Die naam "Donbas" is 'nkombinasiewoord, van Донецький вугільний басейн,Donetski woehilni basein (Oekraïens vir "Donets-steenkoolbekken") of Донецкий угольный бассейн,Donetski oegolni bassein (Russies). Die naam verwys na die Donetsrif, wat met dieDonetsrivier verbind word. Verskeie definisies bestaan van die streek se omvang.[5]
Die algemeenste definisie wat vandag gebruik word, verwys na dieDonetsk- enLoehansk-oblast in Oekraïne, terwyl die historiesesteenkoolmynstreek dele van dié oblasts uitgesluit en dele vanDnipropetrofsk-oblast en Suid-Rusland ingesluit het.[1] Donbas het die historiese grens gevorm tussen dieZaporozje- en dieDon-Kosakke. Dit was 'n belangrike steenkoolmyngebied sedert die laat 19de eeu, toe dit baiegeïndustrialiseerd geraak het.[6]
In Maart 2014, ná dieEuromaidan-beweging en dieOekraïense Rewolusie van 2014, is groot dele van die Donbas deur onrus geteister. Dié onrus het later ontwikkel in 'n oorlog deur Russiese en pro-Russiese separatistegroepe wat geaffilieer is by die eensydig verklaarde volksrepublieke Donetsk en Loehansk, wat albei in 2022 deur Rusland erken is,[7] maar nie deur enige ander lidlande van dieVerenigde Nasies as wettig beskou word nie.[8] Die republieke het hulp van Rusland teen Oekraïne gekry, insluitende wapens, ammunisie en militêre en veiligheidsdienste.
Voor die oorlog is die stadDonetsk (toe die vyfde grootste in Oekraïne) beskou as die nieamptelike hoofstad van die Donbas. Groot stede met meer as 100 000 inwoners sluit ook inLoehansk,Marioepol, Makiifka, Horlifka, Kramatorsk, Slowjansk, Altsjefsk, Sjewjerodonetsk en Lisitsjansk. Op die oomblik is die stad Kramatorsk die tussentydse administratiewe sentrum van Donetsk-oblast, en Sjewjerodonetsk dié van Loehansk-oblast. Dié twee oblaste speel tans 'n groot rol in dievoortgesette oorlog tussen Oekraïne en Rusland.