Arras (Nederlands:Atrecht) is die prefektuur (administratiewe hoofstad) van dieNoord-FransedépartementPas-de-Calais met 'n oppervlak van 11,63 vierkante kilometer en 41 239 inwoners (2012).
Arras was oorspronklik 'nKeltiese nedersetting, wat later deur die Romeine tot die garnisoenstad Atrebatum uitgebou is. In die laat-antieke tydperk was Atrebatum 'n belangrike sentrum van die wolbedryf en sedert die 4de eeu ook die setel van 'n biskop.
Ná dieFrankiese verowering vanGallië het Arras se belangrikheid afgeneem. In die10de eeu is die stad by die graafskapVlaandere ingelyf. Arras was die eerste stad in Vlaandere wat 'n vrybrief en ook die reg gekry het om self sy regters te kies.
Arras het eeue lank in die Frans-Nederlandse grensgebied gelê, en die stad het verskeie kere onder Franse en Nederlandse heerskappy gekom. Uiteindelik het die Franse argitekSébastien Le Prestre de Vauban versterkings gebou, wat die Franse gehelp het om Arras definitief by Frankryk in te lyf.
In ekonomiese opsig het Arras vir 'n lang tyd op die handel metVlaandere gesteun. Later het die stad 'n landbousentrum virsuikerbeet geword, wat ook plaaslik verwerk is.
Arras het ook 'n belangrike sentrum van die Suid-Nederlandse wandtapytbedryf geword. Die produkte van die plaaslike fabrieke staan nog steeds asArrazzi bekend.
Tydens dieEerste Wêreldoorlog het Arras digby die frontlyn gelê. In die Slag van Arras, wat deur die Duitsers ook die Loretto-slag genoem is, was Franse en Duitse troepe naby Souchez in hewige gevegte gewikkel. Noord van Arras, in die heuwellandskap naby Vimy, het ookKanadese troepe in loopgrawe Duitse aanvalle afgeweer. Arras is gedurende die oorlog ernstig beskadig en later herbou.
Tydens dieTweede Wêreldoorlog is Arras deur Duitse troepe beset. 240 Franse, wat as lede van die weerstandsbewegingRésistance beskou is, is in die sitadel van Arras tereggestel.
Arras beskik oor twee groot pleine in sy middestad, dieGrande Place en diePlace des Héros, wat deur gerestoureerde historiese geboue omring word. Die ou stadskern met die Raadsaal in dieGotiese boustyl en die Laat-Gotiese katedraal van Arras is die belangrikste geboue, wat veral toeriste uit Nederland,Duitsland en dieVerenigde Koninkryk lok.
Arras beskik ook oor 'n indrukwekkendekloktoring met klokkespel en 'n Museum vir Skone Kunste, wat deur die pragtige Benediktynse abdy vanSaint-Vaast gehuisves word. Die museum vertoon 'n versameling van skilderye uit die 17de, 18de en 19de eeu, dekoratiewe kuns en 'n model van Arras.