Movatterモバイル変換


[0]ホーム

URL:


Gaan na inhoud
Wikipedia
Soek

Bakoe

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Bakoe
Bakı

KaartWapen
Vlag
 LandVlag van Azerbeidjan Azerbeidjan
 Administratiewe verdeling12 stadsdistrikte
 Koördinate40°23′N49°52′E / 40.383°N 49.867°O /40.383; 49.867
 Stigting6de eeu v.C.
 Oppervlakte: 
 - Totaal2 130vk km
 Hoogte bo seevlak- 28 m
 Bevolking: 
 - Totaal (2011)2 168 815[1]
 - Bevolkingsdigtheid900/vk km
 TydsoneAZT /UTC +4
 -SomertydAZST /UTC +5
 BurgemeesterHajibala Abutalybov
 Amptelike webwerfbaku-ih.gov.az

Bakoe (Azerbeidjans:Bakı [bɑˈcɯ]) is diehoofstad en grootstestad vanAzerbeidjan. Die stad is in die ooste van die land aan dieKaspiese See geleë.

Met 'n oppervlakte van 2 130 km² en 'n bevolking van meer as twee miljoen in2011 is Bakoe die grootste stad in Azerbeidjan en die heleKaukasus-streek. Met 'n verskeidenheiduniversiteite en ander tersiêre onderwysinstellings, navorsingsinstitute, teaters enmuseums fungeer die stad as die opvoedkundige en kulturele sentrum van Azerbeidjan.

Vanweë sy ligging langs 'n aantal beduidende handelspaaie het Bakoe al vroeg in sy geskiedenis 'n beduidende rol in die Kaukasus-streek gespeel. Sy ryk kulturele erfenis van paleise,moskees envestings in die geskiedkundige ou stad het grotendeels bewaar gebly en in2000 die status vanUnesco-wêrelderfenisgebied gekry.

Danksy sy ligging te midde van 'n belangrike olieveld vorm Bakoe die middelpunt van Azerbeidjan se pyplynstelsel en beskik daarnaas oor 'n beduidendeseehawe vir die uitvoer vanru-olie.

Etimologie

[wysig |wysig bron]

Daar word aangeneem dat die huidige stadsnaam van die Oud-Persiese باد-کوبه ofBād-kube afgelei is en dus as "Windgeteisterde stad" vertaal kan word. Bakoe staan inderdaad bekend vir sy hewige winterstorms en sterk winde wat dwarsdeur die jaar waai.

Volgens ander bronne het die naam sy oorsprong in die Oud-PersieseBaghkuh of "Berg van God" en sou dus dieselfde etimologiese wortels hê soosBagdad inIrak. AlleArabiese benamings – waaronderBaku,Bakukh,Bakuya enBakuye – het hul oorsprong eweneens in Persiese name.

'n Derde hipotese beweer datBakoe van dieTurkse woord vir "berg" afgelei is. Die Turkse "Islamitiese Ensiklopedie" verwys na die Turkse termBey-Kyoy ("hoofstad") as etimologiese oorsprong.

Geografie en stadsbeeld

[wysig |wysig bron]

Bakoe is sowat 28 meter benedeseevlak aan die weskus van die Kaspiese See en in die suide van die Abşeron-skiereiland geleë.Die landskap van sy omgewing word oorheers deur 'n aantal moddervulkane (waaronder Keyraki, Bogkh-bogkha en Lokbatan) en soutmere soos byvoorbeeld Boyukshor (die tweede grootste in die land met 'n oppervlakte van tien km²) en Khodasan. Die heuwellandskappe ten weste en gedeeltelik ten ooste van die stadsgebied bereik hoogtes van tot by 200 meter bo seevlak.

Bakoe kan in geskiedkundige en argitektoniese opsig in drie stadsdele verdeel word:

  • die ou stad of İçəri Şəhər,
  • die laat 19de eeuse stadsbuurte wat ná die begin van ru-olieontginning en die gepaardgaande ekonomiese opbloei ontstaan het en
  • die Sowjet-Russiese stadsdeel.

Die ou stad van Bakoe is in die sentrum van die huidige stadsgebied geleë en word nog steeds deur historiese versterkings omsluit. Die buurt binne die stadsmuur is in 2000 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys. Die meeste mure en torings, wat ná die Russiese verowering in 1806 versterk is, kan na die Persiese tydperk teruggevoer word.

'n Straatjie in die ou stad met die stadsmuur in die agtergrond

Die historiese kwartier is danksy sy labirint van smal straatjies en historiese geboue 'n gewilde toeristetrekpleister. Die 15de eeusePaleis van die Sjirwansjah, wat vroeër as setel van die plaaslike khans gedien het, historiesekaravanserais, die 11de eeuse Maagdetoring, ou badhuise (hammams) en die Djuma-moskee geniet wêreldfaam. Daar is tientalle kleiner moskees in die ou stad waarvan sommige nouliks as sulks herkenbaar is.

In die laat 19de eeu het die rykdomme, wat met olieontginning verdien is, die oprigting van welvarende buurte suid van die ou stad moontlik gemaak. Robert Nobel, die ouer broer van Ludvig enAlfred Nobel, het in 1873 na Bakoe gekom om hier die oliemaatskappyNobel Brothers Petroleum Producing Company te stig. Binne enkele jare het dié onderneming die wêreldleier in olieontginning geword. Die nuwe "oliekonings van Bakoe" het woonpaleise in die Nieu-Gotiese enArt Nouveau-styl deur Wes-Europese argitekte laat bou.

Tussen 1898 en 1902 het die Azerbeidjans-gebore Duitse ingenieur Nikolaus von der Nonne as burgemeester van Bakoe gedien. Die Russiese heerskappy oor Azerbeidjan is met die bou van die reusagtige Aleksander-Newfski-katedraal (1888–1898) ook argitektonies bevestig. Sowjet-diktatorJosef Stalin het dié sakrale gebou egter tydens die fase van militanteateïsme in 1935 laat afbreek.

DieRussiese Rewolusie van 1917 het 'n einde aan die ekonomiese bloeitydperk gemaak. Ná die oorwinning van dieBolsjewiki is die eiendomme van oliekonings onteien. Hul paleise huisves tans veral museums wat aan die kuns, geskiedenis en letterkunde van Azerbeidjan gewy is. Ander villa's is steeds in privaat besit. Die stad het 'nmetro.

Klimaat

[wysig |wysig bron]
Fonteinplein in Augustus

Bakoe het 'n gematigde halfdroë steppeklimaat volgens Köppen en Geiger se effektiewe klimaatklassifikasie (afkorting: BSk),[2] met warm en droësomers en kouewinters wat somsnat kan wees. Sterkwinde waai dwarsdeur die jaar. In teenstelling met ander stede in vergelykbare klimaatsones is somertemperature eerder gematig danksy die ligging op 'nskiereiland en die invloed van die Kaspiese See. Die jaarlikse gemiddeld in Bakoe is 14,2 °C.

Bakoe en die Absjeron-skiereiland maak deel uit van die droogste deel van Azerbeidjan met jaarlikseneerslae van minder as 200 millimeter. Gedurende die Sowjettydperk was Bakoe danksy die gesonde droë klimaat met lang sonskynure 'n gewilde vakansiebestemming en hersteloord. Die meeste voormalige Sowjet-Russiesehotel- en spakomplekse langs die Kaspiese Seestrande het intussen in verval geraak. Sowjet-Russiese nalatigheid ten opsigte van dieekologiese impak van industrialisering het van die stad, wat vroeër onder die belangrikste industriële sentrums in dieSowjetunie gereken is, een van die mees besoedelde nedersettings ter wêreld gemaak.[3]

Die daaglikse gemiddeld in Julie en Augustus is 26,4 °C. Die heersendekhazri-wind het 'n matigende invloed. In die koue winters met 'n gemiddeld van 4,3 °C word die khazri-wind deur lugmassa's van polêre oorsprong versterk en as baie onaangenaam ervaar.Temperature kan in die kusgebiede benede vriespunt daal. Sneeuval en selfs sneeustorms kom voor, maar gewoonlik vou 'n sneeulaag net enkele dae lank oor die stadsgebied.

Gasheerstad vir sport en vermaak

[wysig |wysig bron]
Nasionale Stadion Baku

Bakoe het in 2012 as gasheerstad van dieEurovision-sangfees opgetree en was een van die kandidaatstede vir dieOlimpiese Somerspele van 2020.

'nStraatrenbaan in Bakoe, dieBaku City Circuit (Azerbeidjans: Bakı Şəhər Halqası), is rondom die stadsplein gebou. In 2016 het die baan dieEuropese Grand Prix aangebied, en sedert2017 is dit die tuiste van dieFormule EenAzerbeidjanse Grand Prix.

Bekende boorlinge

[wysig |wysig bron]

Verwysings

[wysig |wysig bron]
  1. (az)"Bakı şəhəri – Azərbaycan Dövlət Statistika Komitəsi (Azstat)". Geargiveer vanafdie oorspronklike op 30 Junie 2012. Besoek op2 Februarie 2012.
  2. www.klimadiagramme.de: Das Klima in Baku
  3. forbes.com: The World's Dirtiest Cities

Eksterne skakels

[wysig |wysig bron]
Wikimedia Commons bevat media in verband metBakoe.
Hoofstede vanonafhanklike lande
Hoofstede vanomstrede gebiede
Hoofstede vanafhanklike gebiede
Hoofstede van
Hoofstede vanonafhanklike lande
Hoofstede vanomstrede gebiede
Hoofstede vanafhanklike gebiede
Hoofstede van
NormdataEdit this at Wikidata
Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Bakoe&oldid=2676643"
Kategorieë:
Versteekte kategorieë:

[8]ページ先頭

©2009-2025 Movatter.jp