Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Diereriem

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
’n Astronomiese klok met die diereriem op die Sint Markusplein inVenesië.
Die diereriem in ’n sinagoge inIsrael (6de eeu).

Diediereriem (ook diesodiak genoem) is ’n sowat 20 grade breë, denkbeeldige gordel aan die hemelruim waarlangs dieson,maan enplanete oënskynlik beweeg.

Die sterrehemel draai elke dag van oos na wes om ’n vaste pool. Nes die son elke dag op dieselfde plek sit, so keer die sterre elke jaar terug na dieselfde plek aan die hemelruim. Van die oudste bekendesterrebeelde is die 12 van die diereriem. Aan hulle is ’n besondere betekenis geheg omdat hulle as't ware die agtergrond vorm waarteen die son, maan en planete oënskynlik beweeg.

Die sonnebaan

[wysig |wysig bron]
Presessie met ’ngiroskoop.

Die gordel van die diereriem (sonnebaan) lê skeef op diehemelewenaar, die denkbeeldige lyn wat van die aarde seewenaar tot in die oneindigheid strek. Dié twee vlakke vorm ’n hoek van 23,5 grade: die "helling" van die sonnebaan. As gevolg daarvan is slegs twee dae en nagte per jaar ewe lank, tydens dienagewenings: aan die begin van die herfs (in dieNoordelike Halfrond die begin die lente, ongeveer21 Maart) op 0 grade Ram; en aan die begin van die lente (in die Noordelike Halfrond die begin die herfs, ongeveer23 September) op 0 grade Weegskaal.

Die lentepunt in die Noordelike Halfrond op 0 grade Ram is omstreeks 300 v.C. as die beginpunt van die diereriem gekies. Dit is dus die tydstip (omstreeks 21 Maart) waarop die son in die snypunt van die diereriem en die hemelewenaar tree. Die GrieksesterrekundigeHipparchos (2de eeu v.C.) het reeds opgemerk dat die lentepunt stadigaan verskuif in ’n "agteruitwaartse rigting" met die sonnebaan langs. Hy het bereken dat hierdie verskuiwing ongeveer 1 graad per 72 jaar beloop. Van hom kom ook die naam van dié verskynsel, wat hy "presessie" gedoop het. Veel later sou moderne fisici hierdie presessie vanuit ’n beweging van die aarde self kon verklaar. Dieaardas lê immers skeef op sywentelbaan: Hy slinger dus as't ware soos ’n tol. As gevolg van hierdie beweging, wat 25 800 jaar neem voordat dit weer dieselfde punt bereik, stem die sterretekens van dieastrologie (sterrevoorspelling) nie meer ooreen met die sterrebeelde van dieastronomie (sterrekunde) nie.

Die belangrikheid van die presessie

[wysig |wysig bron]

Terwyl hierdie presessie belangrik vir die sterrekunde is, is dit van weinig of geen belang vir die astrologie. Daarvoor is slegs dieplanete van belang en hoe hulle skynbaar in ’n baan om die aarde beweeg. Volgens die ou Westerse astrologiese tradisies is die pad wat die son aflê in 12 dele, of tekens, verdeel met elk ’n lengte van 30 grade. In die loop van die jaar beweeg die son deur al die tekens. Omdat die tekens hoofsaaklik diere of mense voorstel, word dié baan of gordel die diereriem genoem. Die enigste nielewende teken is dieWeegskaal, wat eers later bygevoeg is. Aanvanklik is die skale van die Weegskaal beskou as die kloue van dieSkerpioen.

Geskiedenis

[wysig |wysig bron]

Babiloniese astronomie

[wysig |wysig bron]

Die verdeling van die diereriem in verskillende tekens stam uit dieBabiloniese astronomie, waarskynlik in die 7de eeu v.C.[1] Die Babiloniese kalender het aan elke maand ’n bepaaldesterrebeeld toegeken, beginnende by die posisie van die son in die lentepunt, wat toe nog in die Ram gelê het.

Hellenistiese astrologie

[wysig |wysig bron]

DieHellenistiese (Griekse) astrologie was ’n samesmelting van die Babiloniese enEgiptiese astrologie. Dit was in dié tyd (vanaf die 4de eeu v.C.) dat die eerste astrologiese horoskope verskyn het.

Indiese diereriem

[wysig |wysig bron]

Die Indiese diereriem is direk van die Griekse stelsel afgelei in ’n tyd van intense kulturele kontak met Griekeland in die 2de tot 1ste eeu v.C. In die Hindoe-astrologie word die tekensrāshi genoem.

Chinese diereriem

[wysig |wysig bron]

InChina het ’n onafhanklike diereriem, die "Geel Weg", ontstaan wat met die tekenRot begin. Anders as by die Westerse astrologie word tekens aan verskillende jare, en nie maande nie, toegeken.

Sterretekens en sterrebeelde

[wysig |wysig bron]
Latynse
naam
SimboolAstrologiese
sterreteken
Son in sterreteken
vanaf omstreeks
Astronomiese
sterrebeeld
Son in sterrebeeld
vanaf omstreeks
AriesRam21 MaartRam19 April
TaurusBul20 AprilBul14 Mei
GeminiTweeling21 MeiTweeling20 Junie
CancerKreef21 JunieKreef21 Julie
LeoLeeu23 JulieLeeu10 Augustus
VirgoMaagd23 AugustusMaagd16 September
LibraWeegskaal23 SeptemberWeegskaal31 Oktober
Scorpius*Skerpioen23 OktoberSkerpioen23 November
Ophiuchusnie in astrologiese diereriemSlangdraer30 November
SagittariusBoogskutter22 NovemberBoogskutter 18 Desember
CapricornusSteenbok22 DesemberSteenbok19 Januarie
AquariusWaterdraer20 JanuarieWaterdraer16 Februarie
PiscesVisse19 FebruarieVisse12 Maart
* In die astrologie ook dikwelsScorpio genoem.

Verhouding met die moderne astronomie

[wysig |wysig bron]

Ongeveer 2 000 jaar gelede het die son vanaf ongeveer21 Maart inderdaad in die sterrebeeld Ram gelê, maar deur die presessie van die nagewenings het die lentepunt sedertdien 30 grade geskuif, wat beteken dat die son tans op dié datum in dieVisse lê. Binnekort sal dit in dieWaterdraer lê.

Die Westerse astrologie hou by die oorspronklike indeling, waarvolgens die son aan die begin van die lente astrologies in die Ram lê. Die tekens dra dus steeds die name van sterrebeelde wat eeue gelede op ’n sekere tydstip in die pad van die son gelê het. Dis egter nie so belangrik nie, aangesien die astrologie werk met sektore van die hemelruim waaraan bepaalde eienskappe toegeken word, ongeag watter sterrebeeld daar lê.

Volgens die moderne indeling van die astronomiese diereriem is daar selfs een met die naamSlangdraer (Ophiuchus) wat nie tot die astrologiese diereriem behoort nie.

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. "Powell, Robert,Influence of Babylonian Astronomy on the Subsequent Defining of the Zodiac". Geargiveer vanafdie oorspronklike op 21 Mei 2009. Besoek op26 Desember 2009.

Skakels

[wysig |wysig bron]
NormdataEdit this at Wikidata
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Diereriem&oldid=2471762"
Kategorieë:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp