Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Efese

Koördinate:37°56′28″N27°20′31″O / 37.94111°N 27.34194°O /37.94111; 27.34194
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Efese*
Unesco-wêrelderfenisterrein

Die fasade van dieCelsus-biblioteek in Efese.
Ligging van Efese op 'n kaart (Turkye)
Efese
Efese
Ligging van Efese in Turkye
Koördinate:37°56′28″N27°20′31″O / 37.94111°N 27.34194°O /37.94111; 27.34194
LandeVlag van Turkye Turkye
TipeKultureel
Kriteriaiii, iv, vi
Verwysings1018
StreekAsië
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie2015 (39steSessie)
*Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.
'n Uitbeelding vanNike in Efese.

Efese (AntiekeGrieks: Ἔφεσος;Turks: Efes) was ’nantieke Griekse hawestad aan die weskus vanAnatolië, naby die huidigeSelçuk inTurkye. In die Romeinse tyd is 'n nuwe hawe gevestig, aangesien die baai om die vorige reeds deur die Kaistrosrivier toegeslik was. Die nuwe hawe sou tot 'n belangrike handelsentrum ontwikkel wat baie jare lank die tweede grootste stad in dieRomeinse Ryk sou wees.[1][2] Dit het in die eerste eeu v.C. sowat 250 000 inwoners gehad, wat dit ook die tweede grootste stad ter wêreld gemaak het.[2]

Die stad was onder meer bekend vir syTempel van Artemis, wat omstreeks550 v.C. voltooi is, en een van diewonders van die antieke wêreld was. Die tempel is in401 n.C. verwoes.[3] KeiserKonstantyn die Grote het ’n groot deel van die stad laat herbou en nuwe openbare baddens opgerig. Die stad is weer in614 gedeeltelik deur ’naardbewing verwoes. Die baai waaraan dit eens geleë was het langsamerhand volkome toegeslik. Skeepstoegang is hierdeur belemmer en die stad het gekwyn.[4]

Die ruïnes lê vandag 3 km suidwes van die dorp Selçuk in Turkye en is ’n gewilde toeriste-attraksie. Die Kaistrosrivier staan tans as die Küçük Menderes, oftewel "Klein Meander" bekend. Efese was een van die sewe gemeentes wat inOpenbaring genoem word (Openbaring 1:11).Paulus het ook 'nbrief aan die gemeente geskryf. In 1863 het dieBritse Museum met opgrawings begin, wat deur die Oostenrykse Argeologiese Instituut opgevolg is.[4] In 2015 is Efese deurUnesco aswêrelderfenisgebied gelys.

Geskiedenis

[wysig |wysig bron]

Neolitikum

[wysig |wysig bron]

Die gebied om Efese was reeds in dieNeolitikum (omstreeks 6000 v.C.) bewoon, soos blyk uit uitgrawings by die nabygeleë grafheuwels (bekend astels) van Arvalya en Cukurici.[5][6]

Bronstydperk

[wysig |wysig bron]

Onlangse uitgrawings het nedersettings by die Ayasuluk-heuwel uit die vroeëBronstydperk ontbloot. In1954 is ’n begraafplaas met keramiekpotte uit dieMiceense tydperk (1500-1400 v.C.) naby die ruïnes van die Johannes-basilika ontdek.[7] Dit was die tydperk van die Miceense uitbreidings toe dieAchajers (ofAchaioi soosHomeros hulle genoem het) hulle in Ahhiyawa gevestig het tydens die14de en13de eeu v.C. Geleerdes glo Efese is gebou op die nedersetting Apasa (ofAbasa), ’n stad uit die Bronstydperk wat inHetitiese bronne uit die 14de eeu v.C. genoem word.[8]

Donker Eeue

[wysig |wysig bron]
Die terrein van die Tempel van Artemis op die dorp Selçuk, naby Efese

Efese is in die10de eeu v.C. op die Ayasuluk-heuwel gestig as ’n Atties-Ioniese kolonie – 3 km van die middel van antieke Efese af (soos blyk uit uitgrawings in die 1990's by dieSeldjoekse kasteel). Die mitiese stigter van die stad was ’n prins vanAthene met die naam Androklos, wat sy land moes verlaat ná die dood van sy pa, koning Kadros.

Volgens die legende het hy Efese gestig op die plek waar dieorakel vanDelphi dit voorspel het: "’n Vis en ’n varkbeer sal vir jou die pad wys." Androklos het die meeste van die inheemseKariese en Lelegiese inwoners verdryf en sy volk met die res verenig. Hy was ’n suksesvolle kryger en as koning het hy die 12 stede vanIonië in die Ioniese Bond verenig.

Tydens sy bewind het die stad begin floreer. Hy is in ’n geveg teen die Kariërs dood toe hy Priëne, ’n ander stad van die Bond, te hulp snel.[9] Androklos en sy hond word uitgebeeld op diefries van die Tempel vanHadrianus uit die 2de eeu. Later het Griekse historici soos Pausanias,Strabo enHerodotos vertel die stad se mitiese stigter is Ephos, koningin van dieAmasones.

Die Griekse godinArtemis en die Anatoliese godinKubele is saam geïdentifiseer as "Artemis van Efese". Die "Dame van Efese" met die baie borste wat met Artemis verbind word, is vereer in dieTempel van Artemis, een van die Sewe Wonders en volgens Pausanias (4.31.8) die grootste gebou van die Antieke Wêreld. Die geograaf noem dat die tempel deur Efese, seun van die riviergod Kaystros, gebou is[10] voor die aankoms van die Ioniërs. Omtrent niks van dié struktuur is oor nie.

Argaïese tydperk

[wysig |wysig bron]

Omstreeks 650 v.C. is Efese deur dieKimmeriërs aangeval en verwoes. Nadat die Kimmeriërs verdryf is, is die stad deur ’n reeks tiranne regeer. Ná ’n opstand deur die inwoners is die stad deur ’n raad, dieKuretes, regeer. Efese het weer floreer en ’n paar belangrike historiese figure opgelewer, soos die digterCallinus[11] en die filosoofHerakleitos.

Omstreeks560 v.C. is Efese deur dieLidiërs onder koningCroesus verower. Hy het die inwoners met respek behandel, ondanks sy streng heerskappy, en het selfs een van die hoofbydraers geword vir die herbou van die Tempel van Artemis.[12] Sy handtekening is op die basis van een die pilare van die tempel gevind (wat nou in dieBritse Museum uitgestal word). Croesus het die bevolkings om Efese in die omgewing van die tempel laat hergroepeer en so die stad vergroot.

Later in dié eeu het die Lidiërs onder CroesusPersië binnegeval. Die Ioniërs het ’n vredesaanbod vanKores die Grote geweier en hulle eerder by die Lidiërs geskaar. Nadat die Perse Croesus verslaan het, het die Ioniërs aangebied om vrede te maak, maar Kores het daarop aangedring dat hulle oorgee en deel van sy ryk word.[13] Hulle is in 547 v.C. deur die Persiese leëraanvoerder Harpagos verslaan. Die Perse het toe die Griekse stede vanKlein-Asië in dieAchaemenidiese Ryk opgeneem.

Efese was eeue lank vir argeoloë ’n raaisel omdat geen vasgestelde ligging van die stad vir die argaïese tydperk bekend is nie. Verskeie terreine word voorgestel vir die beweging van ’n nedersetting tussen die Brons- en die Romeinse tydperk, maar die toeslyking van die natuurlike hawens en die beweging van die Kaistrosrivier het meegebring dat die ligging nooit dieselfde gebly het nie.

Klassieke tydperk

[wysig |wysig bron]

Efese het aanhou vooruitgaan. Maar toe belasting bly verhoog is onderKambuses II enDarius, het die Efesiërs deelgeneem aan dieIoniese Opstand teen die Persiese heerskappy in die Slag van Efese (498 v.C.), ’n voorval wat gelei het tot dieGrieks-Persiese Oorloë. In 479 v.C. het Ionië,Athene enSparta die Persiese heersers uit Anatolië verdryf. In478 v.C. het die Ioniese stede dieDeliese Bond met Athene en Sparta teen die Perse gesluit.

Tydens diePeloponnesiese oorlog het Efese hom eers by Athene geskaar, maar tydens ’n latere fase, die Ioniese Oorlog, by Sparta, wat ook die steun van die Perse gehad het. Die gevolg was dat die koninkryke van Anatolië weer onder Persiese bewind beland het.

Hierdie oorloë het nie die daaglikse lewe in Efese baie beïnvloed nie. Die Efesiërs was verbasend modern in hul sosiale verhoudings. Hulle het vreemdelinge toegelaat om te integreer. Opvoeding was hoog aangeskryf. Deur die aanbidding van Artemis het die stad ook ’n bastion vir vroueregte geword. Die stad het selfs vroulike kunstenaars gehad. In later tye hetPlinius die ouere genoem dat hy in Efese ’n voorstelling van die godinDiana gesien het deur Timarata, die dogter van ’n skilder.

In 356 v.C. is die Tempel van Artemis afgebrand, volgens legendes deur ’n waansinnige met die naam Herostratus. Die inwoners het dadelik die tempel begin restoureer en ’n selfs groter en mooier een as die oorspronklike beplan.

Hellenistiese tydperk

[wysig |wysig bron]

ToeAlexander die Grote die Persiese magte in 334 v.C. verslaan, is die Griekse stede van Klein-Asië bevry. Die pro-Persiese tiran Syrpax en sy gesin is met klippe doodgegooi en Alexander is gul in Efese verwelkom. Toe hy sien dat die Tempel van Artemis nog nie voltooi is nie, het hy voorgestel dat hy dit finansier en sy naam aan die voorkant aangebring word. Die inwoners het dit egter van die hand gewys omdat hulle gemeen het dit is nie geskik dat een god ’n tempel vir ’n ander een bou nie. Ná Alexander se dood in323 v.C. het Efese onder die heerskappy van een van sy generaals, Lusimachos, gekom.

Omdat die Kaistrosrivier die hawe toegeslik het, het die gevolglike moerasse gelei tot baie sterfgevalle weensmalaria en ander oorsake. Die inwoners was verplig om 2  km verder te skuif toe die koning die ou stad oorvloei deur die rioolpype te blokkeer.[14] Die nuwe nedersetting is na die koning se tweede vrou, Arsinoe II van Egipte, genoem. Nadat Lusimachos die nabygeleë stedeLebedos andKolophon in 292 v.C. verwoes het, het hy hul inwoners na die nuwe stad verskuif.

Efese het in opstand gekom ná die verraderlike dood van Lusimachos se seun Agathokles en het die Siriese koningSeleukos I die geleentheid gegee om Lusimachos, sy laaste teenstander, in 281 v.C. dood te maak. Daarna is die stad weer Efese genoem.

So het Efese deel van dieSeleukidiese Ryk geword. Ná die moord op koningAntiochos II en syEgiptiese vrou hetfaraoPtolemeus III die Seleukidiese Ryk ingeval en die kus van Klein-Asië verower. Efese het tussen263 en197 v.C. onder Egiptiese bewind gekom.

Toe die Seleukidiese koningAntiochos III probeer om die Griekse stede van Klein-Asië te herower, het hy metRome gebots. Ná ’n reeks gevegte is hy in190 v.C. verslaan. Efese het toe onder die heerskappy van die Attalidiese koning vanPergamon, Eumenes II, gekom. Toe sy kleinseun Attalos III sonder manlike erfgename sterf, het hy die koninkryk aan dieRomeinse Republiek nagelaat.

