Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Country house

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Longleat House is 'n Engelsecountry house enstately home wat omstreeks 1580 voltooi is. Die landskapstuin is deur Capability Brown ontwerp

DieEngelse termcountry house (Afrikaans:kontreihuis) verwys na 'n spesifieke tipe van herehuise wat in die landelike gebiede vanEngeland,Skotland,Wallis enIerland ontwikkel het. Saam met hulle parke, tuine en newegeboue vorm hierdie herewonings 'n argitektoniese enkunserfenis van onskatbare betekenis en bied insig in die leef- en geesteswêreld van die Britse landadel wat eeue lank 'n leidende rol in hul onmiddellike omgewing en plaaslikeekonomie, maar ook in die politieke, sosiale, kulturele en ekonomiese lewe van dieBritse Eilande in hul geheel gespeel het. As sulks was hulle dikwels 'n soort mikrokosmos van die groter wêreld.

Na baie groot en statige herewonings word in die Engelse vaktaal soms asstately homes verwys. Dit is paleisagtige herehuise of ouerkastele wat, nadat hul versterkings met die begin van meer vreedsame tye hul oorspronklike funksie kwytgeraak het, tot herewonings omgebou is. Dieselfde geld vir abdye wat ná hul ontbinding gedurende die Engelse Hervorming in die 16de eeu deur adellikes aangekoop en tot herehuise omgeskep is.Stately homes het hul bloeitydperk tussen die middel van die 16de en vroeë 20ste eeu beleef.

'n Herehuis was tradisioneel die plek waar adellike Britse families hul gesofistikeerde smaak en kunssinnigheid, weelde en afkoms ten toon gestel het, maar ook 'n plek wat as die middelpunt van die sosiale en politieke lewe gedien het, van waar die onmiddellike omgewing geadministreer en waar Britse staatssake bespreek en besluite daaroor geneem is. Herewonings het egter nie net lede van die Britse landadel gehuisves nie, maar was ook die woon- en werkplek vir die hele spektrum van die samelewing. Groot onthaalsale, vertoonkamers en gerieflike vertrekke was die leefwêreld van die adellike gesin, terwyl generasies van bediendes, wat benodig is om groot herehuise te bestuur en hul ekonomiese prosesse aan die gang te hou, in die kombuise, spense en waskamers van die benedeverdieping of in die tuine en ander geriewe van die omliggende landgoed werksaam was.

Country Houses as herewonings van die Britse landadel het vanaf die 16de eeu in Engeland ontwikkel toe die eeue oue tradisie van versterkte wonings en kastele, wat oorspronklik die hoë status van hul bewoners weerspieël het, ten gunste van meer gerieflike akkommodasie verdring is. In 'n nasie waar die heersende elite van adellikes diep in die landelike omgewing, en nie soseer in stedelike nedersettings nie, gewortel was, het 'n landelike herewoning as embleem vir hoë afkoms, nasionale identiteit, trots, weelde en kunssinnigheid gedien.

Die agteruitgang van groot herehuise het met die ekonomiese depressie in die landboubedryf omstreeks 1870 enGroot Oorlog van 1914 begin. Adellikes, wat as hoër range tradisioneel die ruggraat van die Britse leër gevorm het, het net soos gewone soldate in groot getalle gesneuwel. Die oorlogsgebeure het 'n swaar ekonomiese krisis in Groot-Brittanje veroorsaak, maar dit was veral dielandbou as belangrikste bron van inkomste vir die landadel wat vanaf die laaste kwart van die 19de eeu aan baie veranderings onderworpe was. Koel- en vragskepe het groot hoeveelhedegraan envleis uit die oorsese gebiede van dieBritse Ryk na die Britse Eilande vervoer, teen pryse waarmee Britse produsente nie meer kon meeding nie. Hoër erfenis- en boedelbelasting het eweneens hul tol geëis en eienaars gedwing om hul wonings te verkoop. Na ramings is net in Engeland sowat 1 200 herehuise sedert 1900 gesloop.

Stately homes in Engeland

[wysig |wysig bron]
Die suidfasade van Kedleston Hall is deur Robert Adam ontwerp en geïnspireer deur die Boog van Konstantyn teRome

Die Engelse vaktermstately home word deur geskiedkundiges en ander akademici dikwels as vaag en ontoereikend vir praktiese of wetenskaplike gebruik geag en dus liefs vermy. Dit is vir die eerste keer deur Felicia Hemans in haar gedigThe Homes of England gebruik en oorspronklik in 1827 inBlackwood's Magazine gepubliseer. Dit het in die 20ste eeu veral gewild geraak danksy die liedjieThe Stately Homes of England wat die komponisNoël Coward (1899–1973) in 1938 vir sy musiekblyspelOperette geskryf het. Volgens sy moderne gebruik verwys die term dikwels na 'n herewoning wat ten minste tydelik oopstaan vir die publiek.

Die woordgebruik in Engeland is onpresies sodat die termecountry house enstately home soms as sinonieme gebruik word om na herewonings te verwys. Nogtans is baie kontreihuise ofcountry houses soos Ascott House inBuckinghamshire doelbewus ontwerp om met die omliggende omgewing te harmoniseer eerder as om die status van hul eienaars deur 'n statige boustyl te onderstreep. Ander herewonings, soos Kedleston Hall inDerbyshire en Holkham Hall inNorfolk, was sogenaamdepower houses wat met hul deftige en indrukwekkendeargitektuur die landskap in hul omgewing oorheers het.

Die joernalis en skrywer Robert Harling behandel in sy werkHistoric Houses: Conversations in Stately Homes altesaam negentien herewonings wat volgens hom asstately homes gekategoriseer kan word. Hulle wissel in grootte van die monumentele Blenheim-paleis tot die meer beskeie Ebberston Hall, en in hul boustyl van die Jacobiaanse Renaissance-ontwerp vanHatfield House tot die eksentriese styl van Sezincote.

Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Country_house&oldid=2842519"
Kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp