Colombia beslaan 'n oppervlakte van 1 141 748 km² en het 'n bevolking van 50 372 424 in 2020 gehad. Diehoofstad en grootste stad isBogotá. Colombia is naChristophorus Columbus, wat dieAmerikas in 1492 virEuropa ontdek het, genoem.[8]
Colombia het 'n gediversifiseerde ekonomie met 'n belangrike dienste-komponent. Die ekonomiese produksie van die land word oorheers deur die binnelandse vraag, en uitgawes vir huishoudelike verbruik is die grootste komponent van die BBP. Die BBP volgenskoopkragpariteit was 827,662 miljoen dollar in 2018. Die Colombiaanse menslike ontwikkelingsindeks is 0,761 en die lewensverwagting by geboorte is 77,1 jaar. Colombia is deel van die CIVETS-groep wat as die ses belangrikste ontluikende markte beskou word. Dit is 'n lid van dieVerenigde Nasies,Organisasie van Amerikaanse Lande,Wêreldhandelsorganisasie, Pasifiese Alliansie, UNASUR en ander internasionale organisasies. Dit is ook die enigsteLatyns-Amerikaanse land wat 'n wêreldwye vennoot vanNAVO is. Dit is die land met die tweede hoogste ongelykheidsindeks in Latyns-Amerika, na Brasilië, en gelykstaande aan Panama, volgens die Wêreldbank-databasis. Colombia beskik oor groot ekonomiese groeipotensiaal indien dié land sy binnelandse konflik kan beëindig.
In die precolombiaanse tydperk is die land deurinheemse volke met verskillende vlakke van beskawing en organisasie bewoon. Die vroegste tekens van menslike bewoning dateer sowat 16 400 jaar terug. Dit sluit oorblyfsels van gereedskap in wat naby Girardot gevind is. Die oudste menslike oorblyfsels is 12 500 jaar oud en by Zipaquirá ontdek. Beide plekke lê in die relatief droëAndesgebied. Daar word egter gemeen dat die warm en vogtigeAmasonegebiede en dieKaribiese- enStille Oseaankuste selfs vroeër reeds bewoon is hoewel die oudste vondse daar slegs 9 000 jaar oud is.
Die inheemse volke was rondom 3500 v.C. primitiewe jagters en nomadieselandbouers, wat die see- en rivierkuste bevolk het. Met die koms vanmielies as voedselbron in die 2de eeu v.C. begin groepe hulle hier vestig. Vroeë precolombiaanse volke in die noorde het Urabá (1000 v.C.–0) en Sinú (0–1000 n.C., veral bekend vir uitgebreide wateraanleg en dreinering van landbougrond) ingesluit. Die Tumaco, Calima (1000 v.C.–800 n.C.), Malagana (300 v.C.–300 n.C.), Cauca, San Agustín (1000 v.C.–500 n.C.), Tierradentro, Nariño, Quimbaya (0–900 n.C.) en Tolima (200 v.C.–500 n.C.) het in die suidweste geleef. Ten tyde van die Spaanse verowering was daar drietaalfamilies in Colombia: Chibcha, Carib en Arawak.
DieChibcha-sprekendeIndiane het 300 tot 400 jaar voor die huidige jaartelling vanuitSentraal-Amerika na Colombia,Venezuela enEcuador getrek – oorspronklik aan die Atlantiese (Karibiese) kus. Arawak-indiane het vanuit die ooste na Colombia geïmmigreer en hulle veral in die oostelike riviergebiede van dieOrinoco en Amasone gevestig. Rondom 1000 n.C. trek oorlogsugtige Carib-indiane van die Brasiliaanse kusstreek en die eilande na die Colombiaanse kuste en rivierdaleRío Magdalena en Río Cauca en verdryf die Chibcha na die hoërliggende Andesgebiede. Die Chibcha bereik 'n hoë graad van ekonomiese en politieke ontwikkeling. Toe die Europeërs rondom 1500 n.C. Suid-Amerika betree het, was die Chibcha die mees prominenteetniese groep. Hulle was onderverdeel in die Muisca en die Tairona, en nog enkele kleiner groepe. Die grootste groep, die Muisca, het hulle woongebied op die hooglande van die huidige Cundinamarca en Boyacá gehad en was landbouers. Hulle maatskaplike organisasie het om die cacicazgo, die stamhoof, en een oorerfbare leier oor die vroulike lyn, gewentel. Die opvolger/erfgenaam van die stamhoof was die seun van sy suster.
Daar het twee groot Muisca bondgenootskappe bestaan ten tye van die Spaanse verowering: Bacatá (Bogotá) en Hunza (Tunja). Aan die hoof van die Bacatá was 'n Zipa, die opperhoof. Die Hunza-opperhoof was Zaque. Die kleiner Chibcha-sprekende groep, Tairona, het die noordelike uitloop van die Sierra Nevada de Santa Marta se berggebied bevolk. Tairona het uit twee groepe, naamlik een in die Karibiese laaglande en die ander in die Andeshooglande, bestaan. Die eerste groep het vanvisvang ensoutontginning geleef, dus produkte wat hulle virtekstiel van die Tairona in die hooglande verruil het. Die Tairona het in talle goed-georganiseerde stede, wat met klippaaie verbind was, geleef.
Muisca-vlot. Die figuur verwys na die El Dorado-legende se seremonie
Rodrigo de Bastidas land in 1500 as eersteSpanjaard aan die Colombiaanse kus. In 1509 stigAlonso de Ojeda die noordwestelike kusdorpSan Sebastian de Urabá. Vasco Nuñez de Balboa stigSanta Maria la Antigua del Darién vanwaar hy 'n ekspedisie na die Stille Oseaankus onderneem (1513). MetSanta Marta (1525) enCartagena (1533) word vestings langs die kus gestig vanwaar koloniale oorheersing van die binneland, aangemoedig deur die 'El Dorado'-mite – 'n oorvloedige bron vangoud – begin. Onder leiding van Gonzalo Jiménez de Queasada en Sebastián de Belalcázar word die huidige Colombia ontdek (1536). In 1557 word in Santafé de Bogotá die 'Real Audiencia del Nuevo Reino de Granada' opgerig. Die verowering van Nueva Granada, soos die gebied toe bekend was, na die geboortegrond van Quesada, is gekenmerk deur die plunder van die Indiaanse kultuurgoedere, die afdwing van Spaanse gebruike engodsdiens, enslawerny. Die brutale Spaanse régime het 'n uitdunning van die Indiaanse bevolking tot gevolg gehad, wat lei tot die invoer van slawe uitAfrika.
Die Slag van Boyacá op 7 Augustus 1819 was die beslissende stryd wat die sukses van die bevrydingsveldtog van Nieu-Granada sou versekerVorming van die huidige Colombia sedert die Visekoninkryk van Nieu-Granada se onafhanklikheid asGroot-Colombia van dieSpaanse RykDie tussen 1919 en 1949 geboude Las Lajas-basiliek in die Colombiaanse gemeente Ipiales
Tot 1810 was die land 'nSpaanse kolonie en 'n belangrike bron van goud, maar in dié jaar verklaar Colombia sy onafhanklikheid. Spaanse troepe onder leiding van generaal Pablo Morillo herower die land egter na dieNapoleontiese Oorloë.
Sedert 1819 was daar al sprake van egte onafhanklikheid onder leiding vanSimón Bolívar en Francisco Paula de Santander. Bolívar word die eerste president vanGroot-Colombia wat toe nog uit die huidige Colombia en (dele van) Ecuador, Venezuela en Panama bestaan. In 1830 word die regering van Bolivar omvergewerp wat tot die verbrokkeling van die Republiek gelei het. Ecuador en Venezuela ontstaan as onafhanklike state, terwyl Panama nog deel van Colombia bly tot in 1903. Van die begin af was die politieke situasie onrustig onder andere omdat die politieke stelsel uit slegs twee partye bestaan het, dieliberales en diekonserwatiewes. Hierdie tweeledigheid het ook rofweg ooreengekom met die sosiale tweeledigheid van die land: Aan die kus het die 'costeños', meestal afstammelinge van die slawe gewoon – in die sentrale hooglande die 'cachacos', die Spaanse afstammelinge. As gevolg van die haglike ekonomiese toestande, verskeie staatsgrepe en voortdurende gewelddadige konflik begin die 1 000-daagse Oorlog in 1899 tussen die regerende konserwatiewes en die liberale troepe. Die oorlog, wat tot 1902 sou duur, het uiteindelik tussen 60 000 en 130 000 lewens geëis en die land verniel agterlaat. In 1903 begin 'n opstand, gesteun deur dieVerenigde State wat diePanamakanaal wou bou, wat lei tot die afskeiding van Panama.
In 1928 vind die bloedbad van diepiesangstaking plaas. Die Amerikaanse "United Fruit Company" het 'n monopolie in die piesangplantasies gehad en die werkers uitgebuit. Die staking word met geweld beëindig en het honderde slagoffers tot gevolg. Vanaf 1948 vind 'n bloedige volksopstand plaas, nadat die liberale presidentskandidaat Jorge Eliécer Gaitán vermoor is. Die volksopstand in Bogotá, waarin 2 500 mense sterf, versprei oor die hele land. Hierdie stryd, bekend as 'La Violencia', het die lewe gekos van waarskynlik meer as 'n honderdduisend mense. Stede en dorpe word afgebrand en meer as 'n miljoen mense vlug na Venezuela. Van 1953 tot 1957 lei generaalGustavo Rojas Pinilla 'nmilitêre diktatuur. In 'n poging om politieke geweld en outoritêre optrede te beëindig, kom die twee groot politieke partye, die Konserwatiewe en die Liberale, in 1958 ooreen om afwisselend die bestuur van die land oor te neem. Hierdie periode duur tot 1974 maar van 1965 tot 1968 word 'n staat van beleg uitgeroep, as gevolg van geweld van linkse guerrilla's en opstand vanuit die Universiteit van Bogotá.
Die voormalige president Juan Manuel Santos onderteken op 26 September 2016 'n vredesooreenkoms
Die huidige politieke bestel is onrustig. Teenoor die owerheid ontstaan die linkse guerrillagroepe FARC en ELN. Groot grondeienaars het van ouds hul eie gewapende magte om hulle grond te verdedig. Oorblyfsels hiervan vorm steeds baie paramilitêre regse strydgroepe. Met die opkoms vankokaïenproduksie bewapen die onwettige magte hulle ook op 'n groot skaal. 'n Ideale uitkoms lyk nie moontlik nie. Die onwettige magte gebruik die beskerming van die guerrillas, en die guerrillas befonds die dwelmoorlog teen die owerheid met dwelmgeld. Die stryd teen paramilitêre geweld, guerrillas, kokaïenmafias,korrupsie en magsmisbruik het 'n voortdurende invloed op die politieke situasie.
In 2002 is die presidentskandidaat, Ingrid Betancourt, voorstaander van dialoog, deur die linkse guerrillagroep FARC ontvoer. Hierdie faktore maak dit vir buitelandse beleggers 'n onaantreklike land en dit word weerspieël in die haglike ekonomiese toestande. Die voormalige president,Alvaro Uribe, volg enersyds 'n ferm beleid teen terreur en probeer andersyds om 'n houvas te verkry op die paramilitêre groepe deur ooreenkomste te sluit en hulle te integreer in die leër en politiek. Deur ferm hantering word die FARC tot verdediging gedwing en verbeter die ekonomiese toestand effens. Die kokaïenmafia word met wisselende sukses bestry in die oorlog teen dwelms, wat grotendeels deur die VSA finansier word.
Op 28 April 2020 het Colombia by dieOESO aangesluit en daarmee náMeksiko enChili die derde Latyns-Amerikaanse lidland van dié internasionale organisasie geword.[9]
Kaart van ColombiaKlimaatsones in Colombia volgens dieKöppen-klimaatklassifikasieTopografiese kaart van Colombia
Colombia kan rofweg in drie geografiese dele verdeel word:
Die Andesgebergte in die weste. Die grootste deel van die bevolking woon hier en die drie miljoenstede, Bogotá, Medellín en Cali word hier aangetref.
Die Karibiese kus. Ook hier word enkele belangrike bevolkingssentra, soos Cartagena gevind.
Die oostelike deel van Colombia is hoofsaaklik bebos en behoort tot die uitlopers van die enorme Amasonewoud. Dit beslaan 54% van die oppervlakte van Colombia, maar slegs 3% van die Colombiane woon daar.
(es) Eugenio Gutiérrez Cely, Miguel Ángel Urrego Ardila (1995). 1.001 cosas sobre la historia de Colombia que todos debemos saber. Bogotá: Círculo de Lectores S.A.ISBN 958-28-0751-2