangrike posisie (die Haguenauwoud in die noorde en die Hardt in die suide) ;
  • tussen die Ryn en die Ill,le Ried, van dieAlemannies virriet. Die nat moerassige sone behou sy natuurlike karakter wat op merkwaardige wyse deur die ou vroeër wilde rivier gevorm is (woude deurkruis deur die sytakke van die Ryn, oorspoelde vleie, fonteine, riviere), waar natuurreservate en beskermde gebiede mens met wonder vervul.
  • in die Weste oorheers dieVogese met groot valleie met die slik van die Ill; hier is daar hooglandweivelde (Hautes Chaumes) wat afgewissel word met woude; die Grand Ballon 1424 m , geleë in dieHaut-Rhin, is die hoogste punt van Elsas;
  • die Vogese voetheuwels vorm die skakel tussen beide groepe. Die Vogesheuwels bevat die Elsasiese wynlande.
  • Sundgau, heuwelgebied suid van Mulhouse.
  • Elsas-Jura in die suidelike punt van die gebied.

Elsas het 'n half-kontinentale klimaat met koue droë winter en warm somers. Daar is min neerslag aangesien die gebied in die weste deur die Vogese beskerm word. Dia stad Colmar het 'n sonnige mikroklimaat en is die tweede droogste stad in Frankryk met 'n jaarlikse neerslag van slegs 550 mm, wat dit ideaal maak virvin d'Alsace (Elsas wyn).

Ekonomie

[wysig |wysig bron]
Houers in diePort autonome de Strasbourg

In ekonomiese opsig word Elsas onder die mees dinamiese en welvarendste streke in Frankryk gereken. Sy ligging teen die Ryn en sy moderne infrastruktuur verseker dat die streek voordeel kan trek uit sy integrasie in een van Europa se ekonomiese spilpunte waar handelstrome uit die noorde en suide gehanteer word.

Die florerende nywerheidsektor, met onder mer motorvervaardiging en petrochemiese aanlegte, dra tans sowat dertig persent by tot Elsas se bruto binnelandse produk (BBP). Met sy oop ekonomie word Elsas onder die Franse streke met die grootste buitelandse beleggings gereken. Die dienstesektor is die belangrikste ekonomiese dryfkrag, onder Meer danksy die hoogs moderne biotegnogiebedryf. Landboubedrywighede fokus op wynbou enhop.

Taal

[wysig |wysig bron]

Teen die begin van die21ste eeu is die taal wat die meeste in Elsas gepraat wordStandaardfrans. Die tradisionele taal van dierégion is egterElsasser Duits (Elsasser Duits:Elsässer-Ditsch), 'nNederalemanniese dialek vanOpperduits. Elsas is nou verwant aan sommige van die dialekte wat inSwitserland gepraat word, soos Baselduits, en oorkant dieRyn inDuitsland. In die heel noordelike gedeelte van Elsas word daar ook Frankiese dialekte vanWes-Middelduits gepraat. Nie Elsasser Duits nog die Frankiese dialekte het enige amptelike status nie. Beide word egter tans erken as tale van Frankryk en kan as skoolvakke gekies word.

In 2001 het 61 persent van die inwoners van Elsas hulleself as Elsasser Duitssprekendes beskou. Slegs 'n kwart van die jongmense in Elsas gebruik egter nog af en toe die Alemanniese streektaal, en slegs vyf persent van skoolbeginners het 'n kennis van die Elsasser dialek. Anti-Duitse gevoel na dieTweede Wêreldoorlog het 'n skerp afname in geskrewe Duits tot gevolg gehad.[2] Vandag is straatborde in Elsas is dikwels tweetalig in Frans en Elsasser Duits; soms word ook die ou Duitse straatname naas die nuwe Franse gebruik. Daar is nou ook dikwels plekname in Elsasser Duits naas die amptelike Franse name, soos in die geval van Steinbourg ("Steiweri" in Elsasser Duits).

In 'n paar valleie in die weste van Elsas teen die grens metLotharinge, wat altyd buite die Germaanse invloed gebly het, wordLotharingse dialekte sedert dieMiddeleeue gepraat.

Sedert 1945 het die invloed van Standaardfrans in Elsas al hoe groter geword en die streek is vandag 'n hoofsaaklik Franssprekend. Hoewel Elsas baie keer gesien word as 'n tweetalige streek waar Frans en Elsasser Duits naas mekaar gepraat word, is Standaardfrans al hoe meer die taal wat tuis en by die werk gepraat word – met al hoe meer mense wat daarnaas goeie kennis vanStandaardduits het.Duitsland is 'n belangrike buurman van Elsas en daar is meer as 70 000 oorgrens werkers wat bydra tot ouers se keuse om kinders eerder Standaardduits as die plaaslike dialek te leer. Standaardduits word ook op skool as 'n vreemde taal aangebied.

Sedert1994 word tweetalige onderwys aangebied, insmoigge gevalle voilgense 'n volledig tweetalige model wat berus op drie beginsels: vroeë leer (van 3-jarige ouderdom), gelyke blootstelling aan beide tale (13 ure Duits, 13 ure Frans), wissel-stelsel, een taal, een onderwyser. Daar is wel 'n paar skole, veral kleuterskole, wat Elsasser Duits as onderrigtaal gebruik. Hoewel Duits by twee van Elsas se vier universiteite gestudeer kan word, word geen vakke in Duits aangebied nie.[2]

Kookkuns, wyn en bier

[wysig |wysig bron]
Elsas-wingerd
Flammekueche
"n Versameling Elsaswyne

Elsas se kostradisie word gekenmerk met gasvryheid en groot porsies. Elsas se kookkuns word sterk beïnvloed deur Duitse tradisies envarkvleis word in verskeie vorme gebruik. Tradisionele disse sluit inbaeckeoffe (aartappeldis wat in 'n bakker sebakoond gebak word),tarte flambée offlammekueche (vlamkoek),choucroute (suurkool,Sûrkrût of sauerkraut met wors en charcuterie), enfleischnacka (vleis-en-pasta-rol). Die suide van Elsas, wat ook asSundgau bekend staan, is bekend vircarpe frite (gebraaidekarp). Soos in ander Alemanniese en Swabiese streke van Suid-Duitsland, die DuitstaligeSwitserland (hier bekend asspätzli) en westelike dele van Oostenryk wordspätzle,'n bekende soort vermicelli, ook saam metsous as 'n hoofgereg bedien.

Soetgoed sluit in 'n groot verskeidenheid koekies genaamdbrédalas enpain d'épice (gemmerbrood) wat in die feestydperk in Desember gebak en van Sint Nikolaasdag voorgesit word.Kougelhopf is so te sê die embleem van Elsas en Elsas-appeltert ofLa tarte au fromage blanc (kaaskoek) is ander bekende disse.

Elsas is 'n wynbougebied wat hoofsaaklikwitwyne produseer. Die streek sewyne, wat 'n sterk Duitse invloed het, staan bekend asvins d'Alsace. Die streek produseer van die hoogaangeskreweRieslings. Dit is die enigste gebied in Frankryk wat meestalvarietal wyne produseer, meestal van druifsoorte wat ook in Duitsland verbou word soos Gewürztraminer, Riesling, Muskaat, Savagnin, Pinot Blanc, Klevener de Heiligenstein en Pinot Gris wat ook asTokay d'Alsace bekend staan.L'Edelzwicker is 'n versnitwyn wat uit verskeie variëteite gemaak word.Le Crémant d'Alsace is 'n wit vonkelwyn. Pinot noir is die enigsterooiwyn wat in die streek geproduseer word.

Elsas is ook die hoofbier-produserende streek van Frankryk, veral danksy die brouerye in en omStraatsburg. Bekende bierhandelsmerke sluit inKronenbourg,Fischer,Heineken,Météor enKanterbräu in.Hops word inKochersberg en in noordelike Elsas verbou.

Schnapps word ook tradisioneel in Elsas vervaardig, maar dit is aan die afneem aangesien die aantal distilleerders minder algemeen is en die verbruik van tradisionele, sterk alkoholiese drankies aan die af neem is.

Elsas is verder bekend vir sy vrugtesappe-mineraalwater.

Sien ook

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
Wikimedia Commons bevat media in verband metAlsace.
  1. 1,01,1Visit Alsace,A Little HistoryGeargiveer 6 Februarie 2007 opWayback Machine, besoek op 10 Maart 2007
  2. 2,02,1MercatorGeargiveer 20 Junie 2009 opWayback MachineThe German language in education in Alsace, FranceGeargiveer 19 Desember 2007 opWayback Machine, besoek op 10 Maart 2007
Die administratiewe geweste van Frankryk (Régions de France)Flag of France
Metropolitaanse geweste (Régions métropolitaines):
Akwitanië |Auvergne |Boergondië |Bretagne |Centre-Val de Loire |Champagne-Ardenne |Elsas |Franche-Comté |Île-de-France |Korsika |Languedoc-Roussillon |Limousin |Lotaringe |Midi-Pyrénées |Nord-Pas-de-Calais |Basse-Normandie |Haute-Normandie |Pays de la Loire |Pikardië |Poitou-Charentes |Provence-Alpes-Côte d'Azur |Rhône-Alpes
Metropolitaanse geweste 2016 (Régions métropolitaines):
Auvergne-Rhône-Alpes |Boergondië-Franche-Comté |Bretagne |Centre-Val de Loire |Grand Est |Hauts-de-France |Île-de-France |Korsika |Nieu-Akwitanië |Normandië |Oksitanië |Pays de la Loire |Provence-Alpes-Côte d'Azur
Oorsese geweste (Régions d’outre-mer):
Frans-Guyana |Guadeloupe |Martinique |Mayotte |Réunion
NormdataEdit this at Wikidata
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Elsas&oldid=2434487"
Kategorie:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp