Die Arabiere is die grootste bevolkingsgroep in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Hulle vorm nie 'n homogene groep nie en woon verspreid in 'n stuk of vyftien lande. "Arab " is 'n Semitiese woord en is oorspronklik gebruik om die nomadiesewoestynvolke (Bedoeïene) in die Arabiese Skiereiland aan te dui. Naas die nomadiese volke het daar vanaf 1500 v.C. ook 'n aantal klein koninkryke in die suide van die skiereiland voorgekom. Hulle bevolking het vanlandbou en handel gelewe.
Eers in die 7de eeu n.C. het die profeetMohammed en sy opvolgers daarin geslaag om die Arabiere in die skiereiland onder die godsdiensleer van Islam te verenig. Aangevuur deur hul godsdiens het die Arabiere deur middel van "heilige oorloë" hul gesag uitgebrei na groot dele vanAsië,Afrika enEuropa. Tot in die 11de eeu het hulle die politieke mag in die Islamitiese ryk behou, maar hulle het op groot skaal met hul onderdane vermeng sodat die onderskeid tussen Arabiere en nie-Arabiere geleidelik verdwyn het. Dit het aanleiding gegee tot 'n totaal nuwe begrip van die woord Arabier. Voortaan het die woord betrekking gehad op almal wat dieselfde taal en kultuur gedeel het. Islam was ook 'n belangrike samebindende faktor, maar die heilige oorloë het dié godsdiens ook na lande soos Persië,Indië enTurkye laat uitbrei. Aanhangers van Islam in hierdie lande het hul eie kultuur behou en word nie Arabiere genoem nie.
Tussen die 14de en 19de eeu was feitlik alle Arabiessprekende lande deel van dieOttomaanse ofTurkse Ryk. Sedert die 19de eeu het hulle geleidelik met Westerse moondhede soosEngeland en Frankryk in aanraking gekom, veral ná die val van die Turkse Ryk en die ontdekking vanruolie. Groeiendenasionalisme het in die 20ste eeu tot die stigting van verskeie Arabiese state gelei. Ondanks verskeie pogings, kon hulle nog nie daarin slaag om Arabiese eenheid of selfs 'n gemeenskaplike politiek tot stand te bring nie. In die 20ste eeu het die tradisionele Arabiese leefwyse vinnig verander. Onder toenemendeekonomiese druk moes al hoe meernomade hul op een plek vestig om 'n bestaan te kan maak. Plattelandse armoede laat boere ook na die stede stroom.
Die sogenaamde "Arabiese wêreld" is in Noord-Afrika en dieMidde-Ooste geleë. Die Arabiese lande inNoord-Afrika isMauritanië,Wes-Sahara,Marokko,Algerië,Tunisië,Libië,Soedan enEgipte.Jordanië,Sirië,Libanon enIrak is in die Midde-Ooste. Dan is daar ookSaoedi-Arabië,Jemen en 'n aantal kleiner state wat almal in die Arabiese Skiereiland geleë is. Die volke van al hierdie lande praat een of ander Arabiesedialek en hul kultuurtaal is klassieke Arabies. Hierdie gemeenskaplike kenmerke bring mee dat hul almal as Arabiere bestempel word, hoewel hulle nie tot een groep behoort nie. Uiterlik toon die Arabiere groot liggaamlike verskille. Hulle het 'n lang geskiedenis van onderlinge twis en kon tot vandag toe nie daarin slaag om een nasie te vorm nie. In sommige Arabiese lande kom daar belangrike minderheidsgroepe voor, soos dieKoptieseChristene in Egipte en Soedan, die Christene in Libanon en dieKoerde in Irak. InIsrael, wat vroeër Palestina was, vorm die Arabiere 'n minderheidsgroep. Die Arabiese samelewing kan in drie hoofgroepe verdeel word:
Die Bedoeïene wat met groot troppeskape,bokke enkamele deur die woestyn swerf,
Die hoofartikel vir hierdie afdeling is:Bedoeïene.
'n Tradisionele Bedoeïen in Suid-Jordanië
Die Bedoeïene kom hoofsaaklik in die Arabiese Skiereiland en in die woestyne van Irak, Sirië en Jordanië voor. Hulle word algemeen as die kleurvolste van al die Arabiere beskou. Omdat hulle voortdurend oor groot afstande rondswerf, het hulle 'n belangrike rol gespeel in die verspreiding van die Islamitiese geloof. Vandag word dit al hoe moeiliker vir die Bedoeïene om hul nomadiese leefwyse vol te hou en baie Bedoeïene word deur omstandighede gedwing om hulle op een plek te vestig.
'n Interessante verskynsel is dat die Arabiese boere in klein dorpies saam woon. Die huise word gebou van modderstene wat in die son drooggebak is en word sonder planmatigheid deurmekaar opgerig. Die boere word "fallahien" genoem en maak hoofsaaklik hul bestaan uit besproeiingslandbou. Hulle plant veralkoring engars en, waar moontlik, ookgroente envrugte. 'n Gedeelte van hul produkte ruil hulle met die Bedoeïene en dorpsbewoners vir ander ware of geld. Grond is private eiendom. Die hoeveelheid grond wat die boere besit, bepaal ook die hoeveelheid water wat daar in die besproeiingskema aan hom toegesê word. Daar is altyd 'n groot skaarste aan water en die verhouding tussen water en grond is so heg dat die een nie sonder die ander verhuur of verkoop mag word nie.
Familiebande speel 'n baie groot rol in die Arabiese samelewing. Dit blyk veral in die groot dorpe waar mense volgens hul familiename in wyke woon. 'n Dorp bestaan gewoonlik uit drie of vier sulke wyke wat gegroepeer is óm die sentrale wyk waar die oudste families woon. Twee wyke vorm saam een bestuurshelfte. Sodoende is daar 'n gesamentlike hoofmanskap wat die dorp verteenwoordig en geskille uitsorteer. Elke wyk beskik oor sy eiebegraafplaas enmoskee. Gewoonlik trou 'n man met 'n vrou uit sy eie wyk.
Dorpe se grootte varieer van etlike honderde inwoners tot 10 000 of selfs 20 000. Die indeling volgens familiewyke bly egter oral dieselfde. Baie van die inwoners van die groter dorpe maak 'n bestaan uit boerdery – as arbeiders bewerk hulle stukke grond buitekant die dorp.
Armoede bly egter 'n groot probleem in Arabiese dorpe en lei daartoe dat baie mense na die stede stroom, hoewel hulle dáár ook nie 'n veel beter bestaan kan voer nie. Die tradisionele Arabiese stad is baie dig bebou en het smal strate. Winkels met dieselfde spesialiteite is gewoonlik naas mekaar en vorm sodoende 'n basaar -"soeq" in Arabies. Daar is geen onderskeid tussen kommersiële en residensiële buurte nie, hoewel mense van dieselfde etniese of godsdienstige groep in die groter stede in hul eie buurt woon. Toesig oor die mark en 'n militêre polisiemag is die enigste vorm van plaaslike bestuur. Inwoners se lojaliteit lê eerder by hul familie en godsdiens as by die belange van die stad as 'n geheel. Die gesin- en familielewe is dieselfde as dié in dorpe, hoewel daar baie groter verskille in rykdom en sosiale status voorkom. 'n Groot gedeelte van die stedelike bevolking is werkloos en baie ander lewe onder die broodlyn.
Die meeste Arabiese huwelike word op die Islamitiese wyse voltrek. Die bruidegom moet 'n prys aan die bruid se ouers betaal. By die Christelike Arabiere is dit egter die bruid se ouers wat 'n bruidskat moet voorsien. Meisies trou gewoonlik wanneer hulle veertien of vyftien is met seuns van sestien tot agtien. Tradisioneel het net die man die reg om die huwelik nietig te laat verklaar. Vroue beklee 'n ondergeskikte posisie in die samelewing. Die ondergeskiktheid van die vrou berus op 'n letterlike vertolking vanMohammed se woorde: "Met 'n volk wat sy belange in die hande van 'n vrou plaas, kan dit nie goed gaan nie."[verwysing benodig] Danksy verbeterde onderwys en groter beroepsmoontlikhede is die posisie van die vrou besig om te verbeter. Vandag kan vrouens byvoorbeeld ook 'n egskeiding verkry.
Die Arabiere het hul eerste bloeitydperk in die suide van die Arabiese skiereiland beleef. Daar is die klimaat gunstig vir land- en tuinbou teen die berghellings. Boonop het die groot handelsroetes tussen Afrika en die Midde-Ooste deur hierdie gebied gelei. Die kameel is ongeveer 1200 v.C. deur die Arabiere getem en met groot vrug in die handel gebruik. Die oudste kultuur in die gebied was dié van die Koninkryk Saba, wat ongeveer 1100 v. C. ontstaan het en volgens argeologiese opgrawings 'n hoë ontwikkelingspeil bereik het. Daar word beweer dat diekoningin van Skeba inderwaarheid 'n koningin van Saba was omdat die name min of meer ooreenkom en Saba in Salomo se tyd op sy hoogtepunt was. Die mag van die Sabeërs het uiteindelik oorgegaan in die hande van die Himiariete. In Griekse en Romeinse bronne word hulle Homeriete genoem. In die eerste eeu v.C. het die Romeine vergeefs gepoog om hulle te onderwerp. Weens handelsmededinging uit die Hellenistiese wêreld, was die Suid-Arabiese ryk in daardie stadium reeds besig om te taan en is die genadeslag toegedien deurEthiopiese invalle. Die Ethiopiërs het hulle in 525 n.C. in Suid-Arabië gevestig met die doel om die gebied as aanvalsbasis teen diePersiese Ryk van die Sassanide te gebruik. Hulle het ook dieChristendom na Suid-Arabië gebring. In 575 is hulle egter deur diePerse verdring. As gevolg van die vreemde oorheersing het Suid- en Sentraal-Arabië met 'n mengelmoes van kulture te doen gekry. Daar was onder andere ook baieJoodse handelaars op die karavaanroetes. Dit het 'n gunstige klimaat geskep vir die ontplooiing van die Islamitiese geloof.
Die eerste noemenswaardige ryk in die noorde van die Arabiese skiereiland was dié van dieNabateërs wat in die 2de eeu v.C. in die teenswoordige Jordanië ontstaan het. Hul hoofstad,Petra, was naby dieDooie See geleë. Die stad is later opgegrawe en het gespreek van indrukwekkende ontwikkeling. Die Nabateërs het goeie verhoudinge met die Romeine gehandhaaf, maar is nogtans in 105 n.C. by dieRomeinse Ryk ingelyf. In die 3de eeu het nog 'n Arabies-Aramese ryk, metPalmyra as hoofstad, in die suidooste van Sirië verrys. Die ruïnes van Palmyra spreek van groot Romeinse invloed. Die ryk het gesukkel om handhawend te bly tussen die Romeine aan die een kant en die Perse aan die ander kant. In 273 is hulle deur die Romeine verower. Sedert die val van Palmyra tot laat in die sesde eeu was die Arabiere vasalle vanof dieOos-Romeinse Ryk (laterBisantium)of die Sassanidiese Perse.
Die beroemdeMoskee van Kairouan (ook bekend as die Moskee van Uqba) is een van die puikste, mees beduidende en bes behoue artistieke en argitektoniese voorbeelde van die vroeë vername moskeë; in sy huidige toestand gedateer uit die 9de eeu, dit is die voorganger en model van alle moskeë in Wes-Islamitiese lande.[26]
Mohammed, die groot profeet van Islam, het gedurende sy eie leeftyd (570-632) daarin geslaag om feitlik die hele Arabiese Skiereiland te islamiseer. Sy opvolgers is almal "kalief" genoem. Die eerste kalief het die afvallige stamme in die skiereiland onderwerp en terselfdertyd noordwaarts uitgebrei. Die Bisantyne is, net soos die Perse, verslaan en Sirië en Palestina is onderwerp. Die Bisantyne is ook uit Egipte verdryf. In die verowerde gebiede is nuwe stede gestig wat as sentra vir die Islamitiese kultuur moes dien. Nie-Arabiere is toegelaat om hul geloof te behou, teen betaling van 'n baie hoë belasting. Baie van hulle het daarom verkies omMoslems te word.
Al langs die kus van Noord-Afrika is die een gebied ná die ander verower totdat selfs Spanje in 715 onderwerp is. Ooswaarts is daar tot diep in Sentraal-Asië ingedring, tot by dieIndusrivier en die noordelike grense vanAfghanistan. Teen die helfte van die 8ste eeu was die Arabies-Islamitiese Ryk op sy grootste. Die kalifaat het van die een dinastie na die ander oorgegaan. Die hoofstad wasMekka, maar in 750 het dieAbbasidiese dinastie 'n nuwe hoofstad byBagdad (Irak) gebou. Hoewel die Arabiese kultuur, met klassieke-Arabies as taal, oral in die verowerde gebiede 'n bloeitydperk beleef het, het die interne verbrokkeling van die ryk reeds in hierdie stadium begin en in die volgende vier eeue snel toegeneem. Dinastieë het afvallig van Bagdad geword, terwyl die Kalief van Bagdad meer en meer van sy Turkse huursoldate afhanklik geword het. Die laaste kalief is tydens 'nMongoolse inval in 1258 gedood. Daarna het die groot Arabiese Ryk in 'n magdom klein sjeikdomme versplinter geraak en was 'n maklike prooi vir die opkomende Ottomaans-Turkse Ryk.
As provinsies van die Ottomaanse Ryk is die Arabiese lande op ekonomiese gebied 'n groot knou toegedien deur die ontdekking van die seeroete om die Kaap. Hulle het daardeur hul monopolie op die handel met die Ooste verloor en nog meer in verval geraak. Namate die Ottomaanse Ryk self begin verswak het, het sy provinsies – waaronder ook die Arabiese lande – een na die ander die Wes-Europese moondhede ten prooi begin val. In 1798 hetNapoleon Egipte en Sirië beset. Die besetting was van korte duur, maar het 'n groot invloed gehad.
Mohammed Ali, wat in 1805 in Egipte aan bewind gekom het, het die land so te sê onafhanklik van die Turkse sultan gemaak en die leër en administrasie volgens die Westerse model gemoderniseer. Onder sy opvolgers het die land al hoe meer van Westerse raadgewers en bankiers afhanklik geraak. In 1879 het Frankryk en Engeland albei genoeg belange in Egipte gehad om die wanbestuur van Ismaiel te beëindig. Nasionalistiese opstande is in 1882 met Britse hulp onderdruk. In dieselfde jaar het Engeland Egipte permanent beset, hoewel die land in naam nog deel van die Ottomaanse Ryk gebly het. Frankryk het sedert 1848 al beheer van Algerië verkry. In 1881 het hulle Tunisië beset en in 1901 begin om Marokko te verower. In Algerië en later in Marokko was daar grootskaalse verset teen die Franse. Al die opstande is egter suksesvol onderdruk. Eers in die dertigerjare van die twintigste eeu het nasionalisme weer in Frans-Noord-Afrika posgevat. DieSpanjaarde het ook in 1934 'n deel van Marokko in besit geneem. Libië is in 1912 deurItalië verower. Ook in die Midde-Ooste het Arabiese lande Engels-Franse "invloedsfere" geword en eers ná dieEerste Wêreldoorlog is onafhanklike state gestig.
Reeds in die 18de eeu het die Wahhabiete (volgelinge van Mohammed al-Wahhab) hul beywer vir die uitwissing van vreemde invloede. Die vorm van Islam wat hulle bely het, was so puriteins en fanatiek, dat hulle deur die ortodokse instellings as ketters beskou is. Toe hulle hul invloed na Sirië en Irak wou uitbrei, het die Turkse Sultan die hulp van Mohammed Ali van Egipte ingeroep. Tussen 1810 en 1818 is die Wahhabiete verslaan en teruggedryf. Aan die begin van die 20ste eeu het hulle egter weer hul verskyning gemaak, aangevoer deur Ibn Saoed. Hulle was minder godsdienstig-fanaties as hul voorgangers en het daarom ook meer sukses behaal. In 1932 is die onafhanklike koninkryk van Saoedi-Arabië gestig.
Lede van die Arabiese leër tydens die Arabiese Opstand, 1916–1918
In Libanon en Sirië was daar gedurende die 19de eeu kort-kort verset teen die Turkse sultan. Dit het keer op keer aan Engeland en Frankryk die geleentheid gebied om in te meng en hul invloed daar uit te brei. Tydens die Eerste Wêreldoorlog was Turkye, as Duitsland se bondgenoot, ook in 'n stryd met Engeland en Frankryk gewikkel. Die Arabiese nasionaliste moes nou kies tussen die Turke aan die een kant en die Westerse moondhede aan die ander kant. Baie was ten gunste van die Turke omdat hulle minstens ook Islamities was. Die laaste emir van Mekka het egter met Engeland onderhandel. In ruil vir Arabiese steun teen die Turke, sou Engeland die Arabiere se onafhanklikheid waarborg. Die Arabiese opstand teen Turkye, waarvan een van die emir se seuns, Faisal, 'n aanvoerder was, het gehelp om die Ottomaanse Ryk finaal tot 'n val te bring. Die EngelsmanT.E. Lawrence – Lawrence van Arabië – het 'n belangrike rol hierin gespeel. Die Engelse beloftes is egter nooit nagekom nie omdat die gebied waarop die Arabiere aanspraak gemaak het, reeds tussen Frankryk en Engeland verdeel was en omdat die Engelse boonop belowe het om die Jode te help om 'n onafhanklike staat in Palestina op te rig. Libanon en Sirië is aan Frankryk as mandate gegee, maar het in 1936 hul onafhanklikheid verkry. Irak, as mandaat van Engeland, het in 1930 onafhanklik geword.
Die eerste fase van Egiptiese nasionalisme is met die Engelse besetting van 1882 beëindig. Onder die Engelse bewind was daar sekere groepe wat hulle vir onafhanklikheid beywer het en ander wat ten gunste van aansluiting by die Ottomaanse Ryk was. Met die vernietiging van die Ottomaanse Ryk in 1919 het die nasionale leier, Zaghloel, by dieVrede van Versailles geagiteer vir onafhanklikheid. Engeland was onwillig maar moes uiteindelik onder druk die Egiptiese onafhanklikheid in 1922 erken.
Die hoofartikel vir hierdie afdeling is:Arabiese Liga.
Lidlande van die Arabiese Liga
In 1945 het Egipte, Irak, Jordanië, Libanon, Sirië, Saoedi-Arabië en Jemen die Arabiese Liga tot stand gebring. Die Bond het die gemeenskaplike belange van die lidstate behartig en hom beywer vir die bevryding van Arabiese gebiede in Afrika. Teen 1962 was al die Arabiese lande van Noord-Afrika lede van die Bond. In die volgende dekade het die Bond skipbreuk gely as gevolg van onderlinge geskille oor die Palestynse kwessie en die handhawing van betrekkinge met die twee groot magsblokke – Oos en Wes.
↑"Israel in Figures"(PDF) (in Engels). Jerusalem: Central Bureau of Statistics. 2010.Geargiveer(PDF) vanaf die oorspronklike op 8 April 2020. Besoek op19 April 2016.
↑"Arabes en Colombia" (in Spaans). 25 Januarie 2004.Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op19 April 2016.
↑Dr Anthony McRoy PhD."The British Arab" (in Engels). National Association of British Arabs. Geargiveer vanafdie oorspronklike op 7 April 2019. Besoek op19 April 2016.