Romeinse tydperk

[wysig |wysig bron]
Efese se amfiteater
Die Tempel van Hadrianus

As deel van die Romeinse Republiek het Efese dadelik die Romeinse invloed ervaar. Belasting is aansienlik verhoog en die stad se skatte is stelselmatig geplunder. In88 v.C. het EfeseArchelaos, ’n generaal van Mitradates VI, koning vanPontos, verwelkom toe hy Wes-Anatolië verower. Dit het gelei tot dieAsiatiese Vespers, die slagting van 80 000 Romeinse burgers van Klein-Asië, of enigiemand wat met ’nLatynse aksent gepraat het. Baie van hulle het in Efese gewoon. Maar toe die Efesiërs sien hoe sleg Zenobios, ’n generaal van Mitridates, die mense van Chios behandel, het hulle geweier dat sy leër die stad binnekom. Zenobios is wel ingenooi om Philopoimen (die vader van Monima, die gunstelingvrou van Mitridates) te besoek. Omdat die inwoners niks goeds van hom verwag het nie, het hulle hom in die tronk gegooi en vermoor. Mitridates het wraak geneem en swaar strawwe uitgedeel. Die Griekse stede het egter hul vryheid en aansienlike regte gekry.

Efese het vir ’n kort rukkie selfregerend geword. Toe Mitridates deur die Romeinse konsulLucius Cornelius Sulla verslaan word, het Efese in86 v.C. weer onder Romeinse heerskappy gekom. Sulla het ’n groot skadeloosstelling geëis, asook belasting terugwerkend vir vyf jaar, en Asiatiese stede was dus ’n lang tyd daarna kwaai in die skuld.[15]

ToeAugustus in 27 v.C. keiser word, het hy Efese in plaas vanPergamon die hoofstad gemaak van die provinsieAsia, wat die westelikeKlein-Asië beslaan het. Efese het weer floreer. Dit het die setel van die goewerneur en ’n groot metropolis en handelsentrum geword. Dit was naas Rome die belangrikste en grootste stad.[16] In die jaar100 n.C. het Efese na skatting tussen 400 000 en 500 000 inwoners gehad; dit was die grootste stad in Romeinse Asië. Die stad het in die 1ste en 2de eeu n.C. ’n hoogtepunt bereik.

Efese was bekend vir sy Tempel van Artemis (Diana),[17] wie se hoofaltaar daar was, dieCelsus-biblioteek en sy teater met plek vir 25 000 toeskouers.[18] Dié amfiteater is aanvanklik vir dramas gebruik, maar in latere Romeinse tye is gladiatorgevegte ook op sy verhoog gehou. In Mei 2007 is die eerste argeologiese bewyse van ’n gladiatorbegraafplaas ontdek.[19] Terwyl onder Romeinse heerskappy, het die stad ook verskeie badkomplekse gehad. Dit het een van die gevorderdsteakwadukstelsels in die antieke wêreld gehad, met talle akwadukte van verskillende groottes wat verskillende gebiede van water voorsien het.

Die stad en tempel is in263 deur dieGote verwoes. Dit was die begin van die stad se verval.

Bisantynse tydperk

[wysig |wysig bron]

Efese het in die 5de en 6de eeu die belangrikste stad van dieBisantynse Ryk in Asië gebly naasKonstantinopel. KeiserKonstantyn die Grote het ’n groot deel van die stad laat herbou en ’n nuwe openbare bad opgerig. In 406 hetJohannes Chrysostomos, die aartsbiskop van Konstantinopel, gelas dat die Tempel van Artemis vernietig word.[20] KeiserFlavius Arcadius het die vlak van die straat tussen die teater en die hawe laat verhoog. Die Johannes-basilika is in die 6de eeu gebou tydens die bewind van keiserJustinianus I.

In 614 is die stad gedeeltelik deur ’n aardbewing verwoes.

Die belangrikheid van die stad as ’n handelsentrum het geleidelik afgeneem namate die rivier die hawe toegeslik het.[21] Die verlies van die hawe het daartoe gelei dat Efese sy toegang tot dieEgeïese See verloor het, wat belangrik vir handel was. Mense het van die laerliggende dele van die stad na die omringende heuwels getrek. Die tempel se ruïnes is as boustene vir nuwe huise gebruik en marmerstandbeelde is tot poeier gemaal om pleister te maak.

Plundertogte deur dieArabiere, eers in die jaar 654-655 en later in 700 en 716, het die verval bespoedig.

Toe dieSeldjoekse Turke Efese in 1090 verower,[22] was dit ’n klein dorpie. Die Bisantyne het in 1100 beheer herower en die naam verander na Hagios Theologos. Hulle het die gebied tot in 1308 beheer.Kruistogvaarders was verbaas toe hulle net ’n klein dorpie met die naam Ayasalouk daar aantref terwyl hulle ’n groot, besige stad met ’n groot hawe verwag het. Selfs die plaaslike bevolking het teen dié tyd al vergeet van die Tempel van Artemis. Die Kruistogvaarders van dieTweede Kruistog het in Desember1147 net buite die stad teen die Seldjoeke geveg.

Turkse tydperk

[wysig |wysig bron]
Die İsa Bey-moskee.

Die dorp is in 1304 verower deur Sasa Bey, ’n leëraanvoerder van Mentesje-prinsdom. Kort daarna is dit afgestaan aan die Aydinoglu-prinsdom, wat ’n sterk vloot gevestig het in die hawe van Ayasuluğ (die hedendaagse Selçuk, langs Efese). Ayasuluğ het ’n belangrike hawe geword van waar die vloot plundertogte na omringende gebiede uitgevoer het.

Die dorp het in die 14de eeu weer ’n kort tyd van vooruitgang beleef onder hierdie nuwe Seldjoekse heersers. Hulle het belangrike geboue gebou soos die İsa Bey-moskee,karavanserais enTurkse baddens (hamams).

In 1390 is hulle vir die eerste keer as leenmanne in dieOttomaanse Ryk opgeneem. Die Sentraal-Asiatiese krygerTamerlane het die Ottomane in Anatolië in 1402 verslaan, maar die gebied is in 1425 weer in die Ottomaanse Ryk opgeneem ná ’n tydperk van onrus.

Efese is in die 15de eeu heeltemal verlaat en die nabygeleë Ayasuluğ is in 1914 hernoem tot Selçuk.

Efese en die Christendom

[wysig |wysig bron]

Efese was van die50's n.C. ’n belangrike sentrum vir die vroeë Christendom. Van 52–54 n.C. het die apostelPaulus in die stad gewoon en met die gemeente gewerk. Hy het blykbaar ook sendingwerk in die omgewing georganiseer.[23] Paulus het aanvanklik, volgensHandelinge, in dieJoodsesinagoge in Efese gepreek, maar ná drie maande het hy gefrustreer geraak met die houding van sommige Jode en sy basis verskuif na die saal van Tirannus. (Hand 19:9). Paulus het in ’n dispuut betrokke geraak met kunstenaars wat hul brood en botter verdien het met beelde wat hulle van Artemis gemaak en in die godin se tempel verkoop het (Hand 19:23–40). Tussen 53 en 57 n.C. het Paulus die brief1 Korintiërs van Efese af geskryf (moontlik in die Paulustoring naby die hawe, waar hy vir ’n kort ruk gevange gehou is). Later, terwyl hy in Rome in die tronk was (omstreeks 62 n.C.), het hy diebrief aan die Efesiërs geskryf.

Die huis buite die stad waar Maria glo gebly het.

Romeinse Asië word verbind metJohannes,[24] een van die belangrikste apostels. DieEvangelie volgens Johannes is moontlik in Efese geskryf, omstreeks 90–100.[25] Efese was een van die sewe stede wat inOpenbaring aangespreek word (Op 2:1-7), wat daarop dui dat die kerk in Efese sterk was.

Twee dekades later was die kerk in Efese steeds belangrik genoeg om ’n brief van biskopIgnatius vanAntiogië te ontvang (in die vroeë 2de eeu). Die kerk het sy steun toegesê aan Ignatius, wat na Rome geneem is om tereggestel te word.

Volgens ’n legende, wat vir die eerste keer in die 4de eeu deur Epiphanius van Salamis genoem is, het dieMaagd Maria die laaste jare van haar lewe in Efese deurgebring. Die Efesiërs het dié aanname gegrond op Johannes se teenwoordigheid in die stad enJesus se opdrag dat Johannes ná sy dood na Maria moet omsien. Epiphanius het egter daarop gewys hoewel dieBybel sê dat Johannes na Asië vertrek het, word nêrens genoem dat Maria saam met hom is nie. Hy het later gesê sy is inJerusalem begrawe.[26] Sedert die 19de eeu word dieHuis van die Maagd Maria, sowat 7 km van Selçuk af, deur sommige beskou as Maria se laaste woonplek. Dit is ’n belangrike attraksie virKatolieke en toeriste, en ’n paar van die laastepouse het dit al besoek.

Die Kerk van Maria naby Efese se hawe is in431 gebruik vir dieEerste Konsilie van Efese, wat gelei het tot die veroordeling vanNestorius. ’n Tweede konsolie is in449 in Efese gehou, maar weens die omstrede aard daarvan is dit ongeldig verklaar en besluite wat daar geneem is, is herroep. Dit het bekend geword as die "Rowersinode" omdat van die afgevaardigdes nie vrylik oor besluite kon stem nie.

Belangrikste terreine

[wysig |wysig bron]
Die Poort van Augustus
Die graftombe van die apostel Johannes by die Sint Johannes-basilika

Efese het die grootste versameling Romeinse ruïnes in die Oos-Mediterreense gebied. Net sowat 15% daarvan is opgegrawe. Die ruïnes wat sigbaar is, lewer ’n idee van die stad se oorspronklike glans.

  • DieCelsus-biblioteek se fasade is getrou gerestoureer. Die biblioteek is aanvanklik in 125 gebou en is genoem na Tiberius Iulius Celsus Polemaeanus, ’n Romeinse konsul wat Grieks was.[27][28] Celsus het self vir die bou daarvan betaal[29] en is in ’n sarkofaag onder die gebou begrawe.[30] Die ingang is so gebou dat dit die biblioteek groter laat lyk het en die gebou kyk oos sodat die leeskamers die beste oggendlig kon kry. Daar was op ’n tyd 12 000 perkamentrolle.
  • Die amfiteater oorheers die toneel in Hawestraat af; laasgenoemde lei na die toegeslikte hawe. Met plek vir 44 000 mense was dit een van die grootste buitelugteaters van die antieke wêreld.[31]
  • Die Johannes-basilika is in die 6de eeu gebou onder keiserJustinianus I, op die plek waar die apostel vermoedelik begrawe is. Dit word nou deur Selçuk omring.
  • DieTempel van Artemis is een van diewonders van die antieke wêreld. Net een kolom daarvan is oor; dit is in die 1870's tydens opgrawings deur die Britse Museum ontdek. Stukke van die fries (wat voldoende is om op die oorspronklike grootte daarvan te dui) en ander klein vondste is verwyder. Sommige is naLonden geneem en ander na die Argeologiese Museum vanIstanboel.
  • Die Odeon was ’n klein onderdakteater[32] wat omstreeks 150 n.C. gebou is. Dit het plek vir 1 500 mense gehad en toneelstukke en konserte is daar gehou. Die boonste deel van die teater was versier met rooi granietpilare in dieKorintiese styl.[33]
  • DieTempel van Hadrianus dateer uit die 2de eeu, maar is in die 4de eeu gerestoureer en is nou herbou uit die oorblywende argitektoniese stukke. Die reliëfwerk in die boonste seksies is nagemaak; die oorspronklike word nou in die Argeologiese Museum van Efese uitgestal. ’n Paar figure word daarop uitgebeeld, soos keiserTheodosius I, sy vrou en oudste seun.[34] Die tempel is uitgebeeld op die rugkant van die Turkse 20 miljoen-lira-noot van 2001–2005[35] en die 20-nuwelira-noot van 2005–2009.[36]
  • Die Tempel van Domitianus (of Sebastoi) was een van die stad se grootste tempels.
  • Die Graftombe/Fontein van Pollio is in 97 gebou ter ere van C. Sextilius Pollio, wat die Marnas-akwaduk gebou het. Dit het ’n halfronde fasade.[33][34]
  • Daar was twee agoras, of vergadersale, een vir staats- en een vir algemene geleenthede.[37][38]

Sewe Slapers

[wysig |wysig bron]

Efese was vermoedelik die stad van dieSewe Slapers. Volgens die verhaal van die slapers, wat deur Katolieke enOrtodokse Christene asheiliges beskou word en wat ook in dieKoran genoem word,[39] is hulle vervolg vanweë hul geloof in God en het hulle eeue lank in ’n grot naby Efese geslaap.

Die agterkant van die Turkse 20-nuwelira-noot (2005–2008).

Argeologie

[wysig |wysig bron]

Argeologiese navorsing dateer van 1863, toe die Britse argitek John Turtle Wood, onder borgskap van die Britse Museum, na die Tempel van Artemis begin soek het. Hy het in 1869 die sypaadjie van die tempel ontdek, maar omdat niks anders daarna gevind is nie, is uitgrawings in 1874 gestaak.

In 1895 het die Duitse argeoloog Otto Benndorf, gefinansier deur ’n skenking van die Oostenryker Karl Mautner Ritter von Markhof, uitgrawings hervat. In 1898 het Benndorf die Oostenrykse Argeologiese Instituut gestig, wat vandag ’n belangrike rol in Efese speel.[40]

Vondste in die stad word veral uitgestal in die Ephesos-museum inWene, die Argeologiese Museum van Efese in Selçuk en die Britse Museum.

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. Quezi: Ephesus
  2. 2,02,1Oklahoma Christian University: Ephesus
  3. John Freely,The Western Shores of Turkey: Discovering the Aegean and Mediterranean Coasts, 2004, bl. 148.
  4. 4,04,1Amit, Jordan; Balogh, Balage (2024)."The Death of a Great Roman City".Street Gems. YouTube. Besoek op7 Maart 2024.
  5. [VIII. Muze Kurtrma Kazilari Semineri]Adil Evren – Cengiz Icten,pp 111-1331997
  6. [Arkeoloji ve Sanat Dergisi – Cukurici Hoyuk sayi 92]Adil Evren1998
  7. Coskun Özgünel (1996). "Mykenische Keramik in Anatolien".Asia Minor Studien.23.
  8. Akurgal, Ekrem (2001).The Hattian and Hittite Civilizations. Publications of the Republic of Turkey; Ministry of Culture. p. 111.ISBN 975-17-2756-1.
  9. Pausanius (1965).Description of Greece,. New York: Loeb Classical Library. pp. 7.2.8–9.
  10. "Dictionary of Greek and Roman Biography and Mythology". Ancientlibrary.com. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 21 Junie 2009. Besoek op20 April 2009.
  11. translation by M.L. West (1999).Greek Lyric Poetry. Oxford University Press. p. 21.ISBN 0-19-283678-1.
  12. Cremin, Aedeen (2007).The World Encyclopedia of Archaeology. Richmond Hill, Ontario: Firefly Books. p. 173.ISBN 1-55407-311-1.
  13. Herodotus i. 141
  14. Strabo (1923–1932).Geography (volume 1-7). Cambridge: Loeb Classical Library, Harvard University Press. pp. 14.1.21.{{cite book}}: CS1 maint: date format (link)
  15. Appian of Alexandria (c.95-c.165)."History of Rome: The Mithridatic Wars §§ 46-50" (in Engels). Geargiveer vanafdie oorspronklike op 15 September 2015. Besoek op2 Oktober 2007.
  16. Strabo. Geography (volume 1-7) 14.1.24. Cambridge: Loeb Classical Library, Harvard University Press
  17. "accessed September 14, 2007". Penelope.uchicago.edu. Besoek op20 April 2009.
  18. Ring, Trudy; Salkin, Robert (1995). "Ephesus".International Dictionary of Historic Places: Southern Europe. London: Fitzroy Dearborn. p. 217.ISBN 978-1-884964-02-2.
  19. Kupper, Monika (2 Mei 2007)."Gladiators' graveyard discovered" (in Engels). BBC News.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Augustus 2017. Besoek op20 April 2009.
  20. "Christian Persecutions against the Hellenes". Ysee.gr. Besoek op20 April 2009.
  21. Tore Kjeilen (20 Februarie 2007)."accessed September 24, 2007" (in Engels). Lexicorient.com.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op20 April 2009.
  22. Foss, Clive (1979)Ephesus after antiquity: a late antique, Byzantine, and Turkish city, Cambridge University Press, p. 121.
    Gökovalı, Şadan; Altan Erguvan (1982)Ephesus, Ticaret Matbaacılık, p.7.
  23. "Paul, St." Cross, F.L., red. The Oxford dictionary of the Christian church. New York: Oxford University Press, 2005
  24. Durant, Will. Caesar and Christ. New York: Simon and Schuster. 1972
  25. Harris, Stephen L., Understanding the Bible. Palo Alto: Mayfield. 1985. "The Gospels" p. 266-268
  26. Vasiliki Limberis, 'The Council of Ephesos: The Demise of the See of Ephesos and the Rise of the Cult of the Theotokos' in Helmut Koester, Ephesos: Metropolis of Asia (2004), 327.
  27. Nicols, John (1978).Vespasian and the partes Flavianae, Issues 28–31. Steiner. p. 109.ISBN 978-3-515-02393-1.
  28. Forte, Bettie (1972).Rome and the Romans as the Greeks saw them. American Academy in Rome. p. 260.OCLC 560733.
  29. Too, Yun Lee (2010).The idea of the library in the ancient world. Oxford University Press. p. 213.ISBN 978-0-19-957780-4.
  30. Hanfmann, George Maxim Anossov (1975).From Croesus to Constantine: the cities of western Asia Minor and their arts in Greek and Roman times. University of Michigan Press. p. 65.ISBN 978-0-472-08420-3.
  31. "accessed 21 September 2007" (in Engels). Biblestudy.org. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 7 Januarie 2010. Besoek op20 April 2009.
  32. "accessed 24 September 2007". Community.iexplore.com. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 17 Oktober 2007. Besoek op20 April 2009.
  33. 33,033,1Keskin, Naci.Ephesus.ISBN 975-7559-48-2
  34. 34,034,1Ephesus. Versprei deur Rehber Basım Yayın Dağıtım Reklamcılık ve Tic. A.Ş. en Revak Publishers.ISBN 975-8212-11-7
  35. Central Bank of the Republic of TurkeyGeargiveer 15 Junie 2009 opWayback Machine. Banknote Museum: 7. Emission Group – Twenty Million Turkish Lira –I. SeriesGeargiveer 22 November 2008 opWayback Machine. – Retrieved on 20 April 2009.
  36. Central Bank of the Republic of TurkeyGeargiveer 15 Junie 2009 opWayback Machine. Banknote Museum: 8. Emission Group – Twenty New Turkish Lira –I. SeriesGeargiveer 24 Februarie 2009 opWayback Machine.
    Announcement on the Withdrawal of E8 New Turkish Lira Banknotes from CirculationGeargiveer 22 April 2009 opWayback Machine, 8 Mei 2007. – URL besoek op 20 April 2009.
  37. Ephesus.us."accessed September 21, 2007". Ephesus.us. Besoek op20 April 2009.
  38. Ephesus.us."State Agora, Ephesus Turkey". Ephesus.us. Besoek op20 April 2009.
  39. O'Mahony, Anthony (2004). "Louis Massignon, The Seven Sleepers of Ephesus". In Bartholomew, Craig G (red.).Explorations in a Christian Theology of Pilgrimage. Aldershot, Engeland: Ashgate. pp. 135–6.ISBN 0-7546-0856-5.
  40. "Ephesos – An Ancient Metropolis: Exploration and History" (in Duits). Austrian Archaeological Institute. Oktober 2008.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2010. Besoek op1 November 2009.

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Efese&oldid=2657517"
Kategorie:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp