Onmiddellik na beslaglegging op die koningskap hetDarius I van Persië (seun van Hystaspes) getrou metAtossa, dogter vanKores die Grote. Hulle was albei afstammelinge vanAchaimenes uit afsonderlike Achaimeense stamlyne. Deur 'n dogter van Kores as gade te neem, het Darius sy koningsposisie versterk.[4] Darius was 'n aktiewe keiser, bedrywig met bouprogramme inPersepolis,Soesa,Egipte en elders. Voor die einde van sy heerskappy het hy voorbereidings getref vir 'n strafekspedisie teen Athene, maar 'n nuwe opstand in Egipte (moontlik deur 'n Persiesesatraap) moes onderdruk word. Volgens Persiese wet, is van Achaimeense konings verwag om 'n opvolger aan te dui voordat hulle op omvangryke ekspedisies sou vertrek. Met sy voorneme om te vertrek (487-486 v.C.),[5] het Darius sy graftombe teNaqsj-e Rostam voorberei en Ahasveros, sy oudste seun by Atossa, as opvolger aangestel. Darius se kwynende gesondheid het hom toe verhoed om die kampanjes aan te voer,[6] en hy sterf in Oktober 486 v.C..[6]
Ahasveros was nie Darius se oudste seun nie, en volgens ou-Irannese tradisies moes hy nie die koning opgevolg het nie. Ahasveros was egter die oudste seun van Darius en Atossa, en gevolglik 'n afstammeling van Kores. Dit het van Ahasveros die gekose koning van Persië gemaak.[7] Sekere moderne geleerdes beskou die ongewone keuse van Darius, om die troon aan Ahasveros oor te laat, in die lig van die unieke ererang wat Kores die Grote en sy dogter Atossa beklee het.[8] Artobazan is gebore as seun van "Darius die onderdaan ", terwyl Ahasveros die oudste seun was van Darius na sy troonbestyging, in die purper, terwyl Artobazan se moeder 'n nie-adellike was, teenoor Ahasveros se moeder, wat dogter van die rykstigter was.[9]
Ahasveros is gekroon en het sy vader opgevolg in Oktober-Desember 486 v.C.[10] toe hy omtrent 36 jaar oud was.[5] Die oorgang van mag na Ahasveros was onbestrede, en dit weereens deels te danke aan die groot gesag van Atossa.[4] Sy koninklike bewindsname is nie betwis deur enige persoon in die hof, òf onder die Achaimeense familie, òf deur enige van die onderworpe nasies nie.[11]
Byna dadelik het hy opstande in Egipte enBabilon ondergesit, wat reeds die vorige jaar uitgebreek het, en het sy broerAchaimenes as goewerneur ofsatraap (Ou-Persies: khsjathrapavan) oor Egipte aangestel. In 484 v.C., het hy die Babiloniërs onthuts deur gewelddadig beslag te lê op die goue standbeeld van Bel (Mardoek, Merodach), wat dan opgesmelt is.[12] Volgens tradisie moes die regmatige koning oor Babilon die hande van die beeld vashou op elke nuwejaarsdag, en hierdie heiligskending het die Babiloniërs aangevuur tot opstande in 484 v.C. en 482 v.C., aangesien, volgens eietydse Babiloniese dokumente, Ahasveros sy vader se Koningstitel oor Babilon afgewys het, deur eerder as Koning van Persië enMedië bekend te staan, Groot Koning, Koning van Konings (Sjahansjah) en Koning van Nasies (d.w.s. van die wêreld).
Alhoewel Herodotos se verslag in dieGeskiedenisse sekere vrae opgelewer het betreffende Ahasveros se godsdienstige beskouinge, word hy deur moderne geleerdes gesien as 'nZoroastriaan.[13]